Sunday, November 1, 2009

'n Feestelike verjaarsdag! Saterdag 12/10/09


Ek het eeue laas geskryf, maar die aanloop tot my 50e verjaarsdag was besonder bedrywig. Die aand het my stoutste verwagtinge oortref en en ek het my gate uit geniet! Ons huis was omskep in ‘n restaurant, die swart tafels getooi met rooi rose en kerse, die tuin prentjiemooi met feëtjieliggies en die meeste van my vriende het saam ons aangesit vir ‘n smaaklike ete. Soos ek beplan het, was almal in swart getooi en het ek ‘n rooi rok gedra en self met LeRoy “Lady in red” gerumba – langs die swembad. Baie dankie aan al my vriende en liefste man vir ‘n feestelike aand en ‘n verjaarsdag sonder weerga! Hoe wonderlik om saam almal fees te vier in die huis waar ek vir soveel maande van hierdie jaar siek was!

Wednesday, September 16, 2009

'n Warrelwind lewe! Woensdag 16/09/09

Ek is weer deel van ‘n warrelwind lewe (en gevolglik stiller as wat sommige van julle wil hê)! Maar dis baie goeie nuus, want dit beteken ek is weer gesond!

‘n Belangrike tweeweeklikse besoek aan my stralingsonkoloog noop my om weer te skryf (en die besoek is reeds amper twee weke gelede). Deels het ek ook herkou aan dit wat ek daar gehoor het. Dr. Robbie het my die volgende meegedeel:
  • My prognose is goed en ek was in remissie voordat ons met die bestraling begin het;
  • Ongelukkig keer endometriale kanker terug in sommige gevalle (minder as 10% kans) en aangesien die medici nog nie mikroskopiese verspreiding kan sien nie, sal ek vir die volgende 5 na 10 jaar gemonitor word (dit voel soos 'n ewigheid!). As ek na 5 jaar geen tekens van herhaling ondervind het nie, kan ek seker wees ek is heeltemal gesond. Gevolglik is daar ‘n aantal afsprake vir my geskeduleer – die eerste een weer in twee maande se tyd en dit word weer opgevolg na 3 maande en so word die tyd gerek.
  • Ek moet enige onverklaarbare simptoom dophou – veral as dit erger word, want kanker se kurwe klim progressief en dit sal nie sommer beter word nie.

Uiteraard kyk ek met nuwe oë na myself. Die bestraling se newe-effekte is amper uitgewerk uit my lyf, maar ek sukkel veral met my immuniteit en het reeds weer ‘n erge verkoue en keelinfeksie gehad en is vandag die onwelkome ontvanger van ‘n koorsblaar. Alles tekens dat my weerstand nog laag is. Ek probeer dit nou eerder weer baie rustig neem, nadat ek voorverlede week selfs weer by die gimnasium was!

‘n Brokkie goeie nuus vir my – ‘n brief wat ek vir die tydskrif SARIE ingestuur het, is in die nuutste uitgawe gepubliseer. En daar volg dalk nog ‘n verrassing later…!

Tuesday, September 8, 2009

Die Skriba kyk terug...Dinsdag 8/09/09

Die einde van enige jaar word gewoonlik begroet met vreugde oor die jaar wat verby is en daar word met afwagting uitgesien na die nuwe jaar se geboorte. En so was dit ook vir ons aan die einde van 2008 en die aanbreek van 2009. Ons het groot verwagtinge gehad vir 2009...Maar vroeg in die jaar het 2009 reeds tande gewys.

Met hierdie inskrywing wil ek (LeRoy) graag my belewenis met jul deel van die 31 bestralingsessies (7 weke) wat Elsabé deurgemaak het. Die bestralings het die lewe uit Elsabé gemergel. Alle tekens van normale lewe was verby. Sy was van dag een naar, met die gevolge daarvan, en het erge diaree beleef. Ons moes ons lewe so skik dat ons te alle tye naby die huis en badkamer kon wees. Ten spyte hiervan het Elsabé haar kruis moedig gedra en het sy meer deursettingvermoë getoon as wat mens normaalweg van so klein en fyn mensie sou verwag. My agting, respek en liefde vir haar het elke dag net verdiep. In die tyd moes sy ook na my omsien, toe ek met longonsteking platgetrek was.

Die ergste van alles vir my was dat ek deur dit alles op die kantlyn moes staan en net emosionele ondersteuning vir haar kon gee. Ek kon nie werklik veel vir haar doen nie. Ek was die passasier en moes aanskou hoe sy ly en pyn ervaar en alles moedig dra. As ek kon, sou ek haar plek ingeneem het. Daarmee saam moet ek beken my belewenis hiervan kan nie met Elsabé se eerstehandse belewenis vergelyk word nie.

Van alles glo ek die laaste 3 sessies inwendige bestraling was seker op persoonlike vlak die mees ingrypendste en het haar die seerste gemaak – fisies en emosioneel. In die tyd dat sy vir hierdie sessies gegaan het, kon ek op niks konsentreer nie en was dit selfs vir my emosioneel uitmergelend. Sy het dit ook moedig beleef en deurstaan en ek haal my hoed vir haar af.

Persoonlik dink ek die kruis is op Elsabé se pad geplaas om uit te reik na ander. Haar dagboek was terapeuties vir ons albei. Sy kon haar hart en diepste wese uitstort en ek kon sien hoe haar geloof elke dag verdiep en vernuwe. Ek glo die blog word wyer gelees en versprei as wat ons albei weet, derhalwe het dit ‘n middel geword om Elsabé se getuienis verder uit te dra en raak dit hopelik ‘n paar ander harte. Hopelik kan dit selfs ander vrouens wat dieselfde simptome as wat sy ervaar het, noop om gouer by hulle ginekoloë uit te kom en moontlike verspreiding voorkom.

Die afgelope 9 maande het ons albei gelouter, maar ons het sterker uitgekom, in liefde en in gees. Ons het albei baie moeilike tye beleef – Elsabé meer so as ek, maar dit lê nou agter ons en ons het ons lewe hervat. Ons gaan weer saam kerk toe, doen weer saam inkopies, en Elsabé het weer begin werk. Ons lewe begin grootliks weer tekens van normaliteit toon…

Thursday, August 27, 2009

Babatreetjies na herstel Donderdag 27/08/09

Hoe gaan dit met my?…hoor ek sommige van julle vra (met ‘n berisping omdat die blog so stil is). Dankie, ek is besig om te herstel – babatreetjies elke dag. Maandagmiddag het die yspunt van die pynberg stadig begin smelt en elke dag is daar bietjie vordering, mits ek korrek eet. Twee aarbeie het my gisteraand verlei en ek het toe weer les opgesê tot my teleurstelling. Ek kyk dus steeds met hongerige oë na al die gesonde kosse om my en probeer steeds die smalle wit weg van stysels en vaal kossies te bewandel om my honger te stil.

En ek maan myself tot geduld…Sewe weke se bestraling sal bietjie tyd neem om uit my gestel te werk. Die pyn gaan soos dit gekom met – met kriewels en gejeuk, maar ten minste is ek nou al baie vroliker en swaai soms heupe op maat van musiek om die irritasies te besweer! In ‘n neutedop, ek is nog nie myself nie, maar ek is baie dankbaar oor elke dag wat bietjie vir bietjie minder pyn oplewer.

Maandag is dit terug werk toe! Wat ‘n ongewone jaar…

Thursday, August 20, 2009

Laaste inwendige bestraling Donderdag 20/08/09

Die klaar, dis klaar, dis klaar! Dankie, liewe Heer, dis verby!

My oorwegende emosie is een van oneindige dankbaarheid. Dankbaarheid dat ek nou kan begin herstel; dat die "pause" knoppie van my lewe nou weer kan "play"... Daar is 'n raps minder van my, ek is 'n raps broser, maar ek is ryker in liefde en die weelde van kosbare vriendskappe en blyke van omgee en liefde van mense wat my ken en sommige wat my nie goed ken nie.

EN... ek is nog ek! Of is ek? Hierdie blog was ook eerstens geskryf vir myself. Sodat ek NOOIT mag vergeet nie; altyd kan onthou. Hierdie pyn en hartseer moet my ook verander en my met meer deernis en empatie vir ander laat. Ek moet elke oggend wat ek gesond wakker word, elke sonstraal op my lyf, elke vreugde-oomblik, elke blykie van liefde, elke gawe wat ek ontvang met meer dankbaarheid koester en waardeer.

Mag elke een wat hierdie pad saam my geloop het ook hul seëninge tel, net meer liefhê en saam my loof : die Here is goed - loof Sy heilige Naam!

Wednesday, August 19, 2009

Inwendige bestraling 2 Woensdag 19/08/09

“Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het.” Ester 4:14. "Het jy al daaraan gedink dat God jou met ‘n spesifieke doel in jou teenswoordige situasie geplaas het? Moontlik is dinge vir jou op die oomblik oneindig moeilik en gespanne en sou jy liewer op enige ander plek wou gewees het as waar jy nóu is." (Ozrovech, S 2007, In die holte van God se hand, Pretoria: CUM.)

Hierdie dagstukkie se woorde wat ek en LeRoy onlangs saam gelees het, bly in my kop maal. Is dit so dat U hierdie kanker met ‘n spesifieke doel op my pad geplaas het, Heer? Wat het U verwag van my? Is hierdie ‘n toets, Heer? Wou U gehad het dat ek my Bybel meer moes lees, dat my gebedslewe langer, meer en inniger moes word, dat ek meer gereeld tot stille inkeer moes kom, U meer geloof het, meer geglo het en meer getuig het?

Want deur dit alles, was ek maar net ek. Met tye 'n bang ek, 'n swak ek, 'n twyfelende ek, 'n huilende ek, 'n eensame ek en 'n bekommerde ek. Liewe Heer, een van my bekommernisse is, dat indien hierdie 'n toets was, ek dit dalk nie geslaag het nie.

Vandag het 'n vrouedokter, dr. Kobie die plasing gedoen en dit was minder pynlik. Ek het haar na die tyd spesiaal gaan bedank en haar antwoord was: "Geen vrou wil graag daar lê nie..."

Môre is hierdie behandeling op 'n einde...ek sien SO uit daarna!

Tuesday, August 18, 2009

Inwendige bestraling 1 Dinsdag 18/08/09

En daar lê ek toe weer op ‘n nuwe harde blad, in ‘n ander hospitaal met nuwe simpatieke gesigte wat my moeilik in die oë kyk. Ek wonder waaraan dink ander as hulle daar lê, wat gaan deur hulle gedagtes – dit behoort ‘n studie op sigself te wees. Elke vrou wat hierdie lees sal haar die behandeling kan voorstel; elke man wat hierdie lees het nie ‘n idee wat hierdie deel van vrouwees behels nie. Marié het dit so fyntjies saamgevat: “Vroue is so blootgestel aan mediese posisies wat ons siel blootstel.”

Ek volstaan met die gedagte dat dit nie pynloos is nie, dat die “instrument” baie anders gelyk het as wat ek my voorgestel het en dat hierdie bestraling 5 minute aanhou en baie langer voel omdat dit nie die plasing daarvan, die koppeling en programmering insluit nie. Natuurlik het die kriewels in my binneste weer ontwaak…jeuk-jeuk, kriewel-kriewel, jeuk-jeuk….Genadiglik lê daar nog net twee voor…

Monday, August 17, 2009

Onvergewinsgesinde sondaars Maandag 17/08/09

Suutjies sit, suutjies sit…hier op my ringkussinkie…

My maag en my onderstel is soos onvergewinsgesinde sondaars wat die evangelie nog nie aanvaar het nie. Hulle herinner my gedurig aan dit wat ons saam die afgelope tyd deur is. My maag klou onverbiddelik vas aan haar griewe en blaas haarself op (eintlik eerder af!) as ek nie haar sentiment deel nie. Ek sal baie geduldig met hul albei die pad moet loop en hulle met goed gemikte argumente oortuig om die strydbyl te begrawe. Verstaan hulle dan nie dat die bestraling nou verby is nie? Vir hulle geld “Let bygones be bygones” nog nie….

Dis versigtig eet en met verlangende oë kyk na die “verbode vrugte en kossoorte”, dis insalf en inroom en konsentreer op my asemhaling om die pyn te hanteer as die oomblik van waarheid aanbreek.

Maar, ek het steeds ‘n wonderlike middag gehad – ek fokus immers op die beplanning van my 50e verjaarsdag en dit beloof om ‘n magiese gebeurtenis te wees!

Friday, August 14, 2009

Laaste uitwendige bestraling Vrydag 14/08/09

Uiteindelik het hierdie dag aangebreek! Ek was reeds voor 6:00 wakker en het soos ‘n kind gevoel wat uitsien na ‘n partytjie; het ook vroeg opgestaan en aangetrek. My beste vriendinne en grootste troosters het sedert gister laer getrek om my met oproepies, smse, kuiers, eposse en bederfies vir oulaas te bemoedig. Voel hulle ook die afwagting…tel hul saam my die sekondes af na 11:30?

Dankie Here…ek is SO dankbaar hierdie beker is nou leeg. Die bestraling was vir my ‘n emosionele en fisiese slagveld. Ek het hierdie afgelope week amper ‘n kilogram gewig verloor, maar in die geheel gesien darem nie te veel nie. Dit is eintlik verbasend dat ek nie meer verloor het nie, want ek het geen eetlus meer nie en het baie gesukkel om die afgelope week te eet. Mmmm, sal regtig aan LeRoy se repertoire moet werk…as kok het hy nog groeipotensiaal… :-)

Ek sien so uit na….

