Thursday, May 28, 2009

Endometriod adenocarcinoma Donderdag 28/05/09

Liewe Heer, die monster is terug. Dit was dalk nooit weg nie… en vroeg-oggend het my rekenaar weer geroep en het ek weer in my studeerkamer gesit en tik.

Dinsdagoggend 26 Mei het ek die woorde by (een van my ginekoloë) gehoor wat ek aan die begin van die jaar so gevrees het: “Mevrou, ek is jammer om jou dit mee te deel, maar jy het kanker. Daardie gewassies (wat so onskuldig gelyk het) was kwaadaardig.” En terwyl sy met my gepraat het, was ek baie kalm en rustig en kon ek nie help om te dink dat alles aan die begin van die jaar my voorberei het vir presies hierdie oomblik nie. My tweede gedagte was, ek is eintlik nog altyd siek en hierdie eienaardige voorgevoel wat ek nou en dan kortstondig beleef het, toe waar was…

Nou wat het dan intussen gebeur, wonder jy? My lewe was wonderlik normaal – ek het weer begin gim, fietsry, stap en gewerk dat die stoombolle staan om die 9 weke lange afwesigheid by die werk te prober inhaal. Maar omtrent ‘n maand gelede het ek besef dat iets weer verkeerd is – die een ding waaroor dr. Heyns my gewaarsku het, was bloeding. Ek het twee keer my ginekoloog gebel en gesmeek vir ‘n afspraak, maar sy kon my nie help nie en ek is einde laas met behulp van my huisdokter op kort kennisgewing iewers in dr. Martine Dehandschutter se besige program ingeprop.

Sy het voorgestel dat ek dadelik ‘n histeroskopie (soortgelyk aan ‘n skraping) moet ondergaan, aangesien my endometrium verdik was. Sy was egter glad nie bekommerd oor die poliepe wat sy waargeneem het nie, en ek ook nie. (Sy sê Dinsdag vir my dat sy so ontsteld was oor die uitslae, want ek pas glad nie die profiel nie – hierdie kanker kom gewoonlik by oorgewig vrouens in hul laat sestigs voor) .

Ek moet erken dat dit nie maklik was om weer daardie paadjie Pretoria-Oos hospitaal toe te ry nie en toe ek daar op die operasietafel lê het die narkotiseur my gevra hoekom ek so bang lyk. Met die wakkerword was my onderlyf ‘n kool vuur, en ek het geruk van koue koors – die twee Panados wat hulle my gegee het, het niks aan die pyn gedoen nie! Maar na twee dae se slaap tuis, was ek my ou self en het die hele prosedure nie weer ‘n halwe gedagte gegee nie.

Die oproep van dr. Dehandschutter se ontvangsdame 9:00 Dinsdagoggend dat ek 12:00 dringend moet terugkom, het my kortasem gehad…dit het gevoel of my kantoor se mure al nader skuif…Ek kon nie besluit of ek alleen moes gaan en of LeRoy moes by wees nie, maar ek is alleen vort.

“Jy is baie dapper, né!”, het dr. dr. Dehandschutter gesê nadat sy die nuus gebreek het “Wil jy nie jou man bel dat hy jou kom haal nie?” Maar ek is rustig – ek is maar net weer terug in die holte van Sy hand. En ek neem dit net weer dag vir dag, soos liewe Thea voorgestel het. En ek probeer net so regop bly soos daardie 3 ongelooflike Strelitzias wat Monica gister in my kantoor kom staan maak het. En ek vra nie hoekom ek nie, want ek het gister in die oë gekyk van iemand wat reeds 13 jaar teen kanker stry. Hoe kan ek dan vra: hoekom ek, Heer? Dis eerder: hoekom nie Ek nie, Heer? Ek is niks meer spesiaal as enige ander een wat die nuus al moes aanhoor nie.

Wat nou volgende? Maandag het ek uiteindelik ‘n afspraak met my “eintlike” ginekoloog wat nie tyd vir my gehad het nie. ‘n Algehele histerektomie is bespreek vir die 5e Junie. Bestraling hang af van moontlike verspreiding, wat ons eers na ‘n volledige patologiese ontleding van my baarmoeder kan doen.

LeRoy het Januarie reeds vir ons ‘n naweek in die Drakensberge bespreek saam die BMW-klub en hy sien al maande lank hierna uit. Ek gaan dus my leerpakkie aantrek , agterop klim en my oorgee aan die natuurskoon en ek hoop dat daardie fris luggie in die berge die bekommernisse in my kop heeltemal sal wegwaai!