Saturday, February 14, 2009

Hallo...hallo! Saterdag 14/02/09

LeRoy het sy woord gestand gedoen en op die dag van Liefde die skootrekenaar vir my gebring. Ek is hier - ek is dankbaar! Ek stry teen naarheid en die resultate daarvan. Vanoggend was daar 'n ongelukkige episode en ek amper bekommerd, maar dr. Heyns het 'n paar mikpunte gestel en ek konsentreer met alle mag om hulle te haal. Twee daarvan is dat ek moet eet en dit moet inhou!

In 'n hospitaal is rus 'n onbekende woord. My wondjies (ek is nou opgekram hoor! Wonder of ek die masjiene by die lughawe sal laat afgaan? :-)) is gisteraand 23:30 vir die eerste keer skoongemaak en my laaste medikasie om 23:50 toegedien. Ons saal se ligte is eers teen middernag verdoof (nes die vorige aand) en vanoggend om 4:30 het die verpleegpersoneel weeer begin skarrel. Moegheid is soos 'n taai kombers wat my verswelg - ek moet hier uitkom!

Hoogtepunte van die dag:

  • Besoekies van Maureen, Elrian, skoonsus Brege en haar man en natuurlik LeRoy! Tyd verloop baie stadig in 'n hospitaalbed en dis onmoonlik vir my om in die dag te slaap. Verpleegpersoneel kom en gaan, masjiene biep en piep, (ander) besoekers vir my kamermaats kom en gaan.
  • Liewe Maureen het persoonlik, namens my vir LeRoy 'n hartvormige Valentynskoekie tuis gaan aflewer om sy dag bietjie op te kikker en dankie te sê vir sy liefde en ondersteuning. Niks om voor verskoning te vra nie, Liefie! Dankie vir die mooi wyse waarop jy my blog in stand gehou het.
  • Ek het vir die tweede dag self gebad, self my hare gewas en myself skaflik (probeer!) laat lyk (laat my dink aan ons kinders op daardie stadium - "Ek wil self!"). En... ek het geoefen...op en af gestap (in die rokersarea vir pasiënte...ugh!!)
  • Ek het prettige geselsies met my kamermaats - tannie Lombard (75) en Marie Steyn (sal liefs nie haar ouderdom noem nie - sy's nog jonk...soos ek!) van Ellisras. Veral ek en Marie terg dr. Heyns genadeloos om aandag. Marie dink hy is vreeslik aantreklik, maar ek moet erken dat ek die afgelope tyd myself nie veel aan manlike skoonheid gesteur het nie!Vanoggend het ek egter gevra dat hy bietjie meer tyd by my moet spandeer sodat ek kan besluit of hy regtig so mooi is! Hy lag en terg saam ons en ek verstaan nou sy sin vir humor. Hy werk heeldag met baie siek mense en is van vroeg en laat hier. Hy is 'n besonderse mens en dit was elke keer 'n vrolikheid om sy gesig te sien.
  • Tannie Lombard het my gister vir die eerste keer laat lag (en sy het nie bedoel om snaaks te wees nie).... en dis seer hoor! "As ek nog een keer hoender moet eet, gaan ek 'n eier lê" en "As my maag nou gaan, sal dit voel soos kindergeboorte" Oe, eina, giggel-giggel!!

Ek sluit af...baie, baie, baie, baie dankie vir al julle gebede! Die Here is goed en groot. My Psalm van die dag: Psalm 121 - gaan lees dit weer.

Die vooraand van 'n Valentynsdag met 'n verskil Vrydag 13/02/09

Iewers nadat ek die vorige dag se "comments" goedgekeur het, het die blog my uitgesluit. Het die PW en UN probeer verander maar vergeet dat die kennisgewings daarvan na Elsabé se werk's epos gestuur het en ek nie toegang daardtoe het nie. Kon toe niks verder skryf nie - so die post is nou eintlik gisteraand se post. Vanaand se post gaan Elsabé self doen want ek vat my laptop saam. Dan is die tydelike skriba van diens af en die outeur weer aan die woord. Maar ek loop dinge nou vooruit.

