Friday, July 31, 2009

Bestraling 19 om 11:30 Vrydag 31/07/09

“Countdown….nine…!” Net 9 oor….wonderlike gedagte!

Ten spyte van al my maag se manewales het ek net 200g gewig verloor hierdie week in vergelyking met verlede week se 300g. Hier tel elke gram en jou gewig word met arendsoë dopgehou. “Crash, boom, bang!” het Roxanne vandag in my ore gesing terwyl die masjien bzzzzzzzzzzzz, “1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10,11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20 sekondes” onder my. Die ratte skuif woer-woer en sy groot gesig beweeg vanaf onder na links bzzzzzzzzzzzz, “1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10,11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20”, woer-woer skuif die ratte en die gesig beweeg soos ‘n groot donker wolk bokant my in, bzzzzzzzzzzzz, “1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10,11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20”, woe-woer, en die gesig beweeg regs “Amper klaar….”, bzzzzzzzzzzzz, “1, 2, 3, 4, 5, 6, 7, 8, 9, 10,11, 12, 13, 14, 15, 16, 17, 18, 19, 20 sekondes” Trek af my hemp, trek op my broek - dis maar al…!

LeRoy probeer hard om my aan die eet te hou. Hy sorg feitlik alleen vir al die etes, buiten as ons albei bederf word soos die week met dierbare Lelanè (dankie weereens!). Hy maak elke dag ontbyt (in die bed bedien!) en elke dag kry ek ‘n wit toebroodjie kantoor toe met ‘n voedsame proteïenvulsel soos vleis, hoender of eier. Gistermiddag het hy my met koeksisters saam tee verlei. Dankie my liefste man, jou soort is dun gesaai…

Die gejeuk het geleidelik geëvolueer in ‘n volskaalse gekriewel. Dit voel of ‘n mierkolonie hul intrek in my onderbuik geneem het en kort-kort vervaard rondhardloop en nes bou. Dank Vader dis naweek en dat ek die volgende twee weke nie kantoor toe hoef te gaan nie. Môre skree ek weer vir die Springbokke (veral vir Morné Steyn) – ek het dit lanklaas so geniet om so te lawaai soos deesdae!

‘n Spesiale dankie aan twee liewe vriendinne Martha en Huldah, vir ‘n pragtigste ruiker blomme! En dankie aan ds. James wat gistermiddag kom luister het, kom hulp aanbied het en so mooi vir ons albei gebid het: “Here, laat hulle U nabyheid ervaar, want ek weet dat U wel hier is.”

Thursday, July 30, 2009

Bestraling 18 om 11:30 Donderdag 30/07/09

Een kyk na my nuwe vriend by die hospital, en ek weet dit gaan nie goed met hom nie. Hy sê dat hy die vorige aand nie ‘n oog toegemaak het nie. Ons kyk met begrip na mekaar en sy vrou verwoord die gedagtes wat die afgelope tyd in my gemoed maal. Ons hoor so dikwels van mense wat kanker het en bestraling of chemoterapie moet ondergaan, maar ons het nie ‘n idéé waardeur hulle gaan nie…My nuwe vriend kyk na LeRoy (wat my vandag weer aangery het) en sê vir hom: “Jy moet baie goed wees vir haar, ons gaan deur hel!”

Emosioneel is ek beter vandag…my wipplank hang darem weer meer gebalanseerd... Vriend Pieter het ook my kop se ratte bietjie laat draai en ek het besluit dat ek nie die laaste twee weke van my bestraling werk toe gaan kom nie. Ek moet ‘n bietjie afskaal en fokus op my gesondheid. Dis maklik genoeg om epos te beantwoord en van die huis af wel ‘n bydrae te lewer. Die besluit stem my rustiger.

Twee handjievol bestralingsdae oor…net twee....dankie Here!

