Friday, August 7, 2009

Bestraling 24 om 11:30 Vrydag 7/08/09

Dis langnaweek in Suid-Afrika...en ek en my man trek laer. Ons beplan niks, gaan nêrens heen nie en sal hopenlik albei elke dag bietjie beter voel. Ek het weer vir dr. Robbie gesien en nuwe pynmedikasie ontvang en daar is gelukkig 'n ekstra rusdag vir my uitgeputte derms. Die einde is in sig...ek het nog 'n week agter my...dankie Here!

Thursday, August 6, 2009

Bestraling 23 om 11:30 Donderdag 6/08/09

My "countdown" is eintlik nou in sy kanon in…, maar dis tog met vreugde dat ek die oorblywende bestralings nou op my een hand kan tel…Ek is nie lus om te praat oor hoe ek voel nie, veral nie dat ek vroegoggend reeds met ‘n keelseer wakker geword het nie – die medikasie wat moes keer dat LeRoy se kieme my bespring, ten spyt.

Kom ek erken dit nou ruiterlik, ek kan die bestraling nie verdra nie! Ek is werklikwaar so siek en seer dat dit die grootste wilskrag verg om dit elke dag te verduur en ek bars soms in trane uit van die pynlike nagevolge. Maar… sommiges van ons se huise word deur die Stadsraad gesloop (vriende van my s’n nogal), sommiges van ons se huwelike verbrokkel, sommiges van ons se liefdevolle dogtertjies verander in depressiewe tieners met selfmoordneigings. Sommige van ons se ma’s stry nou al ‘n jaar teen borskanker, sommiges van ons sukkel om finansieel die mas op te kom en moet twee beroepe se eise hanteer en sommiges van ons verpleeg ‘n bedlêende , ernstig siek eggenoot. Met sommiges van ons gaan dit baie goed, met sommiges van ons gaan dit baie sleg. Maar dit is maar net die verloop van die lewe…en al wat sommiges van ons kan doen is om vir sommiges van ons te bid.

En genadig is daar darem elke dag iets positief om op te fokus…soos Alet se heerlike hoenderpastei of Anita se getooide miniatuur sjokoladekoek....of die geel vinkie wat so onbesorg en met soveel energie en entoesiasme aan sy nessie bou. En ons is almal in die holte van Sy hand…!

Wednesday, August 5, 2009

Bestraling 22 om 11:30 Woensdag 5/08/09

Slegte nuus..., maar gelukkig weens groot Genade is ek emosioneel rustig en ek het dit verbasend goed hanteer. En dit ten spyte van die feit dat ek ook vandag die eerste tekens van bloeding gewaar het, wat my glad nie opgewonde stem nie (dis tipiese tekens van inflammasie en irritasie van die derms).

Dr. Robbie se slegte nuus is dat ek ook inwendige bestraling moet ondergaan binne 2 weke.

Aangesien my kanker ondertoe versprei het en die bo-gedeelte van my vagina nie verwyder is nie, het dr. Snyman self geskakel en inwendige bestraling aanbeveel. Ek het so uitgesien om volgende Vrydag klaar te wees, maar volgens hom sal ek myself een week se grasie van rus en herstel moet gun, en die inwendige bestraling sal dan gedurende die week van 24 Augustus ‘n aanvang neem. Volgens dr. Robbie sal ek gelukkig minder newe-effekte ervaar, want die bestraling fokus op ‘n kleiner area. Ek het reeds ‘n afspraak met dr. Ingo de Meulenaere by Muelmed, want hierdie bestraling word net daar gedoen.

Die besef wat stadig insink, is een van erns. Hierdie is nie kinderspeletjies nie – dit is lewensbedreigend en hierdie is 'n geveg wat ek net moet wen!

Tuesday, August 4, 2009

Bestraling 21 om 11:30 Dinsdag 4/08/09


Ek het opgekyk na haar - letterlik en figuurlik...my ma!

Ek verlang intens na my ma – na haar liefde en troeteling. Dit sou vandag haar 77e verjaarsdag gewees het, maar haar plekkie is reeds 11 jaar leeg.

Ons het ‘n besondere hegte verhouding gehad en sy is die mens wat die grootste positiewe invloed op my lewe uitgeoefen het. Van jongs af was ek ook haar vertroueling en tot met haar skielike dood in 1998 het ons mekaar elke liewe dag gebel. Sy was my klankbord en ek hare en ons het mekaar se wel en wee, drome en hartseer geken en gedeel. Niks het my groter vreugde verskaf as om haar gelukkig te sien nie, en sy kon altyd so opgewonde raak oor elke (klein) hoogtepunt in my lewe.