In kort - Elsabé voel steeds nog nie heeltemal haarself nie, maar sterk goed aan. Was nog tot ek geloop het op die drup en eet nou al sagte kosse - sop en dies meer. Sy glimlag weer en die lewe is weer terug in die oe, selfs tyd vir 'n grappie of 6. Dankie vir Maureen, en Malinda en Renier (Elsabé se 1 Motorfiets Boyfriend (Pretoria BMW Motorfietsklub) - met my en Malinda se toestemming en medewete), se inloer en lekker lang kuier. Dit het baie beteken vir Elsabé se gemoedstoestand. Moet my egter nie verkeerd verstaan nie - sy is nog steeds siek en nog nie op vol sterkte nie - die aansterk en word gesond proses le nog voor. Maar daar is nou hoop daaroor en ek weet sy sal dit oorkom.

Dit in kort. Ek het 'n paar gedagtes wat ek graag hier wil deel. Toe ek nie laasnag die daaglikse update kon doen nie het ek deur die vorige "posts" gelees en tot my eie ontsteltenis agtergekom dat ek al die tekens van haar emosionele wipplank misgekyk en verkeerd geinterpreteer het. En sy het werklik laagtepunte en minder laagtepunte gehad. Van hoogtepunte was daar nie eintlik sprake nie. Die enigste "hoogtepunte" was die minder slegte mediese nuus. 2009 het werklik met sy gat op die grond begin, ons het reeds vroeg in die jaar die mediese toetsproses begin, en gou was die woorde maag- en lewerkanker op die tafel. Daarmee saam het haar pa se vinnige agteruitgang, noodsaaklike opname in die tehuis vir verswakte bejaardes en sy afsterwe 7 dae later ons geheel onkant gevang. Gelukkig kon ons alles so reel dat Elsabé nog die herinneringsdiens kon bywoon.

Die "issue" met haar pa het ongelukkig baie van my tyd in beslag geneem, tyd wat ek eerder aan Elsabé en haar behoeftes kon en moes bestee het. Die emosionele krag wat haar pa van my geneem het, het seker bygedra daartoe dat ek haar kreet om hulp misgekyk het. Al wat ek hierop kan sê is - ek is jammer, dis al. Ook besef mens nie aldag watse invloed mens se ouers en hulle heengaan op ons eie lewens het nie. Ongelukkig het Elsabé deur die proses gegaan in 'n tyd toe sy self op die laagste punt in haar lewe was. Sy is egter nou besig om vinnig weer reg te kom en op te staan.

Valentynsdag die jaar is werklik een wat ons vir baie lank sal onthou gegewe die oploop daarna toe en die emosionele en fisiese laagtepunte in die weke daarvoor. Die feit dat Elsabé so goed en vinnig herstel en aansterk is die beste Valentynsgeskenk waarvoor ek kon vra. Dit is nie lekker om te sien hoe die liefde van jou lewe deur so traumatiese tyd gaan, erge gesondheids probleme in die oë staar, en die kanker woorde op die tafel geplaas word nie. Die ergste daarvan is jy (dit is nou ek) net mooi niks daaraan kon doen nie want dit is buite jou mag (God beskik) en bo jou mediese kennis om iets daaraan te doen. Dit negeer die "Caveman" beginsel van die man sorg vir die vrou geheel en al.

Gelukkig het God beskik en die mediese wetenskap het gedoen - dankie Dr Heyns. En nou moet ek ry om vir Elsabé nog 'n stel nagklere te gaan koop. Praat later weer! Groetnis. LeRoy (Tydelike Skriba)

Elsabé se inskrywing na die tyd:
Goeie vordering – die kateter is vanoggend verwyder en ek het dadelik die luukse van ‘n privaatbad en hare was aangegryp! Dr. Heyns was baie tevrede met my vordering, maar toe ek vra wanneer ek huistoe kan gaan, net gelag. Hy het na die tyd verduidelik dat dag 3 eintlik die kritiese dag is, want indien daar lekkasies van die slukpyp is, sou dit manifesteer...

