Sunday, November 1, 2009

'n Feestelike verjaarsdag! Saterdag 12/10/09


Ek het eeue laas geskryf, maar die aanloop tot my 50e verjaarsdag was besonder bedrywig. Die aand het my stoutste verwagtinge oortref en en ek het my gate uit geniet! Ons huis was omskep in ‘n restaurant, die swart tafels getooi met rooi rose en kerse, die tuin prentjiemooi met feëtjieliggies en die meeste van my vriende het saam ons aangesit vir ‘n smaaklike ete. Soos ek beplan het, was almal in swart getooi en het ek ‘n rooi rok gedra en self met LeRoy “Lady in red” gerumba – langs die swembad. Baie dankie aan al my vriende en liefste man vir ‘n feestelike aand en ‘n verjaarsdag sonder weerga! Hoe wonderlik om saam almal fees te vier in die huis waar ek vir soveel maande van hierdie jaar siek was!

Wednesday, September 16, 2009

'n Warrelwind lewe! Woensdag 16/09/09

Ek is weer deel van ‘n warrelwind lewe (en gevolglik stiller as wat sommige van julle wil hê)! Maar dis baie goeie nuus, want dit beteken ek is weer gesond!

‘n Belangrike tweeweeklikse besoek aan my stralingsonkoloog noop my om weer te skryf (en die besoek is reeds amper twee weke gelede). Deels het ek ook herkou aan dit wat ek daar gehoor het. Dr. Robbie het my die volgende meegedeel:
  • My prognose is goed en ek was in remissie voordat ons met die bestraling begin het;
  • Ongelukkig keer endometriale kanker terug in sommige gevalle (minder as 10% kans) en aangesien die medici nog nie mikroskopiese verspreiding kan sien nie, sal ek vir die volgende 5 na 10 jaar gemonitor word (dit voel soos 'n ewigheid!). As ek na 5 jaar geen tekens van herhaling ondervind het nie, kan ek seker wees ek is heeltemal gesond. Gevolglik is daar ‘n aantal afsprake vir my geskeduleer – die eerste een weer in twee maande se tyd en dit word weer opgevolg na 3 maande en so word die tyd gerek.
  • Ek moet enige onverklaarbare simptoom dophou – veral as dit erger word, want kanker se kurwe klim progressief en dit sal nie sommer beter word nie.

Uiteraard kyk ek met nuwe oë na myself. Die bestraling se newe-effekte is amper uitgewerk uit my lyf, maar ek sukkel veral met my immuniteit en het reeds weer ‘n erge verkoue en keelinfeksie gehad en is vandag die onwelkome ontvanger van ‘n koorsblaar. Alles tekens dat my weerstand nog laag is. Ek probeer dit nou eerder weer baie rustig neem, nadat ek voorverlede week selfs weer by die gimnasium was!

‘n Brokkie goeie nuus vir my – ‘n brief wat ek vir die tydskrif SARIE ingestuur het, is in die nuutste uitgawe gepubliseer. En daar volg dalk nog ‘n verrassing later…!

Tuesday, September 8, 2009

Die Skriba kyk terug...Dinsdag 8/09/09

Die einde van enige jaar word gewoonlik begroet met vreugde oor die jaar wat verby is en daar word met afwagting uitgesien na die nuwe jaar se geboorte. En so was dit ook vir ons aan die einde van 2008 en die aanbreek van 2009. Ons het groot verwagtinge gehad vir 2009...Maar vroeg in die jaar het 2009 reeds tande gewys.

Met hierdie inskrywing wil ek (LeRoy) graag my belewenis met jul deel van die 31 bestralingsessies (7 weke) wat Elsabé deurgemaak het. Die bestralings het die lewe uit Elsabé gemergel. Alle tekens van normale lewe was verby. Sy was van dag een naar, met die gevolge daarvan, en het erge diaree beleef. Ons moes ons lewe so skik dat ons te alle tye naby die huis en badkamer kon wees. Ten spyte hiervan het Elsabé haar kruis moedig gedra en het sy meer deursettingvermoë getoon as wat mens normaalweg van so klein en fyn mensie sou verwag. My agting, respek en liefde vir haar het elke dag net verdiep. In die tyd moes sy ook na my omsien, toe ek met longonsteking platgetrek was.

