Sunday, November 1, 2009

'n Feestelike verjaarsdag! Saterdag 12/10/09


Ek het eeue laas geskryf, maar die aanloop tot my 50e verjaarsdag was besonder bedrywig. Die aand het my stoutste verwagtinge oortref en en ek het my gate uit geniet! Ons huis was omskep in ‘n restaurant, die swart tafels getooi met rooi rose en kerse, die tuin prentjiemooi met feëtjieliggies en die meeste van my vriende het saam ons aangesit vir ‘n smaaklike ete. Soos ek beplan het, was almal in swart getooi en het ek ‘n rooi rok gedra en self met LeRoy “Lady in red” gerumba – langs die swembad. Baie dankie aan al my vriende en liefste man vir ‘n feestelike aand en ‘n verjaarsdag sonder weerga! Hoe wonderlik om saam almal fees te vier in die huis waar ek vir soveel maande van hierdie jaar siek was!

Wednesday, September 16, 2009

'n Warrelwind lewe! Woensdag 16/09/09

Ek is weer deel van ‘n warrelwind lewe (en gevolglik stiller as wat sommige van julle wil hê)! Maar dis baie goeie nuus, want dit beteken ek is weer gesond!

‘n Belangrike tweeweeklikse besoek aan my stralingsonkoloog noop my om weer te skryf (en die besoek is reeds amper twee weke gelede). Deels het ek ook herkou aan dit wat ek daar gehoor het. Dr. Robbie het my die volgende meegedeel:
  • My prognose is goed en ek was in remissie voordat ons met die bestraling begin het;
  • Ongelukkig keer endometriale kanker terug in sommige gevalle (minder as 10% kans) en aangesien die medici nog nie mikroskopiese verspreiding kan sien nie, sal ek vir die volgende 5 na 10 jaar gemonitor word (dit voel soos 'n ewigheid!). As ek na 5 jaar geen tekens van herhaling ondervind het nie, kan ek seker wees ek is heeltemal gesond. Gevolglik is daar ‘n aantal afsprake vir my geskeduleer – die eerste een weer in twee maande se tyd en dit word weer opgevolg na 3 maande en so word die tyd gerek.
  • Ek moet enige onverklaarbare simptoom dophou – veral as dit erger word, want kanker se kurwe klim progressief en dit sal nie sommer beter word nie.

Uiteraard kyk ek met nuwe oë na myself. Die bestraling se newe-effekte is amper uitgewerk uit my lyf, maar ek sukkel veral met my immuniteit en het reeds weer ‘n erge verkoue en keelinfeksie gehad en is vandag die onwelkome ontvanger van ‘n koorsblaar. Alles tekens dat my weerstand nog laag is. Ek probeer dit nou eerder weer baie rustig neem, nadat ek voorverlede week selfs weer by die gimnasium was!

‘n Brokkie goeie nuus vir my – ‘n brief wat ek vir die tydskrif SARIE ingestuur het, is in die nuutste uitgawe gepubliseer. En daar volg dalk nog ‘n verrassing later…!

Tuesday, September 8, 2009

Die Skriba kyk terug...Dinsdag 8/09/09

Die einde van enige jaar word gewoonlik begroet met vreugde oor die jaar wat verby is en daar word met afwagting uitgesien na die nuwe jaar se geboorte. En so was dit ook vir ons aan die einde van 2008 en die aanbreek van 2009. Ons het groot verwagtinge gehad vir 2009...Maar vroeg in die jaar het 2009 reeds tande gewys.

Met hierdie inskrywing wil ek (LeRoy) graag my belewenis met jul deel van die 31 bestralingsessies (7 weke) wat Elsabé deurgemaak het. Die bestralings het die lewe uit Elsabé gemergel. Alle tekens van normale lewe was verby. Sy was van dag een naar, met die gevolge daarvan, en het erge diaree beleef. Ons moes ons lewe so skik dat ons te alle tye naby die huis en badkamer kon wees. Ten spyte hiervan het Elsabé haar kruis moedig gedra en het sy meer deursettingvermoë getoon as wat mens normaalweg van so klein en fyn mensie sou verwag. My agting, respek en liefde vir haar het elke dag net verdiep. In die tyd moes sy ook na my omsien, toe ek met longonsteking platgetrek was.

