Saturday, February 21, 2009

My eerste uitstappie! Saterdag 21/02/09

Vanoggend is ek dapper en stapper vir die eerste keer saam met LeRoy uit die huis uit. Ons het vir goeie vriende Ilse en Helgard gaan kuier. Helgard is dapper besig om teen beenmurgkanker te stry en word baie liefdevol bygestaan en verpleeg deur Ilse wat selfs hierdie siekte met die grootste styl hanteer. Ons vier was gedurig telefonies in verbinding, maar het vandag vir die eerste keer in ’n lang ruk van aangesig tot aangesig gekuier.

Ek en Helgard het tot ’n baie belangrike gevolgtrekking gekom vandag: een van die grootste lesse wat ons albei geleer het deur siekte, is dat dit help om die fokus te plaas op ander wat sieker is as jouself. Indien ’n mens dit kan regkry om jou omstandighede positief te vergelyk met ander s’n, help dit om perspektief te behou.

Die pyn en lyding van ander om my in die Intensiewe afdeling en in die hospitaal, het my laat besluit om nie te kla nie. Die omstandighede van elke pasiënt wat brandwonde opgedoen het, die onthou van die bleek swanger vroutjie waarmee die susters so in Intensief gespook het die 11e of die man wat so bewegingloos stil langs my gelê het, het my gemotiveer toe die fisioterapeut die 12e vir my sê: “Vroutjie, sien jy hierdie stoel? As jy daarop kan sit en nie flou word nie, skuif ons jou oor na die gewone saal”.

My advies aan jou is dus: as die lewe jou druk, kyk om jou rond en plaas die fokus op ander. Probeer om ander se hartseer en pyn raak te sien en selfs iets vir hulle te beteken, want dit gaan jou eie omstandighede ook verbeter!

Friday, February 20, 2009

‘n Hondelewe! Vrydag 20/02/09

In die verlede voor ek werk toe gegaan het, het ek die honde gegroet en hulle vertel hoe bevoorreg hulle is om die hele dag hier by die huis rond te lê!

Deesdae maak ek ‘n goeie hond uit! Ons gewoontes is baie dieselfde:
  • Ons lê saam op die stoep rond;
  • Ons hou die voëls en akkedissies dop en skrik vir die Hadidas wat so lawaai;
  • Nou en dan staan ons op om water te drink of bietjie te eet;
  • Ons storm hek toe as ons ’n toetery of besoekers daar hoor;
  • Ons ontvang elke besoeker met vreugde (ek het net nie 'n stert om te swaai nie!);
  • Ons verlustig ons hartstogtelik aan elke bederfie.

Ek kan dus met vreugde getuig – dis lekker om ’n hond te wees en nie nou aan die “rat race” deel te neem nie!

Bybelvers van die dag: "Die gebed van 'n gelowige het 'n kragtige uitwerking" Jakobus 5:16.

Thursday, February 19, 2009

"Dumping" Donderdag 19/02/09

Ek kon nog nooit vullisstorting verdra nie. Dit maak my woedend as mense in motors nonchalant kitskosverpakkings, plastiese glase, babadoeke, sigaretboksies, sakkies, bierbottels, koeldrankblikkies, stompies of enige ander gemors by hul motorvensters uitgooi. Ek en LeRoy was al op die mooiste plekke in ons land met die tandem of motorfiets en dit ontstel my altyd as vullis die lieflike uitsig versteur. Ek sien hoeka dat hierdie week se Rekord ook ’n beroep doen op ons almal: “Let’s clean up...” Elke keer wat ons bevoorreg was om oorsee te toer was die lande se netheid opvallend.

Dumping het egter nou ook vir my ’n nuwe betekenis. Omdat ’n deel van my maag verwyder is, kan voedsel en vloeistof te vinnig na my dermkanaal versprei – dit word “dumping syndrome” genoem. Dit kan die volgende onaangename gevolge veroorsaak:

  • Krampe en opgeblasenheid;
  • Diaree;
  • Swakheid of flouheid;
    Naarheid en die gevolge daarvan;
  • Kortasemheid;
  • Versnelde hartklop en oormatige sweet.

Sondebokke wat ek moet vermy is suiker en verfynde wit meelprodukte. Hawersemels is die regmaker. Ja-nee, ek gaan my magie van voor af moet leer ken en ons sal mekaar sekerlik nog in die toekoms uitsorteer!

Dankie vir my besoekers en al my bederfies – julle is my aardse engele!:

  • die UpeTD-span;
  • Elsa Coertze;
  • Melanié Malan.

