Thursday, February 26, 2009

Ontdekking: Peach Avelance! Donderdag 26/02/09

Ons internetverbinding is sedert Saterdagaand verbreek en dit was deels die rede hoekom ek die blog op ys geplaas het. LeRoy probeer nog vervaard verlore werk inhaal en het sy HSDPA kaart in die aand dringend nodig en kan dit allermins vir ’n verveelde vrou gun om kontak met die buitewêreld te behou!

Nietemin, ek het so baie teleurgestelde eposse ontvang oor die afsluiting van die blog, dat ek besluit het om hier en daar tog nog bietjie nuus te plaas indien ek iets het om met julle te deel!

Die rede vir vandag se skrywery is om die geheime identiteit van die plaser van die asemrowende bos Peach Avelance rose te probeer bepaal. Die bos rose is in ons oprit gekry toe ’n vriendin Dinsdagmiddag kom kuier het. Tot dusver het niemand eienaarskap aanvaar deur ’n epos, oproep of sms nie.

My nuuskierigheid kry nou die oorhand! Wie sou my so anoniem wil bederf? Of is die rose vir iemand anders bedoel?

Dit laat my wonder oor die beginsel van gee. My vertroue in die mensdom is die afgelope maand versterk. Ek glo van ganser harte dat ons almal baie dieselfde is en mekaar eintlik die beste in die lewe gun. Ten spyte van ’n baie bedrywige werksprogram het so baie mense hul harte vir ons oopgemaak en gegee: tyd, blomme, belangstelling, geskenkies, etes, bederfies. Marie Swanepoel het vir my die pragtige gebed van Reinette de Villiers aangestuur met die titel “Ontydige siekbed” wat baie tot my gespreek het.

Daarin skryf Reinette: “En as ek gegee het – besef ek dat dit dalk nou weer my beurt geword het om te ontvang? Niemand kan altyd aan die gee-kant bly staan nie. Is dit wat U vir my wil inskerp, Here? Wil U my leer om ook die saligheid van te kan gee, aan ’n ander te gun? Om ook die dor plekkies in my siel oop te stel vir die verkwikking wat iemand anders so graag aan my wil bied? (En nie altyd die een te wees wat met die gieter regstaan om ’n ander met my oorvloedige goedheid te benat nie?)"

Ek probeer kop hou met al die gee-mense om my wat bygedra het om ’n swaarkry-tyd te verander in ’n bederf- en-vreugde-tyd. Aan die (huidiglik nog) anonieme roos-skenker ook dus: baie, baie dankie! Die rose is elkeen so perfek pragtig, dat ek elke dag die hele blompot saam my ronddra na die vertrek waar ek my tyd deurbring. Ek wil hulle elkeen beleef in al hul prag en skoonheid en koester hulle met elke roosdoepa wat ek ken! In die woorde van Reinette de Villiers: ek is voorwaar met oorvloedige goedheid benat!

Monday, February 23, 2009

Finale diagnose en groet! Maandag 23/02/09

Tuis - op pad na herstel!
LeRoy en ek het vir die heel laaste keer die dongagevulde, verspoelde stukkie teerpad na Pretoria Oos aangedurf! Ons was albei opgewonde – die einde van my siektetydperk het aangebreek!

Ek het ook vinnig dankie-briefies gaan uitdeel by prof Van der Merwe en die verpleegpersoneel van saal 4 en saal 10. Dr. Heyns het “chop-chop” die krammetjies met ’n spesiale knippertjie verwyder en toe breedvoerig die uitslae en die operasiefoto’s aan ons verduidelik.

Dit blyk dat ek ’n rare lewerafwyking het en dit is wat aanvanklik baie suspisieus gelyk het en al die bekommernis veroorsaak het. Daar is verskeie hemangiome (dit lyk soos rooi moesies – nie my aantreklikste kant nie!) op my lewer en die gewas wat aan die buitewand van my maag ontwikkel het, het presies dieselfde voorkoms. Daar is geen duidelikheid van hoekom dit daar gevorm het nie – beide prof. Schalk van der Merwe en dr. Heyns het nog nooit so ’n geval teëgekom nie. Die goeie nuus is dat die gewas nie ’n GIST is nie en dat dit op die patologiese verslag herdoop is na ’n kaverneuse hemangioom met oorliggende ulserasie. LeRoy spot en sê dat ek selfs met my siekte absoluut uniek bly! My inligtingkundige streep sal verder rustig hieroor navorsing doen...

Tydens die operasie en die verwydering van die monster het dit weer onmiddellik begin bloei en het dit die voorkoms van ’n afgeblaasde ballon gekry. Soos ons egter weet, was daar genadiglik geen komplikasies nie en my slukpyp het 100% normaal gefunksioneer na die tyd en geen lekkasie getoon nie. Vir interessantheid, die 5 openinge se funkies was as volg: die regterkantste een was om die lewer te lig, een van die in die middel was vir die kamera, die ander een vir sy instrumente asook die een links. Die monster is uit die heel linkerkantste opening verwyder.

