Thursday, August 20, 2009

Laaste inwendige bestraling Donderdag 20/08/09

Die klaar, dis klaar, dis klaar! Dankie, liewe Heer, dis verby!

My oorwegende emosie is een van oneindige dankbaarheid. Dankbaarheid dat ek nou kan begin herstel; dat die "pause" knoppie van my lewe nou weer kan "play"... Daar is 'n raps minder van my, ek is 'n raps broser, maar ek is ryker in liefde en die weelde van kosbare vriendskappe en blyke van omgee en liefde van mense wat my ken en sommige wat my nie goed ken nie.

EN... ek is nog ek! Of is ek? Hierdie blog was ook eerstens geskryf vir myself. Sodat ek NOOIT mag vergeet nie; altyd kan onthou. Hierdie pyn en hartseer moet my ook verander en my met meer deernis en empatie vir ander laat. Ek moet elke oggend wat ek gesond wakker word, elke sonstraal op my lyf, elke vreugde-oomblik, elke blykie van liefde, elke gawe wat ek ontvang met meer dankbaarheid koester en waardeer.

Mag elke een wat hierdie pad saam my geloop het ook hul seëninge tel, net meer liefhê en saam my loof : die Here is goed - loof Sy heilige Naam!

Wednesday, August 19, 2009

Inwendige bestraling 2 Woensdag 19/08/09

“Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het.” Ester 4:14. "Het jy al daaraan gedink dat God jou met ‘n spesifieke doel in jou teenswoordige situasie geplaas het? Moontlik is dinge vir jou op die oomblik oneindig moeilik en gespanne en sou jy liewer op enige ander plek wou gewees het as waar jy nóu is." (Ozrovech, S 2007, In die holte van God se hand, Pretoria: CUM.)

Hierdie dagstukkie se woorde wat ek en LeRoy onlangs saam gelees het, bly in my kop maal. Is dit so dat U hierdie kanker met ‘n spesifieke doel op my pad geplaas het, Heer? Wat het U verwag van my? Is hierdie ‘n toets, Heer? Wou U gehad het dat ek my Bybel meer moes lees, dat my gebedslewe langer, meer en inniger moes word, dat ek meer gereeld tot stille inkeer moes kom, U meer geloof het, meer geglo het en meer getuig het?

Want deur dit alles, was ek maar net ek. Met tye 'n bang ek, 'n swak ek, 'n twyfelende ek, 'n huilende ek, 'n eensame ek en 'n bekommerde ek. Liewe Heer, een van my bekommernisse is, dat indien hierdie 'n toets was, ek dit dalk nie geslaag het nie.

Vandag het 'n vrouedokter, dr. Kobie die plasing gedoen en dit was minder pynlik. Ek het haar na die tyd spesiaal gaan bedank en haar antwoord was: "Geen vrou wil graag daar lê nie..."

Môre is hierdie behandeling op 'n einde...ek sien SO uit daarna!

Tuesday, August 18, 2009

Inwendige bestraling 1 Dinsdag 18/08/09

En daar lê ek toe weer op ‘n nuwe harde blad, in ‘n ander hospitaal met nuwe simpatieke gesigte wat my moeilik in die oë kyk. Ek wonder waaraan dink ander as hulle daar lê, wat gaan deur hulle gedagtes – dit behoort ‘n studie op sigself te wees. Elke vrou wat hierdie lees sal haar die behandeling kan voorstel; elke man wat hierdie lees het nie ‘n idee wat hierdie deel van vrouwees behels nie. Marié het dit so fyntjies saamgevat: “Vroue is so blootgestel aan mediese posisies wat ons siel blootstel.”

Ek volstaan met die gedagte dat dit nie pynloos is nie, dat die “instrument” baie anders gelyk het as wat ek my voorgestel het en dat hierdie bestraling 5 minute aanhou en baie langer voel omdat dit nie die plasing daarvan, die koppeling en programmering insluit nie. Natuurlik het die kriewels in my binneste weer ontwaak…jeuk-jeuk, kriewel-kriewel, jeuk-jeuk….Genadiglik lê daar nog net twee voor…

Monday, August 17, 2009

Onvergewinsgesinde sondaars Maandag 17/08/09

Suutjies sit, suutjies sit…hier op my ringkussinkie…

My maag en my onderstel is soos onvergewinsgesinde sondaars wat die evangelie nog nie aanvaar het nie. Hulle herinner my gedurig aan dit wat ons saam die afgelope tyd deur is. My maag klou onverbiddelik vas aan haar griewe en blaas haarself op (eintlik eerder af!) as ek nie haar sentiment deel nie. Ek sal baie geduldig met hul albei die pad moet loop en hulle met goed gemikte argumente oortuig om die strydbyl te begrawe. Verstaan hulle dan nie dat die bestraling nou verby is nie? Vir hulle geld “Let bygones be bygones” nog nie….

Dis versigtig eet en met verlangende oë kyk na die “verbode vrugte en kossoorte”, dis insalf en inroom en konsentreer op my asemhaling om die pyn te hanteer as die oomblik van waarheid aanbreek.

Maar, ek het steeds ‘n wonderlike middag gehad – ek fokus immers op die beplanning van my 50e verjaarsdag en dit beloof om ‘n magiese gebeurtenis te wees!