Saturday, February 7, 2009

Begrafnis Saterdag 7/02/09

Wat 'n pragtige, helder sonskyndag was dit nie! Ek het die swart pakkie wat ek gister uitgehang het weer teruggesit in die kas en 'n witte uitgehaal. Hierdie was 'n wit dag! Liefste LeRoy en Eugene is vooruit kerk toe met die blomme en om die aanbieding van my pa op te stel. Twee baie besonderse ruikers (een van my dierbare kollegas van die Universiteit van Pretoria se Departement Biblioteekdienste en die ander van my Onderstepoort kollegas - baie dankie julle!) is laat gistermiddag by my afgelewer.

Die blomme het gesorg vir die humor van die dag, en Erica en span ek moet dit net met julle deel want ek glo julle sal verstaan! Die twee massiewe ruikers is gister versigtig in die sitkamer staangemaak, maar vanoggend toe LeRoy die ruikers indra kar toe, het hy (tipies man!) iewers die pad byster geraak. Die biblioteekruiker het die kar gehaal, maar met die tweede sessie gryp LeRoy toe die oorblyfsels van al my vorige ruikers wat in 'n blompot by die kapstok gestaan het. Ek het dit nie by die diens agtergekom nie, maar toe ons terugry huistoe, het ek met stomme verbasing die petieterige petalje (wat toe by my voete staan) gadegeslaan! Ek kon nie help om te lag nie, maar ek kan ook nie anders as om hom te vergewe nie. Vir mans is blomme mos blomme - maak nie saak waar hul koppies hang nie.

Baie dankie vir elkeen van ons nabye familie, huisvriende en kollegas wat die diens bygewoon het - ons het so waardering vir julle liefde en belangstelling en ek was aangedaan om Monica, Thea, Fay, Gertrud, Melanié, Danie, die Jordaans, en Edith daar te sien - om van Kobus en Johan (orrelis) nie eers te praat nie. Kobus het die bekende gedeelte van Lasarus (Johannes 11 ) vir ons voorgehou wat hy ook so mooi vir my uitgelê het tydens hul besoek (sien Terapeutiese kuiers 30/01/09 in die Blog archive aan die regterkant). Sy boodskap: Jesus stap met ons elkeen die pad en Hy ken ons so goed...net soos wat Hy geweet het om Marta en Maria te hanteer, so weet Hy ook om my te hanteer. En Jesus het ook gehuil - en volgens Kobus was dit trane van woede, want Hy het nooit bestem dat ons moet ly nie.

Ek wil afsluit met nog 'n dankie en 'n bietjie humor. Baie dankie vir elke bemoedigende en simpatieke oproep, epos, sms of besoek en almal wat my so letterlik aan die lewe hou met etes wat met liefde voorberei of gekoop is (Woollies bo!) - Annette, Ina Louw, Monica, Melanié, Elsa en vanaand Anita met 'n hoenderpastei. LeRoy en ek maak beurte om in die aand seën te vra en gisteraand het ek gebid: "Dankie liewe Heer vir hierdie pasteitjie wat LeRoy uiteindelik vir my opgeskep het. Maar seën asseblief Elsa se hande, want dit was sy wat dit ons gebring het. Amen." LeRoy se kommentaar...: "Sal jou terugkry, Poppietjie...!"

Bybelvers van die dag: "My God sal ... in elke behoefte van julle ryklik voorsien volgens sy wonderbaarlike rykdom in Christus Jesus." Filippense 4:9.

Friday, February 6, 2009

Here voorsien self Vrydag 6/02/09

Ons laaste foto saam - geneem tydens my verjaarsdag 12 Oktober 2008
Dit was my begeerte om my pa môre reeds te begrawe en ek en LeRoy het dit so oorgedra aan die begrafnisondernemers gisteraand. Hulle het my verseker dat dit geen probleem sal wees nie. Ek besef dis baie vinnig en dat sommige van my vriende nie die begrafnis op sulke kort kennisgewing sal kan bywoon nie, maar ek wil graag afklim van hierdie emosionele skoppelmaai.