Wednesday, July 29, 2009

Bestraling 17 om 11:30 Woensdag 29/07/09

Vandag voel ek nie dapper en sterk nie, ek is baie broos. Gisteraand lees ek in Mattheus dat ons nie ons lewens kan verleng deur oor die dag van môre te bekommer nie. En Here, ek bekommer oor die dag van môre, want elke dag laat my sieker, slegter en swakker as die vorige een. Dit bly tog vir my moeilik om doelbewus elke dag hierdie gifbeker te “drink” en te weet hoe my huidige gesondheid stelselmatig ‘n knou kry…ter wille van langtermyn herstel.

Ek is so siek van siekwees! Hoe voel dit nou weer om nie pyn te hê, moeg of sleg te voel nie? O ja, dit moet verlede jaar een of ander tyd wees!

Dr. Robbie vermoed ek het gastritis aangesien die bestraling my maagslymvliese irriteer. Hy het verduidelik dat elke mens se ligaam ook uniek is en eiesoortig op die bestraling reageer. Daar word tans op 'n groot oppervlak gekonsentreer en dit verklaar my slegte simptome en moegheid. Ek het twee nuwe salfies vir al die seer en jeukende plekkies want ek mag nie enigiets aansmeer nie. Sedert gister het ek ook begin met erge maagkrampe - gelukkig net met tusssenposes.

En nou sal ek weer gerasperde bruin appel gaan eet want tot dusver was die wit beskuit, wit koek, wit toebroodjie en bruin piesang beslis nie suksesvol om my maag te beheer nie. En later vanaand sal ek myself troos met Lélane se appeltert - dankie jy is 'n engel!

Tuesday, July 28, 2009

Bestraling 16 om 11:30 Dinsdag 28/07/09

In helping others, we shall help ourselves, for whatever good we give out completes the circle and comes back to us. - Flora Edwards

Hierdie mooi woorde dra ek op aan al my wonderlike vriende in my lewe wat my elke dag so ondersteun en vertroos op elke denkbare manier! Mag die liefde wat julle op my uitstort honderdvoudig na jul elkeen terugkeer.

My liggaam se vuurherd is op die koffie…Ek is feitlik konstant koud en bibber en beef tussen die gloede deur! Ek lyk komieklik…sit met ‘n kombers oor die skoot en ‘n tweede een om my skouers en dan is die verwarmer ook nog aan in die studeerkamer. Ek gaan nêrens sonder Edith se koringsakkies nie en hardloop met tussenposes mikrogolf toe om hulle weer op te warm.

Môre sien ek weer vir dr. Robbie en sal my nuwe simptome met hom bespreek. Dalk kan ek ‘n roompie kry vir die plekkies wat so sensitief is. Ek voel baie moeg, maar ten spyte daarvan probeer ek om by die werk en tuis ‘n dag se werk in te pas.

Vandag se vashouvers: Die Here is my sterkte en my beskermer, op Hom het ek vertrou – Psalm 28:7.

Monday, July 27, 2009

Bestraling 15 om 11:30 Maandag 27/07/09

Ongelukkig was die naweek nie so salig as waarop ek gehoop het nie – die newe-effekte het my behoorlik opgekeil. Vandag verduidelik die radioloog vir my dat die bestraling se effek op my lyf kumulatief is. Dit is soos druppels in ‘n emmer – elke dag ‘n bietjie bietjie, maar iewers gaan my emmer begin oorloop.

Die volgende 3 weke sal ek baie diep vir krag moet delf, want die pad vorentoe gaan nie makliker word nie. Ek het erge diaree gehad die hele naweek, is weer met tye naar en moes my eetplan weer drasties bekyk. Een van die kankerpasiënte het vandag ook raad gegee – geen suiwel, neute, sade, klapper, rou groente en semels nie. Dit was goed om met iemand te praat wat presies verstaan en dieselfde simptome as ek ervaar. Boonop ry die arme man elke dag van Brits af vir behandeling - weer iets om voor dankbaar te wees…