Wednesday, February 18, 2009

Hoe hanteer jy ‘n krisis? Woensdag 18/02/09

Dank Vader vir my geloof! Hoe hanteer mense wat nie glo nie, krisisse in hul lewens? Ek moet erken dat sommige van julle se geloof groter as myne was, want julle het getuig dat julle geweet het wat die uitkoms van my patologiese verslag gaan wees.

Ken julle daardie kostelike sketsies van Jan Tuisbly se tjorretjie? Ek het myself gesien in so ’n Heer-in-Beheer karretjie en ek het besluit om net op die blomme langs die pad te konsentreer. Ek wou Hom nie vertel waarheen ons moes ry nie, want as gelowige het ek geglo dat Hy presies weet waarheen ons op pad was. Ek het my ook gedurig herinner aan ds. Tienie Bosman se raad van 'n rabbi "Don't ask why do bad things happen to good people - rather ask how do good people handle bad things?" En dan bly die antwoord "Alleen deur die genade van die Here" (2 Kor 12:8-10 "My genade is vir jou genoeg"). My manier was ‘n onvoorwaardelike oorgawe en dit is nou maar hoe dit was – nie met Steve (!) nie, maar met Elsabé!

Elke dag is deesdae vir my spesiaal, maar vandag was die bome net groener, die lug blouer en die kleure net helderder omdat die bekommernis van die uitslag nou nie meer met ons is nie. Christelle en Ina het met ’n koelsak bederfies opgedaag en ons het verlore tyd probeer inhaal in ’n teetyd. Marieta en Sandra was kort op hulle hakke en daar was soveel vreugdevolle oproepies!

My kulinêre skeppings raak baie kreatief – ’n skeppie van Malinda se pampoen, Ina se “kaal” pannekoek opgerol met Christelle se maalvleis en ’n happie van Elrian se slaai! En so word die moontlikhede afgewissel, want ’n gedeeltelike gastrektomie behels gereelde, maar klein porsies. Interessant genoeg moet ek verkieslik nie meer as 125 ml vloeistof per ete inneem nie en ek is verplig om na elke ete te rus of te lê!

G’n wonder dat sommige my nou beny nie!

Seën die hande wat hierdie etes voorberei het Heer, want ek word weer sterk!

Monday, February 16, 2009

Nie-kwaadaardig! Dinsdag 17/02/09

Ek sit nog alleen in my nagklere (soos 'n siek vrou!) kruisbeen in my bed voor my skootrekenaar en dr. Heyns se kantoor het pas gebel. Die histologie verslag het bevestig dat die monster nie kwaadaardig was nie!

Dankie liewe Here - ek huil en bid van dankbaarheid, maar weet julle sal verstaan! My beker loop oor, die spanning is verby... ek kan fokus op my herstel.

Verlede Dinsdagmiddag vanaf 15:15 was letterlik die donkerste dag/aand van my lewe. Daar het 'n vreeslike storm losgebars, net nadat ek die mediese weiering gekry het. Dit was asof die Here self woedend was. Haelkorrels het op die swembadwater gehop soos tennisballe en ek het verskrik vanuit my donker kamer die storm se vallende blare en emmers waters gadegeslaan. Die huis se krag was uit en ek het ook kragteloos gevoel. Vir die eerste keer het ek my van almal onttrek, wou ek met niemand meer praat nie en het opgeskulp op my bed gaan lê.

Woensdagoggend, op pad hospitaal toe, het ek opgemerk dat twee van my pragtige Iceberg rose wat in ons oprit staan, geknak was van die storm en kop onderstebo gehang het. Ek wou opsluit dat LeRoy hulle eers ophelp, maar sy prioriteit was om my by die hospitaal te kry. Vandag kan ek nou ook getuig dat ek ook gevoel het soos 'n geknakte Iceberg. Ek erken ek het heeltemal omgebuig, geknak en het met al my blomme op die pad verstooi gelê. Maar net soos wat LeRoy my Icebergs weer liefdevol gestut en opgelei het, is ek weer liefdevol gestut en gelei deur ons liefdevolle Here, eggenoot en vriende van die kerk en werk. Ek het 'n knak weg, maar ek is nie gebreek nie!

Baie, baie dankie aan elkeen van julle wat my so bygestaan het en steeds doen. Hoe kan ek jul ooit vir jul liefde vergoed? Vier assseblief my goeie nuus saam met my waar jy jouself ook bevind en loof Hom wat vir ons sorg! "Ek sal jubel as ek tot u eer sing, omdat U my gered het." Psalm 71:23.

