Saturday, June 20, 2009

‘n Huldeblyk aan LeRoy Saterdag 20/06/09

November 1996
Ek het ‘n epos van vriendin Heleen ontvang hierdie week wat my in trane gehad het: “Ek het Sondag vir jou en LeRoy gesit en kyk en ek het die mooi liefde wat tussen julle is gesien, ek wens ek kon dit vir jou in ‘n skildery vasvang. Jy het ‘n wonderlike man wat baie lief is vir jou en die liefde vir jou in sy oë is so teer dat dit vir jou al die aansporing in die wêreld moet wees om hierdie ding nie die oorhand oor jou te laat kry nie…Daai ou aanbid die grond waarop jy loop, so ou suster koester dit!! Ek dink hy weet nie aldag hoe om die ding te hanteer nie en hy probeer sterk wees ter wille van jou....”

Is dit nie die mooiste getuigskrif van ‘n gelukkige huwelik nie? Vandag op die vooraand van Vadersdag, wil ek dus hulde bring aan die liefde van my lewe, LeRoy Olivier. Ek voel altyd dat ek hom afgebid het, want ek het baie lank vir die liewe Heer gevra om asseblief iemand vir my te stuur wat ook vir Hom lief is. En ek vertel ons storie, omdat “Hoe het julle ontmoet?” verhale enersyds vir my so pragtig is en andersyds om talle ander enkellopendes weer moed te gee!

Ons het die eerste keer oë op mekaar gelê by Roodeplaatdam in 1995, toe sy ouer vriend (met wie hy in daardie stadium huis gedeel het) my uitgevra het. Ons het albei dadelik gehou van wat ons sien, maar hy het niks laat blyk nie en die ordentlike meisie wat ek is, ek natuurlik ook nie! Hy het gewag dat sy vriend aanbeweeg na nuwe weivelde toe, want ons was inderdaad net vriende. Een middag terwyl sy vriend besig was, het hy sy vriend se “swart boekie” nadergetrek en verwoes deurgeblaai op soek na my nommer.

Ek was baie verbaas oor sy oproep (28 Maart 1996) wat op daardie stadium beslis “uit die bloute” was, en het ongelukkig reeds ‘n ander afspraak gehad met ‘n nuwe vriend en kon nie sy uitnodiging aanvaar nie. Hy het daarop aangedring dat ek sy nommer neerskryf, wat ek om een of ander onverklaarbare rede wel gedoen het (en gehou het.) Onthou, ordentlike meisies het mos nie ouens gebel nie! Die nuwe vriend met wie ek die Sondag ‘n afspraak sou gehad het, het egter op kort kennisgewing ons afspraak gekanselleer en skielik sit ek op die vooraand van die skoolvakansie stoksielalleen – selfs Eugene was by sy pa. En ek onthou LeRoy se uitnodiging en wik en weeg…sal ek hom bel…? Met ‘n bonsende hart en bewende vingers bel ek toe die nommer, en dit lui en lui en lui….en net voordat ek wil neersit antwoord ‘n uitasem LeRoy: “Hallo!” Hy was op daardie stadium ‘n ywerige fietsryer en was op ‘n lang rit uit. Hy was buite die huis toe die telefoon gelui het, en hy sê hy het gehardloop of sy lewe daarvan afhang om die telefoon te haal…Onthou, dit was pre-selfoon era!

Die res is geskiedenis….. Ons het net gepas – soos twee legkaartstukkies wat ‘n prentjie voltooi. Hy het my 5 maande daarna in die kerk gevra om te trou terwyl kollekte opgeneem word. Ons onthou albei die diens nog goed – die dominee het gepraat oor ewigheidsmomente…daardie besonderse oomblikke in ‘n mens se lewe wat jy net weet hierdie gebeurtenis is ingrypend en gaan die res van jou lewe se loop verander of bepaal. En dit was ‘n ewigheidsmoment en die begin van huweliksvreugde ongekend vir ons albei.

Ek dink altyd aan LeRoy as ‘n pantoffel (jy dink dalk dis 'n snaakse vergelyking, maar dis soveel beter as 'n blink skoen wat heeltyd knyp en druk!) - sag, gemaklik en knus, want hy pas so gemaklik om al my skewe en krom plekkies. Ons huwelik is een van saam-doen, saam-wees en veral baie saam-lag. Ons oefen saam, kook saam, ontspan saam, bad saam en bid saam. Sonder hom kan ek my lewe nie indink nie en saam hom kan ek enigiets trotseer.