Sy was ‘n wonderlike betrokke ouer en het alles binne haar vermoë gedoen om in elke behoefte van my en my sus te voorsien. As alleenouer het sy elke beskikbare uur wat sy kon bykomende boekhouwerk gedoen om finansieel die pot aan die kook te hou. Sy was ‘n voorslag by die werk omdat sy so akkuraat en noukeurig kon werk en was baie gesog by haar werkgewers. Salomo het ‘n vrou soos sy in gedagte gehad toe hy in Spreuke 31 geskryf het: “‘n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene.”

As ‘n Ouma was sy ook hartstogtelik lief vir haar twee kleinseuns en ek kan nog goed een naweek onthou hoe Eugene gehuil het toe Ouma moes huistoe (in Johannesburg ) en daar huil Ouma toe lustig saam…Sy het ook vir ‘n tyd lank my sus se seun versorg toe Madelein weer moes gaan werk. Haar seun het ‘n passie vir lang hare gehad en het net aan die slaap geraak as hy met my sus se hare kon speel. Ouma sou ongemaklik skewe koppie sit – net sodat Devin ook aan haar kort hare kon vat om aan die slaap te raak!

As ‘n mens so ‘n intieme verhouding met ‘n ouer het, is dit nie maklik om afskeid te neem nie en die leemte wat sy na haar dood in my lewe gelaat het is steeds daar. ‘n Mens leer maar net om met die verlies saam te leef. Sy is skielik een Sondagmiddag in haar slaap by ons aan huis oorlede en ek het niksvermoedend daar ingestap om haar wakker te maak omdat ons kuiergaste verwag het. Ek sal daardie oomblik nooit vergeet toe my oë op haar val en dit tot my deurdring dat sy dood is nie…Die hartseer en pyn wat ek gevoel het om te besef dat ek nooit weer daardie warm stem sou hoor nie, daardie sagte wang sou soen nie, daardie vonkelende oë sou sien blink nie, daardie flinke hande wat vir niks verkeerd gestaan het, sien borduur, naaldwerk doen, hekel, tuinwerk doen of bak nie…

My groot troos is dat ek haar onvoorwaardelik lief gehad het en oneindig waardering vir haar as mens, werker en ouer gehad het. Twee jaar voor haar dood het ek vir haar ‘n brief geskryf en vir haar vertel hoe besonders sy as ouer vir my was en hoe oneindig lief ek haar het. Ek het haar vertel hoe ‘n navolgingswaardige voorbeeld sy vir my gestel het en dat ek nooit vir beter van die liewe Vader sou kon gevra het nie.

Mamma, ek dink nog so baie aan jou – hoe dan anders? Elke keer as ek my vingers in die grond steek, of daardie lekker suurlemoenpoeding maak, en souskluitjies, en onthou mamma nog daardie lekker klapperkoek wat ons eenkeer laat brand het omdat ons so geklets het? Die kere wat ek en LeRoy die voorreg gehad het om in die katedraal Notre Dame in Parys te kom, steek ek vir mamma ‘n kersie aan. Daar is vir my iets besonder terapeuties aan die rituele gebaar en ek neem my altyd voor om dit tuis ook te doen. En kersfees kan ek glad nie “Somerkersfees” sing van Koos du Plessis nie. As ons wegtrek met “Welkom O stille nag van vrede, Onder die suiderkruis, Wyl stemme uit die verlede, Oor sterrevelde ruis” dan trek my keel toe…

Die meetsnoere van die lewe het nie vir haar in lieflike plekke geval nie, maar Heer, U weet beter… Ek is vreeslik dankbaar dat sy hierdie hartseer gespaar is om my so siek te sien, want sy sou haar morsdood bekommer het oor my!

Monday, August 3, 2009

Bestraling 20 om 11:30 Maandag 3/08/09

“Countdown….nine, eight…!”

Ek moes die afgelope tyd by die werk gedurig hoor: “Jy lyk so goed!” Dit het my verbaas, want as ek in die spieël kyk, sien ek ‘n vreemdeling. Geen vernuwingsroompie wil die nuwe kepe langs my mond en tussen my oë versag nie. Ek lyk skielik, sommer oornag, vir myself my ouderdom.

Maar my naderende verjaarsdag motiveer my ook om te fokus op iets positiefs. Ek het besluit dat ek vanjaar my lewe, liefdes en vriendskappe op luisterryke wyse gaan vier - op kantoor, tuis, en by die gimnasium! My liewe man beplan ‘n spesiale vakansie vir my…ek sien oneindig uit daarna!

Ek moet aan iets goeds dink, want ek het pyn. Die maagkrampe en diaree het nie die naweek gewyk nie en twee weke se irritasie lê nog voor. Boonop is LeRoy vandag met longontsteking gediagnoseer. Ek hou hom al sedert gister met bekommerde en bang oë dop – bekommerd omdat ek hom opreg jammer kry en so min vir hom kan doen, maar bang omdat ek nie nou weer mag aansteek nie. Ons liewe huisdokter wat ons omstandighede ken, het sommer by voorbaat vir my ook medikasie voorgeskryf om moontlike aansteek te voorkom.