Saturday, January 31, 2009

In die holte van God se hand Sondag 1/02/09

Die liewe Heer het waarlik Solly Ozrovech se hand vasgehou toe hy "In die holte van God se hand" geskryf het! My vriendin Cecilia Beukes (wat ook gister kom kuier het) het dit Oktober as verjaardaggeskenk vir my gegee. Ek lees elke aand vir my en LeRoy en kyk wat was gister se boodskap: "Nou kyk ons nog in 'n dowwe spieël en sien 'n raaiselagtige beeld, maar eendag sal ons alles sien soos dit werklik is." (1 Kor.13:12).

Solly skryf onder andere: "Wanneer ons eensklaps te staan kom voor die groot misterie van die dood en die hiernamaals, besef ons meer as ooit ons menslike beperkings. In alle eerlikheid moet ons erken dat daar baie is wat ons moeilik begryp selfs al sou ons al die antwoorde ken. Ons ken nie die toekoms nie, maar ons ken Hom wat die toekoms in sy almagtige hand hou. Ons ken nie die pad nie, maar ons ken vir Jesus wat vir ons die pad oopmaak. Al kan ons nie die "waaroms?" beantwoord nie, ken ons deur die geloof dié God wat al die antwoorde het. Ons weet dat Jesus Christus God se antwoord is op al ons belangrike vrae. Eendag sal ons van aangesig tot aangesig met ons verheerlikte Heiland staan. Ons sal Hom ken soos wat Hy ons ken en al die antwoorde sal aan ons gegee word. Tot op daardie dag sal ons die geloofswaagmoed en vertroue moet hê om sonder al die antwoorde te lewe en tog onlosmaaklik aan Hom vas te hou." (my klembetoning).

Dis 'n pragtige Sondag, maar omdat ek van uur tot uur nie dieselfde voel nie en so skielik so sleg kan voel, gaan ons liewers nie kerk toe nie. Maar ek glo dis nou ook reg - in my hart sit ek nou ook daar...

Bybelvers van die dag: Jesaja 46:4: "Ek het julle gemaak, en sal vir julle sorg." (Dankie, Monica!)

Dankie liefste Lynette en André vir jul besoek, onverwagse oproepies van kollegas soos 'n getroue Ria Groenewald, Sunette, Annah en Connie Lepota, en vriende van die kerk. Vanoggend het my naam op die siekelys van ons NG Stellastraat gemeente verskyn. Het nooit gedink ek sal so 'n dag beleef nie.

Gewig: 51 kg.

Aanvanklik baie flou Saterdag 31/01/09

Louette en Eloise het vanoggend met die fietse kom kuier. Dit was natuurlik my en LeRoy se roetine die afgelope 11 jaar. Dit was altyd vir my moeilik om so vroeg op te staan en te gaan oefen terwyl ander mense nog slaap (ek is 'n uiltjie!). My liefste man het elke Saterdag opgestaan en vir my pap in die bed gebring - hy spot altyd dat dit die enigste manier is om my aan die gang te kry! Maar sodra ons eers gery het, was daar twee gedagtes wat so tussen die trap op die tandem in my gedagtes opgekom het: Dankie liewe Heer, dat ek gesond genoeg is om te kan oefen en dankie vir dit wat ek kan beleef van U natuur. Daar is 'n varsheid en 'n helderheid wat 'n mens net so vroeg in die oggend ervaar. Natuurlik het ek dit ook baie geniet om deel te wees van die Fikse span - al die ander mede-drawwers en fietsryers. Die tandem het dikwels baie aandag getrek en ek het dit geniet om vir mense en veral kinders te waai.

Na hul vertrek het ek vreeslik sleg begin voel. Ek weet nie of ek te veel woel en of ek net nog herstel het nie. My sus Madelein en LeRoy het afgespreek dat ons vandag vir die eerste keer vandat my pa verskuif is na Vergenoeg, vir hom sou gaan kuier, maar hulle het voorgestel dat ek tuis bly. Miskien ten beste - hy kan glad nie meer praat nie, maar was baie onrustig toe hy hulle stemme hoor en soos Madelein hom beskryf het, sou dit my hewig ontstel het.

My dag is dus grootliks bo-op die bed deurgebring en ek het net gerus.