En ten spyte van LeRoy (en ander) se weifelings stem goeie vriend Kobus dadelik op kort kennisgewing in om die begrafnis waar te neem. Liewe Louette en Johann maak werk van die begrafnispolis en LeRoy ry deur met die besonderhede van die begrafnisbrief wat ek in die vroeë oggendure beplan het. Voor ek gaan stort besef ek dat ek vergeet het om hom te herinner dat ons self 'n orrelis moet reël. Ek bel hom, maar kry geen antwoord nie. Terwyl ek stort bel Johan Dednam - 'n begaafde musikant en orrelis wat ek en LeRoy ontmoet het jare gelede toe ons dansless by hom geneem het. (Ja, ons kan nogal lyf swaai, hoor!) Toe ek sy stem hoor bars ek in trane uit - die Here het self die orrelis voorsien - hy is beskikbaar môre.

Hoe kan ek dan anders as om te glo dat alles ten goede meewerk?

Die begrafnis is môre om 11:00 by Harmonie-Oord in Sunnyside waar my pa die (amper) afgelope twee jaar so gelukkig gewoon het. Hy kon nooit uitgepraat raak oor al die skenkings wat hulle daar gekry het nie en hy het altyd gesê dat ons die regte ding gedoen het om hom daarheen te skuif. Dit was soveel nader en ons kon vinnig by hom uitkom in tye van nood soos wat die afgelope ruk die geval was.

Dankie aan julle almal vir julle troos, gebede en bemoediging via oproepe, e-posse, sms of persoonlike besoeke. Woorde ontbreek om ons dank te betuig. Wat kan ons sê? Dis liefde in werking!

Ek sluit af met die woorde van my pa se gunsteling lied - Solitaire - die woorde spreek vanself. Hy het altyd so graag daarna geluister as hy kom kuier het. Pappa, nou is jy nie meer alleen nie!

There was a man, a lonely man
Who lost his love through his indifference
A heart that cared, that went unshared
Until it died in his silence

And Solitaire's the only game in town
And every road that takes him, takes him down
And by himself, it's easy to pretend
He'll never love again

And keeping to himself he plays the game
Without her love it always ends the same
While life goes on around him everywhere
He's playing Solitaire

Another day, a lonely day
So much to say that goes unspoken
And through the night, his sleepless
eyes are closed, his heart is broken

And Solitaire's the only game in town
And every road that takes him, takes him down
And by himself it's easy to pretend
She's coming back again

And keeping to himself he plays the game
Without her love it always ends the same
While life goes on around him everywhere
He's playing Solitaire

A little hope, goes up in smoke
Just how it goes, goes without saying
Solitaireee
And by himself it's easy to pretend
He'll never love again
Ohhh

And keeping to himself he plays the game
Without her love it always ends the same
While life goes on around him everywhere
He's playing Solitaire Solitaire, Solitaire

Thursday, February 5, 2009

Totsiens Pappa... Donderdagaand 5/02/09

My pa is vanmiddag om 18:50 sag heen terwyl ek en LeRoy nog in die motor op pad was na Vergenoeg toe. Ek glo vas die Here het my begenadig...ek wou hom nie alleen laat gaan nie, maar het terselftertyd nie gevoel of ek die emosionele kapasiteit het om sy sterwe te aanskou nie. Ek het myself gestaal toe ons die kamer instap, maar ek kan met vreugde getuig dat Vrede op my pa se gesig geskryf was. Ek sal vir ewig dankbaar wees dat ons gegaan het - die beelde van gister is vervang met 'n nuwe een.

Suster Hannie wat tydens sy afsterwe teenwoordig was, het getuig dat sy reeds 24 jaar afsterwes meemaak en dat sy voorwaar beleef het dat hy deur die Poorte gaan. Dankie Here, U het hom kom haal - ons gebede is verhoor!

Vir jou Pappa: "Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan. Toe sê Hy wat op die troon sit: Kyk, Ek maak alles nuut." - Openbaring 21:4-5.

Wednesday, February 4, 2009

My pa is sterwend... Donderdag 5/02/09

Ons gesinnetjie in die vroeë Sewentigs
Die ouetehuis het gisteroggend gebel...my pa is sterwend - ons moet kom groet. En die hemele gaan oop en verdrink ons in water.

Ek het nie fisies goed gevoel nie, maar het tog 'n dringende begeerte gehad om hom vir oulaas te sien. Hy het nie geweet dat ek siek is nie, want ek het hom nie vertel nie. Die laaste keer wat ek hom gesien het was die oggend wat ek so skielik in Intensief opgeneem is - wat nie beplan was nie!