  • die weelde van ‘n bad…ek wil hierdie bestralingsmerke van my afskrop!
  • die einde van die pyn, gekriewel en derm-manewales…
  • my eerste happie kaas, volkoring of saadbroodjie, mielies, pizza, rou groente, ertjies en ander groen groentes, vrugte (buiten gerasperde appel en piesang), witsous, geurmiddels in my kos en SJOKOLADE!
  • uiteet, fliek en minder huisgebonde te wees;
  • myself voel…

Nog een wekie se bulte…nog een wekie se herstel…Binnekort is Elsabé weer terug!

Thursday, August 13, 2009

Bestraling 27 om 11:30 Donderdag 13/08/09

Die pynbom het tydelik gehelp vir die pyn, maar laat my ongelooflik sleg voel. Ek is nie ‘n groot voorstaander van medikasie nie en gebruik verkieslik my lewe lank die minimum.

My vel het nou op plekke begin verkleur van die bestraling – sulke eienaardige bruin, warm kolle. Ek het eers geskrik toe ek dit sien, maar die inligtingsbrosjure het gewaarsku dat dit kan voorkom.

Lente het nou ook in my begin nesskop…die vernuwing in die natuur vind ook weerklank in my…Nog net een dag se bestraling wat voorlê, dankie liewe Heer!

Wednesday, August 12, 2009

Klop-klop...klop-klop...Donderdagoggend 13/08/09

Om pyn in die nag te ervaar is 'n eensame paadjie...klop-klop, klop-klop...Jy luister hoe jou man langs jou slaap en rustig asemhaal, jy hoor die nuwe koue front ruk en pluk aan die boomtakke voor jou slaapkamervenster. Maar al waarvan jy eintlik bewus bly is die klop-klop, klop-klop in jou onderlyf. Jy skuif versigtig van posisie, maar dit maak geen verskil nie...klop-klop, klop-klop...Jy onthou die pynpille...Die bom wat jy verlede week gekry het en slegs een keer gedrink het, want een van die newe-effekte is naarheid (nee...nie al weer nie!) en die enigste keer wat jy dit gedrink het, het die bom jou 'n uitklophou gegee. Boonop mag jy dit nie op 'n leë maag drink nie...Ai, sal jy weer kan slaap? Klop-klop, klop-klop....Hoe laat is dit nou?

Jy lê en wik en weeg amper 'n uur lank...klop-klop, klop-klop...en staan dan maar saggies op. Soek jou pantoffels, kamerjas, kombersie in die donker en maak stilletjies die kamerdeur toe. Jy maak vir jou tee en eet van die nuwe beskuit wat jou man gister vir jou gekoop het - die wittes sodat jou arme derms (hopenlik) nie weer aapstuipe kry nie. Die bom staan langs jou - hy sal laaste aan die beurt kom. Jy hoop daar is genoeg beskuit in jou maag, jy hoop die bom gaan jou nie te sleg laat voel nie - jy sluk die bom weg. Klop-klop, klop-klop....tyd om terug te sluip kamer toe.

Jy sal môre weet of dit die regte besluit was...Klop-klop, klop-klop....

Bestraling 26 om 11:30 Woensdag 12/08/09

Vandag se sessie het besonder lank geneem omdat daar weer X-strale van my geneem is en nuwe merkers aangebring is. Die laaste drie dae word daar op 'n kleiner area gefokus en my bobuik en derms gaan darem nou "rus". Ek moet erken dat ek nie meer vashouverse het nie, ek lê net ek dink "Here, Here...!"

Daar is dus slegs twee dae oor...net twee dae hiervan in elk geval...Ek kan dit doen. Ek is seker ek kan dit doen. Dis nie so erg nie, Elsabé - dis niks! Ek KAN dit doen!

Gisteraand het 'n vriendin van my se seun wat vir die Here wil werk met sy drie vriende by ons huis opgedaag - spesiaal om vir my te bid. Dit het my diep ontroer - sulke jong vroeë twintigs kêrels...Dit bly vir my wonderlik om elke dag te beleef hoe die Here my aan Sy teenwoordigheid herinner deur mense...Soms mense wat ek nie eers ken nie, soms mense wat ek nie goed geken het nie, soms liewe vriende wat reeds 'n lang pad met my stap. Baie dankie vir jul elkeen - wees verseker dat elke boodskappie, sms, epos, oproep, besoekie en etetjie of blykie van liefde en omgee meer waardeer word as wat my woorde hier kan blyk.

Tuesday, August 11, 2009

Bestraling 25 om 11:30 Dinsdag 11/08/09

Ek is aan die brand en ek bedoel dit nie op die wyse waarop ons na flinke en vlytige werkers verwys nie! Ek moes die naweek iets geëet het waarvan my derms nie gehou het nie, want hulle het gerebelleer vanaf Saterdagmiddag dwardeur twee nage heen tot Maandag toe. Nodeloos om te sê dat ek dus nie vars, vrolik en opgewek hier sit nie. Die lys van wat ek mag eet is veel korter as die lys wat ek nie mag eet nie en ongelukkig wil ek nie meer eet nie. Dis met die grootste moeite wat ek iets inforseer. AL wat my nou aan die gang hou is die gedagte dat die aanslae op my sagte weefsel en buik Vrydag einde gaan kry….

Ek het ook die besonderhede van my volgende sessie bestralings uitgeklaar. Daar gaan gelukkig net 3 bestralings wees en ek beoog om dit ook so gou moontlik verby te kry. My eerste tentatiewe afspraak is dus volgende Dinsdag…as my lyf dit kan hanteer. Sy beter, want ek het besluit hierdie mini-oorlog in my lyf moet nou net einde kry…ek is op, ek is klaar… ek is...

Friday, August 7, 2009

Bestraling 24 om 11:30 Vrydag 7/08/09

Dis langnaweek in Suid-Afrika...en ek en my man trek laer. Ons beplan niks, gaan nêrens heen nie en sal hopenlik albei elke dag bietjie beter voel. Ek het weer vir dr. Robbie gesien en nuwe pynmedikasie ontvang en daar is gelukkig 'n ekstra rusdag vir my uitgeputte derms. Die einde is in sig...ek het nog 'n week agter my...dankie Here!

Thursday, August 6, 2009

Bestraling 23 om 11:30 Donderdag 6/08/09

My "countdown" is eintlik nou in sy kanon in…, maar dis tog met vreugde dat ek die oorblywende bestralings nou op my een hand kan tel…Ek is nie lus om te praat oor hoe ek voel nie, veral nie dat ek vroegoggend reeds met ‘n keelseer wakker geword het nie – die medikasie wat moes keer dat LeRoy se kieme my bespring, ten spyt.

Kom ek erken dit nou ruiterlik, ek kan die bestraling nie verdra nie! Ek is werklikwaar so siek en seer dat dit die grootste wilskrag verg om dit elke dag te verduur en ek bars soms in trane uit van die pynlike nagevolge. Maar… sommiges van ons se huise word deur die Stadsraad gesloop (vriende van my s’n nogal), sommiges van ons se huwelike verbrokkel, sommiges van ons se liefdevolle dogtertjies verander in depressiewe tieners met selfmoordneigings. Sommige van ons se ma’s stry nou al ‘n jaar teen borskanker, sommiges van ons sukkel om finansieel die mas op te kom en moet twee beroepe se eise hanteer en sommiges van ons verpleeg ‘n bedlêende , ernstig siek eggenoot. Met sommiges van ons gaan dit baie goed, met sommiges van ons gaan dit baie sleg. Maar dit is maar net die verloop van die lewe…en al wat sommiges van ons kan doen is om vir sommiges van ons te bid.

En genadig is daar darem elke dag iets positief om op te fokus…soos Alet se heerlike hoenderpastei of Anita se getooide miniatuur sjokoladekoek....of die geel vinkie wat so onbesorg en met soveel energie en entoesiasme aan sy nessie bou. En ons is almal in die holte van Sy hand…!

Wednesday, August 5, 2009

Bestraling 22 om 11:30 Woensdag 5/08/09

Slegte nuus..., maar gelukkig weens groot Genade is ek emosioneel rustig en ek het dit verbasend goed hanteer. En dit ten spyte van die feit dat ek ook vandag die eerste tekens van bloeding gewaar het, wat my glad nie opgewonde stem nie (dis tipiese tekens van inflammasie en irritasie van die derms).

Dr. Robbie se slegte nuus is dat ek ook inwendige bestraling moet ondergaan binne 2 weke.

Aangesien my kanker ondertoe versprei het en die bo-gedeelte van my vagina nie verwyder is nie, het dr. Snyman self geskakel en inwendige bestraling aanbeveel. Ek het so uitgesien om volgende Vrydag klaar te wees, maar volgens hom sal ek myself een week se grasie van rus en herstel moet gun, en die inwendige bestraling sal dan gedurende die week van 24 Augustus ‘n aanvang neem. Volgens dr. Robbie sal ek gelukkig minder newe-effekte ervaar, want die bestraling fokus op ‘n kleiner area. Ek het reeds ‘n afspraak met dr. Ingo de Meulenaere by Muelmed, want hierdie bestraling word net daar gedoen.

Die besef wat stadig insink, is een van erns. Hierdie is nie kinderspeletjies nie – dit is lewensbedreigend en hierdie is 'n geveg wat ek net moet wen!

Tuesday, August 4, 2009

Bestraling 21 om 11:30 Dinsdag 4/08/09


Ek het opgekyk na haar - letterlik en figuurlik...my ma!

Ek verlang intens na my ma – na haar liefde en troeteling. Dit sou vandag haar 77e verjaarsdag gewees het, maar haar plekkie is reeds 11 jaar leeg.

Ons het ‘n besondere hegte verhouding gehad en sy is die mens wat die grootste positiewe invloed op my lewe uitgeoefen het. Van jongs af was ek ook haar vertroueling en tot met haar skielike dood in 1998 het ons mekaar elke liewe dag gebel. Sy was my klankbord en ek hare en ons het mekaar se wel en wee, drome en hartseer geken en gedeel. Niks het my groter vreugde verskaf as om haar gelukkig te sien nie, en sy kon altyd so opgewonde raak oor elke (klein) hoogtepunt in my lewe.

Sy was ‘n wonderlike betrokke ouer en het alles binne haar vermoë gedoen om in elke behoefte van my en my sus te voorsien. As alleenouer het sy elke beskikbare uur wat sy kon bykomende boekhouwerk gedoen om finansieel die pot aan die kook te hou. Sy was ‘n voorslag by die werk omdat sy so akkuraat en noukeurig kon werk en was baie gesog by haar werkgewers. Salomo het ‘n vrou soos sy in gedagte gehad toe hy in Spreuke 31 geskryf het: “‘n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene.”

As ‘n Ouma was sy ook hartstogtelik lief vir haar twee kleinseuns en ek kan nog goed een naweek onthou hoe Eugene gehuil het toe Ouma moes huistoe (in Johannesburg ) en daar huil Ouma toe lustig saam…Sy het ook vir ‘n tyd lank my sus se seun versorg toe Madelein weer moes gaan werk. Haar seun het ‘n passie vir lang hare gehad en het net aan die slaap geraak as hy met my sus se hare kon speel. Ouma sou ongemaklik skewe koppie sit – net sodat Devin ook aan haar kort hare kon vat om aan die slaap te raak!

As ‘n mens so ‘n intieme verhouding met ‘n ouer het, is dit nie maklik om afskeid te neem nie en die leemte wat sy na haar dood in my lewe gelaat het is steeds daar. ‘n Mens leer maar net om met die verlies saam te leef. Sy is skielik een Sondagmiddag in haar slaap by ons aan huis oorlede en ek het niksvermoedend daar ingestap om haar wakker te maak omdat ons kuiergaste verwag het. Ek sal daardie oomblik nooit vergeet toe my oë op haar val en dit tot my deurdring dat sy dood is nie…Die hartseer en pyn wat ek gevoel het om te besef dat ek nooit weer daardie warm stem sou hoor nie, daardie sagte wang sou soen nie, daardie vonkelende oë sou sien blink nie, daardie flinke hande wat vir niks verkeerd gestaan het, sien borduur, naaldwerk doen, hekel, tuinwerk doen of bak nie…

My groot troos is dat ek haar onvoorwaardelik lief gehad het en oneindig waardering vir haar as mens, werker en ouer gehad het. Twee jaar voor haar dood het ek vir haar ‘n brief geskryf en vir haar vertel hoe besonders sy as ouer vir my was en hoe oneindig lief ek haar het. Ek het haar vertel hoe ‘n navolgingswaardige voorbeeld sy vir my gestel het en dat ek nooit vir beter van die liewe Vader sou kon gevra het nie.

Mamma, ek dink nog so baie aan jou – hoe dan anders? Elke keer as ek my vingers in die grond steek, of daardie lekker suurlemoenpoeding maak, en souskluitjies, en onthou mamma nog daardie lekker klapperkoek wat ons eenkeer laat brand het omdat ons so geklets het? Die kere wat ek en LeRoy die voorreg gehad het om in die katedraal Notre Dame in Parys te kom, steek ek vir mamma ‘n kersie aan. Daar is vir my iets besonder terapeuties aan die rituele gebaar en ek neem my altyd voor om dit tuis ook te doen. En kersfees kan ek glad nie “Somerkersfees” sing van Koos du Plessis nie. As ons wegtrek met “Welkom O stille nag van vrede, Onder die suiderkruis, Wyl stemme uit die verlede, Oor sterrevelde ruis” dan trek my keel toe…

Die meetsnoere van die lewe het nie vir haar in lieflike plekke geval nie, maar Heer, U weet beter… Ek is vreeslik dankbaar dat sy hierdie hartseer gespaar is om my so siek te sien, want sy sou haar morsdood bekommer het oor my!