My beker loop oor a.g.v.:
  • al die oproepies en smse van familie, vriende en kollegas: Claire, liewe Carol de Jager (wat niks geweet het nie, maar knaend aan my gedink het en toe gebel het), Ma Linda, tannie Cielie, tannie Annette, dierbare Marié Theron wat so gereeld navraag doen en moed inpraat, tannie Meisie, Renier, Lynette Ferreira, Marie Swanepoel, Ria Groenewald, tannie Stella. Dankie vir elke een van julle wat my die afgelope week reeds gekontak het. Julle sal nooit weet hoe verskriklik ek dit waardeer nie.
  • besoekies van Ina Louw (met heerlike muffins en hoenderpastei vir die vrieskas); Annette Theron wat twee yskaste kos aangedra het (waarvan ek nou gaan eet!); Cecilia Beukes met pienk rosies.
  • die lekker geselsie met my seunskind wat bietjie sy ma kom geselskap hou het toe ek sleg gevoel het.
  • en natuurlik altyd my liefste LeRoy se troeteling. Hy is die liefde van my lewe, my rots, my anker, en met hom aan my sy, sien ek kans vir enigiets. Ons het vanoggend 'n besonder emosioneel gelaaide oomblik gedeel - vir die eerste keer het hy hartseer geword en my net baie styf teen hom vasgetrek, want hy kon nie praat nie. Dit was 'n besonderse tere ervaring en ek het nader aan hom gevoel as ooit tevore.
  • Glimlaggie van die dag: Ons twee honde se kuiers by my slaapkamerdeur - Henri, die staffie, self al grys en styf en Nikita, ons Chow-chow en my wolkind. Ek dink hulle gaan dit so geniet dat ek elke dag tuis is!
  • Bybelvers van die dag: Ps 100:5 "...want die Here is goed, aan sy liefde is daar geen einde nie, sy trou duur van geslag tot geslag." Dankie liefste Lynette!

Terapeutiese kuiers Vrydag 30/01/09

Ek voel gekoester in die liefde van my besoekers...Dit is vir my wonderlik vertroostend as vriende wat ek liefhet bel en dadelik vra: "Wanneer kan ons kom kuier?", en/of "Wat kan ek vir jou doen?"

Vandag is 'n pragtige bos blomme by my afgelewer (dankie Gerda!) en het twee baie spesiale paartjies vir my kom kuier.

Elsa en Roelf Coertze was 11:00 by my. Ons ken mekaar reeds sedert 1993. Ek en Elsa het saam gewerk by die destydse Onderwyskollege van Pretoria en het vir 9 jaar elke werksdag saam werk toe gery. In daardie motortjies van ons het ons mekaar se wel en wee geken en mekaar se geheime gedeel. Dis twee mense wat my onder baie ander omstandighede leer ken het (ek was toe geskei en Eugene was 8 jaar oud) en saam 'n paar sakke sout met my gedeel het. Roelf het my en LeRoy getrou, Elsa was die eerste persoon wat na ons huis gejaag het toe my ma in haar slaap een middag by ons oorlede is en Roelf het haar begrawe.

Die wonderlikheid van sulke lang vriendskappe, is dat jy net jouself kan wees en so min hoef te verduidelik. Geen maskers is nodig nie - hulle ken my so goed, hulle weet so goed waar ek vandaan kom en hulle het my toegelaat om my gedagtes en gevoelens met hulle te deel. Dit was baie terapeuties om my siekte met hulle te bespreek en die hartseer oor my sterwende (?) pa met hulle te kan deel. Elsa het gesê dat sy maar altyd nog beskermend oor my voel, soos 'n "ousus", Roelf het belowe hy sal volgende keer kom kuier in die Intensiewe Eenheid en hulle het albei my hande kom vashou en vir my 'n gebed gedoen. Dit was 'n kosbare oomblik. Ek het moeg gevoel, maar was emosioneel lig toe hulle weg is. Elsa, dankie vir die smaaklike Woolworths happies - dit was die maklikste dingetjie om te gryp en te eet later die middag!

Vrydag was ook die geboorte van hierdie blog. Na ek 'n bietjie gerus het, en die woorde en emosies weer in my gemoed begin maal het, het ek besef dat dit die beste sou wees om my gevoelens te verwoord. Daar is so baie mense vir wie ek dankie wil sê en op hoogte wil hou en ek wil die lewe vir LeRoy makliker maak as ek in die hospitaal is. Soms is ek bekommerd oor al die persoonlike gebeure wat ek deel, maar ek soek 'n uitlaatklep vir my emosies wat bly woel en soos borrelende fonteinwater wil ontsnap. Ek geniet dit om my hart so uit te stort en te skryf en my gewone dagboek is vanjaar te klein vir alles wat gebeur! :-) Wens net ek kon dit nog vinniger doen en op datum kom!