Ons kon eers die middag ry - die verkeer 'n nagmerrie van ongeduld wat ons peristalties nader aan Vergenoeg laat beweeg.

Ek was geskok om my pa te sien. Die 26e Januarie kon ek hom nog help vorentoe beur en hy het Coke uit 'n glas met behulp van 'n strooitjie gedrink. Kon nege dae hierdie agteruitgang bewerkstellig? Sy gesigvel is skeletagtig oor sy gesig gespan, sy oë dof en glasig en sy mond oopgesper. Die teenwoordigheid van die dood was tasbaar. Verstaan goed - my pa is reeds weg!

My pa se lewensverhaal is 'n hartseer een en een wat ek seker nooit sal vertel nie. Sy lewe het afdraaipaaie geloop na plekke wat min mense ken - deels uit keuse, deels sonder keuse. My ouers is geskei toe ek 13 en my sus 7 was en my ma het haar stukkend gewerk om vir ons al drie te voorsien. Na haar dood 10 jaar gelede het ek (en LeRoy) my pa se (primêre) Versorgers geword.

Sy 74e verjaarsdag in November was 'n spesiale een! Ek het weereens 'n gedrewenheid beleef om dit besonders te maak, want ons kon sien hy gaan vreeslik agteruit. Hy het een vriendin van Harmonie-Oord oorgenooi wat trekklavier bespeel - 'n vrolikheid! Ons, my sus en goeie vriende Johann en Louette (wat ons sedert 1980 ken) het saam 'n vleisie oor die kole gegooi. Ek het hom verras met 'n skyfieprogram van elke foto van hom wat ek in my foto-albums gehad het wat ek ingeskandeer het. Ons groepie het geskree ("Hemel Oom Boetie - is dit jy daardie? Bliksem!") van die lag oor die modes, die motors en hoe ons gelyk het toe ons jonger was!

Ons het reeds begin planne maak vir die begrafnis - my grootste bekommernis nou, dat met elke dag wat hy vasklou aan die lewe, ek nie die begrafnis sal kan meemaak nie. En daarom het ek kort-kort vannag wakker geskrik en gewens die telefoon lui! Dit is onmenslik om so te ly - ek en LeRoy is geheel en al gekant teen onnodige kunsmatige intervensie.

My bede vandag is dus: liewe Heer kom haal hom nou asseblief!

Bybelvers van die dag: "Moet nogtans nie doen soos Ek wil nie, maar soos U wil." Matteus 26:39.

Tuesday, February 3, 2009

En die grootste hiervan is die liefde! Woensdag 4/02/09

Ek en die twee wolkinders 6 September 2008
Volgende week hierdie tyd sal ek en LeRoy besig wees om aan te trek om hospitaal toe te gaan... As ek daaraan dink kry ek sommer 'n hol kol op my maag - ek hoop dis afkomstig van die GIST wat besef sy tyd van onwelkome verblyf in my liggaam is op 'n einde. Hy was ongenooid en het homself verniet so tuis gemaak en ongenooid my kragte as sy bron van energie gebruik.

Onthou julle nog die sprokie van Hansie en Grietjie waar die bose heks vir Hansie in die hok opgesluit het? Grietjie moes kos maak om hom vet te voer vir die pot en elke môre moes Hansie sy vingers deur die tralies steek sodat sy kon voel of hy al vet is. Ek voel nou so! Ek's in die hok vir een week...ek moet nou vet gevoer word sodat ek surplus kan opbou vir wat voorlê! Waar's die Brazilian Nutties? Waar's die Strawberry Whirls? Waar's die Choc-kits? Waar's die Diddle Daddle? Waar's die mossels en Salticrax soutbeskuitjies? Waar is al die lekker, verkeerde goete waaroor ek my lewe lank so skuldig gevoel het as ek dit geëet het? :-)

As kind en volwassene het ek al baie gewonder oor wat ek sou wens as ek net een wens toegestaan kon word. As ek nou soos Aladdin die lampie kon vryf en my towenaar verrys - wat sou ek hom vra? Onthou ook hoe die Here een nag in Gibeon in 'n droom aan Salomo verskyn en vir hom gevra het: "Wat wil jy hê moet Ek vir jou gee?" Ek het my nog altyd verwonder aan Salomo se wyse versoek en die Here se antwoord daarop: "Omdat dit jou versoek is en jy nie vir jou 'n lang lewe, of rykdom, of die dood van jou vyande gevra het nie, maar insig in wat reg is, sal Ek aan jou versoek voldoen." (1 Konings 5-15).