Monday, August 3, 2009

Bestraling 20 om 11:30 Maandag 3/08/09

“Countdown….nine, eight…!”

Ek moes die afgelope tyd by die werk gedurig hoor: “Jy lyk so goed!” Dit het my verbaas, want as ek in die spieël kyk, sien ek ‘n vreemdeling. Geen vernuwingsroompie wil die nuwe kepe langs my mond en tussen my oë versag nie. Ek lyk skielik, sommer oornag, vir myself my ouderdom.

Maar my naderende verjaarsdag motiveer my ook om te fokus op iets positiefs. Ek het besluit dat ek vanjaar my lewe, liefdes en vriendskappe op luisterryke wyse gaan vier - op kantoor, tuis, en by die gimnasium! My liewe man beplan ‘n spesiale vakansie vir my…ek sien oneindig uit daarna!

Ek moet aan iets goeds dink, want ek het pyn. Die maagkrampe en diaree het nie die naweek gewyk nie en twee weke se irritasie lê nog voor. Boonop is LeRoy vandag met longontsteking gediagnoseer. Ek hou hom al sedert gister met bekommerde en bang oë dop – bekommerd omdat ek hom opreg jammer kry en so min vir hom kan doen, maar bang omdat ek nie nou weer mag aansteek nie. Ons liewe huisdokter wat ons omstandighede ken, het sommer by voorbaat vir my ook medikasie voorgeskryf om moontlike aansteek te voorkom.

Friday, July 31, 2009

Bestraling 19 om 11:30 Vrydag 31/07/09

“Countdown….nine…!” Net 9 oor….wonderlike gedagte!

Ten spyte van al my maag se manewales het ek net 200g gewig verloor hierdie week in vergelyking met verlede week se 300g. Hier tel elke gram en jou gewig word met arendsoë dopgehou. “Crash, boom, bang!” het Roxanne vandag in my ore gesing terwyl die masjien bzzzzzzzzzzzz, “1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10,11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20 sekondes” onder my. Die ratte skuif woer-woer en sy groot gesig beweeg vanaf onder na links bzzzzzzzzzzzz, “1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10,11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20”, woer-woer skuif die ratte en die gesig beweeg soos ‘n groot donker wolk bokant my in, bzzzzzzzzzzzz, “1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10,11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20”, woe-woer, en die gesig beweeg regs “Amper klaar….”, bzzzzzzzzzzzz, “1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10,11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20 sekondes” Trek af my hemp, trek op my broek - dis maar al…!

LeRoy probeer hard om my aan die eet te hou. Hy sorg feitlik alleen vir al die etes, buiten as ons albei bederf word soos die week met dierbare Lelanè (dankie weereens!). Hy maak elke dag ontbyt (in die bed bedien!) en elke dag kry ek ‘n wit toebroodjie kantoor toe met ‘n voedsame proteïenvulsel soos vleis, hoender of eier. Gistermiddag het hy my met koeksisters saam tee verlei. Dankie my liefste man, jou soort is dun gesaai…

Die gejeuk het geleidelik geëvolueer in ‘n volskaalse gekriewel. Dit voel of ‘n mierkolonie hul intrek in my onderbuik geneem het en kort-kort vervaard rondhardloop en nes bou. Dank Vader dis naweek en dat ek die volgende twee weke nie kantoor toe hoef te gaan nie. Môre skree ek weer vir die Springbokke (veral vir Morné Steyn) – ek het dit lanklaas so geniet om so te lawaai soos deesdae!

‘n Spesiale dankie aan twee liewe vriendinne Martha en Huldah, vir ‘n pragtigste ruiker blomme! En dankie aan ds. James wat gistermiddag kom luister het, kom hulp aanbied het en so mooi vir ons albei gebid het: “Here, laat hulle U nabyheid ervaar, want ek weet dat U wel hier is.”

Thursday, July 30, 2009

Bestraling 18 om 11:30 Donderdag 30/07/09

Een kyk na my nuwe vriend by die hospital, en ek weet dit gaan nie goed met hom nie. Hy sê dat hy die vorige aand nie ‘n oog toegemaak het nie. Ons kyk met begrip na mekaar en sy vrou verwoord die gedagtes wat die afgelope tyd in my gemoed maal. Ons hoor so dikwels van mense wat kanker het en bestraling of chemoterapie moet ondergaan, maar ons het nie ‘n idéé waardeur hulle gaan nie…My nuwe vriend kyk na LeRoy (wat my vandag weer aangery het) en sê vir hom: “Jy moet baie goed wees vir haar, ons gaan deur hel!”

Emosioneel is ek beter vandag…my wipplank hang darem weer meer gebalanseerd... Vriend Pieter het ook my kop se ratte bietjie laat draai en ek het besluit dat ek nie die laaste twee weke van my bestraling werk toe gaan kom nie. Ek moet ‘n bietjie afskaal en fokus op my gesondheid. Dis maklik genoeg om epos te beantwoord en van die huis af wel ‘n bydrae te lewer. Die besluit stem my rustiger.

Twee handjievol bestralingsdae oor…net twee....dankie Here!

Wednesday, July 29, 2009

Bestraling 17 om 11:30 Woensdag 29/07/09

Vandag voel ek nie dapper en sterk nie, ek is baie broos. Gisteraand lees ek in Mattheus dat ons nie ons lewens kan verleng deur oor die dag van môre te bekommer nie. En Here, ek bekommer oor die dag van môre, want elke dag laat my sieker, slegter en swakker as die vorige een. Dit bly tog vir my moeilik om doelbewus elke dag hierdie gifbeker te “drink” en te weet hoe my huidige gesondheid stelselmatig ‘n knou kry…ter wille van langtermyn herstel.

Ek is so siek van siekwees! Hoe voel dit nou weer om nie pyn te hê, moeg of sleg te voel nie? O ja, dit moet verlede jaar een of ander tyd wees!

Dr. Robbie vermoed ek het gastritis aangesien die bestraling my maagslymvliese irriteer. Hy het verduidelik dat elke mens se ligaam ook uniek is en eiesoortig op die bestraling reageer. Daar word tans op 'n groot oppervlak gekonsentreer en dit verklaar my slegte simptome en moegheid. Ek het twee nuwe salfies vir al die seer en jeukende plekkies want ek mag nie enigiets aansmeer nie. Sedert gister het ek ook begin met erge maagkrampe - gelukkig net met tusssenposes.

En nou sal ek weer gerasperde bruin appel gaan eet want tot dusver was die wit beskuit, wit koek, wit toebroodjie en bruin piesang beslis nie suksesvol om my maag te beheer nie. En later vanaand sal ek myself troos met Lélane se appeltert - dankie jy is 'n engel!

Tuesday, July 28, 2009

Bestraling 16 om 11:30 Dinsdag 28/07/09

In helping others, we shall help ourselves, for whatever good we give out completes the circle and comes back to us. - Flora Edwards

Hierdie mooi woorde dra ek op aan al my wonderlike vriende in my lewe wat my elke dag so ondersteun en vertroos op elke denkbare manier! Mag die liefde wat julle op my uitstort honderdvoudig na jul elkeen terugkeer.

My liggaam se vuurherd is op die koffie…Ek is feitlik konstant koud en bibber en beef tussen die gloede deur! Ek lyk komieklik…sit met ‘n kombers oor die skoot en ‘n tweede een om my skouers en dan is die verwarmer ook nog aan in die studeerkamer. Ek gaan nêrens sonder Edith se koringsakkies nie en hardloop met tussenposes mikrogolf toe om hulle weer op te warm.

Môre sien ek weer vir dr. Robbie en sal my nuwe simptome met hom bespreek. Dalk kan ek ‘n roompie kry vir die plekkies wat so sensitief is. Ek voel baie moeg, maar ten spyte daarvan probeer ek om by die werk en tuis ‘n dag se werk in te pas.

Vandag se vashouvers: Die Here is my sterkte en my beskermer, op Hom het ek vertrou – Psalm 28:7.

Monday, July 27, 2009

Bestraling 15 om 11:30 Maandag 27/07/09

Ongelukkig was die naweek nie so salig as waarop ek gehoop het nie – die newe-effekte het my behoorlik opgekeil. Vandag verduidelik die radioloog vir my dat die bestraling se effek op my lyf kumulatief is. Dit is soos druppels in ‘n emmer – elke dag ‘n bietjie bietjie, maar iewers gaan my emmer begin oorloop.

Die volgende 3 weke sal ek baie diep vir krag moet delf, want die pad vorentoe gaan nie makliker word nie. Ek het erge diaree gehad die hele naweek, is weer met tye naar en moes my eetplan weer drasties bekyk. Een van die kankerpasiënte het vandag ook raad gegee – geen suiwel, neute, sade, klapper, rou groente en semels nie. Dit was goed om met iemand te praat wat presies verstaan en dieselfde simptome as ek ervaar. Boonop ry die arme man elke dag van Brits af vir behandeling - weer iets om voor dankbaar te wees…

Friday, July 24, 2009

Bestraling 14 om 11:30 Vrydag 24/07/09

Halfpad met die bestralings, dankie tog! Nou is dit afdraande...nog net 3 weke oor. Die vooruitsig van 2 rusdae is verblydend. En dis al wat ek wil doen – net rus en kragte opbou.

Thursday, July 23, 2009

Bestraling 13 om 11:30 Donderdag 23/07/09

My lyf is geïrriteerd deur die bestraling en ek is geïrriteerd met my lyf. Hierdie algehele gevoel van onbehae neem elke week ‘n bietjie toe. My nuutste simptome sluit ‘n gejeuk en gekriewel in en daar is niks aan te doen nie. Ek moet myself juis versigtig hanteer sodat ek nie stukkend gaan nie en van krap is daar nie sprake nie. Vandag voel dit ook of die moegheid soos ankers aan my hang en die feit dat my blaas my gisteraand twee-uurliks wakker gemaak het, dra by tot my moegheid. Vanaand drink ek ‘n slaappil.

Die grootste uitdaging is egter om nie my irritasie te laat blyk nie en belangriker, om dit nie uit te haal nie – op niemand nie!

Ek het ek die mooiste sms gekry by Lèlane: ‘n Golfstok in my hande beteken nie veel nie. ‘n Golfstok in Ernie Else se hande beteken ‘n paar miljoen rand. Dit hang af in wie se hande dit is. ‘n Stok in my hande kan gebruik word vir selfverdediging. ‘n Stok in Moses se hand het die see geskei. Dit hang af in wie se hande dit is. Twee vissies en vyf brode in my hande beteken ‘n paar toebroodjies. Twee vissies en vyf brode in Jesus se hande beteken kos vir duisende. Dit hang af in wie se hande dit is. Met spykers in my hande kan ek ‘n kissie bou. Spykers in Jesus se hande beteken oorwinning en verlossing vir die hele wêreld. Dit hang af in wie se hande dit is. So, sit al jou bekommernisse, vrese, hoop, drome, familie, vriendskap – ja, alles – in God se hande. Onthou, dit hang af in wie se hande jy is!

So, hier is dit Here, vat asseblief hierdie pakkie – ek is mos in U hande!

Wednesday, July 22, 2009

Bestraling 12 om 10:10 Woensdag 22/07/09

Dit was vandag weer my afspraak met dr. Robbie en ek kom agter dat hy probeer om my te help om die positiewe te ontgin van my siekte. Verlede week het hy al getroos deur te sê dat die meeste mense na die tyd vir hom kom vertel dat dit nodig was dat hulle deur hierdie meule gaan. Hy het voelers uitgesteek oor my huwelik en ek kon hom verseker dat dit goed gaan, maar dat dit voor die tyd ook goed gegaan het. Ek het nie kanker nodig om my en my man se verhouding te herstel nie. Nee, ek is nog nie seker hoekom die Here die groot snoeiskêr uitgehaal het nie, maar ek weet dat snoei vernuwe en nuwe lewe gee. Hopenlik sal my blomtyd ook weer aanbreek!

Die mees positiewe ervarings wat ek tot dusver geput het, is die warmte en liefde van gee-mense. Ek is verras deur mense wat spesiaal tyd maak vir my - op watter manier ookal. Hulle bel gereeld, of sms en stuur eposse van troos en bemoediging. Sommiges loer vinnig in - gewoonlik nooit met leë hande nie. Wat my die meeste verbaas is dat dit soms mense is wat ons nie tradisioneel as "huisvriende" beskou het nie. Gisteraand het 'n kerkvriendin byvoorbeeld 'n volledige tuisgemaakte ete kom aflaai - afgerond met selfs 'n sjokoladetjie vir nagereg. Dit is sulke gebare wat my week laat met dankbaarheid...Hoe kan ek hulle ooit vergoed? Die slotsom waartoe ek kom is dat daar oneindig baie goeie mense op die aarde is. Baie dankie Here vir gee-mense wat onbaatsugtig 'n daadwerklike verskil in ander se lewens maak en U liefde uitleef!

Tuesday, July 21, 2009

Bestraling 11 om 11:30 Dinsdag 21/07/09

Rene (wat by Wilmedpark Onkologie in Klerksdorp werk) het my ge-epos en vertel van ‘n wonderlike emosionele ontlading-seremonie wat hulle “balloon releasing” noem. Ek het hoeka nog Louis (daardie man se asem hou!) se 5 groot vet ballonne wat hy in die motor opgeblaas het op pad werk toe die 3e Junie toe my kollegas my verras het. Blykbaar het hy baie snaakse kyke in sy motor gekry daardie dag, so blaas-blaas in spitsverkeer!

