Friday, July 10, 2009

Bestraling 4 om 8:10 Vrydag 10/07/09

Ons het gewik en geweeg om ons naweekplanne vir Clarens te kanselleer toe ek Dinsdag- en Woensdagaand so siek was, maar ek kon gisteraand vir die eerste keer in twee dae wel aandete eet. Vanoggend se bestralingsafspraak is juis vroeg geskeduleer sodat ons in die pad kan val. Vir die eerste keer is ek geweeg om my gewig te monitor.

Ongelukkig is ek weer bietjie naar en het vreeslik sooibrand, maar vanoggend se sessie is agter die rug en daar is genadiglik 2 dae se grasie voor waarna ek hartstogtelik uitsien.

Ons tassies is gepak en ons sal spoedig vertrek. My eerste bestralingsweek is verby! Hou magie, hou...

Thursday, July 9, 2009

Bestraling 3 om 15:00 Donderdag 9/07/09

DANGER RADIATION AREA – GEVAAR STRALINGSAREA. Dit is die kennisgewing wat my elke dag begroet. “Mag ek saamgaan?”, vra Eugene wat my vandag Little Company of Mary toe geneem het. “Nee, Liefie…beslis nie”.

Ek het myself vandag gefortifiseer met Motilium en ek hoop my slegte simptome sal vanaand wegbly. Dit begin gewoonlik so drie ure na die bestraling…nog een uur om te gaan. Ek verdrink myself in water – moet 3 liter vloeistof per dag inneem wat ongelooflik baie vir my is! Ek probeer dapper en stapper om soveel moontlik te drink, maar dit is ‘n stryd.

Die kliniese sielkundige het gesê ek moet tydens die bestraling iets visualiseer soos byvoorbeeld dat die kankerselle vernietig word. Dit het my laat dink aan ‘n liedjie van Eugene wat hy in die kleuterskool geleer het en passievol met al die nodige handgebaartjies vir ons opgevoer het: “Ek is nie ‘n stapsoldaatjie nie, stapsoldaatjie nie, stapsoldaatjie nie…ek is Liewe Jesus se soldaatjie!”
Ek verkies nou egter om my oë toe te maak, die groot ronde masjien wat om my draai en zoem te ignoreer en 'n nuwe vashouvers wat ek elke dag kies oor en oor te herhaal: Die Here sal hom bystaan in sy siekte – Psalm 41:4.

Vandag was (soos gister) weer ‘n kuierdag met Sunette en daarna Monica wat ingeloer het – dankie julle!

Wednesday, July 8, 2009

Bestraling 2 om 15:00 Woensdag 8/07/09

Ek is die uitsondering op die reël - ek is nie veronderstel om naar en siek te wees nie. Ek is vanmiddag na my tweede bestralingsessie dokter toe gestuur en hulle sal my nou fyn dophou. Maar ek is ongelukkig vanaand nie beter nie. Direk na die bestraling begin ek net progesssief slegter en slegter te voel. Ek word dus genoodsaak om medikasie te neem teen naarheid wat ek môre sal uitprobeer. Mag dit tog help!

My vashouvers: God sal jou beskerm waar jy ook gaan, nou en vir altyd. Psalm 121:8.

Tuesday, July 7, 2009

Bestraling 1 om 15:45 Dinsdag 7/07/09

Ek het geen idee gehad wat om te verwag nie, maar ek dink nie my lyf hou hiervan nie. Daar lê nog 27 sessies voor en ek voel reeds naar, siek en te moeg om my arms te lig. Ons sal môre hoor of dit normaal is.

Die masjien se groot ronde kop bestraal my van regs, onder, links en bo - my hele buik van my naeltjie af ondertoe. Hy is slim ook - het vandag terselftertyd X-straal foto's van my geneem. Radio Jacaranda speel saggies in die agtergrond en ek luister na OneRepublic: "Stop and stare....I think I'm moving but I go nowhere. Yeah I know that everyone gets scared, but I've become what I can't be..."

Ek het net hard probeer fokus op Josua 1:9 : "Wees sterk, wees vasberade. Moenie skrik nie, moenie bang wees nie, want Ek, die Here jou God, is by jou oral waar jy gaan."

Baie dankie vir al die boodskappies en oproepies van bemoediging - dit lyk my ek gaan elkeen nodig kry.

Monday, July 6, 2009

Kliniese sielkundige toe...Maandag 6/07/09

Ek glo sommige van julle is verstom oor die intimiteite wat ek so maklik met julle deel – ek verwonder my soms self daaroor. ‘n Paar keer het die gedagte ook al by my opgekom dat ek moet ophou blog en julle nie verder moet opsaal met my emosionele potpourri nie. Maar dan kry ek weer ‘n sms of epos wat sê dat dit wel iets vir iemand beteken of dat hul selfs daarna uitsien om te hoor hoe dit met my gaan. Ek geniet veral elke liewe kommentaar baie of as ek 'n Follower bykry (welkom Leoné!). ‘n Spesiale dankie aan LeRoy se niggie Esna en haar man Adriaan (die twee Eilandbewoners) wat so gereeld die Comment knoppie druk en kommentaar lewer!

Vriende Eddie en Karlien van Bloemfontein het Saterdag kom kuier en Karlien het ook vertel hoe sy saam lag of huil met my hoogte- en laagtepunte en hoe waardevol sy sommige van die inligting wat ek gedeel het, vind. En dit is ook een van my doelstellings – om ander vroue meer ingelig te maak oor endometrium kanker en die gevolge daarvan.

Ek gaan vandag ‘n kliniese sielkundige sien – sy spesialiseer in kankergevalle. Ek het aanvanklik gehuiwer om dit met julle te deel, maar ek het self nie geweet dat sulke beraders beskikbaar is nie en daarom noem ek dit ook.

Dit voel of die liewe Heer my self na haar toe gelei het. Die ginekoloog, dr. Snyman het meer as een keer genoem dat ek ‘n berader moet gaan sien en verlede week het my huisdokter en dr. Snyman se ontvangsdame (in opdrag van hom) gebel en dit op dieselfde dag voorgestel. Ek voel baie kalm en in beheer van my emosies op die oomblik en het nie gedink ek het dit nodig nie. Ek is half bang as iemand aan een van my rafeltjies gaan trek, dat ek heeltemal sal losrafel, maar dalk is dit ook nou en dan nodig? Hierdie was wat my gesondheid en my pa se dood aanbetref ‘n annus horribilis.

Die eerste ding wat ek haar egter gaan vertel, is dat ek ook geweldig geseënd is met baie geliefdes en dierbares wat my op elke denkbare en ondenkbare manier bederf en ek daarvoor oneindig dankbaar is! Maar dalk help die koppie-sorteer-sessie ook om ‘n paar hartseer-goete wat ek nie hier durf skryf of aan enigeen wil noem nie, netjies te sorteer en reg te skud!