Vandag gaan ek met julle deel wat ek nog altyd gedink het my beskeie antwoord sou wees as die Here vir my sou vra: "Wat wil jy hê moet Ek vir jou gee?" Ek het in my kinderlike eenvoud gedink om te vra dat ek Liefde soos 'n aansteeklike siekte sou wou dra. Sou dit nie wonderlik wees as elke persoon wat met my in aanraking kom, "Liefde" kry en die volgende persoon waarmee hy in aanraking kom weer aansteek nie? Dit sou die klippie-in-die-water-rimpeling effek gehad het wat verder en verder uitkring sodat almal "siek" word van liefde! Dan kan dit mos nie anders dat ons almal die vrug van die Gees demonstreer nie! Om Lief te hê is immers ook die groot gebod.

So baie mense bel my nadat hulle van my siekte gehoor het, en betuig (sommiges vir 'n eerste keer!) dat hulle lief is vir my. Dit beteken ongelooflik baie vir my in my huidige omstandighede - dit maak my week, dit maak my sterk. Want as dit waar sou wees dan moes ek iewers, iets reg in die verlede gedoen het, om die Liefde van Jesus uit te dra. En dis tog wat my persoonlike wens nog altyd was (en hiermee erken ek ook dat ek al wel in die verlede gefaal het!). Maar ek het probeer dat Liefde my rigsnoer bly.

My bede vandag vir julle is om hierdie Liefde wat julle vandag vir my voel, "aan te steek". Hierdie Liefde mag nie net by my bly nie. Dis maklik om nou vir my lief te wees omdat jy weet ek ernstig siek is - my twee manne sal nou luidkeels beswaar aanteken en sê dat ek ONMOONTLIK is om mee saam te leef! Laat egter hierdie liefde voortleef...gee die liefde-aflosstokkie aan, gooi die liefde-klippie in die water en laat dit verder uitkring om ander wat jy ken ook in te sluit.

Onthou: "Too often we underestimate the power of a touch, a smile, a kind word, a listening ear, an honest compliment, or the smallest act of caring, all of which have the potential to turn a life around." (Leo F. Buscaglia)

Ek het dus besluit: ek gaan nie vra vir 'n lang lewe nie. Ek glo met my hele hart en wese dat daar 'n doel is met alles wat ek tans beleef. Die Here het my gekies - ek is in Sy hande.

Lees die woorde van my gunsteling geestelike lied wat ek gister aanhoudend gespeel het - repeat, repeat, repeat...Dis Willie Joubert se Oproep tot Lofprysing:

Ons Heil'ge Vader...
Lig en Lof omstraal U...
Die Skepper van die Groot Heelal!
Wie kan U ooit gelyk wees?
Wie kan U grootheid ooit bereik?
want U is God en God is U.
O Heer en Meester,
Gewer van my lewe....(my beklemtoning)
My hele wese bring U eer!
Vir ewig heers U glorie!
Vir ewig leef U majesteit!
Die ganse skepping roem U naam!
Halleluja....Halleluja...
Vol majesteit en glorie is U naam!
Halleluja...Halleluja...
Vol majesteit en glorie is U naam!
Halleluja! Halleluja! Halleluja! Halleluja!
Halleluja! Halleluja! Halleluja! Halleluja!

Operasiedatum 11 Februarie 2009 om 8:00 in Pretoria-Oos hospitaal

Vandag was 'n wonderlike rustige dag en ek het selfs my man vanmiddag verlei om saam my te swem, want die son het so milddadig geskyn! Dit was ook my eerste musiek-terapiedag (op Monica se voorstel) en ek het na my gunsteling snitte geluister en soms saamgesing en die soete klanke het my baie rustig gestem (dankie Louette vir die leen van die draagbare CD-speler wat ek nou kan ronddra!).