So, ek het pas besluit…die 14e Augustus, na my laaste bestraling, gaan ek daardie 5 ballonne lugwaarts lanseer en die einde van my siekwees vier. Waar die ballonne van my kollegas eers ‘n simbool was van ‘n tweede-asem, oplig en liefde, sal die ballonne dan ‘n simbool wees van al die seerkry en swaarkry van die afgelope paar maande. Ek sal hulle met vreugde een vir een loslaat en dit sal bevrydend wees om te sien hoe hulle al verder... en verder... wegdryf en kleiner word totdat ek nie eers meer ‘n spikkeltjie kan sien nie!

My kantoor is uitgesorteer en ek sal funksioneel kan werk môre. Gerda het die mooiste, grootste, vrolikste ruiker wat ek in ‘n lang tyd gesien het, laat aflewer en so die sonskyn in my kantoor genooi.

Uiteindelik is ek meer gemaklik met die bestralingsessies – ek grap en skerts nou al met die radioloë en voel nie meer elke keer of ek in die “room of doom” instap nie. Ek kom agter dat baie wonder hoe die bestraling werk. Nee, gelukkig lê ek nie soos ‘n rotisserie-hoendertjie daar nie. Julle ken mos daardie lekker hoendertjies by Woolworths, Pick & Pay en Spar wat so al in die rondte roteer en bak dat die vetjies so spat? Ek lê op ‘n smal bankie en die masjien draai om my…ek is die middelpunt waarom die masjien draai, soos wat my gesondheid nou die middelpunt geword het van al my doen en late.

Monday, July 20, 2009

Bestraling 10 om 11:30 Maandag 20/07/09

Maandae is gewoonlik goeie dae weens die grasie van die naweek sonder bestraling. Vandag is ek terug werk toe – na 6 weke siekverlof. Ek sal elke dag kantoor toe en daarvandaan hospitaal toe gaan – gelukkig is Little Company so naby.

My liewe werkskollegas het my verwelkom met ‘n spesiale tee en ons het een van hulle se verjaarsdag ook saam gevier. Dit bly kosbaar dat hulle almal soveel meelewing en minsaamheid toon. Vandag het ons hele afdeling 2 vloere verskuif en ieder en elk het kom help om my goedjies te pak en te karwei. Baie, baie dankie julle! Ek lees onlangs die volgende aanhaling: “Shall we make a new rule of life from tonight: always try to be a little kinder than is necessary.” Ek dink dis ‘n uitstekende lewensmotto!

Die bestraling se effek op my lyf is onmiskenbaar en onvoorspelbaar, maar nietemin nog hanteerbaar!

Friday, July 17, 2009

Bestraling 9 om 13:30 Vrydag 17/07/09

Every action in our lives touches on some chord that will vibrate in eternity.
-Edwin Hubbel Chapin

Elke dag lewer ‘n juweeltjie op…en vandag s’n is die kommentaar van Rene Lorenzen van Oncology South Africa. Sy vra ‘n lysie van my kreatiewe weldoener se geskenkies en boodskappies om dit weer verder aan ander kankerpasiënte te gee. Wat ‘n wonderlike, positiewe uitvloeisel! Ek sal self bitter graag meer betrokke wil raak om ander hoop te gee, om ‘n verskil aan ander se lewens te maak. Ek lees net gister in DailyGood van "Difference makers": “Are you a Difference Maker? What is it that you possess - beyond the material- that you can give to the world? Time? Energy? Art? Love? Inspiration? Happiness?” O ja, ek wil ook ‘n Difference maker wees en my kreatiewe vriendin gaan nou met haar tyd, omgee en liefde ook een word vir ander – wonderlik!

Dit was my laaste dag tuis. Ek sal die roetine mis … om verder die knus bed in te wurm nadat LeRoy gery het, my eie ontbyt rustig in die warm bed te nuttig (met die elektriese kombers aan), daarna die skootrekenaar nader te trek en te blog, eposse te lees en te beantwoord, bietjie te werk, en te Facebook, soos nog nooit tevore nie!

Vandag se geskenkie was ‘n pakkie Diddle Daddle – daardie krakerige karamel springmielies! “Diddle Daddle, ek is besig om te “paddle” in ‘n bootjie op stormsee. Here, maak my moedig, Here, maak my sterk!”

Dit was gesondheidsgewys ‘n beter week en 2 van die 6 weke se bestraling is nou agter die rug. Ek het boonop ‘n hele kilogram opgetel (mmm, dalk minder wit, verfynde broodjies eet…!). Ek is moeër, maar dankbaar dat ek weer kan eet. Eugene merk vanoggend so ewe op: "Ma, jy kan nou al jou kos rou eet, want jy maak dit sommer onder die strale gaar!" Ja-ja, daar is altyd iets om oor te lag.
Welkom, rustige naweek!

Thursday, July 16, 2009

Bestraling 8 om 14:00 Donderdag 16/07/09

Dis ‘n dilemma en ek wonder of ander “siekes” ook daarmee worstel. Wat antwoord ek as mense vra “Hoe gaan dit?”. Ons gooi almal so nonchalant daardie vraag rond en is ook gewoond om dit amper kursories geantwoord te kry met ‘n “Goed, dankie!” Ek wil allermins die indruk skep dat ek kla en kerm oor elke tree wat ek op hierdie kronkelpaadjie moet loop – ek weet alte goed hoeveel ander mense stoei met veel erger of het reeds hul eie Via Dolorosa bewandel. Die vraag is, wil mense regtig weet hoe dit gaan of verwag hulle ‘n gerusstelling van troos dat hulle nie oor jou hoef te bekommer nie?

Hoekom vra ek dit? Deels omdat ek Maandag weer moet terug werk toe - die afgelope 7 maande van 2009 het ek my 120 dae siekverlof opgebruik wat eintlik moes strek tot Desember 2010. Ek is bietjie benoud omdat ek nie kan voorsien wat nog vir my voorlê nie en dr. Robbie nie gister die sluier wou lig nie. Om die waarheid te sê, dit voel nie regtig vir my of ek weg van kantoor was nie, want ek het elke dag sedert ek ontslaan was my eposse gelees, beantwoord en selfs gewerk. In ons virtuele werksomgewing het ek slegs ‘n rekenaar en internetkonneksie nodig – vanoggend was ek selfs deel van ‘n vergadering via Skype (wat ek baie opwindend gevind het)!

Daar lê nou slegs 20 bestralings voor…ek weet ‘n mens moet nie jou dae ombid nie, maar elke enetjie wat ek kan afmerk is ‘n stukkie dankbaarheid.

Terug na my vraag…ek daag jou uit om die Comment skakel te druk en my te antwoord! Ag toe, neem nou een keer deel en onderbreek my monoloog – doen dit anoniem as jy wil. Hoe antwoord jy die vraag “Hoe gaan dit?”, maar belangriker nog, watter antwoord wil jy hoor as jy dit vra?

Wednesday, July 15, 2009

Bestraling 7 om 14:00 Woensdag 15/07/09

‘n Dag van eerstes:

  • Ek bedien en bederf LeRoy vir 'n verandering met ontbyt in die bed, want dis sy verjaarsdag! Ongelukkig gaan die soppartytjie wat tradisie is en ons vroeër vanjaar beplan het, nie vanjaar realiseer nie.
  • Ek was weer skottelgoed…kan nie sê dat ek dit gemis het nie!
  • Ek het vandag alleen en vir die eerste keer in amper 6 weke bestuur - Little Company toe.
  • Vandag was ook my eerste beplande afspraak met dr. Robbie de Muelenaere- wat ‘n dierbare en wyse man. Hy het ‘n voorskrif gegee vir medikasie wat hopenlik sal help vir my erge sooibrand en hy het interessante raad gegee vir my derms wat nou begin protesteer (en klink soos 'n mini-oorlog). Ek moet nou wegbly van growwe, semelryke kosse en eerder wit, verfynde stysels eet soos wit rys, wit brood, mieliepap en aartappels. Hy het mooi verduidelik dat ek nie nou vooruit moet dink nie, maar eerder “Do what comes next, because it is as it is!” Sy huiswerk vir my is om Celestine prophecy van James Redfield te lees - ek sal dit die naweek gaan soek.

Nou ja toe, dit is dan maar soos dit is! Ek het uitgevind wie my kreatiewe pakkies geskenk het, maar sy wil anoniem bly...ek geniet dit egter steeds vreeslik!

Tuesday, July 14, 2009

Bestraling 6 om 13:45 Dinsdag 14/07/09

Ek sit hier met ‘n bollende wang vol malvalekker-vissie van my (steeds onbekende) weldoender wie se briefie vandag lees: “Ek is God se vissie. Al spartel ek op die oomblik WEET ek dat ek stewig vas is aan God se hengellyn.”

Dis so waar…ek spartel elke dag om daar by Little Company in te stap, maar vandag het ek ‘n jong man gesien wat ‘n groot gedeelte van sy mond verloor het wat ook op bestraling wag…en gisteraand het ek gelees van Reef Carneson, wat op die ouderdom van vyf maande met akute limfoblastiese leukemie (ALL) gediagnoseer is. LeRoy het die opmerking gemaak dat dit verstommend is om te weet hoeveel mense kanker het. Ons sien min van hulle, want ons is almal in en uit, maar toe ek gister my afspraak na ‘n ander tydgleuf wou skuif, moes ek hoor dat hulle weke vooruit vol bespreek is. Soveel pyn, soveel hartseer, soveel siek mense – dit ontroer my diep.

God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd – Psalm 73:26. En dit geld vir almal wat by hospitaaldeure instap…

Baie dankie vir die kuiertjie en die tuisgebakte beskuit, Louette!

Monday, July 13, 2009

Bestraling 5 om 16:30 Maandag 13/07/09

Vrydag het ek na die vroeë bestraling nog baie sleg en naar gevoel en ek het grootliks die hele pad in die kar op pad na Clarens toe geslaap. Die naweek het my en LeRoy egter na liggaam en siel gevoed - die grootsheid van die berge het ons stil gemaak voor die almag van God. Kiara Lodge was pragtig en Andre en Elize het ons bederf en saam het ons rustige en prettige oomblikke gedeel. Elke dag het ek bietjie beter en sterker gevoel en ek het vanoggend met hartseer afskeid geneem.

Maar…een handjievol bestralings is verby en ek was nie vanaand siek nie! Ek is ongelooflike dankbaar daarvoor. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie – Jesaja 43:2.

‘n Baie interessante geskenksakkie met ‘n klomp klein pakkies het my vandag tuis begroet – wie is so oorspronklik? Elke pakkie het ‘n datum op en vandag se geskenkie was ‘n pragtige wit sterretjie-kersie. Die briefie lui: “Vandag brand ek die kersie om myself te herinner aan die LIG voor in hierdie tonnel waarin ek nou moet reis.” So, van nou af sal elke dag ook ‘n klein, maar baie kosbare verrassing oplewer! Baie, baie dankie aan my kreatiewe weldoener - ek sal nog uitvind wie die liggies in my donker tonnel aansteek...

Friday, July 10, 2009

Bestraling 4 om 8:10 Vrydag 10/07/09

Ons het gewik en geweeg om ons naweekplanne vir Clarens te kanselleer toe ek Dinsdag- en Woensdagaand so siek was, maar ek kon gisteraand vir die eerste keer in twee dae wel aandete eet. Vanoggend se bestralingsafspraak is juis vroeg geskeduleer sodat ons in die pad kan val. Vir die eerste keer is ek geweeg om my gewig te monitor.

Ongelukkig is ek weer bietjie naar en het vreeslik sooibrand, maar vanoggend se sessie is agter die rug en daar is genadiglik 2 dae se grasie voor waarna ek hartstogtelik uitsien.

Ons tassies is gepak en ons sal spoedig vertrek. My eerste bestralingsweek is verby! Hou magie, hou...

Thursday, July 9, 2009

Bestraling 3 om 15:00 Donderdag 9/07/09

DANGER RADIATION AREA – GEVAAR STRALINGSAREA. Dit is die kennisgewing wat my elke dag begroet. “Mag ek saamgaan?”, vra Eugene wat my vandag Little Company of Mary toe geneem het. “Nee, Liefie…beslis nie”.

Ek het myself vandag gefortifiseer met Motilium en ek hoop my slegte simptome sal vanaand wegbly. Dit begin gewoonlik so drie ure na die bestraling…nog een uur om te gaan. Ek verdrink myself in water – moet 3 liter vloeistof per dag inneem wat ongelooflik baie vir my is! Ek probeer dapper en stapper om soveel moontlik te drink, maar dit is ‘n stryd.

Die kliniese sielkundige het gesê ek moet tydens die bestraling iets visualiseer soos byvoorbeeld dat die kankerselle vernietig word. Dit het my laat dink aan ‘n liedjie van Eugene wat hy in die kleuterskool geleer het en passievol met al die nodige handgebaartjies vir ons opgevoer het: “Ek is nie ‘n stapsoldaatjie nie, stapsoldaatjie nie, stapsoldaatjie nie…ek is Liewe Jesus se soldaatjie!”
Ek verkies nou egter om my oë toe te maak, die groot ronde masjien wat om my draai en zoem te ignoreer en 'n nuwe vashouvers wat ek elke dag kies oor en oor te herhaal: Die Here sal hom bystaan in sy siekte – Psalm 41:4.

Vandag was (soos gister) weer ‘n kuierdag met Sunette en daarna Monica wat ingeloer het – dankie julle!

Wednesday, July 8, 2009

Bestraling 2 om 15:00 Woensdag 8/07/09

Ek is die uitsondering op die reël - ek is nie veronderstel om naar en siek te wees nie. Ek is vanmiddag na my tweede bestralingsessie dokter toe gestuur en hulle sal my nou fyn dophou. Maar ek is ongelukkig vanaand nie beter nie. Direk na die bestraling begin ek net progesssief slegter en slegter te voel. Ek word dus genoodsaak om medikasie te neem teen naarheid wat ek môre sal uitprobeer. Mag dit tog help!