Die ergste van alles vir my was dat ek deur dit alles op die kantlyn moes staan en net emosionele ondersteuning vir haar kon gee. Ek kon nie werklik veel vir haar doen nie. Ek was die passasier en moes aanskou hoe sy ly en pyn ervaar en alles moedig dra. As ek kon, sou ek haar plek ingeneem het. Daarmee saam moet ek beken my belewenis hiervan kan nie met Elsabé se eerstehandse belewenis vergelyk word nie.

Van alles glo ek die laaste 3 sessies inwendige bestraling was seker op persoonlike vlak die mees ingrypendste en het haar die seerste gemaak – fisies en emosioneel. In die tyd dat sy vir hierdie sessies gegaan het, kon ek op niks konsentreer nie en was dit selfs vir my emosioneel uitmergelend. Sy het dit ook moedig beleef en deurstaan en ek haal my hoed vir haar af.

Persoonlik dink ek die kruis is op Elsabé se pad geplaas om uit te reik na ander. Haar dagboek was terapeuties vir ons albei. Sy kon haar hart en diepste wese uitstort en ek kon sien hoe haar geloof elke dag verdiep en vernuwe. Ek glo die blog word wyer gelees en versprei as wat ons albei weet, derhalwe het dit ‘n middel geword om Elsabé se getuienis verder uit te dra en raak dit hopelik ‘n paar ander harte. Hopelik kan dit selfs ander vrouens wat dieselfde simptome as wat sy ervaar het, noop om gouer by hulle ginekoloë uit te kom en moontlike verspreiding voorkom.

Die afgelope 9 maande het ons albei gelouter, maar ons het sterker uitgekom, in liefde en in gees. Ons het albei baie moeilike tye beleef – Elsabé meer so as ek, maar dit lê nou agter ons en ons het ons lewe hervat. Ons gaan weer saam kerk toe, doen weer saam inkopies, en Elsabé het weer begin werk. Ons lewe begin grootliks weer tekens van normaliteit toon…

Thursday, August 27, 2009

Babatreetjies na herstel Donderdag 27/08/09

Hoe gaan dit met my?…hoor ek sommige van julle vra (met ‘n berisping omdat die blog so stil is). Dankie, ek is besig om te herstel – babatreetjies elke dag. Maandagmiddag het die yspunt van die pynberg stadig begin smelt en elke dag is daar bietjie vordering, mits ek korrek eet. Twee aarbeie het my gisteraand verlei en ek het toe weer les opgesê tot my teleurstelling. Ek kyk dus steeds met hongerige oë na al die gesonde kosse om my en probeer steeds die smalle wit weg van stysels en vaal kossies te bewandel om my honger te stil.

En ek maan myself tot geduld…Sewe weke se bestraling sal bietjie tyd neem om uit my gestel te werk. Die pyn gaan soos dit gekom met – met kriewels en gejeuk, maar ten minste is ek nou al baie vroliker en swaai soms heupe op maat van musiek om die irritasies te besweer! In ‘n neutedop, ek is nog nie myself nie, maar ek is baie dankbaar oor elke dag wat bietjie vir bietjie minder pyn oplewer.

Maandag is dit terug werk toe! Wat ‘n ongewone jaar…

Thursday, August 20, 2009

Laaste inwendige bestraling Donderdag 20/08/09

Die klaar, dis klaar, dis klaar! Dankie, liewe Heer, dis verby!

