Friday, July 17, 2009

Bestraling 9 om 13:30 Vrydag 17/07/09

Every action in our lives touches on some chord that will vibrate in eternity.
-Edwin Hubbel Chapin

Elke dag lewer ‘n juweeltjie op…en vandag s’n is die kommentaar van Rene Lorenzen van Oncology South Africa. Sy vra ‘n lysie van my kreatiewe weldoener se geskenkies en boodskappies om dit weer verder aan ander kankerpasiënte te gee. Wat ‘n wonderlike, positiewe uitvloeisel! Ek sal self bitter graag meer betrokke wil raak om ander hoop te gee, om ‘n verskil aan ander se lewens te maak. Ek lees net gister in DailyGood van "Difference makers": “Are you a Difference Maker? What is it that you possess - beyond the material- that you can give to the world? Time? Energy? Art? Love? Inspiration? Happiness?” O ja, ek wil ook ‘n Difference maker wees en my kreatiewe vriendin gaan nou met haar tyd, omgee en liefde ook een word vir ander – wonderlik!

Dit was my laaste dag tuis. Ek sal die roetine mis … om verder die knus bed in te wurm nadat LeRoy gery het, my eie ontbyt rustig in die warm bed te nuttig (met die elektriese kombers aan), daarna die skootrekenaar nader te trek en te blog, eposse te lees en te beantwoord, bietjie te werk, en te Facebook, soos nog nooit tevore nie!

Vandag se geskenkie was ‘n pakkie Diddle Daddle – daardie krakerige karamel springmielies! “Diddle Daddle, ek is besig om te “paddle” in ‘n bootjie op stormsee. Here, maak my moedig, Here, maak my sterk!”

Dit was gesondheidsgewys ‘n beter week en 2 van die 6 weke se bestraling is nou agter die rug. Ek het boonop ‘n hele kilogram opgetel (mmm, dalk minder wit, verfynde broodjies eet…!). Ek is moeër, maar dankbaar dat ek weer kan eet. Eugene merk vanoggend so ewe op: "Ma, jy kan nou al jou kos rou eet, want jy maak dit sommer onder die strale gaar!" Ja-ja, daar is altyd iets om oor te lag.
Welkom, rustige naweek!

Thursday, July 16, 2009

Bestraling 8 om 14:00 Donderdag 16/07/09

Dis ‘n dilemma en ek wonder of ander “siekes” ook daarmee worstel. Wat antwoord ek as mense vra “Hoe gaan dit?”. Ons gooi almal so nonchalant daardie vraag rond en is ook gewoond om dit amper kursories geantwoord te kry met ‘n “Goed, dankie!” Ek wil allermins die indruk skep dat ek kla en kerm oor elke tree wat ek op hierdie kronkelpaadjie moet loop – ek weet alte goed hoeveel ander mense stoei met veel erger of het reeds hul eie Via Dolorosa bewandel. Die vraag is, wil mense regtig weet hoe dit gaan of verwag hulle ‘n gerusstelling van troos dat hulle nie oor jou hoef te bekommer nie?

Hoekom vra ek dit? Deels omdat ek Maandag weer moet terug werk toe - die afgelope 7 maande van 2009 het ek my 120 dae siekverlof opgebruik wat eintlik moes strek tot Desember 2010. Ek is bietjie benoud omdat ek nie kan voorsien wat nog vir my voorlê nie en dr. Robbie nie gister die sluier wou lig nie. Om die waarheid te sê, dit voel nie regtig vir my of ek weg van kantoor was nie, want ek het elke dag sedert ek ontslaan was my eposse gelees, beantwoord en selfs gewerk. In ons virtuele werksomgewing het ek slegs ‘n rekenaar en internetkonneksie nodig – vanoggend was ek selfs deel van ‘n vergadering via Skype (wat ek baie opwindend gevind het)!

Daar lê nou slegs 20 bestralings voor…ek weet ‘n mens moet nie jou dae ombid nie, maar elke enetjie wat ek kan afmerk is ‘n stukkie dankbaarheid.

Terug na my vraag…ek daag jou uit om die Comment skakel te druk en my te antwoord! Ag toe, neem nou een keer deel en onderbreek my monoloog – doen dit anoniem as jy wil. Hoe antwoord jy die vraag “Hoe gaan dit?”, maar belangriker nog, watter antwoord wil jy hoor as jy dit vra?