My vashouvers: God sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd. Psalm 121:8.

Tuesday, July 7, 2009

Bestraling 1 om 15:45 Dinsdag 7/07/09

Ek het geen idee gehad wat om te verwag nie, maar ek dink nie my lyf hou hiervan nie. Daar lê nog 27 sessies voor en ek voel reeds naar, siek en te moeg om my arms te lig. Ons sal môre hoor of dit normaal is.

Die masjien se groot ronde kop bestraal my van regs, onder, links en bo - my hele buik van my naeltjie af ondertoe. Hy is slim ook - het vandag terselftertyd X-straal foto's van my geneem. Radio Jacaranda speel saggies in die agtergrond en ek luister na OneRepublic: "Stop and stare....I think I'm moving but I go nowhere. Yeah I know that everyone gets scared, but I've become what I can't be..."

Ek het net hard probeer fokus op Josua 1:9 : "Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan."

Baie dankie vir al die boodskappies en oproepies van bemoediging - dit lyk my ek gaan elkeen nodig kry.

Monday, July 6, 2009

Kliniese sielkundige toe...Maandag 6/07/09

Ek glo sommige van julle is verstom oor die intimiteite wat ek so maklik met julle deel – ek verwonder my soms self daaroor. ‘n Paar keer het die gedagte ook al by my opgekom dat ek moet ophou blog en julle nie verder moet opsaal met my emosionele potpourri nie. Maar dan kry ek weer ‘n sms of epos wat sê dat dit wel iets vir iemand beteken of dat hul selfs daarna uitsien om te hoor hoe dit met my gaan. Ek geniet veral elke liewe kommentaar baie of as ek 'n Follower bykry (welkom Leoné!). ‘n Spesiale dankie aan LeRoy se niggie Esna en haar man Adriaan (die twee Eilandbewoners) wat so gereeld die Comment knoppie druk en kommentaar lewer!

Vriende Eddie en Karlien van Bloemfontein het Saterdag kom kuier en Karlien het ook vertel hoe sy saam lag of huil met my hoogte- en laagtepunte en hoe waardevol sy sommige van die inligting wat ek gedeel het, vind. En dit is ook een van my doelstellings – om ander vroue meer ingelig te maak oor endometrium kanker en die gevolge daarvan.

Ek gaan vandag ‘n kliniese sielkundige sien – sy spesialiseer in kankergevalle. Ek het aanvanklik gehuiwer om dit met julle te deel, maar ek het self nie geweet dat sulke beraders beskikbaar is nie en daarom noem ek dit ook.

Dit voel of die liewe Heer my self na haar toe gelei het. Die ginekoloog, dr. Snyman het meer as een keer genoem dat ek ‘n berader moet gaan sien en verlede week het my huisdokter en dr. Snyman se ontvangsdame (in opdrag van hom) gebel en dit op dieselfde dag voorgestel. Ek voel baie kalm en in beheer van my emosies op die oomblik en het nie gedink ek het dit nodig nie. Ek is half bang as iemand aan een van my rafeltjies gaan trek, dat ek heeltemal sal losrafel, maar dalk is dit ook nou en dan nodig? Hierdie was wat my gesondheid en my pa se dood aanbetref ‘n annus horribilis.

Die eerste ding wat ek haar egter gaan vertel, is dat ek ook geweldig geseënd is met baie geliefdes en dierbares wat my op elke denkbare en ondenkbare manier bederf en ek daarvoor oneindig dankbaar is! Maar dalk help die koppie-sorteer-sessie ook om ‘n paar hartseer-goete wat ek nie hier durf skryf of aan enigeen wil noem nie, netjies te sorteer en reg te skud!

Friday, July 3, 2009

Gloede! Vrydag 3/07/09

Ek voel stukke beter - Tamiflu is fantasties as dit betyds gedrink word en ek kan dit aanbeveel. Gewoonlik wag ek te lank voordat ek dokter toe gaan, maar hierdie keer het ek gou gespring en hard gebid vir herstel. Ek is dankbaar dat ek weer vol lewenslus en stoutigheid is.

Môre is my operasie reeds 4 weke agter my en hopenlik sal ek nie te lank meer loop soos 'n ou tannie wat 'n te stywe korset aanhet wat knyp nie!

Nou moet ek net leer om my gloede met grasie te hanteer...Almal wat my goed ken weet dat ek eintlik al my lewe lank gloed, maar hierdie sjirurgiese menopause simptoom is 'n hitte van 'n ander gradering. Ek het 'n gediggie geskryf om te probeer beskryf hoe die gloede voel en het my geskeur vir LeRoy se verduidelikings oor wat ek hier beskryf... :-)

Jy is hier…
Jy maak my wakker
Kook, borrel, kook, borrel stadig, stadig, stadig op, op, op …
soos warm lawa tot jy die kruin bereik.
Gooi af, maak oop, trek uit!
Jy loop oor…in kokende, warm, nat slierte
loop jy weer stadig teen my af
en eb weg…
Trek op, maak toe, trek aan!
Dis winter, dis koud…

Die vreugdes van vrouwees!

Geniet die naweek - ek sien daarna uit om 'n paar dierbare vriende te sien. Wees goed vir jouself en jou geliefdes en maak die meeste van elke gesonde dag.

Wednesday, July 1, 2009

Bietjie beter Woensdag 1/07/09

We have thousands of opportunities every day to be grateful: for having good weather, to be able to sit in such a beautiful room on such comfortable furniture, to have slept well last night, to be able to get up, to be healthy, to have enough to eat. ... There's opportunity upon opportunity to be grateful; that's what life is.
Brother David Steindl-Rast

Die begin van die tweede helfte van die jaar... Ek was meer as die helfte van die eerste 6 maande van die jaar siek – dit kan net net beter gaan!

Ek voel bietjie beter vanoggend - die medikasie en die stomer het gehelp en ek is baie dankbaar daarvoor. Ek hoes net my longe uit en dit bemoeilik slaap.

Baie dankie vir almal se "Sterkte met die bestraling" wense en jammer dat ek so stil was. Ek het ons internet-tyd met al my tuisgebruik opgebruik en moes wag vir die nuwe maand. My eerste bestraling begin eers Dinsdag 7e Julie om 15:45.

Goeie vriend André het 'n week se tyddeel by Kiara Lodge vir ons aangebied en ek fokus nou op die lekkerte van dié naweek wat voorlê. Ongelukkig mag ek die bestralingsessies nie onderbreek nie en kan nie 'n week weggaan nie, maar my 4e sessie is Vrydag 10 Julie vroeg gedagboek sodat ons daarna rustig kan deurry en dalk eers by Clarens aandoen. Ons sal dan ook weer laat in Pretoria moet terug wees die Maandag - net betyds vir sessie 5.

Die seën van goeie vriende in 'n mens lewe is steeds 'n groot dankbaarheid! Ek weet ek sê dit so baie, maar aan die einde van die dag is dit tog al wat werklik van waarde is in die lewe. En vir almal van julle wat vandag hartseer is of bekommernisse het - ek bid nou weer vir julle, want ek het baie tyd!

'n Besonderse troosvers vir my en vir jou: ...wie op die Here vertrou, dié omvou Hy met sy liefde. (Psalm 32:10)

Griep Dinsdag 30/06/09

Siek, siek, siek... Dokter toe en terug met pille, pille, pille... Ek het griep. Slaap, slaap, slaap...

Een van die dag se hoogtepunte was dat LeRoy my die heel laaste keer ingespuit het, maar ek moet erken dat ek hartseer en tranerig daar gelê het, want ek is so moeg van siek en seer wees. My tweede hoogtepunt was die aandete (met groente) wat liewe Marié vir die twee siekes gebring het en die druiwe van Lynette en André. Baie, baie dankie…

Nie my beste dag nie…

Opgemeet Maandag 29/06/09

Ons naweek was baie rustig, want my hoofverpleër, LeRoy was baie siek en is Saterdag dokter toe – hy het brongitis.

Vanoggend is ons twee vir die eerste keer na Little Company of Mary se onkologie-afdeling toe. Dit lyk of hulle baie tevrede pasiënte het – die toonbank is van hoek tot kant toegepak met Dankie-sê kaartjies…

Ek is kom haal en moes op ‘n smal bankie lê en is heen en weer geskuif om my middellyn te bepaal. Dit is nou amptelik – ek is skeef! Hulle moes weer en weer aan my kom trek, aangesien ek blykbaar meer op my linkerkant lê. Die bankie beweeg outomaties heen en weer, die enjin brul in my ore en ‘n geel liggie flikker en piep-piep-piep terwyl die skandering gedoen word.

Ek het verskriklik koud gekry en het gelê en bewe daar en voel sedertien of ek ook siek is…My kop is seer, ek voel warm, maar kry koud en ek sluk-sluk heeltyd aan ‘n skielike knop in my keel. Agggg neeee…., dalk het LeRoy se kieme nou tog oorgespring na my toe!

Die bestraling sal eers die 7e Julie ‘n aanvang neem. Hulle is blykbaar besonder besig en dit gee my verdere kans op herstel. Ek mag nou nie meer bad nie, want ek is met merkers orals op my bekken en heupe gemerk en die merkies mag nie afgewas word nie. Ek mag ook glad nie met seep naby hierdie gedeelte was nie – die water mag slegs daar afloop. Hierdie keer is ek darem uitgereik met ‘n inligtingsbrosjure en ek moet die voorskrifte daarin noukeurig volg.

Ek voel vanaand fisies triestig en het reeds ‘n afspraak met ons huisdokter gemaak vir môre – ek hoop ons kan hierdie verkoue-kieme vroegtydig stuit!

Terwyl ek daar gelê het vandag, het ek die teksvers wat ek per sms gekry het, oor en oor herhaal: “Toe het ek moed geskep, omdat die hand van die Here my God oor my was.” Esra 7:28.

Rustige dag Vrydag 26/06/09

Vroegoggend lees ek in Beeld van Michael Jackson se dood. Tragies, soveel talent, soveel roem, soveel geld en steeds bitter eensaam…Ek was baie lief vir sy vroeë liedjies soos Ben en One day in your life. En ek wonder...het hy ooit die groot Trooster geken?

Baie oproepies - dankie Clarisse, Gloria, Heleen, Elsa, Marianne, Lynette, Faan.

Thursday, June 25, 2009

Eerste ontmoeting met die radioloog Donderdag 25/06/09

Gister se trane het die spinnerakke in my kop bietjie weggespoel - ek glo dis die liewe Heer se geskenk aan ons vroue en in my hormoonlose toestand 'n noodsaaklikheid!

My eerste ontmoeting met dr. Ingo de Meulenaere het baie goed verloop en hy boesem vertroue in by my. Hy stem saam met dr. Snyman om bestraling van die hele bekken-area (15 x 15 cm) te doen om die moontlikheid van mikroskopiese bestraling te voorkom en my kanse vir genesing te verhoog. Bestraling beskadig die DNA van selle en stop die kankerselle se vermoë om te verdeel en te vermenigvuldig en hulle sterf dus af. Die gesonde selle sal mettertyd weer herstel en teen einde Augustus behoort die uitwerking van die bestraling 'n mindere effek op my gesondheid te hê.

Die uitwerking van die bestraling is kumulatief en ek behoort na 2 - 3 weke moegheid en irritasie van my blaas en derms te begin ervaar. 28 behandelings sal elke weeksdag toegedien word en ons het besluit om dit sommer by Little Company of Mary te doen wat baie naby ons huis is. Maandag moet ek aanmeld vir 'n skandering as 'n vooraf-prosedure en my eerste bestraling sal Woensdag 1 Julie 'n aanvang neem.

Ek en LeRoy het die dag opgekikker met 'n etetjie by La Spiga (soos normale mense!) en ek het myself bederf met 'n groot gunsteling - Baklava! Die dag was goed vir my en ek is weer vol moed en durf vir dit wat voorlê.

Die draaipunt was die beriggie wat ek in gister se Beeld gelees het van die jong student, Jaco le Roux (22) van Beaufort-Wes wat alleen en ver van sy ma en dierbares in Femina-kliniek lê met leukemie. Hy wag om te hoor of ’n geskikte beenmurgskenker gevind kan word... Ek wens met my hele hart dat ek kon help en daar is so baie soos hy. Dit is blykbaar 'n wanpersepsie dat dit seer is om beenmurg te skenk. Ek is te siek, maar het jy dit al ooit oorweeg? Lees meer by www.sunflowerfund.org.za of by 0800 12 10 82.

Dankie Here, dit gaan goed met my! "Die Here is my herder, ek kom niks kort nie." Psalm 23:1.

Wednesday, June 24, 2009

Ek's broos, ek's mens... Woensdag 24/06/09

Vanoggend hark ek myself bymekaar. Ek is gisteraand deur verskeie emosies van woede, ongeduld, irritasie, hartseer, ongeloof – meestal oor die onmag om dit wat voorlê vry te spring. Ek staan nog verbyster oor my situasie en vind dit soms steeds moeilik om te glo wat gebeur. Bowenal wil ek so graag verstaan hoekom ek kanker gekry het en dis nie ‘n antwoord wat ek gaan kry nie.

Dr. Snyman het nie veel meer lig gewerp op die bestraling wat voorlê nie, aangesien ek nou na ‘n radioloog, dr. Ingo de Meulenaere verwys is wat die bestralingprosedure gaan waarneem.