My oorwegende emosie is een van oneindige dankbaarheid. Dankbaarheid dat ek nou kan begin herstel; dat die "pause" knoppie van my lewe nou weer kan "play"... Daar is 'n raps minder van my, ek is 'n raps broser, maar ek is ryker in liefde en die weelde van kosbare vriendskappe en blyke van omgee en liefde van mense wat my ken en sommige wat my nie goed ken nie.

EN... ek is nog ek! Of is ek? Hierdie blog was ook eerstens geskryf vir myself. Sodat ek NOOIT mag vergeet nie; altyd kan onthou. Hierdie pyn en hartseer moet my ook verander en my met meer deernis en empatie vir ander laat. Ek moet elke oggend wat ek gesond wakker word, elke sonstraal op my lyf, elke vreugde-oomblik, elke blykie van liefde, elke gawe wat ek ontvang met meer dankbaarheid koester en waardeer.

Mag elke een wat hierdie pad saam my geloop het ook hul seëninge tel, net meer liefhê en saam my loof : die Here is goed - loof Sy heilige Naam!

Wednesday, August 19, 2009

Inwendige bestraling 2 Woensdag 19/08/09

“Wie weet, miskien is dit juis met die oog op ‘n tyd soos hierdie dat jy koningin geword het.” Ester 4:14. "Het jy al daaraan gedink dat God jou met ‘n spesifieke doel in jou teenswoordige situasie geplaas het? Moontlik is dinge vir jou op die oomblik oneindig moeilik en gespanne en sou jy liewer op enige ander plek wou gewees het as waar jy nóu is." (Ozrovech, S 2007, In die holte van God se hand, Pretoria: CUM.)

Hierdie dagstukkie se woorde wat ek en LeRoy onlangs saam gelees het, bly in my kop maal. Is dit so dat U hierdie kanker met ‘n spesifieke doel op my pad geplaas het, Heer? Wat het U verwag van my? Is hierdie ‘n toets, Heer? Wou U gehad het dat ek my Bybel meer moes lees, dat my gebedslewe langer, meer en inniger moes word, dat ek meer gereeld tot stille inkeer moes kom, U meer geloof het, meer geglo het en meer getuig het?

Want deur dit alles, was ek maar net ek. Met tye 'n bang ek, 'n swak ek, 'n twyfelende ek, 'n huilende ek, 'n eensame ek en 'n bekommerde ek. Liewe Heer, een van my bekommernisse is, dat indien hierdie 'n toets was, ek dit dalk nie geslaag het nie.

Vandag het 'n vrouedokter, dr. Kobie die plasing gedoen en dit was minder pynlik. Ek het haar na die tyd spesiaal gaan bedank en haar antwoord was: "Geen vrou wil graag daar lê nie..."

Môre is hierdie behandeling op 'n einde...ek sien SO uit daarna!

Tuesday, August 18, 2009

Inwendige bestraling 1 Dinsdag 18/08/09

En daar lê ek toe weer op ‘n nuwe harde blad, in ‘n ander hospitaal met nuwe simpatieke gesigte wat my moeilik in die oë kyk. Ek wonder waaraan dink ander as hulle daar lê, wat gaan deur hulle gedagtes – dit behoort ‘n studie op sigself te wees. Elke vrou wat hierdie lees sal haar die behandeling kan voorstel; elke man wat hierdie lees het nie ‘n idee wat hierdie deel van vrouwees behels nie. Marié het dit so fyntjies saamgevat: “Vroue is so blootgestel aan mediese posisies wat ons siel blootstel.”

Ek volstaan met die gedagte dat dit nie pynloos is nie, dat die “instrument” baie anders gelyk het as wat ek my voorgestel het en dat hierdie bestraling 5 minute aanhou en baie langer voel omdat dit nie die plasing daarvan, die koppeling en programmering insluit nie. Natuurlik het die kriewels in my binneste weer ontwaak…jeuk-jeuk, kriewel-kriewel, jeuk-jeuk….Genadiglik lê daar nog net twee voor…