Wednesday, July 15, 2009

Bestraling 7 om 14:00 Woensdag 15/07/09

‘n Dag van eerstes:

  • Ek bedien en bederf LeRoy vir 'n verandering met ontbyt in die bed, want dis sy verjaarsdag! Ongelukkig gaan die soppartytjie wat tradisie is en ons vroeër vanjaar beplan het, nie vanjaar realiseer nie.
  • Ek was weer skottelgoed…kan nie sê dat ek dit gemis het nie!
  • Ek het vandag alleen en vir die eerste keer in amper 6 weke bestuur - Little Company toe.
  • Vandag was ook my eerste beplande afspraak met dr. Robbie de Muelenaere- wat ‘n dierbare en wyse man. Hy het ‘n voorskrif gegee vir medikasie wat hopenlik sal help vir my erge sooibrand en hy het interessante raad gegee vir my derms wat nou begin protesteer (en klink soos 'n mini-oorlog). Ek moet nou wegbly van growwe, semelryke kosse en eerder wit, verfynde stysels eet soos wit rys, wit brood, mieliepap en aartappels. Hy het mooi verduidelik dat ek nie nou vooruit moet dink nie, maar eerder “Do what comes next, because it is as it is!” Sy huiswerk vir my is om Celestine prophecy van James Redfield te lees - ek sal dit die naweek gaan soek.

Nou ja toe, dit is dan maar soos dit is! Ek het uitgevind wie my kreatiewe pakkies geskenk het, maar sy wil anoniem bly...ek geniet dit egter steeds vreeslik!

Tuesday, July 14, 2009

Bestraling 6 om 13:45 Dinsdag 14/07/09

Ek sit hier met ‘n bollende wang vol malvalekker-vissie van my (steeds onbekende) weldoender wie se briefie vandag lees: “Ek is God se vissie. Al spartel ek op die oomblik WEET ek dat ek stewig vas is aan God se hengellyn.”

Dis so waar…ek spartel elke dag om daar by Little Company in te stap, maar vandag het ek ‘n jong man gesien wat ‘n groot gedeelte van sy mond verloor het wat ook op bestraling wag…en gisteraand het ek gelees van Reef Carneson, wat op die ouderdom van vyf maande met akute limfoblastiese leukemie (ALL) gediagnoseer is. LeRoy het die opmerking gemaak dat dit verstommend is om te weet hoeveel mense kanker het. Ons sien min van hulle, want ons is almal in en uit, maar toe ek gister my afspraak na ‘n ander tydgleuf wou skuif, moes ek hoor dat hulle weke vooruit vol bespreek is. Soveel pyn, soveel hartseer, soveel siek mense – dit ontroer my diep.

God is my sterkte; aan Hom behoort ek vir altyd – Psalm 73:26. En dit geld vir almal wat by hospitaaldeure instap…

Baie dankie vir die kuiertjie en die tuisgebakte beskuit, Louette!

Monday, July 13, 2009

Bestraling 5 om 16:30 Maandag 13/07/09

Vrydag het ek na die vroeë bestraling nog baie sleg en naar gevoel en ek het grootliks die hele pad in die kar op pad na Clarens toe geslaap. Die naweek het my en LeRoy egter na liggaam en siel gevoed - die grootsheid van die berge het ons stil gemaak voor die almag van God. Kiara Lodge was pragtig en Andre en Elize het ons bederf en saam het ons rustige en prettige oomblikke gedeel. Elke dag het ek bietjie beter en sterker gevoel en ek het vanoggend met hartseer afskeid geneem.

Maar…een handjievol bestralings is verby en ek was nie vanaand siek nie! Ek is ongelooflike dankbaar daarvoor. As jy deur water moet gaan, is Ek by jou, deur riviere, hulle sal jou nie wegspoel nie; as jy deur vuur moet gaan, sal dit jou nie skroei nie, die vlamme sal jou nie brand nie – Jesaja 43:2.

‘n Baie interessante geskenksakkie met ‘n klomp klein pakkies het my vandag tuis begroet – wie is so oorspronklik? Elke pakkie het ‘n datum op en vandag se geskenkie was ‘n pragtige wit sterretjie-kersie. Die briefie lui: “Vandag brand ek die kersie om myself te herinner aan die LIG voor in hierdie tonnel waarin ek nou moet reis.” So, van nou af sal elke dag ook ‘n klein, maar baie kosbare verrassing oplewer! Baie, baie dankie aan my kreatiewe weldoener - ek sal nog uitvind wie die liggies in my donker tonnel aansteek...