In ‘n neutedop:
  • Ek moet bestraling kry aangesien daar ‘n verhoogde kans is dat die kanker kan hervat sonder bestraling. Volgens dr. Snyman kan bestraling nie verhoed dat ek wel eendag die stryd kan verloor teen hierdie kanker nie, dit behels net dat die kanker nie in hierdie area weer sal hervat nie. Gevolglik gaan my hele bekkenarea uitwendig en moontlik inwendig bestraal word.
  • Kankerbestraling werk baie soos X-traal foto’s – die bestralings word egter net in ‘n baie hoër dosis aangewend om die kankerselle dood te maak of hul verspreiding te stuit. Ongelukkig word die liggaam se gesonde selle ook aangetas en alhoewel bestraling nie pynlik is nie, kan die afsterf of beskadiging van gesonde selle newe-effekte tot gevolg hê. Ek sal besonderhede met dr. de Meulenaere bespreek, maar my groot bekommernis is natuurlik my blaas en my derms…
  • Die bestraling word elke weeksdag vir 6 aaneenvolgende weke gedoen – sonder onderbreking, sodat die kankerselle nie kans kry op herstel nie. Alhoewel die bestraling na 6 weke voltooi is, mag my gesonde selle egter nog weke of maande daarna neem om ten volle te herstel.
  • Volgens die patologiese verslag was die kanker in stadium II B en chemoterapie het blykbaar geen effek hierop nie en word nie as terapie oorweeg nie. Hierdie kanker word NIE met ‘n papsmeer opgetel word nie en vroue regoor die wêreld moet blykbaar wag vir simptome om kop uit te steek voordat dit gediagnoseer kan word…
  • Die bestraling sal dalk reeds volgende week 'n aanvang neem, wat my nog 'n paar dae geleentheid gee op herstel.

Maar tussen die stoei met myself oor die aanvaarding van die nuwe onvermydelike opdraandpad, was daar kort-kort die vertroosting dat ek nie alleen is nie…Sms’e van liewe Marié, Mariette, Marieta en oproepies van troos en bemoediging van Lynette, Sandra en suster Bobby. En gisteraand se mooi dagstukkie oor die oorwinning van vrees was weer vir my gekies en ek klou daaraan vas met mag en mening: “God is my redder; ek vertrou op Hom, ek is nie meer bang nie. Die Here is my God en my krag.” Jesaja 12:2.

Ons sien dr. Ingo de Meulenaere more om 9:00.

NS. My baarmoeder het 110g geweeg...hulle weeg dit werklikwaar!

Monday, June 22, 2009

Hoeveel weeg ‘n baarmoeder? Maandag 22/06/09

To get through the hardest journey we need take only one step at a time, but we must keep on stepping.
Chinese Proverb

Ek het nog gewig verloor. Onder normale omstandighede sou dit vir my (soos vir elke ander volbloed vrou wat ek ken!) goeie nuus wees, maar nou terwyl ek siek is, is dit nie vir my goeie nuus nie.

Dit laat my wonder hoeveel ‘n baarmoeder weeg….? Self met my maagoperasie het ek nie onder 49 kilogram gesak nie. En dit voel vir my of ek nou net sit en eet want ek is toegegooi onder sjokolades te kies en te keur (danksy julle!).

Een ding is verseker – hormoonterapie laat beslis my gewig toeneem met gemiddeld 3 kilogram. Die oomblik wat ek dit nie neem nie (soos nou), sak die skaal se wysertjie gemaklik links…

So, sou ‘n baarmoeder tussen 500 – 700 gram kon weeg? :-)

My afspraak met dr. Snyman is more tussen 17:00 en 18:00 en dan sal ons hoor wanneer die bestralingsessies gaan begin en wat dit alles gaan behels. Ek is besig om woes navorsing te doen en my vragies te beplan.

My seunskind is besig om vir my vrugteslaai te maak vir middagete – ‘n eerste…Sien uit daarna, Eugene! Mmm...dis heerlik!

Saturday, June 20, 2009

‘n Huldeblyk aan LeRoy Saterdag 20/06/09

November 1996
Ek het ‘n epos van vriendin Heleen ontvang hierdie week wat my in trane gehad het: “Ek het Sondag vir jou en LeRoy gesit en kyk en ek het die mooi liefde wat tussen julle is gesien, ek wens ek kon dit vir jou in ‘n skildery vasvang. Jy het ‘n wonderlike man wat baie lief is vir jou en die liefde vir jou in sy oë is so teer dat dit vir jou al die aansporing in die wêreld moet wees om hierdie ding nie die oorhand oor jou te laat kry nie…Daai ou aanbid die grond waarop jy loop, so ou suster koester dit!! Ek dink hy weet nie aldag hoe om die ding te hanteer nie en hy probeer sterk wees ter wille van jou....”

Is dit nie die mooiste getuigskrif van ‘n gelukkige huwelik nie? Vandag op die vooraand van Vadersdag, wil ek dus hulde bring aan die liefde van my lewe, LeRoy Olivier. Ek voel altyd dat ek hom afgebid het, want ek het baie lank vir die liewe Heer gevra om asseblief iemand vir my te stuur wat ook vir Hom lief is. En ek vertel ons storie, omdat “Hoe het julle ontmoet?” verhale enersyds vir my so pragtig is en andersyds om talle ander enkellopendes weer moed te gee!

Ons het die eerste keer oë op mekaar gelê by Roodeplaatdam in 1995, toe sy ouer vriend (met wie hy in daardie stadium huis gedeel het) my uitgevra het. Ons het albei dadelik gehou van wat ons sien, maar hy het niks laat blyk nie en die ordentlike meisie wat ek is, ek natuurlik ook nie! Hy het gewag dat sy vriend aanbeweeg na nuwe weivelde toe, want ons was inderdaad net vriende. Een middag terwyl sy vriend besig was, het hy sy vriend se “swart boekie” nadergetrek en verwoes deurgeblaai op soek na my nommer.

Ek was baie verbaas oor sy oproep (28 Maart 1996) wat op daardie stadium beslis “uit die bloute” was, en het ongelukkig reeds ‘n ander afspraak gehad met ‘n nuwe vriend en kon nie sy uitnodiging aanvaar nie. Hy het daarop aangedring dat ek sy nommer neerskryf, wat ek om een of ander onverklaarbare rede wel gedoen het (en gehou het.) Onthou, ordentlike meisies het mos nie ouens gebel nie! Die nuwe vriend met wie ek die Sondag ‘n afspraak sou gehad het, het egter op kort kennisgewing ons afspraak gekanselleer en skielik sit ek op die vooraand van die skoolvakansie stoksielalleen – selfs Eugene was by sy pa. En ek onthou LeRoy se uitnodiging en wik en weeg…sal ek hom bel…? Met ‘n bonsende hart en bewende vingers bel ek toe die nommer, en dit lui en lui en lui….en net voordat ek wil neersit antwoord ‘n uitasem LeRoy: “Hallo!” Hy was op daardie stadium ‘n ywerige fietsryer en was op ‘n lang rit uit. Hy was buite die huis toe die telefoon gelui het, en hy sê hy het gehardloop of sy lewe daarvan afhang om die telefoon te haal…Onthou, dit was pre-selfoon era!

Die res is geskiedenis….. Ons het net gepas – soos twee legkaartstukkies wat ‘n prentjie voltooi. Hy het my 5 maande daarna in die kerk gevra om te trou terwyl kollekte opgeneem word. Ons onthou albei die diens nog goed – die dominee het gepraat oor ewigheidsmomente…daardie besonderse oomblikke in ‘n mens se lewe wat jy net weet hierdie gebeurtenis is ingrypend en gaan die res van jou lewe se loop verander of bepaal. En dit was ‘n ewigheidsmoment en die begin van huweliksvreugde ongekend vir ons albei.

Ek dink altyd aan LeRoy as ‘n pantoffel (jy dink dalk dis 'n snaakse vergelyking, maar dis soveel beter as 'n blink skoen wat heeltyd knyp en druk!) - sag, gemaklik en knus, want hy pas so gemaklik om al my skewe en krom plekkies. Ons huwelik is een van saam-doen, saam-wees en veral baie saam-lag. Ons oefen saam, kook saam, ontspan saam, bad saam en bid saam. Sonder hom kan ek my lewe nie indink nie en saam hom kan ek enigiets trotseer.

Dankie Lief, vir al jou liefde wat jy so onvoorwaardelik op my en Eugene uitstort. En elke aand sê ek nog vir Hom dankie vir jou en dankie vir ‘n tweede kans om te bemin en om bemin te word! Jy maak my steeds week van liefde na al hierdie jare...en jou sorgsame troeteling met my siekte dien as inspirasie dat ek moet kop hou, moed hou en aanhou!

Gelukkige Vadersdag!

Friday, June 19, 2009

Ek's ok! Vrydag 19/06/09

Ek is die afgelope 24 uur oorval met oproepies, sms'e, besoekies en nog blomme. My spieëlkas lyk soos 'n blommemark!

Baie dankie, my liewe Vriende en Vriendinne! Dit is eerstens vir my baie lekker om kontak te hê met die buitewêreld, want ek voel soms maar eensaam so alleen tuis. Arme LeRoy moet die pot aan die kook hou en kan nie altyd hier wees nie. Tweedens, voel dit vir my of ek nie alleen hierdie pakkie dra nie en elke hand wat uitgesteek word, hou my ook regop.

Ek het onlangs verneem van 'n eertydse kollega wat ook die slegte tyding van kanker moes aanhoor. Hy verkies om hom van almal te onttrek en dit het my laat nadink oor dit wat ek doen en die wyslikheid om my ervarings en gevoelens so bloot te lê. Ek besef weereens dat ons elkeen 'n persoonlike krisis anders sal hanteer en ek dink nie daar is 'n regte of verkeerde manier nie. Dit bly 'n persoonlike binne-stryd tussen my en ons Groot Geneesheer.

Die liefde wat ek van almal om my ervaar, is egter vir my besonder vertoostend en ek voel jammer vir elkeen wat hul afsny van die omgee en gebede van familie, vriende en kollegas. Ons lees tog in die Groot Boek dat ons mekaar se laste moet dra...

My hart gaan dus uit na elkeen wat 'n krisis, hartseer of pyn beleef en die pakkie alleen moet dra. En my hartlike dank aan elkeen wat sy hart oopmaak vir ander in nood (en ook nou vir my) - ek is nou aan die ontvangkant en ek ontvang met grasie en dankbaarheid.

En soos julle kan sien, ek's ok! :-)

Wednesday, June 17, 2009

Kanker is stadium II Donderdag 18/06/09

Dr. Snyman het pas gebel. Die uitslae van my limfnodes was eers laat gistermiddag beskikbaar. My limfkliere is skoon, en die kanker was beperk tot my uterus, maar dit het my serviks geinfiltreer. Dit maak die kanker stadium II en noodsaak dat ek wel vir die volgende 5 na 6 weke bestraling moet kry. Sonder bestraling is die risiko vir terugkeer blykbaar hoër.

Ons sal hom volgende week moet gaan sien - dit sal dan 2 weke na my histerektomie wees en ons sal die pad vorentoe bespreek.

Ek het gehoop dat hierdie ervaring my gespaar sou bly...almal om my het my heeltyd verseker dat dit nie nodig sou wees nie. 'n Klein bietjie onsekerheid het egter altyd gebly, maar dit is seker wat nou verhoed dat ek nie verkrummel en in 'n hopie gaan lê nie.

Onlangs het ek gelees, as 'n mens gesond is en op jou voete staan kyk jy vorentoe, maar as jy siek is en op jou rug lê, kyk jy boontoe! Dit is nou die enigste opsie. Liewe Heer, help asseblief...

Heer, ek hoop die dag is goed! Woensdag 17/06/09

Heer, ek hoop die dag is goed!
'n Nuwe môre gaan ons weer ontmoet...
U weet hoe swak ek is, hoe sonder moed,
maar Heer ek hoop die dag is goed!

Heer, het U my dalk vergeet?
Ek bid oor dit wat U alleen van weet...
En as ek U dan in gebed ontmoet,
hoop ek U maak my dag ook goed.

Ek soek nie rykdom of roem nie O Heer,
veel eerder sal ek van U wysheid leer.
Maar as dit oggend in die Ooste raak,
sal U dit 'n mooi dag maak?

Heer, ek hoop die dag is goed!
'n Nuwe more gaan ons weer ontmoet...
U weet hoe swak ek is, hoe sonder moed,
maar Heer, ek hoop die dag is goed!

U is die Koning wat oor tyd regeer
en ek kom vra maar net 'n bietjie minder seer!
Die bose val ons aan met al Sy mag,
maar Heer U is die grote krag!

Heer, ek hoop die dag is goed!
'n Nuwe môre gaan ons weer ontmoet...
U weet hoe swak ek is, hoe sonder moed,
maar Heer ek hoop die dag is goed!
Ja Heer, ek hoop die dag is goed!

Van Houtkruis - die Musical

Sunday, June 14, 2009

Piet se biltong - hartskos! Sondag 14/06/09

Kindertyd in Tolwe se sanderinge grond!

Ek sit hier in my warm bed en peusel aan Piet Hammes se biltong. Ek en Piet stel dieselfde vereistes aan ons biltong – nie oormatig gespesery nie en half klam. My eerste geskenk besending was sulke vet, dik los skywe, maar hierdie keer was die biltong reelmatige dun skyfies gesny – net tot teen die rant. Elke skyfie kan dan ewe maklik afgetrek word – pure smulplesier!

Biltong is vir my hartskos en dit laat my gedagtes ver paaie terugloop na my kinderjare….en my eerste onthou van biltong. My oupa aan my ma se kant, Hennie van Aarde, het ‘n plaas gehad in Tolwe, anderkant Potgietersrus in die Noordelike Provinsie. Op Eendracht 171 het hy het geboer met mielies, koring, grondbone en beeste. Biltong was altyd volop op die plaas en oupa het dit ook met sy skerp mes in netjiese stukke gesny, maar die droë wildsbiltong is somtyds met ‘n spesiale hamertjie fyn gekap. Daardie tyd was ‘n bakkie dik room ook saam voorgesit en ons het die biltong eers daarin gedoop en dan geëet – van cholesterol was daar toe geen sprake nie!

