Saturday, June 6, 2009

D-Dag Saterdag 6/06/09

Ons was albei al om 02:00 vanoggend al wakker. Kon nie werklik slaap nie. Gelukkig stuur Eugene vir Elsabe 'n sms om 03:00 om sy ma voorspoed met vandag toe te wens. Met die sien ek dat die alarm 'n uur te laat gestel is. Ons moes om 05:00 al by die hospitaal wees. Nugter weet hoekom so vroeg want die opname proses het maar 30 minute geneem. Die tyd verwyl om nog 'n baie onaangename epos aan die "useless" medies te stuur. By aankoms by die hospitaal en met opname sou ons hoor dat die medies die hospitaal opdrag gegee het om die hele rekening privaat te merk sou ons die laparoskopiese prosedure doen, met ander woorde ons sou self vir die rekening van ongeveer R50 000 plus moes betaal.

Nie net 'n geval van "Big Brother is watching you", nou 'n geval van "Big Brother is telling you what to do" of anders. Vragie hier - wat het van Vryheid van Keuse geword ingevolge ons Grondwet. Algemene gevoel onder die medici - die mediese fondse het nou beheer van gesondheidsdienste oorgeneem en dikteer per definisie mediese ontwikkeling of agteruitgang met hul verstokte idees en streng finansiele uitkyk op al wat mediese prosedure is.

Die grootste grap hier is - ons wat ten duurste vir ons mediese fondse betaal moet hier tevrede wees met swakker/archaise/verouderde mediese tegnieke, wyl die medici wat die staatspasiente in byvoorbeeld - Kalafong - behandel in soortgelyke omstandighede vandag die voordeel van die laparoskopiese prosedure sou gekry het. Om die chirurg aan te haal - as Elsabe vandag by Kalafong was, was die laparoskopiese prosedure gedoen. Lekker ne. Maar genoeg van my galbraak - moes net iewers afblaas.

Wat die belangrikste hier betref. Elsabe is vanoggend 08:30 gedoen. Abdominaal - dalk is dit so bestem, sodat die chirurg die bekken mooi kon ondersoek en kyk vir tekens van verspreiding van die kanker. Op die oog af lyk dit nie of daar enige verspreiding was nie. Kom ons bid daarvoor.

Sy is reeds 10:00 terug na die normale sale waar sy nou onder redelike hewige pyn beheer medikasie is, waarvan die gevolg is dat sy meerendeels slaap. Wat 'n goeie ding is aangesien slaap tog die natuur se beste vorm van herstel is. Ek aanvaar sy gaan seker nog 'n redelike paar dae daar wees. Vir diegene wat graag wil inloer, die versoek is dat julle dalk die eerste paar dae oorslaan tot sy weer mens voel. Ek sal by haar hoor wanneer en dit hier noem.

Vir al die oproepe, eposse, sms en algemene boodskappe van ondersteuning, liefde, begrip, samesyn - dankie, dit word oneindig waardeer. Tydelike Skriba - LeRoy

Friday, June 5, 2009

Medies - Keyhealth - weier al weer Vrydag 5/06/09

Hilda Kriel, Una Mgwenya, Monica Hammes, Ujala Satgoor en ek die 23e April

Hier gaan ons al weer...Keyhealth mediese fonds het al weer my prosedure (vaginale histerektomie en laparoskopiese verwydering van my eierstokke) afgekeur. Die hospitaal het vanoggend navraag gedoen en sedertien is dit 'n heen en weer bellery en kom-ons-probeer-weer-vir-oulaas poging. (En vir die van julle wat wonder..., nee, hulle het NIE die onkostes vir my maagoperasie terugbetaal nie).
Dit lyk my die liewe Here wil maar net hê dat ek vanjaar oopgesny moet word.

En ek weet baie vertel dat hulle dit ook gehad het, maar die verskil is ek HOEF dit nie te gehad het nie! Ek KON minder pyn gehad het, vinniger herstel het en vroeër ontslaan gewees het. Dit is reeds die 5e keer dat ek narkose gaan kry sedert einde Januarie en die 4e keer dat ek gehospitaliseer word. Alles in my rebelleer teen Keyhealth - ek kan nie glo dat hulle nog so verstok is en geen nuwe sjirurgiese ingrepe wil oorweeg nie!

Ek groet dus vir eers met hierdie vrolike, lawwe foto van my en my kollegas tydens ons prettige Wêreldboekedagvieringe by die eertydse Groenkloof kampus waar ek vir baie jare gewerk het. Mag ek baie binnekort gesond wees vir nog baie stuitighede!