My eetpatroon en lewenspatroon mag nou geleidelik verander na normaal en geen spesiale medikasie (behalwe ’n ysteraanvulling weens my bloedverlies) of eetpatroon hoef gevolg te word nie. Ek het dr. Heyns hartlik bedank en hom ook vertel hoeveel mense vir hom gebid het. Hy noem toe dat sy vrou ook baie vir hom bid! Ons vrouens het universeel dieselfde opgelegde taak...!

Dit is bykans onmoontlik om ons dank en vreugde uit te spreek dat hierdie (soms baie bitter) beker uiteindelik geledig is. Dit was ’n besonder moeilke tyd vir ons albei en my pa se gelyktydige afsterwe het my emosioneel broos en LeRoy fisies uitgeput gelaat.

Ek is LeRoy ewig dankbaar dat hy hewig standpunt ingeneem het en die mediese fonds se finale antwoord oor my prosedure getroef het. Die bakleiery met hulle duur nog voort en hopenlik sal dit ook nog op ’n hoë noot afgesluit word. Alhoewel ons tans finansieël lam gelê is (ook weens uitgawes vir my pa, die narkotiseur en ander mediese verpligtinge wat nie deur die medies betaal is nie), glo LeRoy van harte dat daardie R15 000 die beste belegging is wat hy nog ooit in my gesondheid belê het! Baie dankie Liefie!

Ons twee is nader aan mekaar, ons goeie vriende wat hulself deur dik en dun bewys het, kosbaarder en ons verhouding met die liewe Heer inniger as ooit tevore. Daar was baie lesse te leer en ek weet dat ek in die komende jare weer sal delf in hierdie skatkis van wedervarings. Soms het ek saamgestem met hierdie kostelike aanhaling van Moeder Teresa: “Ek weet God sal my nie enigiets gee wat ek nie kan hanteer nie. Ek wens net Hy het nie soveel vertroue in my gehad nie!”

Ek is verder afgeboek vir 5 weke (in totaal is daar ’n aanbevole 6 weke herstelperiode) na die operasie. My introspeksie sal tydens my finale herstelproses weer terugkeer na die privaatheid van my eie persoonlike dagboek en hierdie is dus my laaste inskrywing en groet tot 'n weersiens in lewende lywe! (kontak my gerus by elsabe.olivier@up.ac.za)

Ek en LeRoy wil egter elkeen van julle wat die reis meegemaak het hartlik bedank. Dit was soms ’n wilde rit en het ons op onbekende paaie geneem waar veiligheidsgordels verpligtend was! Ons het egter die eindpunt bereik met Sy hulp en jul gebede en liefde. Aan elkeen wat ons met soveel liefde aangeraak het met oproepe, sms'e, besoeke, etetjies, blomme, gebede, kaartjies, geskenkies...ons is baie lief vir julle! Laastens: aan Hom alle lof en eer – my(ons) beker loop oor! Amen.

Teksvers: “Ek sal hulle suiwer soos goud gesuiwer word. Hulle sal my aanroep, en Ek sal hulle gebede verhoor.” Sagaria 13:9.

Sunday, February 22, 2009

Rustige Sondag 22/02/09

Ek en LeRoy het vandag die normaalste en rustigste dag in weke gehad en vanmiddag albei soos babas geslaap!

Ons is saam kerk toe en ds. James Kirkpatrick se boodskap uit 1 Samuel 20:41 oor die besondere vriendskap tussen Dawid en Jonatan het my diep getref. Ek is terdeë daarvan bewus dat my vriende my deur my louteringsproses gedra het. Sy boodskap is dat die Here deur vriende werk – hul nabyheid is Sy nabyheid. Vriendskap is liefde in aksie en ware vriendskap kan mense verander. Goeie vriende is lojaal en sal selfs vriende wees wanneer jy onder is of nie ‘n “wenner” is nie. Ware vriende is betroubaar en sal tot jou redding kom in tye van nood.

Ek is baie bevoorreg, want Hy het my lewe verryk met baie liefdevolle, lojale en betroubare vriende wat hulself deur dik en dun bewys het!

Môre is hopenlik my laaste afspraak met dokter Heyns en die 27 kramme op die oppervlak van my maag sal dan verwyder word – ek wonder hoe kry hy hulle uit?! My vragies lê reeds netjies uitgetik: Kan die GIST terugkeer? Hoe lank is my siekteverlof? Wanneer kan ek weer begin oefen? Wanneer kan ek weer begin bestuur? ens. ens