Thursday, June 25, 2009

Eerste ontmoeting met die radioloog Donderdag 25/06/09

Gister se trane het die spinnerakke in my kop bietjie weggespoel - ek glo dis die liewe Heer se geskenk aan ons vroue en in my hormoonlose toestand 'n noodsaaklikheid!

My eerste ontmoeting met dr. Ingo de Meulenaere het baie goed verloop en hy boesem vertroue in by my. Hy stem saam met dr. Snyman om bestraling van die hele bekken-area (15 x 15 cm) te doen om die moontlikheid van mikroskopiese bestraling te voorkom en my kanse vir genesing te verhoog. Bestraling beskadig die DNA van selle en stop die kankerselle se vermoë om te verdeel en te vermenigvuldig en hulle sterf dus af. Die gesonde selle sal mettertyd weer herstel en teen einde Augustus behoort die uitwerking van die bestraling 'n mindere effek op my gesondheid te hê.

Die uitwerking van die bestraling is kumulatief en ek behoort na 2 - 3 weke moegheid en irritasie van my blaas en derms te begin ervaar. 28 behandelings sal elke weeksdag toegedien word en ons het besluit om dit sommer by Little Company of Mary te doen wat baie naby ons huis is. Maandag moet ek aanmeld vir 'n skandering as 'n vooraf-prosedure en my eerste bestraling sal Woensdag 1 Julie 'n aanvang neem.

Ek en LeRoy het die dag opgekikker met 'n etetjie by La Spiga (soos normale mense!) en ek het myself bederf met 'n groot gunsteling - Baklava! Die dag was goed vir my en ek is weer vol moed en durf vir dit wat voorlê.

Die draaipunt was die beriggie wat ek in gister se Beeld gelees het van die jong student, Jaco le Roux (22) van Beaufort-Wes wat alleen en ver van sy ma en dierbares in Femina-kliniek lê met leukemie. Hy wag om te hoor of ’n geskikte beenmurgskenker gevind kan word... Ek wens met my hele hart dat ek kon help en daar is so baie soos hy. Dit is blykbaar 'n wanpersepsie dat dit seer is om beenmurg te skenk. Ek is te siek, maar het jy dit al ooit oorweeg? Lees meer by www.sunflowerfund.org.za of by 0800 12 10 82.

Dankie Here, dit gaan goed met my! "Die Here is my herder, ek kom niks kort nie." Psalm 23:1.

Wednesday, June 24, 2009

Ek's broos, ek's mens... Woensdag 24/06/09

Vanoggend hark ek myself bymekaar. Ek is gisteraand deur verskeie emosies van woede, ongeduld, irritasie, hartseer, ongeloof – meestal oor die onmag om dit wat voorlê vry te spring. Ek staan nog verbyster oor my situasie en vind dit soms steeds moeilik om te glo wat gebeur. Bowenal wil ek so graag verstaan hoekom ek kanker gekry het en dis nie ‘n antwoord wat ek gaan kry nie.

Dr. Snyman het nie veel meer lig gewerp op die bestraling wat voorlê nie, aangesien ek nou na ‘n radioloog, dr. Ingo de Meulenaere verwys is wat die bestralingprosedure gaan waarneem.

In ‘n neutedop:
  • Ek moet bestraling kry aangesien daar ‘n verhoogde kans is dat die kanker kan hervat sonder bestraling. Volgens dr. Snyman kan bestraling nie verhoed dat ek wel eendag die stryd kan verloor teen hierdie kanker nie, dit behels net dat die kanker nie in hierdie area weer sal hervat nie. Gevolglik gaan my hele bekkenarea uitwendig en moontlik inwendig bestraal word.
  • Kankerbestraling werk baie soos X-traal foto’s – die bestralings word egter net in ‘n baie hoër dosis aangewend om die kankerselle dood te maak of hul verspreiding te stuit. Ongelukkig word die liggaam se gesonde selle ook aangetas en alhoewel bestraling nie pynlik is nie, kan die afsterf of beskadiging van gesonde selle newe-effekte tot gevolg hê. Ek sal besonderhede met dr. de Meulenaere bespreek, maar my groot bekommernis is natuurlik my blaas en my derms…
  • Die bestraling word elke weeksdag vir 6 aaneenvolgende weke gedoen – sonder onderbreking, sodat die kankerselle nie kans kry op herstel nie. Alhoewel die bestraling na 6 weke voltooi is, mag my gesonde selle egter nog weke of maande daarna neem om ten volle te herstel.
  • Volgens die patologiese verslag was die kanker in stadium II B en chemoterapie het blykbaar geen effek hierop nie en word nie as terapie oorweeg nie. Hierdie kanker word NIE met ‘n papsmeer opgetel word nie en vroue regoor die wêreld moet blykbaar wag vir simptome om kop uit te steek voordat dit gediagnoseer kan word…
  • Die bestraling sal dalk reeds volgende week 'n aanvang neem, wat my nog 'n paar dae geleentheid gee op herstel.

Maar tussen die stoei met myself oor die aanvaarding van die nuwe onvermydelike opdraandpad, was daar kort-kort die vertroosting dat ek nie alleen is nie…Sms’e van liewe Marié, Mariette, Marieta en oproepies van troos en bemoediging van Lynette, Sandra en suster Bobby. En gisteraand se mooi dagstukkie oor die oorwinning van vrees was weer vir my gekies en ek klou daaraan vas met mag en mening: “God is my redder; ek vertrou op Hom, ek is nie meer bang nie. Die Here is my God en my krag.” Jesaja 12:2.

Ons sien dr. Ingo de Meulenaere more om 9:00.

NS. My baarmoeder het 110g geweeg...hulle weeg dit werklikwaar!

Monday, June 22, 2009

Hoeveel weeg ‘n baarmoeder? Maandag 22/06/09

To get through the hardest journey we need take only one step at a time, but we must keep on stepping.
Chinese Proverb

Ek het nog gewig verloor. Onder normale omstandighede sou dit vir my (soos vir elke ander volbloed vrou wat ek ken!) goeie nuus wees, maar nou terwyl ek siek is, is dit nie vir my goeie nuus nie.

Dit laat my wonder hoeveel ‘n baarmoeder weeg….? Self met my maagoperasie het ek nie onder 49 kilogram gesak nie. En dit voel vir my of ek nou net sit en eet want ek is toegegooi onder sjokolades te kies en te keur (danksy julle!).

Een ding is verseker – hormoonterapie laat beslis my gewig toeneem met gemiddeld 3 kilogram. Die oomblik wat ek dit nie neem nie (soos nou), sak die skaal se wysertjie gemaklik links…

So, sou ‘n baarmoeder tussen 500 – 700 gram kon weeg? :-)

My afspraak met dr. Snyman is more tussen 17:00 en 18:00 en dan sal ons hoor wanneer die bestralingsessies gaan begin en wat dit alles gaan behels. Ek is besig om woes navorsing te doen en my vragies te beplan.

My seunskind is besig om vir my vrugteslaai te maak vir middagete – ‘n eerste…Sien uit daarna, Eugene! Mmm...dis heerlik!