Ek het gesukkel om te eet a.g.v. naarheid en die binne-aarse medikasie het my soms eerder slegter as beter laat voel. Die beste wat ek kon baasraak op my tweede dag van inname was aarbei-jogurt. Die dik verpulpte sop het ’n verdagte grys kleur gehad en die vla by die jellie was verbrand!

My besoekers was die hoogtepunte van my dag: Danielle en Tracey van die gimnasium, Maureen du Pisanie van die biblioteek, Renier en Malinda Jordaan en natuurlik LeRoy! Vandag was ek selfs vir ’n kort rukkie saam LeRoy in die “Patient Smoker’s Area” (bid jou dit aan!) om bietjie sonlig te soek – binne-aarse voeding en al.

Die... sekondes... het ... so.... stadig.... verby... getik...

Dankie liewe Heer, daar is geen komplikasies nie!

Thursday, February 12, 2009

Ek het die monster gesien Donderdag 12/02/09

Verskoning vir die spelfoute in gister se post - ek is nie baie goed met my eie spelling nie - lees dit altyd mis. Skryf gewoonlik in Engels by die werk aangesien dit is language of business is en die spelchecker baie lekker werk. Nietemin. Ek het vandag die fotos van die chirurg gekry wat hy met sy Laparoskopiese kamera geneem het ten tyde van die operasie - kan sien hy is hoog bekwaam aan die hand van die fotos wat hy geneem het van die proses en die resultaat toe die monster losgemaak is.

Gewasse kan of kwaadaardig (Malignant) of nie kwaadaardig (Benign) wees. Laasgenoemde gewasse is gewoonlik rooi van die gesonde bloedtoevoer en lyk rooskleurig en groei mooi - van al daardie lekker bloed toevoer. Eersgenoemde is gewoonlik grys en lyk ongesond. Die monster was nog mooi rooi en gesond - dus geen teken van kwaadaadigheid nie. Ons het dit betyds laat uithaal voordat dit die grens oorsteek het. Die monster is egter gestuur vir patalogiese ontleding net om dubbel seker te maak. Die klein spikkeltjies op die lewer is verkalkte bloedaartjies - dit is glo geneties en sal dus seker ook by Madelein en Eugene ook voorkom. Geen teken van kwaadaardigheid hier nie. Dank Vader dat daardie beker verby gegaan het.

En daarmee is die goeie nuus nie verby nie, Elsabe is reeds uit die ICU geskuif na die normale sale. Sy het nog matig pyn, maar is al aan die herstel. Ook vang die nadraai van die narkose haar nog en is sy nog baie lomerig. So vir die vriende wat graag wil inloer - sy vra dat julle nog bietjie wag aangesien sy nog nie op haar beste voel nie. Het selfs nog nie eens kans gesien vir haar selfoon nie. Gelukkig het ons die Laparoskopiese prosedure laat doen anders was sy nou nog steeds in die ICU. Ek het tot op hede 'n rowwe koste vergelyking gedoen en die prosedure is R26 000.00 goedkoper as die soegenaamde goedkoper oop buik prosedure wat die mediese adviseurs by Key Health goedgekeur het. Ek as leek kan die voordele van die prosedure insien - mens vra jouself dan af - waar kry hulle, hul mediese adviseurs en wat maak hulle mediese adviseurs - dalk moet ek aansoek doen vir werk daar.

Groetnis tot more-aand. LeRoy (Tydelike Skriba)

Elsabé se inskrywing na die tyd:
Ek het nie weer teen die muur gelê nie en kon moeiliker die tyd in die Intensiewe afdeling dophou. Ek was baie dankbaar toe dr. Heyns inwals en my gesond genoeg verklaar om gewone saal toe te skuif! Die fisioterapeut se opdrag was kort en kragtig: “Sit in die stoel, moenie flou word nie en jy kan gaan!” My bloeddruk was baie laag en ek het baie swak en flou gevoel, maar die beweginglose pasiënte rondom my het my gemotiveer om te slaag in my nuwe doel. Ek het baie getrots gevoel toe ek dit regkry.