My afspraak met dr. Machiel Heyns was 17:45 en ek het baie moeite gedoen met my voorkoms - wat is die gesegde? - Dressed to kill! Ek wou hê hy moes sien dat ek 'n (relatiewe!) jong vrou is, wat myself oppas en dat hierdie net 'n tydelike struikelblok in my pad is wat ek met mening gaan aandurf! Sy laaste beelde van my was heeltemal te verlepte angelier-agtig! Ek en LeRoy kon ons vrae met selfvertroue stel, maar hy het hulle ook met gesag geantwoord.

Wat sê die dokter?
  • My situasie is ernstig eerstens in die opsig dat dr. Heyns en prof. Van der Merwe bekommerd is oor die ligging van die GIST. Dit lê heel bo links ongeveer 1 cm van my slukderm af in die fundus van my maag. So vergewinsgesind as wat die maag is, so onvergewinsgesind is die slukderm, omdat dit baie dunner is as maagweefsel. Op hierdie stadium is die probleem dus tegnies van aard en hy en die spesialis het baie gedebatteer oor die plan van aksie om dit uit te kry. Gewasse word gewoonlik wyd uitgesny, maar weens die nabye ligging aan my slukderm sal hy baie versigtig te werk moet gaan. Die GIST moet verwyder word, want anders sal dit al hoe groter en groter word.
  • Dr. Heyns gaan beslis die monster met 'n laparoskopie verwyder met 5 gaatjies in my maag. My slukderm word losgemaak van my maag en die gedeelte waar die GIST groei word met titanium-krammetjies afgekram sodat die bloedtoevoer onmiddellik afgesny word. Daardie gedeelte van my maag word dan losgesny van die res. Hy verkies om dit so te doen want hy kan my buikholte verlig en die hele prosedure volg op 'n groot hoë resolusie TV-skerm. So 'n operasie is baie minder traumaties op die liggaam en hy sal slegs 'n laparotomie doen (oopsny van my borsbeen tot onder my naeltjie) as daar ander komplikasies tydens die operasie voorkom. Aangesien 'n mens se slukderm agter jou hart en longe lê - teen die werwelkolom - is dit nie aan te beveel nie. Dis 'n moeilike plek om te werk en dit sal dan glad nie verlig kan word nie. Die hersteltyd is ook baie langer (5 dae in Intensief en 5 dae in die gewone saal). Slegs 10% van die gevalle benodig 'n laparotomie.
  • Na die operasie sal ek in die Intensiewe Eenheid gemonitor moet word vir ten minste 2 dae om te verseker dat komplikasies nie ingetree het met my slukderm nie. Die hoofkomplikasie is 'n lek van my slukderm in my buikholte wat groot moeilikheid beteken. Indien die slukderm lek sal ek hoë koors ontwikkel, pyn buite verhouding ervaar, baie siek wees en my pols sal versnel. Ek sal dadelik weer teater toe moet gaan, maar die resultaat kan fataal wees.
  • Tweedens sal die GIST na die operasie na die patoloë gestuur word vir 'n volledige ontleding, want hy wil nie 'n gejaagde resultaat in die teater aanvra nie. Indien die GIST kwaadaardig is (hulle wissel in grade van goed- en kwaadaardigheid) sal ek vir 3 tot 6 maande 'n baie spesifieke medikasie - Glivec - moet neem. Soos alle medikasie van hierdie aard is daar baie newe-effekte wat wissel van naarheid, moegheid en verlaagde immuniteit. Daar is ook 'n moontlikheid dat kwaadaardige GISTS kan terugkeer.
  • Die goeie scenario is dat ek na 2 dae na 'n gewone saal oorgeplaas kan word en na ongeveer 6 weke van herstel (ek gaan baie moeg wees) weer my ou self kan wees! Weliswaar dalk ongeveer 5 of 6 kilogram ligter, waarsku hy. Hierdie is NIE 'n dieet wat ek aanbeveel NIE... werklik dames, daar is makliker maniere om gewig te verloor! :-)

Wat tel in my guns?

  • Ek is maer;
  • Ek is relatief fiks;
  • Die Gist is slegs (!) 6,5 cm groot;
  • Dr. Heyns se eie vrou sal tydens die operasie assisteer.

Wat moet ek nou doen?

  • Ek is tans anemies/bloedarmoedig (dit verklaar my huidige moegheid) weens my bloedverlies en het 'n ysteraanvulling gekry;
  • Ek moet sorg dat ek vitamiene-aanvullings neem en genoeg, gewone (nie baba-kossies nie!) gesonde, heilsame en voedsame kos inkry (my man sal maar Naked Chef moet speel!);
  • en laastens BAIE rus sodat ek kan herstel en sterk kan word.