Die ergste van alles vir my was dat ek deur dit alles op die kantlyn moes staan en net emosionele ondersteuning vir haar kon gee. Ek kon nie werklik veel vir haar doen nie. Ek was die passasier en moes aanskou hoe sy ly en pyn ervaar en alles moedig dra. As ek kon, sou ek haar plek ingeneem het. Daarmee saam moet ek beken my belewenis hiervan kan nie met Elsabé se eerstehandse belewenis vergelyk word nie.

Van alles glo ek die laaste 3 sessies inwendige bestraling was seker op persoonlike vlak die mees ingrypendste en het haar die seerste gemaak – fisies en emosioneel. In die tyd dat sy vir hierdie sessies gegaan het, kon ek op niks konsentreer nie en was dit selfs vir my emosioneel uitmergelend. Sy het dit ook moedig beleef en deurstaan en ek haal my hoed vir haar af.

Persoonlik dink ek die kruis is op Elsabé se pad geplaas om uit te reik na ander. Haar dagboek was terapeuties vir ons albei. Sy kon haar hart en diepste wese uitstort en ek kon sien hoe haar geloof elke dag verdiep en vernuwe. Ek glo die blog word wyer gelees en versprei as wat ons albei weet, derhalwe het dit ‘n middel geword om Elsabé se getuienis verder uit te dra en raak dit hopelik ‘n paar ander harte. Hopelik kan dit selfs ander vrouens wat dieselfde simptome as wat sy ervaar het, noop om gouer by hulle ginekoloë uit te kom en moontlike verspreiding voorkom.

Die afgelope 9 maande het ons albei gelouter, maar ons het sterker uitgekom, in liefde en in gees. Ons het albei baie moeilike tye beleef – Elsabé meer so as ek, maar dit lê nou agter ons en ons het ons lewe hervat. Ons gaan weer saam kerk toe, doen weer saam inkopies, en Elsabé het weer begin werk. Ons lewe begin grootliks weer tekens van normaliteit toon…

Thursday, August 27, 2009

Babatreetjies na herstel Donderdag 27/08/09

Hoe gaan dit met my?…hoor ek sommige van julle vra (met ‘n berisping omdat die blog so stil is). Dankie, ek is besig om te herstel – babatreetjies elke dag. Maandagmiddag het die yspunt van die pynberg stadig begin smelt en elke dag is daar bietjie vordering, mits ek korrek eet. Twee aarbeie het my gisteraand verlei en ek het toe weer les opgesê tot my teleurstelling. Ek kyk dus steeds met hongerige oë na al die gesonde kosse om my en probeer steeds die smalle wit weg van stysels en vaal kossies te bewandel om my honger te stil.

En ek maan myself tot geduld…Sewe weke se bestraling sal bietjie tyd neem om uit my gestel te werk. Die pyn gaan soos dit gekom met – met kriewels en gejeuk, maar ten minste is ek nou al baie vroliker en swaai soms heupe op maat van musiek om die irritasies te besweer! In ‘n neutedop, ek is nog nie myself nie, maar ek is baie dankbaar oor elke dag wat bietjie vir bietjie minder pyn oplewer.

Maandag is dit terug werk toe! Wat ‘n ongewone jaar…

Thursday, August 20, 2009

Laaste inwendige bestraling Donderdag 20/08/09

Die klaar, dis klaar, dis klaar! Dankie, liewe Heer, dis verby!

My oorwegende emosie is een van oneindige dankbaarheid. Dankbaarheid dat ek nou kan begin herstel; dat die "pause" knoppie van my lewe nou weer kan "play"... Daar is 'n raps minder van my, ek is 'n raps broser, maar ek is ryker in liefde en die weelde van kosbare vriendskappe en blyke van omgee en liefde van mense wat my ken en sommige wat my nie goed ken nie.