En toe stoot hulle my uit! Ds. Anton was my eerste besoeker met LeRoy kort op sy hakke – die keer met ’n pragtige rooi rose Valentynsruiker. Louette het vir my ’n kostelike grys teddiebeertjie gebring – met ’n gelapte pensie – nes ek! Die morfien het egter veroorsaak dat ek skaars my oë kon oophou en ek het kort-kort gedobber tussen die bewuste en die onderbewuste. Ek was bewus daarvan dat my bloeddruk uurliks geneem word, maar het hoofsaaklik geslaap en net wakker geword vir my helder vloeistowwe (ek kon egter hierdie keer net sap baasraak die hele dag lank).

Die aand tydens besoektyd met Eugene, Martli en my sus, het ek met toe oë gelê. Die geruis van hul stemme om my was vertroostend en LeRoy en Eugene het saggies my arms gestreel. Ek kon hul hoor en voel, maar het nie veel deelgeneem nie, maar dit was genoeg...

Sylvie en Winnie het my ’n behoorlike bedwas gegee laat die aand na besoektyd en ek het my gewillig oorgegee aan hulle hande – eers regs, dan links...eers regs, dan links....dan bed skoon oortrek...rol regs...rol links...Ek was weer opgekoppel aan binneaarse voeding in my linkersleutelbeen en die kateter aan my regterkant.

Ek het ongemaklik gelê, maar kon darem steeds lag vir tannie Mart se opmerkings oor die kos!

“Heer”, het ek gedink, “steeds in die holte van U hand...

Wednesday, February 11, 2009

Die monster is uiteindelik uit t.s.v. die medies Woensdag 11/02/09

Elsabé is in die hospitaal en ek is nou die "designated" scriba om almal op datum te hou. Na 'n helse klomp baklei en op en af spring gistermiddag het ons niks nader aan 'n oplossing m.b.t. die medies en goedkeuring vir die Laparoskopiese prosedure gekom nie. Beloftes van "Ons bel jou dringend terug" het ook niks opgelewer nie. En om dit alles te kroon daar slaan die weerlig die krag af en kan ons niks doen of werklikwaar iets lekkers maak om te eet voor die vastyd vir vandag aanbreek nie. En die krag is steeds af - so ek het 90 minute se battery tyd om die blog op te dateer voor ek sonder krag sit.

Ek het reeds weer teen 7:30 met die medies begin stoei. Teen 9:00 nog geen goeie antwoorde gehad nie. Dit wou voorkom of ons op geen manier die medies gaan oortuig om die Laproskopiese prosedure te doen nie, nie eens "split billing" om die verskil te self te dra nie. Ons het toe maar besluit om te ry en te kyk of ons iets by die hospitaal kan reel nie. Genadiglik het die Kredietbestuurder by Pretoria Oos 'n kontak in die rekeninge-afdeling van Key Health gehad wat dit gemagtig het en ons kon aangaan.

Key Health voer aan dat die Laproskopiese prosedure nie werklik enige voordele inhou nie. Na bewering is die teater tyd vir beide die oop prosedure - waar jou maag oopgesny word, en voorgemelde prosedure dieselfde - naamlik 120 minute. Die spesialis wat die prosedure gedoen het, het dit uiteindelik in 35 minute gedoen. Teen R89 per minuut - doen die somme. Die feit dat al jou maagspiere afgesny word met die oop prosedure word nie as 'n nadeel vir die pasient beskou nie. Onthou die tjekboek en die balanstaat praat hier baie hard.

Ons het geweier om dit as die finale antwoord te aanvaar en Elsabéaan so ingrypende prosedure bloot te stel, en het gesorg dat die Laproskopiese prosedure gedoen word. Ons het reeds die bybetaling van R15000 oorgeplaas. So met permissie gesê ??? die medies. Les hieruit - maak seker wat 'n mediese fonds sal betaal voor jy daarby aansluit. Die spesialis het reeds 'n brief aan die Mediese Raad en die Raad vir Mediese Fondse hieroor geskryf en hulle verkla. Ek gaan self 'n brief hieroor aan dieselfde 2 rade skryf en dit uiteindelik aan Carte Blanche gee - dalk kan ons skade die pad oopmaak vir andere.