Dankie Lief, vir al jou liefde wat jy so onvoorwaardelik op my en Eugene uitstort. En elke aand sê ek nog vir Hom dankie vir jou en dankie vir ‘n tweede kans om te bemin en om bemin te word! Jy maak my steeds week van liefde na al hierdie jare...en jou sorgsame troeteling met my siekte dien as inspirasie dat ek moet kop hou, moed hou en aanhou!

Gelukkige Vadersdag!

Friday, June 19, 2009

Ek's ok! Vrydag 19/06/09

Ek is die afgelope 24 uur oorval met oproepies, sms'e, besoekies en nog blomme. My spieëlkas lyk soos 'n blommemark!

Baie dankie, my liewe Vriende en Vriendinne! Dit is eerstens vir my baie lekker om kontak te hê met die buitewêreld, want ek voel soms maar eensaam so alleen tuis. Arme LeRoy moet die pot aan die kook hou en kan nie altyd hier wees nie. Tweedens, voel dit vir my of ek nie alleen hierdie pakkie dra nie en elke hand wat uitgesteek word, hou my ook regop.

Ek het onlangs verneem van 'n eertydse kollega wat ook die slegte tyding van kanker moes aanhoor. Hy verkies om hom van almal te onttrek en dit het my laat nadink oor dit wat ek doen en die wyslikheid om my ervarings en gevoelens so bloot te lê. Ek besef weereens dat ons elkeen 'n persoonlike krisis anders sal hanteer en ek dink nie daar is 'n regte of verkeerde manier nie. Dit bly 'n persoonlike binne-stryd tussen my en ons Groot Geneesheer.

Die liefde wat ek van almal om my ervaar, is egter vir my besonder vertoostend en ek voel jammer vir elkeen wat hul afsny van die omgee en gebede van familie, vriende en kollegas. Ons lees tog in die Groot Boek dat ons mekaar se laste moet dra...

My hart gaan dus uit na elkeen wat 'n krisis, hartseer of pyn beleef en die pakkie alleen moet dra. En my hartlike dank aan elkeen wat sy hart oopmaak vir ander in nood (en ook nou vir my) - ek is nou aan die ontvangkant en ek ontvang met grasie en dankbaarheid.

En soos julle kan sien, ek's ok! :-)

Wednesday, June 17, 2009

Kanker is stadium II Donderdag 18/06/09

Dr. Snyman het pas gebel. Die uitslae van my limfnodes was eers laat gistermiddag beskikbaar. My limfkliere is skoon, en die kanker was beperk tot my uterus, maar dit het my serviks geinfiltreer. Dit maak die kanker stadium II en noodsaak dat ek wel vir die volgende 5 na 6 weke bestraling moet kry. Sonder bestraling is die risiko vir terugkeer blykbaar hoër.

Ons sal hom volgende week moet gaan sien - dit sal dan 2 weke na my histerektomie wees en ons sal die pad vorentoe bespreek.

Ek het gehoop dat hierdie ervaring my gespaar sou bly...almal om my het my heeltyd verseker dat dit nie nodig sou wees nie. 'n Klein bietjie onsekerheid het egter altyd gebly, maar dit is seker wat nou verhoed dat ek nie verkrummel en in 'n hopie gaan lê nie.

Onlangs het ek gelees, as 'n mens gesond is en op jou voete staan kyk jy vorentoe, maar as jy siek is en op jou rug lê, kyk jy boontoe! Dit is nou die enigste opsie. Liewe Heer, help asseblief...

Heer, ek hoop die dag is goed! Woensdag 17/06/09

Heer, ek hoop die dag is goed!
'n Nuwe môre gaan ons weer ontmoet...
U weet hoe swak ek is, hoe sonder moed,
maar Heer ek hoop die dag is goed!

Heer, het U my dalk vergeet?
Ek bid oor dit wat U alleen van weet...
En as ek U dan in gebed ontmoet,
hoop ek U maak my dag ook goed.

Ek soek nie rykdom of roem nie O Heer,
veel eerder sal ek van U wysheid leer.
Maar as dit oggend in die Ooste raak,
sal U dit 'n mooi dag maak?

Heer, ek hoop die dag is goed!
'n Nuwe more gaan ons weer ontmoet...
U weet hoe swak ek is, hoe sonder moed,
maar Heer, ek hoop die dag is goed!

U is die Koning wat oor tyd regeer
en ek kom vra maar net 'n bietjie minder seer!
Die bose val ons aan met al Sy mag,
maar Heer U is die grote krag!