EN... ek is nog ek! Of is ek? Hierdie blog was ook eerstens geskryf vir myself. Sodat ek NOOIT mag vergeet nie; altyd kan onthou. Hierdie pyn en hartseer moet my ook verander en my met meer deernis en empatie vir ander laat. Ek moet elke oggend wat ek gesond wakker word, elke sonstraal op my lyf, elke vreugde-oomblik, elke blykie van liefde, elke gawe wat ek ontvang met meer dankbaarheid koester en waardeer.

Mag elke een wat hierdie pad saam my geloop het ook hul seëninge tel, net meer liefhê en saam my loof : die Here is goed - loof Sy heilige Naam!

Wednesday, August 19, 2009

Inwendige bestraling 2 Woensdag 19/08/09

“Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het.” Ester 4:14. "Het jy al daaraan gedink dat God jou met ‘n spesifieke doel in jou teenswoordige situasie geplaas het? Moontlik is dinge vir jou op die oomblik oneindig moeilik en gespanne en sou jy liewer op enige ander plek wou gewees het as waar jy nóu is." (Ozrovech, S 2007, In die holte van God se hand, Pretoria: CUM.)

Hierdie dagstukkie se woorde wat ek en LeRoy onlangs saam gelees het, bly in my kop maal. Is dit so dat U hierdie kanker met ‘n spesifieke doel op my pad geplaas het, Heer? Wat het U verwag van my? Is hierdie ‘n toets, Heer? Wou U gehad het dat ek my Bybel meer moes lees, dat my gebedslewe langer, meer en inniger moes word, dat ek meer gereeld tot stille inkeer moes kom, U meer geloof het, meer geglo het en meer getuig het?

Want deur dit alles, was ek maar net ek. Met tye 'n bang ek, 'n swak ek, 'n twyfelende ek, 'n huilende ek, 'n eensame ek en 'n bekommerde ek. Liewe Heer, een van my bekommernisse is, dat indien hierdie 'n toets was, ek dit dalk nie geslaag het nie.

Vandag het 'n vrouedokter, dr. Kobie die plasing gedoen en dit was minder pynlik. Ek het haar na die tyd spesiaal gaan bedank en haar antwoord was: "Geen vrou wil graag daar lê nie..."

Môre is hierdie behandeling op 'n einde...ek sien SO uit daarna!

Tuesday, August 18, 2009

Inwendige bestraling 1 Dinsdag 18/08/09

En daar lê ek toe weer op ‘n nuwe harde blad, in ‘n ander hospitaal met nuwe simpatieke gesigte wat my moeilik in die oë kyk. Ek wonder waaraan dink ander as hulle daar lê, wat gaan deur hulle gedagtes – dit behoort ‘n studie op sigself te wees. Elke vrou wat hierdie lees sal haar die behandeling kan voorstel; elke man wat hierdie lees het nie ‘n idee wat hierdie deel van vrouwees behels nie. Marié het dit so fyntjies saamgevat: “Vroue is so blootgestel aan mediese posisies wat ons siel blootstel.”

Ek volstaan met die gedagte dat dit nie pynloos is nie, dat die “instrument” baie anders gelyk het as wat ek my voorgestel het en dat hierdie bestraling 5 minute aanhou en baie langer voel omdat dit nie die plasing daarvan, die koppeling en programmering insluit nie. Natuurlik het die kriewels in my binneste weer ontwaak…jeuk-jeuk, kriewel-kriewel, jeuk-jeuk….Genadiglik lê daar nog net twee voor…

Monday, August 17, 2009

Onvergewinsgesinde sondaars Maandag 17/08/09

Suutjies sit, suutjies sit…hier op my ringkussinkie…

My maag en my onderstel is soos onvergewinsgesinde sondaars wat die evangelie nog nie aanvaar het nie. Hulle herinner my gedurig aan dit wat ons saam die afgelope tyd deur is. My maag klou onverbiddelik vas aan haar griewe en blaas haarself op (eintlik eerder af!) as ek nie haar sentiment deel nie. Ek sal baie geduldig met hul albei die pad moet loop en hulle met goed gemikte argumente oortuig om die strydbyl te begrawe. Verstaan hulle dan nie dat die bestraling nou verby is nie? Vir hulle geld “Let bygones be bygones” nog nie….