Ek onthou as kind ons gesin se (vir my nimmereindige) rit na ouma en oupa toe – meestal eers na my ouers tuis gekom het na werk wat beteken het dat ons baie laat die aand of vroegoggend eers gearriveer het. Dan het oupa Hennie en ouma Vinkie (jy kan net dink hoekom sy dié noemnaampie gekry het!) ons verwelkom deur die gasstoof weer warm te stook en ons het ons eerste ete saam geniet – ALTYD ouma se kerrie-afval met aartappels en tuisgebakte boerebrood. Ek was altyd die liefste vir die pensie.

Ander onthoukos uit daardie dae is Ouma se vetkoek wat geen gelyke geken het nie - ek is steeds vreeslik lief vir vetkoek! Ouma het ook haar eie kaiings uitgebraai – ek kan die stukkies krakerige vet goed onthou….En wat van die gebakte skaapkop op die tafel! Aanvanklik was ek nie so gretig om daarvan te eet nie en ek het nooit ‘n liefde vir die oë ontwikkel nie, maar ek onthou nog die romerige harsings…Gril jy nou lekker? :-)

As kind het ek graag in Tolwe se warm sand gespeel (die hitte was versengend daar in die somer) – nes ‘n seuntjie verkieslik met karretjies of die dolossies van die afval. Tydens een jaar se paasfees is sjokolade-eiers in ‘n papierhuisie verpak en ek kon nie wag om my huisie in die sand staan te maak nie. Ek het landerye uitgelê en met presiesie stukkies blare of takkies geplant en kon myself vir ure so op my eie vermaak. My ma se jongste broer, oom Frikkie vertel graag vir my hoe hy vir my as klein dogtertjie gevra het ”Wat maak jy?” en ek geantwoord het, “Ek peel, ek peel!”

Ja, dit was die tyd van kerse, gaslampies, “long-drop” toilette met baie spinnerakke, plaastelefone met luitone wat jy moes herken, self eiers gaan uithaal in die hoenderhok, wegkruip agter ouma se voorskoot vir die ganse wat al sissend nader kom, “rondry” op die ou stukkende trekker wat langs die ou huis gestaan het, kyk hoe die arme gekose keel-afgesnyde skapie se bloed patroontjies loop in die Tolwesand noudat hy onderstebo aan sy agterpote hang en grootoog kyk hoe oupa met ‘n ge-oefende hand en vlymskerp mes die skapie begin afslag.

Ek voel bevoorreg dat ek in daardie tyd kon deel hê en dit het my ook gemaak wat en wie ek vandag is. My oupa en ouma was sout-van-die-aarde mense en het hul alles vir daardie stuk rooi grond gegee. Ek raak nou nog vol heimwee as ek beesmis ruik of skape sien saammaal en hoor blêr. Ek is ‘n kind van Afrika – dis in my bloed!

Dankie weereens Piet, soos ek sê, biltong is hartskos!

Friday, June 12, 2009

Geduld, O geduld! Vrydagmiddag 12/06/09

Dr. Snyman is baie beïndruk met my vordering en sê dat hy my juis so gou ontslaan het omdat ek so vinnig op die been was en die hospitaalgange bewandel het. Dit is môre eers 'n week gelede wat ek geopereer is en my steke en kramme is reeds uit en ek drink geen pynmedikasie meer nie. Hy sê vir so 'n klein vroutjie is ek besonder sterk. Wat is die spreekwoord...klein botteltjies, groot gif, of hoe? ;-)

Ongelukkkig is die resultate van my limfnodes nog nie beskikbaar nie. Daar is tussen 20 en 30 verwyder en hul word individueel ontleed en selfs dwarssnitte van hulle gemaak en ek sal langer geduldig moet wees tot Woensdag toe. Ek lees vanoggend in Beeld dat oud-lt.kol. Wynand du Toit sê dat die grootste les van sy lewe geduld was - "’n Mens moet konsentreer op die goeie van die lewe en lesse leer uit die slegte."

Goeie raad en wyse woorde en ek sal dit ook moet volg.

Uitslag van limfnodes? Vrydagoggend 12/06/09

Vanmiddag word my 32 kramme uitgetrek - dit moes eintlik eers Maandag uit, maar my ginekoloog gaan die langnaweek weg (het skoon daarvan vergeet!). Hy het voorgestel dat LeRoy dit sommer doen, maar daarvoor het hy nie kans gesien nie, en ek neem hom ook nie kwalik nie. Ek weet mos nou my mansmens is nie in die wieg gelê om dokter-dokter te speel nie - al doen hy onder omstandighede nie te sleg nie.

Hopenlik sal ons ook die uitslag van die patalogiese ontleding van my limfnodes kry. Ons het albei baie moed dat die uitslag gerusstellend sal wees. Thea het vir my so 'n mooi briefie geskryf: "Geloof is geen towerformule waarmee ons die ervarings wat ons nooit vir onsself sou kies kan afweer nie, maar die krag wat ons in staat stel om stappie-vir-stappie deur elke dag te gaan". Dit is vir my pragtig en dit is hoe ek hierdie dag en die uitslag tegemoetgaan - met Sy krag stappie-vir-stappie!

My siektejaar was vir my 'n geweldige skok - juis omdat ek so gesond leef en ek probeer dit elke dag nog stukkie stukkie verwerk. Ons eet gesond en oefen gereeld en boonop is ek een van die min vroue wat ELKE jaar ginekoloog toe gaan en elke voorgestelde prosedure gereeld doen, bv beendigtheidtoetse, mammogramme ens. My oproep vir elkeen van my vriendinne wat hierdie lees is dus:
  • Wanneer laas was jy by die ginekoloog?
  • Luister jy na jou liggaam en herken jy die eerste tekens van onraad? Maak tyd vir jouself en moenie sloer met iets wat ongewoon is nie.

Al kan my ervaring vir slegs EEN van julle 'n verskil kan maak, sal dit wat ek moes deurmaak sinvol wees. Ek hou julle op hoogte van die uitslag!

Thursday, June 11, 2009

Siekte en finansies Donderdag 11/06/09

Laat ek my boosheid wegskryf, want ek dink nie dis goed vir my nie! Ek het vanoggend reeds twee oproepe en 'n epos ontvang oor verskillende mediese rekenings - sommiges nuut en ander nog oor vroeër se eskapades (hoekom kontak hulle my nou eers?) wat deur die mediese fonds (Keyhealth) terugverwys is. Ek moes tot hoor dat my eerste (en enigste) afspraak met dr. Snyman nie betaal gaan word nie, aangesien ek nie vooraf magtiging vir die sonar gekry het nie. Dit was my eerste ondersoek nadat ek gehoor het van die endometrium kanker en onder omstandighede sekerlik geregverdig?

Om te siek te wees is vandag 'n duur affêre. Ek voel persoonlik besonder in die steek gelaat deur ons mediese fonds en kan nie wag om van fonds te verander nie. Maar daarvoor sal ek gesond moet wees en môre se uitslag in my guns moet wees. Ek wil nie langer 'n gesondheidspad met hulle stap nie...

Verder gaan dit goed - ek slaap net baie sleg. In die dag is daar baie dinge (en liewe mense) wat my aandag van my lyf aflei, maar die donker stilte in die aande is nog nie my vriend nie. Ek het 'n lastige hoesie ontwikkel en hoes en maagsjirurgie rym ook nie! Die ongewoon snerpende koue hou my dus stil gevange in my warm kamer en bed - baie ongewoon vir my.

Wednesday, June 10, 2009

LeRoy is gevaarlik met 'n inspuiting! Woensdag 10/06/09

Ek steun ongelooflik op LeRoy - hy het my elke dag kom help bad in die hospitaal en die belangrikste - kom assisteer om die Mediven Thrombexin sykousies aan te trek. Dit was ons albei se eerste kennismaking met hierdie styfpassende kouse en ons was sekerlik nogal materiaal vir "Candid camera"! Vir die van julle wat hierdie unieke ervaring nog gespaar is, die sykouse is bitter styf en 'n mens moet jou storie ken met die aan- en uittrek. Maar ek dink ons het nou gisteraand die geheim ontdek en rol dit aan en af en LeRoy knyp my nie meer (heeltemal) so pimpel en pers nie!

Maar ek is gister nog 'n "verrassinkie" meegedeel - ek moet elke dag vir die volgende 3 weke ingespuit word met Clexane. Ek is nie lief vir naalde nie en kyk gewoonlik nie hoe ek ingespuit word nie. Ek ervaar dit is makliker om op iets anders te konsentreer en ek verplaas myself gewoonlik as so 'n sessie aanbreek. LeRoy was nooit by toe mediksie toegedien is nie en het geen ondervinding van hoe om 'n inspuiting toe te dien nie. Gisteraand het ek en hy redelik onbeholpe na mekaar en die inspuiting gekyk...en besef een van ons moet dit doen! (Hierdie twee onplesierighede is om beroerte te verhoed, want sê dr Snyman, "dit sal jammer wees as ons jou gesond operereer en jy nou beswyk aan 'n bloedklont deur jou hart of longe"!)

LeRoy het darem 'n verduideliking by die hospitaal se apteek gekry asook 'n oefenkussinkie van leer wat hy met groot beslistheid toegetakel het en my in koue rillings laat uitslaan het. Ek dog nogal hy speel, maar toe die oomblik aanbreek was dit presies wat hy gedoen het! Ek sit nou hier en skeur myself van die lag, want dit was baie snaaks - al was dit ook seer. Hy het daardie naald met soveel mag en mening (en so skielik!) in my geslaan asof my maag 'n ballon is wat hy met mening wil prik! Ter verdediging was dit darem sy eerste poging en hy het beloof om dit vanaand met minder geweld te doen...Ai..., die ondervindinge wat ons twee nou darem saam opdoen!

Dis knus in die bed en my sus het kom bederf met koekies en tee. Ek het min pyn (behalwe as ek op my linkersy lê) en gaan effens met die pynmedikasie om. My maag is erg geswel en lyk of dit aan iemand anders moet behoort, maar verder gaan dit baie goed met my, dankie!

Huistoe! Dinsdag 9/06/09

'n Bloedsweetdag - my departemente Waterwerke en Riolering gee nie heeltemal samewerking nie en ek is op en af in die hospitaalgange om my lui derms oefening te gee! Ek loop vas in baie bekendes - Dr Heyns (wat my maag gedoen het). Hy en dr Snyman het my glo reeds telefonies na die operasie bespreek en hulle hou goeie moed dat die uitslag positief gaan wees. Dr. DeHandschutter wat my ingepas en die diagnose gemaak het is baie verbaas om my in Pretoria-Oos te sien - sy het verwag dat ek by Femina sou wees. Sy wou selfs vir my kom kuier en kom sit toe summier op my bed om eers die jongste nuus te hoor!

Ek het 2 wonderlike kamermaats bygekry gistermiddag en ons het heerlik gekuier. Suster Bobby Ackermann (wat ek Suster "Popular" gedoop het) was met my vorige operasies die suster wat my opgepas het in die herstelkamer en sy het my dadelik herken. Ek kon haar natuurlik nie onthou nie. 'n Parmantige spinnekop het haar gebyt en aangesien sy 'n knievervanging gehad het, was die septiese wond aan haar been 'n groot bekommernis. Sy moes binne-aarse medikasie toegedien word en omtrent die hele hospitaal se personeel het kom inloer en haar moed inpraat. Mariette Holthauzen van Bethal was baie dapper alleen daar vir mediese toetse, want haar man moes terug plaas toe. Maar tussen al die prosedures deur het ons drie geklets soos net vrouens kan! En dit was goed vir my en ek het weereens besef hoe die Here ook deur mense werk.

Dr. Snyman het na 'n vinnige ondersoek vir my gevra of ek ontslaan wou word en my antwoord was natuurlik dadelik ja! En sodoende kon ek self eerstehands die eerste snerpende koue van Gauteng beleef toe LeRoy en sy kollega my kom oplaai het.

Thanks to the twins, Danielle and Tracy Steenkamp the biokeneticists from the UP gym who were my first visitors. They are the most caring (and attractive - guys, what's wrong with you? They're still single, grab them up!) girls and I love them to bits! Ds Anton het ook kom inloer al het hy self ook 'n dokter nodig. Dankie aan almal vir blomme, kaartjies, sms'e, oproepies en jul gebede. Ek voel weereens toegedraai in 'n warm wolkombers van liefde!

Dankie Liefie, my ou Staatmaker, Steunpilaar en Sterkte! Suster Bobby vertel van die aantreklike man wat Saterdag ingestap het in die herstelkamer om sy vrou te soek....en hy is toe myne!

Monday, June 8, 2009

Steeds aan die beter word Maandag 8/06/09

Kom so pas terug van die Baas af. Alles gaan goed en sy is vinnig besig om te herstel. Die lewe en "sparkle" is weer terug in die oe. Verskoon tog die aanhaling - kon nie aan 'n gepaste Afrikaanse woord dink nie. Ek was vanoggend redelik vroeg daar - gou gaan help met die Bad en dies meer. Deel van die besoek wat ek natuurlik baie geniet - maar kan nie te veel daarop ingaan nie. Die Baas gaan die nog seker een of ander tyd deurgaan.