Belangrikste nuus - Elsabé is so teen 12:00 vanmiddag eers gedoen - teen 13:30 was sy in die ICU en alles het mooi en goed afgeloop. Direk na sy wakker geword het, het sy redelik baie pyn gehad en het steeds. Daar is 'n redelike groot hap uit haar maagwand uitgehaal en mens moet verstaan dat dit nou eers moet heg en gesond word. Sy sal seker 3 dae in die ICU wees teen die 6 dae wat sy met die oop prosedure daar sou wees - @ R3000 per dag - doen die somme. Tydens die tyd gaan sy geen besoekers kan kry nie. Net ek en Eugene. Sal julle laat weet van die reelings by die normale sale. Ek het gesien dat ons baie sms op haar foon gekry het - ek het nie werklik tyd om beide fone te hanteer nie - so tot sy na die normale sale oorgeplaas word - sms na my nommer 082 6544 182.

Elsabé se inskrywing na die tyd:
Bekommernis, ontsteltenis en onsekerheid oor die operasie wat in die weegskaal hang, het my 05:00 laat wakker skrik. Ek is stoep toe met die Groot Belofteboek wat Louette my verlede jaar gegee het, en het die oggendlig daar ingewag. Ons krag was steeds af, maar ek mag natuurlik niks per mond inneem nie. ’n Geelvink was vervaard besig om een van die nuwe palmtakkies van blare te stroop en het ywerig aan ’n nessie gebou. Ons erf was besaai met dooie blare van die vorige aand se vreeslike storm en ek het onthou hoe hulle soos konfetti rondgewaai het in die vorige aand se reën.

Ek moes eintlik 6:00 reeds by die hospitaal aangemeld het en sou 8:00 reeds as eerste pasiënt teater toe moes gaan. A.g.v. die mediese weiering het ek geen idee gehad wat om te verwag nie. Emosioneel was ek steeds toegeskulp en LeRoy het ds. Anton gevra om met my te kom praat. Ek het ’n lou stort geneem en hom met nat hare ingewag. My gesprek met ds. Anton was emosiebelaai en my woede oor die Mediese fonds het uitgeborrel. Ds. Anton het getroos en my gemaan om my woede-energie reg te kanaliseer. LeRoy was deurentyd op die telefoon besig om self woedend te probeer reëlings tref vir my opname en om betalingsopsies voor te lê. Hy het uiteindelik voorgestel dat ons ry sodat ek darem by die hospitaal is, indien die fonds inwillig.

Dis met die uitry dat ek die geknakte Icebergs gesien het, want my ook ontstel het – die simboliek daarvan was ironies. Terugskouend was hierdie oggend, nes die vorige aand ongelooflik spanningsvol en ’n besliste laagtepunt vir ons albei...Ek het net nie krag gehad om met die mediese fonds te baklei oor geld nie en ek het vir LeRoy voorgestel dat ek ons die fonds se voorstel volg en die oop prosedure laat doen. Aangesien hy egter teenwoordig was toe dr. Heyns die prosedure verduidelik het, het hy vasgeskop. Hy het geweet dat my herstel baie stadiger sou wees, die pyn meer en die moontlikheid van komplikasies dalk groter.

By die hospitaal aangekom het LeRoy dus aangebied om self die R15 000 verskil in te betaal tussen die laparoskopiese en oop prosedure (wat hy van die huisverband verhaal het). Ek het teen daardie stadium kragteloos gedryf en my sonder seremonie oorgegee aan die opname-prosedure. Dr. Heyns het gevra dat ek onmiddellik opgeneem moes word en ek is na ’n kamer waar ek moes uittrek en die opname-vorms moes begin teken. LeRoy was nog al vegtende tussen die mediese fonds en die hospitaal se Administratiewe afdeling. Dr. Heyns het by my ingeloer en was ontsteld omdat my bloeddruk so hoog was en het gevra dat ek ’n kalmeerpilletjie drink. Die een oomblik het ek nog die TV skerm dopgehou wat vertoon het hoe ’n vieslike groot likkewaan ’n klein bokkie treiter en toe sink ek weg in die droomlose donkerte...