Dis versigtig eet en met verlangende oë kyk na die “verbode vrugte en kossoorte”, dis insalf en inroom en konsentreer op my asemhaling om die pyn te hanteer as die oomblik van waarheid aanbreek.

Maar, ek het steeds ‘n wonderlike middag gehad – ek fokus immers op die beplanning van my 50e verjaarsdag en dit beloof om ‘n magiese gebeurtenis te wees!

Friday, August 14, 2009

Laaste uitwendige bestraling Vrydag 14/08/09

Uiteindelik het hierdie dag aangebreek! Ek was reeds voor 6:00 wakker en het soos ‘n kind gevoel wat uitsien na ‘n partytjie; het ook vroeg opgestaan en aangetrek. My beste vriendinne en grootste troosters het sedert gister laer getrek om my met oproepies, smse, kuiers, eposse en bederfies vir oulaas te bemoedig. Voel hulle ook die afwagting…tel hul saam my die sekondes af na 11:30?

Dankie Here…ek is SO dankbaar hierdie beker is nou leeg. Die bestraling was vir my ‘n emosionele en fisiese slagveld. Ek het hierdie afgelope week amper ‘n kilogram gewig verloor, maar in die geheel gesien darem nie te veel nie. Dit is eintlik verbasend dat ek nie meer verloor het nie, want ek het geen eetlus meer nie en het baie gesukkel om die afgelope week te eet. Mmmm, sal regtig aan LeRoy se repertoire moet werk…as kok het hy nog groeipotensiaal… :-)

Ek sien so uit na….

  • die weelde van ‘n bad…ek wil hierdie bestralingsmerke van my afskrop!
  • die einde van die pyn, gekriewel en derm-manewales…
  • my eerste happie kaas, volkoring of saadbroodjie, mielies, pizza, rou groente, ertjies en ander groen groentes, vrugte (buiten gerasperde appel en piesang), witsous, geurmiddels in my kos en SJOKOLADE!
  • uiteet, fliek en minder huisgebonde te wees;
  • myself voel…

Nog een wekie se bulte…nog een wekie se herstel…Binnekort is Elsabé weer terug!

Thursday, August 13, 2009

Bestraling 27 om 11:30 Donderdag 13/08/09

Die pynbom het tydelik gehelp vir die pyn, maar laat my ongelooflik sleg voel. Ek is nie ‘n groot voorstaander van medikasie nie en gebruik verkieslik my lewe lank die minimum.

My vel het nou op plekke begin verkleur van die bestraling – sulke eienaardige bruin, warm kolle. Ek het eers geskrik toe ek dit sien, maar die inligtingsbrosjure het gewaarsku dat dit kan voorkom.

Lente het nou ook in my begin nesskop…die vernuwing in die natuur vind ook weerklank in my…Nog net een dag se bestraling wat voorlê, dankie liewe Heer!

Wednesday, August 12, 2009

Klop-klop...klop-klop...Donderdagoggend 13/08/09

Om pyn in die nag te ervaar is 'n eensame paadjie...klop-klop, klop-klop...Jy luister hoe jou man langs jou slaap en rustig asemhaal, jy hoor die nuwe koue front ruk en pluk aan die boomtakke voor jou slaapkamervenster. Maar al waarvan jy eintlik bewus bly is die klop-klop, klop-klop in jou onderlyf. Jy skuif versigtig van posisie, maar dit maak geen verskil nie...klop-klop, klop-klop...Jy onthou die pynpille...Die bom wat jy verlede week gekry het en slegs een keer gedrink het, want een van die newe-effekte is naarheid (nee...nie al weer nie!) en die enigste keer wat jy dit gedrink het, het die bom jou 'n uitklophou gegee. Boonop mag jy dit nie op 'n leë maag drink nie...Ai, sal jy weer kan slaap? Klop-klop, klop-klop....Hoe laat is dit nou?