My skriba (LeRoy) sal my blog in stand hou totdat ek weer in die tuig kan klim. Dankie vir elkeen van julle wat aan my dink en my in jul gebede opdra.

Die Here is goed, Hy is 'n toevlug in tyd van nood, Hy sorg vir die wat by Hom skuil. Nahum 1:7.

Wednesday, June 3, 2009

Operasiedatum is Saterdag! Woensdag 3/06/09

'n Paar van die blykies van omgee van my liewe UP biblioteekkollegas

My gemoed is ligter vanaand...deels omdat my tranedamwal vanoggend gebreek het.

Ek is vanoggend by my kantoordeur begroet deur stringe helderkleurige ballonne, geskenkies, kaartjies, sjokolade, blomme, potplante en kollegas wat my soos engele toegevou het met drukkies van omgee en liefde. Na die afgelope week se spanning en dapper probeer wees, het die onverwagte liefdesgebare my heeltemal onverhoeds betrap en het ek in trane uitgebars! Ek is sprakeloos, maar diep ontroer deur elke liewe persoon wat vandag die moeite gedoen het om vinnig 'n epos, tydjie of 'n trooswoordjie met my te deel.

Die ander goeie nuus is dat die mediese fonds my prosedure goedgekeur het. Ek is dus eers Saterdag die 6e Junie geskeduleer en het nog twee dae grasie om my lewe bietjie in orde te kry. Ek is dr. Snyman oneindig dankbaar dat hy bereid is om my Saterdag te opereer (sy keuse). Hy gaan uit sy pad uit om my te akkommodeer en het gister die eerste keer sy oë op my gelê. En wat 'n bekwame sekretaresse het hy nie! Toe ek haar gister bel - die tweede keer dat ek en sy praat - noem sy my reeds onmiddellik op my naam.

Ek voel vanaand baie rustiger en so lig soos die ballonne wat in my kantoor rondhang!

Blok het vir my die mooiste Bybelvers kom gee vanoggend :" O Jakob, en jou Formeerder, O Israel: wees nie bevrees nie, want ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou en deur die riviere - hulle sal jou nie oorstroom nie, as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie. Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en ek jou liefhet, daarom gee Ek mense in jou plek...vir jou lewe." (Jesaja 43)

Dankie, ek is lief vir julle almal!

Tuesday, June 2, 2009

Uitslag van die doktersbesoek Dinsdag 2/06/09

Vandag het ek en LeRoy prof. Leon Snyman ontmoet en my gesondheidtoestand en die pad vorentoe bespreek. Ek het hom baie positief beleef en hy het vertoue by ons albei ingeboesem.

In 'n neutedop:
  • Die gewas het 'n slegte differensiasie gradering en dit is relatief ernstig.
  • Niks wat ek verkeerd gedoen, geëet of gedrink het (dit sluit hormoonvervangingsterapie in) is die oorsaak nie. Ons weet eenvoudig nie hoekom dit gebeur nie en ek pas glad nie die gemiddelde profiel nie.
  • Sjirurgie is my enigste opsie - my baarmoeder, eierstokke en limfkliere moet verwyder word. Laasgenoemde sal behels dat ek 4 maande lank daardie spesiale kouse sal moet dra om trombose en swelling van my bene te voorkom (Dankie Heer, dat dit winter is!). Ons het nogal lank gesels oor die verwydering van my limfkliere, want dis slegs deur die ontleding daarvan dat die graad en verspreiding volledig bepaal kan word. Daar is egter deesdae 'n tendens om dit nie te verwyder nie, maar omdat die graad van verspreiding dan nie bepaal kan word nie, sal ek dan beslis bestraling moet ontvang. Ons het dus saam besluit om veilig te speel en dit wel te verwyder en moontlike bestraling vry te spring. Interessant (is dit die regte woord..?) om te hoor dat bestraling slegs een keer gedoen kan word. Kanker word weerstandig teen bestraling en dit kan dus nie herhaal word nie.
  • Indien die kanker wel versprei het, sal die bestraling 2-3 weke na my operasie moet plaasvind. Dr. Snyman het egter gesê dit is 'n volgende gesprek. Ons eet die olifant nou eers happie vir happie. Dit is ontstellend om te hoor dat dit ongeveer 'n jaar sal neem om my "ou self" te wees en my vorige program te hervat. LeRoy glo vas dat ek die grense sal skuif en vinniger sal herstel.
  • Na my inwendige ondersoek het dr. Snyman met 'n nuwe voorstel gekom : ek is 'n goeie kandidaat vir 'n vaginale histerektomie. Dit sal minder pynlik wees en ek sal vinniger herstel. Ons wag dus weer vir goedkeuring van die mediese fonds. D-dag is of Donderdag 4 Junie vir 'n abdominale histerektomie of Saterdag 6 Junie vir 'n vaginale histerektomie en laparoskopiese verwydering van my eierstokke.
  • Laastens het hy ook voorgestel dat ek berading oorweeg om die trauma van kanker te verwerk. LeRoy het heelhartig saamgestem dat ek daarby kan baat - lei ek reeds die twee manne in die huis 'n lewe? :-)