Ek het eers ure daarna in Intensief my bewussyn herwin toe die vriendelike suster Juliana my kom verseker het dat sy mooi na my sal kyk. Ek was voor die operasie baie bekommerd oor my tydperk by Intensief omdat ek die 3e Februarie spottenderwys vir dr. Heyns gevra het: “Gaan jy my laat doodgaan op die operasie tafel?!” en hy met net soveel humor geantwoord het: “Nee, jy sal doodgaan in ICU!” Maar morfien is ’n wonderlike pynstiller en susmiddel – ek het feitlik die hele nag deurgeslaap en was net vaagweg bewus van die gestoei met die bleek, swanger vroutjie in die hoek...

Tuesday, February 10, 2009

Medies weier magtiging Dinsdag 10/02/09

Liewe Here - die mediese fonds (KeyHealth) weier magtiging vir môre se operasie. Dit is verwys na hulle kliniese mediese komitee. Ek bel franties rond om dit uit te sorteer. Hulle sal egter slegs goedkeuring verleen vir 'n oop prosedure (wat die dokter nie wil doen nie, want die ligging is nie goed nie.) Die mediese fonds vra dat die operasie uitgestel word.

Ek sink...
sink...
sink...
sink...

Here, Here, Here!

Monday, February 9, 2009

Onplesierige papierwerk Maandag 9/02/09

Dood en siekte het 'n ander slegte gevolg...onplesierige papierwerk...Daar is testamente, rekenings, professionele fooie, geskrewe motiverings (vir die Mediese fonds), besprekingsvorms vir my opname en kwotasies. Kwotasie, vra jy? Ja, ek moes 'n kwotasie van die narkose dienste kry! Ek het gedink 'n mens kry kwotasies vir motors, nuwe kaste, meubels, en wat nog. Hoe werk kwotasies vir narkose? Is dit 'n geval van: "Mevrou, as jy Rxx betaal kry jy soveel suurstof, maar 'n bedrag van Rxx sal jou deursien!" Huh? Nietemin, ek het vandag begin betaal...

Hoogtepunte van die dag:
  • Ek het 'n pakkie biltong by Piet persent gekry! Was dit nou 'n heerlikheid om op my dekstoel te sit, oor die lowergroen tuin uit te kyk en my daaraan te verlekker!
  • Drie van die bestuurslede van my Departement Biblioteekdienste, onder andere die direkteur, het vanoggend by my kom tee drink. Ek het Robert se been getrek dat ek nou tot sulke uiterstes moes gaan om hom hier by ons huis te kry! Hy het so lekker gelag...en julle wat hom ken weet hoe aansteeklik daardie laggie is. Baie dankie Robert, Monica en Hilda!
  • Elsa het vir my 'n pragtige klassieke stelletjie nagklere gekoop - nogal moeilik bekombaar in Valentynsmaand. Ek kan dit mos darem nie in die hospitaal waag met 'n pikswart of rooi kantnommertjie nie!
  • Monica, Thea, Alet en Ria het vir my PG du Plessis se "Fees van die ongenooides" persent gegee. Ek kan nie wag om dit te begin lees nie! Verlede jaar was ek en LeRoy vasgenael voor die TV se reeks "Feast of the Uninvited" op Mnet. Dit was die aangrypende verhaal van 'n gesin gedurende die Anglo Boereoorlog. Boonop het ons tydens die Universiteit van Pretoria se Boekefees na PG se informele gesprek met Rudi Venter gaan luister en ek het aan sy lippe gehang. Hy het selfs ten aanskoue van almal vir ons gedemonstreer hoe hy impromptu 'n storie skep en het ons twee as inspirasie gebruik! "Daar sit 'n vrou oorkant my by 'n tafeltjie. Sy het 'n rooi rok aan. Langs haar sit 'n man met 'n kwaai uitdrukking op sy gesig..." Ek het LeRoy genadeloos geterg omdat hy so kwaai lyk! :-)
  • Aletjie het vir my tuisgebakte koffiekoekies en beskuit gebring - die dag toe my eie beskuitblik leeg is!
  • Ek het vanoggend my liewe kollegas bedank vir hulle liefdevolle ondersteuning met die volgende boodskappie: Julle het mos al gesien hoe die hemele soms ooptrek en ‘n enkele sonstraal op ‘n plek laat val wat dit in lig baai. Vir my lyk dit altyd soos ’n Godgegewe genadekol. Julle liefde en omgee is vir my net soos daardie koesterende sonstraal wat die donkerte om my verjaag en die pad om my verlig. Baie, baie dankie vir die pragtige ruikers (van die hoofkampus en Onderstepoort), jul teenwoordigheid by die begrafnis en elke oproep, sms en epos van troos, hoop en bemoediging. Julle liefde is die hande wat my optrek, my staande hou en my kop hemelwaarts wend. Your love, kindness and caring is like a gentle summer breeze that tenderly blows away my sadness and fears. Thank you for each visit, call, text message or email – I appreciate you and what you do.
  • Marié - dankie ook vir jou CD "Gregorian Stemme" - Gospel klanke. Ek het dit gegryp vir in die motor luister die aand toe ons op pad was na my sterwende pa toe en dit stem my baie rustig.
  • Ek ontvang ook ondersteuning van mense wat my nie eers goed ken nie! Dit is nou liefde in aksie! In 2007 was LeRoy 'n strooijonker op Johann en Charlene Otto se troue en Priscilla Dye was een van die strooimeisies. Ek het haar nog net twee keer in my lewe gesien en tog het sy ongelooflik moeite gedoen om 'n CD van Sandra Barnard "You'll get over this" spesiaal by my uit te kry. Sy het laat weet dat sy 'n "verslaafde volger" van my blog is en dat ek 'n inspirasie is vir "hul almal". Liewe Heer, dis 'n groot verantwoordelikheid - mag ek U en hulle nie teleurstel nie.