Jy lê en wik en weeg amper 'n uur lank...klop-klop, klop-klop...en staan dan maar saggies op. Soek jou pantoffels, kamerjas, kombersie in die donker en maak stilletjies die kamerdeur toe. Jy maak vir jou tee en eet van die nuwe beskuit wat jou man gister vir jou gekoop het - die wittes sodat jou arme derms (hopenlik) nie weer aapstuipe kry nie. Die bom staan langs jou - hy sal laaste aan die beurt kom. Jy hoop daar is genoeg beskuit in jou maag, jy hoop die bom gaan jou nie te sleg laat voel nie - jy sluk die bom weg. Klop-klop, klop-klop....tyd om terug te sluip kamer toe.

Jy sal môre weet of dit die regte besluit was...Klop-klop, klop-klop....

Bestraling 26 om 11:30 Woensdag 12/08/09

Vandag se sessie het besonder lank geneem omdat daar weer X-strale van my geneem is en nuwe merkers aangebring is. Die laaste drie dae word daar op 'n kleiner area gefokus en my bobuik en derms gaan darem nou "rus". Ek moet erken dat ek nie meer vashouverse het nie, ek lê net ek dink "Here, Here...!"

Daar is dus slegs twee dae oor...net twee dae hiervan in elk geval...Ek kan dit doen. Ek is seker ek kan dit doen. Dis nie so erg nie, Elsabé - dis niks! Ek KAN dit doen!

Gisteraand het 'n vriendin van my se seun wat vir die Here wil werk met sy drie vriende by ons huis opgedaag - spesiaal om vir my te bid. Dit het my diep ontroer - sulke jong vroeë twintigs kêrels...Dit bly vir my wonderlik om elke dag te beleef hoe die Here my aan Sy teenwoordigheid herinner deur mense...Soms mense wat ek nie eers ken nie, soms mense wat ek nie goed geken het nie, soms liewe vriende wat reeds 'n lang pad met my stap. Baie dankie vir jul elkeen - wees verseker dat elke boodskappie, sms, epos, oproep, besoekie en etetjie of blykie van liefde en omgee meer waardeer word as wat my woorde hier kan blyk.

Tuesday, August 11, 2009

Bestraling 25 om 11:30 Dinsdag 11/08/09

Ek is aan die brand en ek bedoel dit nie op die wyse waarop ons na flinke en vlytige werkers verwys nie! Ek moes die naweek iets geëet het waarvan my derms nie gehou het nie, want hulle het gerebelleer vanaf Saterdagmiddag dwardeur twee nage heen tot Maandag toe. Nodeloos om te sê dat ek dus nie vars, vrolik en opgewek hier sit nie. Die lys van wat ek mag eet is veel korter as die lys wat ek nie mag eet nie en ongelukkig wil ek nie meer eet nie. Dis met die grootste moeite wat ek iets inforseer. AL wat my nou aan die gang hou is die gedagte dat die aanslae op my sagte weefsel en buik Vrydag einde gaan kry….

Ek het ook die besonderhede van my volgende sessie bestralings uitgeklaar. Daar gaan gelukkig net 3 bestralings wees en ek beoog om dit ook so gou moontlik verby te kry. My eerste tentatiewe afspraak is dus volgende Dinsdag…as my lyf dit kan hanteer. Sy beter, want ek het besluit hierdie mini-oorlog in my lyf moet nou net einde kry…ek is op, ek is klaar… ek is...

Friday, August 7, 2009

Bestraling 24 om 11:30 Vrydag 7/08/09

Dis langnaweek in Suid-Afrika...en ek en my man trek laer. Ons beplan niks, gaan nêrens heen nie en sal hopenlik albei elke dag bietjie beter voel. Ek het weer vir dr. Robbie gesien en nuwe pynmedikasie ontvang en daar is gelukkig 'n ekstra rusdag vir my uitgeputte derms. Die einde is in sig...ek het nog 'n week agter my...dankie Here!

Thursday, August 6, 2009

Bestraling 23 om 11:30 Donderdag 6/08/09

My "countdown" is eintlik nou in sy kanon in…, maar dis tog met vreugde dat ek die oorblywende bestralings nou op my een hand kan tel…Ek is nie lus om te praat oor hoe ek voel nie, veral nie dat ek vroegoggend reeds met ‘n keelseer wakker geword het nie – die medikasie wat moes keer dat LeRoy se kieme my bespring, ten spyt.