Heer, ek hoop die dag is goed!
'n Nuwe môre gaan ons weer ontmoet...
U weet hoe swak ek is, hoe sonder moed,
maar Heer ek hoop die dag is goed!
Ja Heer, ek hoop die dag is goed!

Van Houtkruis - die Musical

Sunday, June 14, 2009

Piet se biltong - hartskos! Sondag 14/06/09

Kindertyd in Tolwe se sanderinge grond!

Ek sit hier in my warm bed en peusel aan Piet Hammes se biltong. Ek en Piet stel dieselfde vereistes aan ons biltong – nie oormatig gespesery nie en half klam. My eerste geskenk besending was sulke vet, dik los skywe, maar hierdie keer was die biltong reelmatige dun skyfies gesny – net tot teen die rant. Elke skyfie kan dan ewe maklik afgetrek word – pure smulplesier!

Biltong is vir my hartskos en dit laat my gedagtes ver paaie terugloop na my kinderjare….en my eerste onthou van biltong. My oupa aan my ma se kant, Hennie van Aarde, het ‘n plaas gehad in Tolwe, anderkant Potgietersrus in die Noordelike Provinsie. Op Eendracht 171 het hy het geboer met mielies, koring, grondbone en beeste. Biltong was altyd volop op die plaas en oupa het dit ook met sy skerp mes in netjiese stukke gesny, maar die droë wildsbiltong is somtyds met ‘n spesiale hamertjie fyn gekap. Daardie tyd was ‘n bakkie dik room ook saam voorgesit en ons het die biltong eers daarin gedoop en dan geëet – van cholesterol was daar toe geen sprake nie!

Ek onthou as kind ons gesin se (vir my nimmereindige) rit na ouma en oupa toe – meestal eers na my ouers tuis gekom het na werk wat beteken het dat ons baie laat die aand of vroegoggend eers gearriveer het. Dan het oupa Hennie en ouma Vinkie (jy kan net dink hoekom sy dié noemnaampie gekry het!) ons verwelkom deur die gasstoof weer warm te stook en ons het ons eerste ete saam geniet – ALTYD ouma se kerrie-afval met aartappels en tuisgebakte boerebrood. Ek was altyd die liefste vir die pensie.

Ander onthoukos uit daardie dae is Ouma se vetkoek wat geen gelyke geken het nie - ek is steeds vreeslik lief vir vetkoek! Ouma het ook haar eie kaiings uitgebraai – ek kan die stukkies krakerige vet goed onthou….En wat van die gebakte skaapkop op die tafel! Aanvanklik was ek nie so gretig om daarvan te eet nie en ek het nooit ‘n liefde vir die oë ontwikkel nie, maar ek onthou nog die romerige harsings…Gril jy nou lekker? :-)

As kind het ek graag in Tolwe se warm sand gespeel (die hitte was versengend daar in die somer) – nes ‘n seuntjie verkieslik met karretjies of die dolossies van die afval. Tydens een jaar se paasfees is sjokolade-eiers in ‘n papierhuisie verpak en ek kon nie wag om my huisie in die sand staan te maak nie. Ek het landerye uitgelê en met presiesie stukkies blare of takkies geplant en kon myself vir ure so op my eie vermaak. My ma se jongste broer, oom Frikkie vertel graag vir my hoe hy vir my as klein dogtertjie gevra het ”Wat maak jy?” en ek geantwoord het, “Ek peel, ek peel!”

Ja, dit was die tyd van kerse, gaslampies, “long-drop” toilette met baie spinnerakke, plaastelefone met luitone wat jy moes herken, self eiers gaan uithaal in die hoenderhok, wegkruip agter ouma se voorskoot vir die ganse wat al sissend nader kom, “rondry” op die ou stukkende trekker wat langs die ou huis gestaan het, kyk hoe die arme gekose keel-afgesnyde skapie se bloed patroontjies loop in die Tolwesand noudat hy onderstebo aan sy agterpote hang en grootoog kyk hoe oupa met ‘n ge-oefende hand en vlymskerp mes die skapie begin afslag.

Ek voel bevoorreg dat ek in daardie tyd kon deel hê en dit het my ook gemaak wat en wie ek vandag is. My oupa en ouma was sout-van-die-aarde mense en het hul alles vir daardie stuk rooi grond gegee. Ek raak nou nog vol heimwee as ek beesmis ruik of skape sien saammaal en hoor blêr. Ek is ‘n kind van Afrika – dis in my bloed!

Dankie weereens Piet, soos ek sê, biltong is hartskos!