Soos julle dus kan sien - dit gaan goed met my en ek het baie seëninge om te tel. Ek het by Ilse gehoor dat ek 'n "bedreigde spesie" is en myself moet goed oppas en ek doen dit!

Bybelvers van die dag: "Loof die Here, want Hy is goed. Aan sy liefde is daar geen einde nie." Psalm 136:1.

Sunday, February 8, 2009

Vir my is die lewe...Sondag 8/02/09

Ons is vanoggend kerk toe - dit was vreemd om my naam op die Voorbiddinglys te sien en ek het grootogig saam ander gehoor van my pa se afsterwe en my komende operasie. Prof. Malan Nel het ons vanoggend gevra om die volgende sin te voltooi: "Vir my is die lewe...." Sy skriflesing was uit Psalm 119:25 - 32 en Filippense 1: 15 - 21. Ons het ook na die aangrypende video gekyk van Nick Vujicic wat sonder enige ledemate gebore is en ander mense inspireer - kyk gerus daarna.

Ek het die grootste gedeelte van die laat-oggend en vroeg-middag alleen op ons stoep (een van my gunsteling vertrekke in ons huis) deurgebring op een van die dekstoele wat ek Desember gekoop het vir langs die swembad lê en ontspan.... Dit het toe nie gerealiseer nie, maar vandag kon ek my kragte probeer herwin terwyl ek na die voëls luister en ek was spyt dat ek hul geluide nie kon koppel aan hul name nie.

Vanmiddag was 'n kuiermiddag met 'n paar goeie vriende - ek al lêende in die geselskap, maar dit was goed om net bietjie oor ditjies en datjies te gesels.

Nietemin, was hierdie ongelukkig nie een van my beste dae nie en ek probeer self nog die rede daarvoor soek.

Prof. Malan Nel se Bybelvers van die dag: "Dit is my vurige verlange, en daarna sien ek uit, dat ek niks sal doen waarvoor ek my sal hoef te skaam nie. Ek wil ook nou, soos nog altyd, met alle vrymoedigheid deur my hele wese Christus verheerlik in lewe en in sterwe, want om te lewe, is vir my Christus, en om te sterwe, is vir my wins." Filippense 1:20-21.