Kom ek erken dit nou ruiterlik, ek kan die bestraling nie verdra nie! Ek is werklikwaar so siek en seer dat dit die grootste wilskrag verg om dit elke dag te verduur en ek bars soms in trane uit van die pynlike nagevolge. Maar… sommiges van ons se huise word deur die Stadsraad gesloop (vriende van my s’n nogal), sommiges van ons se huwelike verbrokkel, sommiges van ons se liefdevolle dogtertjies verander in depressiewe tieners met selfmoordneigings. Sommige van ons se ma’s stry nou al ‘n jaar teen borskanker, sommiges van ons sukkel om finansieel die mas op te kom en moet twee beroepe se eise hanteer en sommiges van ons verpleeg ‘n bedlêende , ernstig siek eggenoot. Met sommiges van ons gaan dit baie goed, met sommiges van ons gaan dit baie sleg. Maar dit is maar net die verloop van die lewe…en al wat sommiges van ons kan doen is om vir sommiges van ons te bid.

En genadig is daar darem elke dag iets positief om op te fokus…soos Alet se heerlike hoenderpastei of Anita se getooide miniatuur sjokoladekoek....of die geel vinkie wat so onbesorg en met soveel energie en entoesiasme aan sy nessie bou. En ons is almal in die holte van Sy hand…!

Wednesday, August 5, 2009

Bestraling 22 om 11:30 Woensdag 5/08/09

Slegte nuus..., maar gelukkig weens groot Genade is ek emosioneel rustig en ek het dit verbasend goed hanteer. En dit ten spyte van die feit dat ek ook vandag die eerste tekens van bloeding gewaar het, wat my glad nie opgewonde stem nie (dis tipiese tekens van inflammasie en irritasie van die derms).

Dr. Robbie se slegte nuus is dat ek ook inwendige bestraling moet ondergaan binne 2 weke.

Aangesien my kanker ondertoe versprei het en die bo-gedeelte van my vagina nie verwyder is nie, het dr. Snyman self geskakel en inwendige bestraling aanbeveel. Ek het so uitgesien om volgende Vrydag klaar te wees, maar volgens hom sal ek myself een week se grasie van rus en herstel moet gun, en die inwendige bestraling sal dan gedurende die week van 24 Augustus ‘n aanvang neem. Volgens dr. Robbie sal ek gelukkig minder newe-effekte ervaar, want die bestraling fokus op ‘n kleiner area. Ek het reeds ‘n afspraak met dr. Ingo de Meulenaere by Muelmed, want hierdie bestraling word net daar gedoen.

Die besef wat stadig insink, is een van erns. Hierdie is nie kinderspeletjies nie – dit is lewensbedreigend en hierdie is 'n geveg wat ek net moet wen!

Tuesday, August 4, 2009

Bestraling 21 om 11:30 Dinsdag 4/08/09


Ek het opgekyk na haar - letterlik en figuurlik...my ma!

Ek verlang intens na my ma – na haar liefde en troeteling. Dit sou vandag haar 77e verjaarsdag gewees het, maar haar plekkie is reeds 11 jaar leeg.

Ons het ‘n besondere hegte verhouding gehad en sy is die mens wat die grootste positiewe invloed op my lewe uitgeoefen het. Van jongs af was ek ook haar vertroueling en tot met haar skielike dood in 1998 het ons mekaar elke liewe dag gebel. Sy was my klankbord en ek hare en ons het mekaar se wel en wee, drome en hartseer geken en gedeel. Niks het my groter vreugde verskaf as om haar gelukkig te sien nie, en sy kon altyd so opgewonde raak oor elke (klein) hoogtepunt in my lewe.

Sy was ‘n wonderlike betrokke ouer en het alles binne haar vermoë gedoen om in elke behoefte van my en my sus te voorsien. As alleenouer het sy elke beskikbare uur wat sy kon bykomende boekhouwerk gedoen om finansieel die pot aan die kook te hou. Sy was ‘n voorslag by die werk omdat sy so akkuraat en noukeurig kon werk en was baie gesog by haar werkgewers. Salomo het ‘n vrou soos sy in gedagte gehad toe hy in Spreuke 31 geskryf het: “‘n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene.”