Monday, February 2, 2009

Wees sterk! Wees sterk! Dinsdagoggend 3/02/09


Hierdie foto is 15 Julie 2008 geneem met LeRoy se verjaarsdag

Ek is elke oggend baie vroeg wakker - dis asof iemand net 'n knoppie in my kop druk en al die liggies aangaan. Dan kom sit ek hier en skryf alles uit my uit!

Leone het gister my Bybelvers van die dag vir my gegee: Daniël 10:19: "Moenie bang wees nie, jy vir wie God liefhet! Dit sal goed gaan met jou. Wees sterk! Wees sterk!" (Dankie Leone!)

Hierdie vers spreek besonder tot my. Jare gelede toe ek weens my egskeiding stukkend in my liefste ma se arms huil het sy vir my gesê: "Jy sal hierdeur kom - jy is sterker as wat jy dink!" en Mari sms gister vir my "Jy't di courage van 'n blouwildebees wat deur 'n rivier trek!" Maar die waarheid is dat ek fisies baie swak voel en daar spoel soms 'n brander van moegheid oor my wat maak dat ek nie krag het om 'n vinger te roer nie. En my emosies is 'n simfonie-orkes! Soms is die fyn driehoekies, klokkies of die soete vioolmusiek hoorbaar, maar daar is kere wat die trompette, dromme en simbale die simfonie oordonder!

Op 'n ligter trant - waar kan ek 'n towerstaffie kry? Hier is 'n paar goedjies wat weggetoor moet word en as julle nie vir my een kan kry nie, sal oogklappe die ding moet doen - vir my en julle asseblief! Hoekom het ek dit nodig, vra jy? My towerstaffie moet elke dag asseblief:

  • die wolkinders se (bruin) bolle wegtoor wat soms reg langs die tuinpaadjie lê;

  • die mat/handdoek/kombers wat Nikita so lief is om in die oprit te los (nes 'n stout kind wat nooit haar kamer opruim nie) te laat verdwyn;

  • die berg skottelgoed wat in die studeerkamer (of soos wat LeRoy dit noem, die "Call Center" want hy, ek, Eugene en Martli sit hier) groei tot Mount Everest laat verdamp;

  • die krummels op die kombuiskas en stoof, oorskietkos, papiersakkies en wegneem-kosbakkies en al die ander gemors denkbaar wat orals in die kombuis neergesit word, wegtoor;

  • om van die vuil potte en panne nie eers te praat nie!

So, my liewe vriend/vriendin, indien jy kom kuier en jy nie die towerstaffie opgespoor het nie, sit asseblief jou oogklappe aan! Want my krag is min en ek het besluit dat ek dit NIE nou op een van hierdie aktiwiteite gaan vermors nie.

My mikpunt van die dag: oplees, oplees, oplees en om jou sover te kry om jou kommentaar hier te laat. Maak my dag en laat 'n Comment - ek geniet die nuwe blog-speelding vreeslik!

Goeie nuus! Maandagaand 2/02/09

Ek het goeie nuus ontvang laatmiddag! Ek het die sjirurg vanmiddag gebel (omdat ek bietjie moeg voel) en hy het die uitslae van die biopsie ontvang. Die monster (is dit nou nie 'n goeie beskrywing nie!) lyk nie kwaadaardig nie. Ek was rasend opgewonde, maar toe prik hy weer my ballon en sê dat hulle 'n groter monster sal moet toets (wat eers tydens die operasie sal kan gebeur). Sy presiese afskeidswoorde was "Sover lyk dit goed". Dankie Here vir hierdie groot stuk hoop en ek glo baie van julle sal saam my hieroor dankbaar sal wees.

My kollegas het vandag vir my hulle harte oopgemaak. Ek is oorval met oproepe, sms'e en e-posse om van die besoekers nie eers te praat nie. Daar is te veel mense om uit te sonder, maar weet net dat ek almal s'n gelees het en elke geloofsvers, hoopwens en liefdebetuiging opreg waardeer. Julle goeie wense en gebede is die hande wat my staande hou en my dra. En soos julle nou gehoor het: ons gebede spreek tot God en Hy verhoor ons! Vergewe my as ek nie persoonlik op elke epos en sms reageer nie - dis juis hoekom ek die blog begin het want die omvang van jul liefde en belangstelling is oorweldigend.