Weg met alle medikasie! Maandag 16/02/09

Sondagaand nadat ek antibiotika gedrink het vir 'n ander lastige infeksie wat ek nog voor die operasie opgedoen het, het ek tot die besef gekom dat ek elke keer slegter voel na ek medikasie neem - hetsy dit vir naarheid of infeksie is. Aangesien ek reeds sedert Saterdag sonder pynmedikasie is, het ek sommer vroeg vir dr. Heyns geskakel en gevra of ek alle medikasie kan staak. Hy het 'n bietjie later teruggeskakel en goedkeuring verleen. Verstaan my goed - ek keur nie medikasie per se af nie, maar dit werk nie tans vir my nie. Vandag se wonderlike nuus is dat ek baie beter voel: die naarheid het begin wyk en ek het soos 'n regte hoendertjie die hele dag gepik het aan die kossies wat ek kon baasraak!

Ek ontvang aanbiedinge van dierbare vriendinne wat kokke (en eters!) is en ek aanvaar dit met grasie. Hierdie is 'n tyd wat ek my trots in my sak steek - LeRoy moet die geldpot (sy werk!) aan die kook hou en het min tyd om 'n hongerige vrou kort-kort van gaar etetjies te voorsien. Ina Louw (met pannekoek waarvoor ek lief is), Louette (met gesonde beskuit) en Malinda (met 'n hoenderpastei en groente!) het vandag my lewe gered.

Vir die wat wonder wat ek in die onmiddellike toekoms mag eet - die dieetkundige het die volgende voorgeskryf: geen volgraan, muesli, bone, erte, uie, pitte, sade, skille (soos vrugte), rosyne, korente, oormatige vet of room nie. Ek het 'n groot behoefte aan sout kos op die oomblik en my soet tand vir sjokolade en koekies is tydelik getrek! Geurige maalvleis, hoender of lasagne sal dus baie welkom wees - veral as ek dit kan vries (ek eet baie klein porsies) en maklik deur die dag kan opwarm vir 'n broodjie.

My beker loop oor...julle goedheid en liefde oorweldig my en ek het so baie mense om te bedank om van die Gewer van my Lewe nie eers te praat nie! Ek het gisteraand hard boontoe gesels en voel vandag soveel beter.

Indien julle wonder of ek gaste wil ontvang....die antwoord is 'n oorweldigende ja! Ek geniet dit om julle te sien en van julle te hoor, want julle is almal so spesiaal vir my. Onthou asseblief om my net te waarsku, want ons buite-klokkie werk nie. Indien ek slaap sal ek nie my selfoon beantwoord nie - dit is die goue reël.

Nou wag ek nog net vir die patologiese verslag...

Bybelvers van die dag: "Here my God, ek het na U geroep om hulp en U het my gesond gemaak." Psalm 30:3.

Sunday, February 15, 2009

Ek's tuis! Sondag 15/02/09

Dr. Heyns het my vanoggend ontslaan! Dit was louter genade om 10:00 uit die hospitaal te stap - in die sonskyn in!

Watter vreugde om op die stoep te lê en die son en die voëlgeluide in te drink...

Ek stoei met my nuwe vyand - naarheid. Dit is vir my bykans onmoontlik om te eet terwyl ek voel soos ek voel en ek mag nie toegee nie. Een van die voorwaardes van my ontslag was dat ek moet eet. In die verlede het ek daarop geroem dat ek 'n "eter" is, want koffie, gaskoeldrank, sap, alkoholiese drankies kon ek nog altyd met gemak weier. Ek drink my hele lewe hoofsaaklik water en rooibostee. Maar...ek kon met oorgawe eet! Ek kon op die ingewing van die oomblik opspring en souskluitjies, pannekoek, muffins, of watter gereg ookal waarvoor ek lus was, aanmekaar klits. En ek kon resepteboeke lees soos 'n roman en die eindproduk in my kop visualiseer. Ek het met liefde gebak vir ander - amper elke naweek het ek met geregte of soetgoed geëksperimenteer en ek het baie graag spesiale kookklasse bygewoon.

LeRoy het vandag sy bes probeer en alhoewel sy skeppings 'n reuse verbetering is op die hospitaalspyskaart weet en voel ek dat ek nie genoeg voeding inkry nie.

Maar ek sluit af met die Bybelvers wat op hierdie skitterdag tot my gespreek het: "Dit is die dag wat die Here gemaak het: laat ons daaroor juig en bly wees." Psalm 118:24. Vanaand slaap ek weer in my eie bed - halleluja!