Later die aand het Edith en Kobus Myburgh kom kuier. Ek en Kobus was saam in Laerskool Dr. Havenga in Witpoortjie en Edith se paaie het met myne gekruis in 1974, toe ons albei in standerd 7 was. Ek kan hulle met reg my oudste en beste vriende noem! Hierdie twee mense ken my so goed en al so lank, dat woorde soms nie nodig is nie - watter vreugde! Boonop sal enigeen wat hierdie twee mense ken vir jou vertel dat hulle albei oor die wysheid van Salomo beskik en Kobus beskik boonop oor die vermoë om my altyd te laat kraai van die lag. Sy humorsin is legendaries en die gemeente van Wierdapark is geseën met hierdie twee mense.

Hierdie kuier was my tweede terapie-sessie van die dag en Kobus het 'n onderwerp aangeroer wat niemand tot dusver wil opper nie...die dood. En soos altyd het hy die stukkies legkaarte met groot wysheid voor my kom neerlê:

  • Eerstens: ons almal het net vandag en vandag bly die eerste dag van die res van ons lewens. Ek lê op die oomblik siek my operasie en afwag met baie onsekerhede oor my toekoms, maar een van my vriende kan binne die volgende uur in 'n ongeluk sterf.
  • Tweedens, en ek wens julle kon Kobus se gesig sien toe hy my dit vra (ek het gelê soos ek lag): "Waar is Lasarus nou?" Al het Jesus Lasarus opgewek, is hy weer dood. Ons is geneig om te vergeet dat nie een van ons permanent hier op aarde gaan wees nie. Sommige van ons leef langer, word swakker en hulpbehoewend (soos my pa) en ander van ons sterf vroeg - vir ons altyd te vroeg (soos my ma wat op 66 oorlede is). Die dood is onlosmaaklik deel van die lewe en ons is geneig om dit te vergeet en te ontken.
  • Derdens mag ek voel soos wat ek voel (het julle gehoor LeRoy, Eugene... :-)) . Niemand beleef wat ek nou beleef nie, niemand kan my voorskryf hoe ek dit moet hanteer nie. So: as ek kwaad is...gun my dit (ek was nog net kwaad vir LeRoy omdat hy a.g.v. my pa se oorskuiwery nie by my kon wees tydens die tweede gastroskopie nie), as ek hartseer is...gun my dit, as ek vrolik voel...gun my dit, en as ek die dag te swak is om 'n vinger te roer...gun my dit. Laat ek nou asseblief net myself wees. Moenie een van die mense wees vir wie ek 'n masker moet opsit nie.
  • Laastens het Kobus die dood weer so mooi aan my verduidelik in sy terme. Terwyl ek en jy babas is in ons moeders se baarmoeder, is ons totaal en al gelukkig met ons omstandighede want ons het alles daar wat ons nodig het. Ons ken niks anders nie en sou vir ewig kies om daar te bly - sou ons die keuse hê. Die geboorteproses is vir alle babas traumaties, want dan word hulle losgeskeur uit hul veilige kokon en alles wat bekend is. Maar na die geboorteproses, word ons deel van hierdie wêreld en ons sou nooit weer wou kies om terug te gaan baarmoeder toe nie. So is dit ook met die dood....ons is nou so tevrede en gelukkig met wat ons op aarde ervaar, maar die heerlikheid wat op elke gelowige wag kan nie nou ingedink word nie!

Ons het heerlik grappies vertel en ek het dit geniet om weer uit my (seer) maag te lag! LeRoy vertel die een van die twee beeste wat vreeslik hard geslaan en aangejaag word slagpale toe. Die een draai toe sy kop na sy maat langs hom en sê: "Ou vriend, as hy so aangaan weet ek nie of ek en jy die slagpale lewendig gaan haal nie!"

Dit was 'n wonderlike dag en my twee, lang en intieme gesprekke met kosbare vriende was kos vir my siel. Hulle was instrumenteel om 'n klomp seer uit te pluis en te ontrafel. Hulle liefde het my toegewikkel in warmte en die gesprek en grappies oor die dood was bevrydend! Baie, baie dankie aan julle - my beker loop oor!

Huis toe! Donderdag 29/01/09

02:00 vanoggend het die suster na Susan Semenya se drup kom kyk en ek het wakker geword. Ek kon ongelukkig nie weer aan die slaap raak nie en die afgelope paar dae se gebeure en prof. Schalk van der Merwe se woorde van gisteraand het in my kop bly maal: "Baie bekommerd...", Slegte ligging...", "GIST...".