Ek sien ek het selfs 'n paar Followers (Wow...ek voel soos 'n "celebrity"!) ...alhoewel 'n paar "stalkers" my ook laat weet het dat hulle die gebeure volg en die blog lees :-)

Almal wil weet: hoe voel jy? Gun my om te vertel - ek het rede tot dankbaarheid! Ek het nou minder pyn as voor my hospitaalkaperjolle. My maag voel egter ongemaklik, is geswel en ek kan net klein bietjies op 'n slag eet. Ek voel nog swak en word baie gou moeg. Dit voel permanent of een van hierdie groot lugbore binne my vibreer en as ek baie moeg word voel dit of ek wil flou word. Ek vermoed my bloeddruk is net 'n bietjie laag.

Môre is 'n belangrike dag vir my want ek en LeRoy gaan 16:45 dr. Heyns (my sjirurg) besoek om die besonderhede van die operasie te bespreek. Ek wil baie graag tyd spandeer om self bietjie navorsing te doen en my vragies agtermekaar te kry. Ek sal dus minder beskikbaar en toeganklik wees as vandag, en verkies om nie besoekers te ontvang nie.

Ek belowe ek sal môre wel terugvoer gee van die operasie se besonderhede. Nogmaals dankie - ek kan voel hoe die kring van jul almal se liefde groter en groter om my word en my kussing vir dit wat voorlê. Lekker slaap!

Sunday, February 1, 2009

Af van die mallemeule Maandag 2/02/09

Ek is af van die mallemeule! Ken jy dit rit? Dis een van hardloop en kophou: opstaan, ontbyt, aantrek, werk toe ry, werk, werk, werk, werk, gim toe, winkel toe, aandete, opruim, broodjies vir môre, dikwels weer werk, werk, werk...Maar iewers het ek afgeval - ek hoor nog die deuntjie, sien hoe ander by my verbyhardloop, hoor hul laggies, maar ek is nie meer deel daarvan nie. En dis vir my swaar - ek voel soos 'n kind wat verlangend toekyk, maar ek het nie meer 'n geldjie om op te klim nie.

Monica het gister 'n groot stuk wysheid met my gedeel. Dis so waardevol om met sulke mense te praat! Hulle woorde is soos groot klippe wat die dongas in my pad vul en my roete gelyk maak. Sy het gesê dat dit wat met my gebeur tot almal moet spreek en almal weer 'n slag perspektief moet gee op die lewe.

Lyding en swaarkry vorm 'n mens en bou karakter. Ek sukkel nog bietjie om te verstaan hoekom die Timmerman my weer gekies het, want ek het al 'n paar karakterbou-sessies weg! Maar Hy het my weer gekies en ek voel gedrewe om die instrument te wees wat Hy nou wil gebruik. Mag dit wat ek nou beleef dus nie waardeloos in jou lewe wees nie: verwonder jouself vandag weer in al jou seëninge: jou gesondheid, jou geliefdes, die vreugde om te kan werk (ja, ja.... glo my dit is! Al is dit net daardie lekker geselsies in die teekamer!), die wonder van die natuur. Wees lief vir mekaar, maak daardie oproep, deel jou glimlag, wees vandag goed vir iemand wat jy nie ken nie en koester jou vriendskappe - wie weet wanneer jy hulle gaan nodig kry! En laastens, maak weer tyd vir jou Skepper, want daar kom 'n tyd waneer dit net julle twee sal wees. En dan moet jy Sy nommer ken!

Hilda het ook die naweek 'n juweel van 'n teksvers met my gedeel: Jesus sê: "Vra en vir julle sal gegee word" Lukas 11:9. Sy sê die liewe Vader hou tog so daarvan om herinner te word aan wat ons nodig het. Ek herinner Hom kliphard, Hilda!

Julene, dankie vir al jou boodskappies, elke dag! Ek wil vandag s'n met almal deel: Om die volheid van God se liefde te ken, en in Sy groot genade te glo, moet jy soms in die stikdonker wees, met net Sy liggie van bo!

Geniet julle dag, koester die mooi!