As ‘n Ouma was sy ook hartstogtelik lief vir haar twee kleinseuns en ek kan nog goed een naweek onthou hoe Eugene gehuil het toe Ouma moes huistoe (in Johannesburg ) en daar huil Ouma toe lustig saam…Sy het ook vir ‘n tyd lank my sus se seun versorg toe Madelein weer moes gaan werk. Haar seun het ‘n passie vir lang hare gehad en het net aan die slaap geraak as hy met my sus se hare kon speel. Ouma sou ongemaklik skewe koppie sit – net sodat Devin ook aan haar kort hare kon vat om aan die slaap te raak!

As ‘n mens so ‘n intieme verhouding met ‘n ouer het, is dit nie maklik om afskeid te neem nie en die leemte wat sy na haar dood in my lewe gelaat het is steeds daar. ‘n Mens leer maar net om met die verlies saam te leef. Sy is skielik een Sondagmiddag in haar slaap by ons aan huis oorlede en ek het niksvermoedend daar ingestap om haar wakker te maak omdat ons kuiergaste verwag het. Ek sal daardie oomblik nooit vergeet toe my oë op haar val en dit tot my deurdring dat sy dood is nie…Die hartseer en pyn wat ek gevoel het om te besef dat ek nooit weer daardie warm stem sou hoor nie, daardie sagte wang sou soen nie, daardie vonkelende oë sou sien blink nie, daardie flinke hande wat vir niks verkeerd gestaan het, sien borduur, naaldwerk doen, hekel, tuinwerk doen of bak nie…

My groot troos is dat ek haar onvoorwaardelik lief gehad het en oneindig waardering vir haar as mens, werker en ouer gehad het. Twee jaar voor haar dood het ek vir haar ‘n brief geskryf en vir haar vertel hoe besonders sy as ouer vir my was en hoe oneindig lief ek haar het. Ek het haar vertel hoe ‘n navolgingswaardige voorbeeld sy vir my gestel het en dat ek nooit vir beter van die liewe Vader sou kon gevra het nie.

Mamma, ek dink nog so baie aan jou – hoe dan anders? Elke keer as ek my vingers in die grond steek, of daardie lekker suurlemoenpoeding maak, en souskluitjies, en onthou mamma nog daardie lekker klapperkoek wat ons eenkeer laat brand het omdat ons so geklets het? Die kere wat ek en LeRoy die voorreg gehad het om in die katedraal Notre Dame in Parys te kom, steek ek vir mamma ‘n kersie aan. Daar is vir my iets besonder terapeuties aan die rituele gebaar en ek neem my altyd voor om dit tuis ook te doen. En kersfees kan ek glad nie “Somerkersfees” sing van Koos du Plessis nie. As ons wegtrek met “Welkom O stille nag van vrede, Onder die suiderkruis, Wyl stemme uit die verlede, Oor sterrevelde ruis” dan trek my keel toe…

Die meetsnoere van die lewe het nie vir haar in lieflike plekke geval nie, maar Heer, U weet beter… Ek is vreeslik dankbaar dat sy hierdie hartseer gespaar is om my so siek te sien, want sy sou haar morsdood bekommer het oor my!

Monday, August 3, 2009

Bestraling 20 om 11:30 Maandag 3/08/09

“Countdown….nine, eight…!”

Ek moes die afgelope tyd by die werk gedurig hoor: “Jy lyk so goed!” Dit het my verbaas, want as ek in die spieël kyk, sien ek ‘n vreemdeling. Geen vernuwingsroompie wil die nuwe kepe langs my mond en tussen my oë versag nie. Ek lyk skielik, sommer oornag, vir myself my ouderdom.

Maar my naderende verjaarsdag motiveer my ook om te fokus op iets positiefs. Ek het besluit dat ek vanjaar my lewe, liefdes en vriendskappe op luisterryke wyse gaan vier - op kantoor, tuis, en by die gimnasium! My liewe man beplan ‘n spesiale vakansie vir my…ek sien oneindig uit daarna!