Aangesien hy die vorige aand genoem het dat daar twee moontlike opsies van optrede is (eers chemobehandeling om die gewas te krimp OF onmiddellike sjirurgie) het ek die tyd gebruik om die volle omvang te laat insink van wat besig is om met my te gebeur.

Feite:

  • Ek is regtig siek - baie siek;

  • Daar wag ingrypende behandeling en/of 'n operasie vir my;

  • Ek gaan vir 'n lang tyd nie kan werk nie, my Leadership Project wat nou al moes afgeskop het, sal ek nie verder kan beplan nie, en ek sal reëlings moet tref vir siekverlof...;

  • Ek sal tien teen een geen verdere ondersteuning aan my pa kan gee nie, want my kragte sal dit nie nou toelaat nie;

  • Die mense wat die naaste aan my is gaan ook hierdeur geraak word - veral my liefste LeRoy op wie ek altyd so steun.

Ek het baie vroeg gaan bad (hoe heerlik om weer so in die water te lê!) en my hare gewas. Kon vir die eerste keer ontbyt ontvang - heerlik kwadraat! Alhoewel ek rasend honger was, het ek versigtig min geëet, want ek weet nou al dat my maag die gewas as kos interpreteer. Hy vertel vir my brein dat ek reeds versadig is en as ek 'n normale porsie eet vreeslik ongemak sal ervaar. Nietemin was die stukkie brood en skelvis in witsous wat ek kon eet weer 'n nuwe ervaring.

Dr. Magiel Heyns het my kom ontslaan en laat weet dat hy en prof. van der Merwe saam besluit het dat die gewas deur 'n operasie verwyder moet word. Hy sal probeer om die operasie van bo-af met instrumente te doen, maar aangesien daar 'n risiko van bloeding is en hy nie sy hande op die probleemarea sal kan hê nie, sal hy my moet oopsny as ek begin bloei. Die gewas is baie bloedvatryk en daar is dus die moontlikheid van komplikasies. 'n Gedeelte van my maag sal ook verwyder moet word, maar hy sê 'n maag kan weer rek en is 'n baie vergewinsgesinde orgaan(weet ons dit nie :-) ) ...! Hy wil die volledige prosedure bespreek as LeRoy ook by is en hy het my huistoe gestuur om te rus en sagte "baba-kossies" te eet.

My beker loop oor:

  • Die sustertjie wat die laaste keer my bloedtelling kom neem het, het my so 'n dubbel-kyk gegee en gevra : "Is jy regtig in 1959 gebore? Sjoe, jy is goed opgepas!" (Ja-ja, ek weet wat veral julle mans gaan dink: "Steeds so ydel!", maar wat kan ek sê? Ek is 'n vrou! :-))

  • My liefie kom haal my en ek gaan huistoe!

  • Bad weer in my eie bad, lê weer in my eie bed!

  • Ek ontvang my EERSTE tuisbesoek van "ou" vriendin Melanié Malan wat dadelik gereageer het, met "Ek sien jou nou-nou!" (ten spyte van 'n baie besige program met haar eie seunskind wat pas begin krieket speel het). Sy bring ook vir my 'n pragtige bos blomme saam - ook 'n eerste. Dankie Mel, jy was 'n stukkie sonskyn! Boonop bied sy aan dat sy enige tyd met enigeits sal kom help as ek haar nodig het.

  • Liewe Monica Hammes (my "baas") is kort op haar hakke - ook met blomme. Aangesien die tydperk in die hospitaal en veral in Intensief 'n vreeslike eensame tyd vir my was, is dit onmoontlik om in woorde te beskryf hoe genesend dit is om haar te kan sien en te kan gesels oor alles wat gebeur het. Monica is my mentor by die werk en ek het ongelooflik respek vir haar. Sy los die bekommernis oor die werk op soos 'n Disprin en verbaas my deur te sê dat daar tog 'n paar van my kollegas is wat regtig vir my omgee en goeie wense stuur (dankie julle!). Sy was ongelooflik ondersteunened terwyl ek in die hospitaal was en LeRoy het my vertel hoe baie sy gebel en navraag gedoen het. Dankie vir jou Monica, dit beteken so baie vir my.

  • Goeie vriende Barend en Elrian Terblanche het ook dadelik oorgery na werk en kom kuier. Barend is een van die mees positiewe mense wat ek ken en het my mooi tuin beplan en uitgelê. Nou gaan ek baie tyd hê om dit te geniet!