Hoe voel ek? Ek wens met my hele hart dat ek eerder gesond was en ek sien baie op teen die prosedures. Moes reeds weer gaan vir 'n bloedmonster en is ook weer gestuur vir X-strale vir my bors. Ek is nog verbyster en sukkel nog om te glo dat ek wel siek is.

Dis verstommend watter uiteenlopende advies ek ontvang. Die meeste mense glo en vertel my dat ek na die operasie 'n nuwe mens gaan wees. Enkeles vertel my om myself voor te berei op bestraling en wat kan volg.

En ek hang tussen-in en herroep Robert Moropa (ons direkteur) se wonderlike advies wat hy spesiaal vanoggend vir my gebring het:

Four "Worry-relievers" from Pastor Mike:

  1. Worry about nothing. To relieve worry, live one day at a time. "Do not be anxious about anything..."
  2. Pray about everything. No problem is too big for God's power or too small for God's concern. "...but in everything, by prayer and petition with thanksgiving, present your requests to God."
  3. Thank God for all things. There is always something to be grateful for. "Give thanks in all circumstances for this is God's will for you in Christ Jesus."
  4. Think about the right things. Whatever I think about is what I am becoming. "As a man thinks in his heart, so he is."

Thank you Robert - today I am thankful for this advice and I'll take it to heart!

Monday, June 1, 2009

Nuwe ginekoloog Maandag 1/06/09

Tydens die motorfietsrit Vrydag het ek baie tyd gehad om te dink. Met ons eerste petrolstop op Villiers, het ek vir my 'n nuwe ginekoloog gereël met die hulp van my sjirurg, dr. Heyns, wat my in Februarie behandel het.

Ek is nie gewoonlik so impulsief nie, maar ek het die ginekoloog wat my verlede Oktober gesien het, die vorige dag gebel en 'n voorskrif vir 'n slaappil gevra (dit is vir my maklik om in die dag besig te bly, maar dis moeilik om te slaap as daar so baie gedagtes in jou kop rondwoel...). Dit was die eerste keer sedert Oktober wat ek haar in die hande kry - sy is net nooit beskikbaar nie. Toe sy hoor wie praat was haar stemtoon afgemete en haar woorde versigtig gekies. Sy was egter ook baie onsimpatiek en het nooit die voorskrif gestuur nie.

Ek HET baie vrae vir haar....Hoekom het sy niks raakgesien Oktober 2008 nie? Hoekom het sy my op daardie spesifieke hormoonterapie gesit? Hoekom het sy nie my bekommernis Maart oor die hormoonterapie (veral die feit dat estrogeen 'n rol speel in die vorming van hemangiome) ernstig opgeneem nie? Hoekom het sy my voorstel of ek haar weer moet kom sien van die hand gewys? Hoekom het sy nie iemand wat instaan vir haar tydens haar afwesigheid nie? Maar ek het besluit dat ek my energie nie verder op haar gaan mors nie. Ek het nie meer vertroue in haar nie en sy is duidelik nie 'n beskikbare dokter nie.

Môre het ek dus 'n afspraak met 'n ginekoloog wat ek nog nooit ontmoet het nie, maar dr. Heyns het hom aanbeveel. Hulle sal bietjie koppe bymekaar moet sit as gevolg van die einste hemangiome op my lewer en hulle is albei by dieselfde hospitaal. Ek word boonop reeds Donderdag geopereer.

Gisteraand toe ek al my vorige verslae bymekaarkry sien ek in die radioloog se verslag van 23 Januarie word daar reeds gemeld dat die endometrium verdik is. Dis die sinnetjie : "Transvaginale of transabdominale evaluasie sal van waarde wees" wat die skrik in my laat opspring. Hoekom het ek dit nie die vorige keer gesien nie?