Terwyl ek vanaand daar was, het die Prof Louis Snyman (Operasie gedoen het) ook ingeloer. Hy is baie beindruk en tevrede met haar vordering en herstel. Sy kom Woensdag huistoe. So van dan af gaan ek meerendeels van die huis af werk om haar in die aanvanklike hersteltyd by te staan.

Die weefsel wat verwyder is, is gestuur vir patalogiese ontleding. So ons wag nou vir die uitslae, wat enige dag na donderdag bekend sal wees. So al het die hy geen ooglopende tekens van kanker in die bekken en algemene operasiearea gesien nie, beteken dit nie dat ons geheel oor die hond se stert is nie. Alhoewel hy in Onkologiese Ginekoloog is - kan mens seker aanvaar hy weet waarvoor om te kyk en hoe om dit te kan identifiseer. So vir myself - glo ek hom tot anders bewys.

Vir eers genoeg vir nou. Het werk om te doen. Sal weer more-aand terugvoer gee. Liefde en Groete aan almal wat Elsabe so mildelik met julle oproepe, sms en kommentaar ondersteun.

Tydelike Skriba. LeRoy

Sunday, June 7, 2009

Herstel Sondag 7/06/09

Die mens se liggaam, sy vermoe om trauma te beleef, absorbeer en verby dit te beweeg is darem merkwaardig. Gister was Elsabe in geweldige pyn, soos mens kan verstaan - dit is nie net 'n uitwendige sny nie maar ook groot inwendige sny en verwyder van weefsel. Die impak daarvan op die liggaam is geweldig groot en ek kon dit ook gister baie duidelik sien. Die pynpomp (Pyn Medikasie) het haar gehelp om die pyn te hanteer en deur die ergste van gister te kom.

Toe ek laasnag daar weg is was sy hoogs onder die invloed van die medikasie en het soos gese, meerendeels geslaap. Gegewe die agtergrond het ek eers vanoggend by die Kerk gehelp om die kospakkies vir Claremont/Danville projek in die trokkie te laai, waarna ek met die Gemeentefees se reelings gehelp het. Vas oortuig dat Elsabe nog diep slaap en ek haar nie te vroeg wou pla nie.

Groot was my verbasing toe ek teen 13:00 by die hospitaal aankom, reeds in die moeilikheid, omdat ek nog nie daar was nie, om te sien dat sy reeds regop in die bed is, die kateder en drip en die pynpomp reeds verwyder was. Die pynmedikasie word nou oraal toegedien en is op aanvraag - so net as sy daarvoor vra. Sy is nogsteeds in baie pyn, maar dit is meer hanteerbaar as gister.

Wyl ek daar was het sy reeds die eerste keer gebad. Ek is beindruk met haar vinnige herstel en verwag dat sy seker net tot Dinsdag in die hospitaal sal bly - sal maar moet sien wat die Dr se. Vir diegene wat vandag gebel, en gesms het - baie dankie - ek het julle boodskappe van sterkte en voorspoed aan Elsabe oorgedra. Ek aanvaar sy sal elk bedank sodra sy weer op die been is.

Groete. Tydelike Skriba. LeRoy

Saturday, June 6, 2009

D-Dag Saterdag 6/06/09

Ons was albei al om 02:00 vanoggend al wakker. Kon nie werklik slaap nie. Gelukkig stuur Eugene vir Elsabe 'n sms om 03:00 om sy ma voorspoed met vandag toe te wens. Met die sien ek dat die alarm 'n uur te laat gestel is. Ons moes om 05:00 al by die hospitaal wees. Nugter weet hoekom so vroeg want die opname proses het maar 30 minute geneem. Die tyd verwyl om nog 'n baie onaangename epos aan die "useless" medies te stuur. By aankoms by die hospitaal en met opname sou ons hoor dat die medies die hospitaal opdrag gegee het om die hele rekening privaat te merk sou ons die laparoskopiese prosedure doen, met ander woorde ons sou self vir die rekening van ongeveer R50 000 plus moes betaal.

Nie net 'n geval van "Big Brother is watching you", nou 'n geval van "Big Brother is telling you what to do" of anders. Vragie hier - wat het van Vryheid van Keuse geword ingevolge ons Grondwet. Algemene gevoel onder die medici - die mediese fondse het nou beheer van gesondheidsdienste oorgeneem en dikteer per definisie mediese ontwikkeling of agteruitgang met hul verstokte idees en streng finansiele uitkyk op al wat mediese prosedure is.

Die grootste grap hier is - ons wat ten duurste vir ons mediese fondse betaal moet hier tevrede wees met swakker/archaise/verouderde mediese tegnieke, wyl die medici wat die staatspasiente in byvoorbeeld - Kalafong - behandel in soortgelyke omstandighede vandag die voordeel van die laparoskopiese prosedure sou gekry het. Om die chirurg aan te haal - as Elsabe vandag by Kalafong was, was die laparoskopiese prosedure gedoen. Lekker ne. Maar genoeg van my galbraak - moes net iewers afblaas.

Wat die belangrikste hier betref. Elsabe is vanoggend 08:30 gedoen. Abdominaal - dalk is dit so bestem, sodat die chirurg die bekken mooi kon ondersoek en kyk vir tekens van verspreiding van die kanker. Op die oog af lyk dit nie of daar enige verspreiding was nie. Kom ons bid daarvoor.

Sy is reeds 10:00 terug na die normale sale waar sy nou onder redelike hewige pyn beheer medikasie is, waarvan die gevolg is dat sy meerendeels slaap. Wat 'n goeie ding is aangesien slaap tog die natuur se beste vorm van herstel is. Ek aanvaar sy gaan seker nog 'n redelike paar dae daar wees. Vir diegene wat graag wil inloer, die versoek is dat julle dalk die eerste paar dae oorslaan tot sy weer mens voel. Ek sal by haar hoor wanneer en dit hier noem.

Vir al die oproepe, eposse, sms en algemene boodskappe van ondersteuning, liefde, begrip, samesyn - dankie, dit word oneindig waardeer. Tydelike Skriba - LeRoy

Friday, June 5, 2009

Medies - Keyhealth - weier al weer Vrydag 5/06/09

Hilda Kriel, Una Mgwenya, Monica Hammes, Ujala Satgoor en ek die 23e April

Hier gaan ons al weer...Keyhealth mediese fonds het al weer my prosedure (vaginale histerektomie en laparoskopiese verwydering van my eierstokke) afgekeur. Die hospitaal het vanoggend navraag gedoen en sedertien is dit 'n heen en weer bellery en kom-ons-probeer-weer-vir-oulaas poging. (En vir die van julle wat wonder..., nee, hulle het NIE die onkostes vir my maagoperasie terugbetaal nie).
Dit lyk my die liewe Here wil maar net hê dat ek vanjaar oopgesny moet word.

En ek weet baie vertel dat hulle dit ook gehad het, maar die verskil is ek HOEF dit nie te gehad het nie! Ek KON minder pyn gehad het, vinniger herstel het en vroeër ontslaan gewees het. Dit is reeds die 5e keer dat ek narkose gaan kry sedert einde Januarie en die 4e keer dat ek gehospitaliseer word. Alles in my rebelleer teen Keyhealth - ek kan nie glo dat hulle nog so verstok is en geen nuwe sjirurgiese ingrepe wil oorweeg nie!

Ek groet dus vir eers met hierdie vrolike, lawwe foto van my en my kollegas tydens ons prettige Wêreldboekedagvieringe by die eertydse Groenkloof kampus waar ek vir baie jare gewerk het. Mag ek baie binnekort gesond wees vir nog baie stuitighede!

My skriba (LeRoy) sal my blog in stand hou totdat ek weer in die tuig kan klim. Dankie vir elkeen van julle wat aan my dink en my in jul gebede opdra.

Die Here is goed, Hy is 'n toevlug in tyd van nood, Hy sorg vir die wat by Hom skuil. Nahum 1:7.

Wednesday, June 3, 2009

Operasiedatum is Saterdag! Woensdag 3/06/09

'n Paar van die blykies van omgee van my liewe UP biblioteekkollegas

My gemoed is ligter vanaand...deels omdat my tranedamwal vanoggend gebreek het.

Ek is vanoggend by my kantoordeur begroet deur stringe helderkleurige ballonne, geskenkies, kaartjies, sjokolade, blomme, potplante en kollegas wat my soos engele toegevou het met drukkies van omgee en liefde. Na die afgelope week se spanning en dapper probeer wees, het die onverwagte liefdesgebare my heeltemal onverhoeds betrap en het ek in trane uitgebars! Ek is sprakeloos, maar diep ontroer deur elke liewe persoon wat vandag die moeite gedoen het om vinnig 'n epos, tydjie of 'n trooswoordjie met my te deel.

Die ander goeie nuus is dat die mediese fonds my prosedure goedgekeur het. Ek is dus eers Saterdag die 6e Junie geskeduleer en het nog twee dae grasie om my lewe bietjie in orde te kry. Ek is dr. Snyman oneindig dankbaar dat hy bereid is om my Saterdag te opereer (sy keuse). Hy gaan uit sy pad uit om my te akkommodeer en het gister die eerste keer sy oë op my gelê. En wat 'n bekwame sekretaresse het hy nie! Toe ek haar gister bel - die tweede keer dat ek en sy praat - noem sy my reeds onmiddellik op my naam.

Ek voel vanaand baie rustiger en so lig soos die ballonne wat in my kantoor rondhang!

Blok het vir my die mooiste Bybelvers kom gee vanoggend :" O Jakob, en jou Formeerder, O Israel: wees nie bevrees nie, want ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou en deur die riviere - hulle sal jou nie oorstroom nie, as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie. Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en ek jou liefhet, daarom gee Ek mense in jou plek...vir jou lewe." (Jesaja 43)

Dankie, ek is lief vir julle almal!

Tuesday, June 2, 2009

Uitslag van die doktersbesoek Dinsdag 2/06/09

Vandag het ek en LeRoy prof. Leon Snyman ontmoet en my gesondheidtoestand en die pad vorentoe bespreek. Ek het hom baie positief beleef en hy het vertoue by ons albei ingeboesem.

In 'n neutedop:
  • Die gewas het 'n slegte differensiasie gradering en dit is relatief ernstig.
  • Niks wat ek verkeerd gedoen, geëet of gedrink het (dit sluit hormoonvervangingsterapie in) is die oorsaak nie. Ons weet eenvoudig nie hoekom dit gebeur nie en ek pas glad nie die gemiddelde profiel nie.
  • Sjirurgie is my enigste opsie - my baarmoeder, eierstokke en limfkliere moet verwyder word. Laasgenoemde sal behels dat ek 4 maande lank daardie spesiale kouse sal moet dra om trombose en swelling van my bene te voorkom (Dankie Heer, dat dit winter is!). Ons het nogal lank gesels oor die verwydering van my limfkliere, want dis slegs deur die ontleding daarvan dat die graad en verspreiding volledig bepaal kan word. Daar is egter deesdae 'n tendens om dit nie te verwyder nie, maar omdat die graad van verspreiding dan nie bepaal kan word nie, sal ek dan beslis bestraling moet ontvang. Ons het dus saam besluit om veilig te speel en dit wel te verwyder en moontlike bestraling vry te spring. Interessant (is dit die regte woord..?) om te hoor dat bestraling slegs een keer gedoen kan word. Kanker word weerstandig teen bestraling en dit kan dus nie herhaal word nie.
  • Indien die kanker wel versprei het, sal die bestraling 2-3 weke na my operasie moet plaasvind. Dr. Snyman het egter gesê dit is 'n volgende gesprek. Ons eet die olifant nou eers happie vir happie. Dit is ontstellend om te hoor dat dit ongeveer 'n jaar sal neem om my "ou self" te wees en my vorige program te hervat. LeRoy glo vas dat ek die grense sal skuif en vinniger sal herstel.
  • Na my inwendige ondersoek het dr. Snyman met 'n nuwe voorstel gekom : ek is 'n goeie kandidaat vir 'n vaginale histerektomie. Dit sal minder pynlik wees en ek sal vinniger herstel. Ons wag dus weer vir goedkeuring van die mediese fonds. D-dag is of Donderdag 4 Junie vir 'n abdominale histerektomie of Saterdag 6 Junie vir 'n vaginale histerektomie en laparoskopiese verwydering van my eierstokke.
  • Laastens het hy ook voorgestel dat ek berading oorweeg om die trauma van kanker te verwerk. LeRoy het heelhartig saamgestem dat ek daarby kan baat - lei ek reeds die twee manne in die huis 'n lewe? :-)

Hoe voel ek? Ek wens met my hele hart dat ek eerder gesond was en ek sien baie op teen die prosedures. Moes reeds weer gaan vir 'n bloedmonster en is ook weer gestuur vir X-strale vir my bors. Ek is nog verbyster en sukkel nog om te glo dat ek wel siek is.

Dis verstommend watter uiteenlopende advies ek ontvang. Die meeste mense glo en vertel my dat ek na die operasie 'n nuwe mens gaan wees. Enkeles vertel my om myself voor te berei op bestraling en wat kan volg.

En ek hang tussen-in en herroep Robert Moropa (ons direkteur) se wonderlike advies wat hy spesiaal vanoggend vir my gebring het:

Four "Worry-relievers" from Pastor Mike:

  1. Worry about nothing. To relieve worry, live one day at a time. "Do not be anxious about anything..."
  2. Pray about everything. No problem is too big for God's power or too small for God's concern. "...but in everything, by prayer and petition with thanksgiving, present your requests to God."
  3. Thank God for all things. There is always something to be grateful for. "Give thanks in all circumstances for this is God's will for you in Christ Jesus."
  4. Think about the right things. Whatever I think about is what I am becoming. "As a man thinks in his heart, so he is."

Thank you Robert - today I am thankful for this advice and I'll take it to heart!