Friday, July 24, 2009

Bestraling 14 om 11:30 Vrydag 24/07/09

Halfpad met die bestralings, dankie tog! Nou is dit afdraande...nog net 3 weke oor. Die vooruitsig van 2 rusdae is verblydend. En dis al wat ek wil doen – net rus en kragte opbou.

Thursday, July 23, 2009

Bestraling 13 om 11:30 Donderdag 23/07/09

My lyf is geïrriteerd deur die bestraling en ek is geïrriteerd met my lyf. Hierdie algehele gevoel van onbehae neem elke week ‘n bietjie toe. My nuutste simptome sluit ‘n gejeuk en gekriewel in en daar is niks aan te doen nie. Ek moet myself juis versigtig hanteer sodat ek nie stukkend gaan nie en van krap is daar nie sprake nie. Vandag voel dit ook of die moegheid soos ankers aan my hang en die feit dat my blaas my gisteraand twee-uurliks wakker gemaak het, dra by tot my moegheid. Vanaand drink ek ‘n slaappil.

Die grootste uitdaging is egter om nie my irritasie te laat blyk nie en belangriker, om dit nie uit te haal nie – op niemand nie!

Ek het ek die mooiste sms gekry by Lèlane: ‘n Golfstok in my hande beteken nie veel nie. ‘n Golfstok in Ernie Else se hande beteken ‘n paar miljoen rand. Dit hang af in wie se hande dit is. ‘n Stok in my hande kan gebruik word vir selfverdediging. ‘n Stok in Moses se hand het die see geskei. Dit hang af in wie se hande dit is. Twee vissies en vyf brode in my hande beteken ‘n paar toebroodjies. Twee vissies en vyf brode in Jesus se hande beteken kos vir duisende. Dit hang af in wie se hande dit is. Met spykers in my hande kan ek ‘n kissie bou. Spykers in Jesus se hande beteken oorwinning en verlossing vir die hele wêreld. Dit hang af in wie se hande dit is. So, sit al jou bekommernisse, vrese, hoop, drome, familie, vriendskap – ja, alles – in God se hande. Onthou, dit hang af in wie se hande jy is!

So, hier is dit Here, vat asseblief hierdie pakkie – ek is mos in U hande!

Wednesday, July 22, 2009

Bestraling 12 om 10:10 Woensdag 22/07/09

Dit was vandag weer my afspraak met dr. Robbie en ek kom agter dat hy probeer om my te help om die positiewe te ontgin van my siekte. Verlede week het hy al getroos deur te sê dat die meeste mense na die tyd vir hom kom vertel dat dit nodig was dat hulle deur hierdie meule gaan. Hy het voelers uitgesteek oor my huwelik en ek kon hom verseker dat dit goed gaan, maar dat dit voor die tyd ook goed gegaan het. Ek het nie kanker nodig om my en my man se verhouding te herstel nie. Nee, ek is nog nie seker hoekom die Here die groot snoeiskêr uitgehaal het nie, maar ek weet dat snoei vernuwe en nuwe lewe gee. Hopenlik sal my blomtyd ook weer aanbreek!

Die mees positiewe ervarings wat ek tot dusver geput het, is die warmte en liefde van gee-mense. Ek is verras deur mense wat spesiaal tyd maak vir my - op watter manier ookal. Hulle bel gereeld, of sms en stuur eposse van troos en bemoediging. Sommiges loer vinnig in - gewoonlik nooit met leë hande nie. Wat my die meeste verbaas is dat dit soms mense is wat ons nie tradisioneel as "huisvriende" beskou het nie. Gisteraand het 'n kerkvriendin byvoorbeeld 'n volledige tuisgemaakte ete kom aflaai - afgerond met selfs 'n sjokoladetjie vir nagereg. Dit is sulke gebare wat my week laat met dankbaarheid...Hoe kan ek hulle ooit vergoed? Die slotsom waartoe ek kom is dat daar oneindig baie goeie mense op die aarde is. Baie dankie Here vir gee-mense wat onbaatsugtig 'n daadwerklike verskil in ander se lewens maak en U liefde uitleef!

Tuesday, July 21, 2009

Bestraling 11 om 11:30 Dinsdag 21/07/09

Rene (wat by Wilmedpark Onkologie in Klerksdorp werk) het my ge-epos en vertel van ‘n wonderlike emosionele ontlading-seremonie wat hulle “balloon releasing” noem. Ek het hoeka nog Louis (daardie man se asem hou!) se 5 groot vet ballonne wat hy in die motor opgeblaas het op pad werk toe die 3e Junie toe my kollegas my verras het. Blykbaar het hy baie snaakse kyke in sy motor gekry daardie dag, so blaas-blaas in spitsverkeer!

So, ek het pas besluit…die 14e Augustus, na my laaste bestraling, gaan ek daardie 5 ballonne lugwaarts lanseer en die einde van my siekwees vier. Waar die ballonne van my kollegas eers ‘n simbool was van ‘n tweede-asem, oplig en liefde, sal die ballonne dan ‘n simbool wees van al die seerkry en swaarkry van die afgelope paar maande. Ek sal hulle met vreugde een vir een loslaat en dit sal bevrydend wees om te sien hoe hulle al verder... en verder... wegdryf en kleiner word totdat ek nie eers meer ‘n spikkeltjie kan sien nie!

My kantoor is uitgesorteer en ek sal funksioneel kan werk môre. Gerda het die mooiste, grootste, vrolikste ruiker wat ek in ‘n lang tyd gesien het, laat aflewer en so die sonskyn in my kantoor genooi.

Uiteindelik is ek meer gemaklik met die bestralingsessies – ek grap en skerts nou al met die radioloë en voel nie meer elke keer of ek in die “room of doom” instap nie. Ek kom agter dat baie wonder hoe die bestraling werk. Nee, gelukkig lê ek nie soos ‘n rotisserie-hoendertjie daar nie. Julle ken mos daardie lekker hoendertjies by Woolworths, Pick & Pay en Spar wat so al in die rondte roteer en bak dat die vetjies so spat? Ek lê op ‘n smal bankie en die masjien draai om my…ek is die middelpunt waarom die masjien draai, soos wat my gesondheid nou die middelpunt geword het van al my doen en late.

Monday, July 20, 2009

Bestraling 10 om 11:30 Maandag 20/07/09

Maandae is gewoonlik goeie dae weens die grasie van die naweek sonder bestraling. Vandag is ek terug werk toe – na 6 weke siekverlof. Ek sal elke dag kantoor toe en daarvandaan hospitaal toe gaan – gelukkig is Little Company so naby.

My liewe werkskollegas het my verwelkom met ‘n spesiale tee en ons het een van hulle se verjaarsdag ook saam gevier. Dit bly kosbaar dat hulle almal soveel meelewing en minsaamheid toon. Vandag het ons hele afdeling 2 vloere verskuif en ieder en elk het kom help om my goedjies te pak en te karwei. Baie, baie dankie julle! Ek lees onlangs die volgende aanhaling: “Shall we make a new rule of life from tonight: always try to be a little kinder than is necessary.” Ek dink dis ‘n uitstekende lewensmotto!

Die bestraling se effek op my lyf is onmiskenbaar en onvoorspelbaar, maar nietemin nog hanteerbaar!