Ek moet aan iets goeds dink, want ek het pyn. Die maagkrampe en diaree het nie die naweek gewyk nie en twee weke se irritasie lê nog voor. Boonop is LeRoy vandag met longontsteking gediagnoseer. Ek hou hom al sedert gister met bekommerde en bang oë dop – bekommerd omdat ek hom opreg jammer kry en so min vir hom kan doen, maar bang omdat ek nie nou weer mag aansteek nie. Ons liewe huisdokter wat ons omstandighede ken, het sommer by voorbaat vir my ook medikasie voorgeskryf om moontlike aansteek te voorkom.

Friday, July 31, 2009

Bestraling 19 om 11:30 Vrydag 31/07/09

“Countdown….nine…!” Net 9 oor….wonderlike gedagte!

Ten spyte van al my maag se manewales het ek net 200g gewig verloor hierdie week in vergelyking met verlede week se 300g. Hier tel elke gram en jou gewig word met arendsoë dopgehou. “Crash, boom, bang!” het Roxanne vandag in my ore gesing terwyl die masjien bzzzzzzzzzzzz, “1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10,11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20 sekondes” onder my. Die ratte skuif woer-woer en sy groot gesig beweeg vanaf onder na links bzzzzzzzzzzzz, “1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10,11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20”, woer-woer skuif die ratte en die gesig beweeg soos ‘n groot donker wolk bokant my in, bzzzzzzzzzzzz, “1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10,11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20”, woe-woer, en die gesig beweeg regs “Amper klaar….”, bzzzzzzzzzzzz, “1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10,11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20 sekondes” Trek af my hemp, trek op my broek - dis maar al…!

LeRoy probeer hard om my aan die eet te hou. Hy sorg feitlik alleen vir al die etes, buiten as ons albei bederf word soos die week met dierbare Lelanè (dankie weereens!). Hy maak elke dag ontbyt (in die bed bedien!) en elke dag kry ek ‘n wit toebroodjie kantoor toe met ‘n voedsame proteïenvulsel soos vleis, hoender of eier. Gistermiddag het hy my met koeksisters saam tee verlei. Dankie my liefste man, jou soort is dun gesaai…

Die gejeuk het geleidelik geëvolueer in ‘n volskaalse gekriewel. Dit voel of ‘n mierkolonie hul intrek in my onderbuik geneem het en kort-kort vervaard rondhardloop en nes bou. Dank Vader dis naweek en dat ek die volgende twee weke nie kantoor toe hoef te gaan nie. Môre skree ek weer vir die Springbokke (veral vir Morné Steyn) – ek het dit lanklaas so geniet om so te lawaai soos deesdae!

‘n Spesiale dankie aan twee liewe vriendinne Martha en Huldah, vir ‘n pragtigste ruiker blomme! En dankie aan ds. James wat gistermiddag kom luister het, kom hulp aanbied het en so mooi vir ons albei gebid het: “Here, laat hulle U nabyheid ervaar, want ek weet dat U wel hier is.”

Thursday, July 30, 2009

Bestraling 18 om 11:30 Donderdag 30/07/09

Een kyk na my nuwe vriend by die hospital, en ek weet dit gaan nie goed met hom nie. Hy sê dat hy die vorige aand nie ‘n oog toegemaak het nie. Ons kyk met begrip na mekaar en sy vrou verwoord die gedagtes wat die afgelope tyd in my gemoed maal. Ons hoor so dikwels van mense wat kanker het en bestraling of chemoterapie moet ondergaan, maar ons het nie ‘n idéé waardeur hulle gaan nie…My nuwe vriend kyk na LeRoy (wat my vandag weer aangery het) en sê vir hom: “Jy moet baie goed wees vir haar, ons gaan deur hel!”

Emosioneel is ek beter vandag…my wipplank hang darem weer meer gebalanseerd... Vriend Pieter het ook my kop se ratte bietjie laat draai en ek het besluit dat ek nie die laaste twee weke van my bestraling werk toe gaan kom nie. Ek moet ‘n bietjie afskaal en fokus op my gesondheid. Dis maklik genoeg om epos te beantwoord en van die huis af wel ‘n bydrae te lewer. Die besluit stem my rustiger.

Twee handjievol bestralingsdae oor…net twee....dankie Here!