  • My sus Madelein maak spesiaal vir my 'n pot hoendersop. Ek moes lag toe ek LeRoy en Eugene se gesigte sien toe sy kwaai sê : "Dié is NIE vir julle nie - sorg vir julself!" My arme mansmense - hulle gaan nog hongerly en swaarkry! :-)

  • Dankie Heer vir elke oproepie, elke sms van goeie vriende en selfs mense wat nou vriende gaan word. Dit troos my en al weet ek U dra my nou, is elke mens wat nou vir my moeite doen 'n Engel op my pad.

En eers nog vir oulaas 'n mooi storietjie! Terwyl ek vir LeRoy gewag het om huistoe te gaan, stap daar 'n suster by my kamer in. Haar glimlag is so breed dat net haar ore dit keer. Sy groet my uitbundig en met oorgawe: "Hallo Mrs Olivier!" asof ek en sy boesemvriende is. Ek krap vervaard in my geheue rond om te onthou waar ek die gesiggie kon gesien het, maar geen klokkies lui nie. Ek groet egter ook vriendelik terug en voeg darem 'n glimlaggie by. Sy vertel toe sommer self: sy was die suster wat by Ongevalle aan diens was toe hulle my Maandag ingestoot het. Ek het natuurlik weer flou geword en kan die stemmetjie in my ore onthou wat my aanvanklik my naam gevra het, maar ek kon nie haar gesig onthou nie. Sy sê dat sy my naam op die saallys gesien het en by haarself gewonder het of dit die Mrs Olivier kon wees wat sy ingeboek het. Sy het spesiaal gestap om te kom kyk. Sy spreek toe haar vreugde uit dat ek nou hier sit en (vir haar) so goed lyk! Is dit nie kosbaar nie? Watter wonderlike diens lewer verpleegpersoneel nie - ek het werklik die grootste waardering vir hierdie dienende Martas!

Kan jy help? Weet jy van 'n goeie mediese webwerf? Ek kon vinnig bietjie inligting opspoor, maar sal enige goeie webverwysings/artikels van my slim kollegas waardeer!

Uitslae van al die toetse Woensdag 28/01/09

Die dag het baie anders begin, want twee insidente kort na mekaar het my laat skater - al was dit in my binneste!

Vroegoggend toe ek die eerste keer my oë oopmaak staan een van die verpleegsters (nie myne nie) by my bed se voetenent en gee my 'n kompliment van alle dinge - en dit in IE van alle plekke! Sy sê: "Vroutjie, toe jy so met jou toe oë lê lyk jy 20, toe jy hulle nou oopmaak lyk jy 30. Mens sou nooit sê jy is 49 nie!" Ten spyte van my omstandighede of miskien juis as gevolg van my omstandighede was dit vir my baie snaaks en ek het gelag, want as ek so vinnig verouder as my oë oopgaan, moet ek hulle dalk minder oopmaak! :-)

'n Vrolike dr. Heyns het kom groet - hy was op pad Ellisras toe. Ek vra vir Brigitte (my verpleegster) water en begin myself te was en bietjie te grimeer. En toe ervaar ek my groot verleentheid van die dag, maar daar is tog ook groot humor daarin: prof Schalk van der Merwe wat my vorige dag se uitslae met my kom bespreek, betrap my op die ellendige bedpan! Probeer dit nou met grasie hanteer! Ai tog - die gordyne was dan toegetrek...hoekom loer hy in?

Maar ek het met 'n "straight face" probeer luister wat hy sê en dit was dat ek later vir die tweede skandering sou gaan en dat dr. Heyns uiteindelik sou besluit watter strategie van behandeling gevolg sou word.

Weereens moes ek Jodium begin drink, maar hierdie keer wou hulle dit vinnig sien terwyl dit in my bo-maag sigbaar is. Die oulike hoofsuster van IE het my persoonlik 10:00 opgestoot - ek het soos 'n ware VIP gevoel, want alles moes nou vinnig gebeur. Nou het ek die prosedure geken en my oorgegee aan die stem wat sê: "Breathe in...breathe out", "Breathe in...hold...breathe out". Toe nog 'n onaangename ervarinkie - daar word 'n sakkie bruissout (soos Eno's) droog in my mond gegooi. Ek kon 'n slukkie water neem, maar mag glad nie die winde wat vorm opbreek nie. Sulke tye bid ek net aanmekaar: "Here help, Here help..." en ek probeer die perfekte pasiënt wees, want ek besef hoe belangrik dit is dat dit die eerste keer korrek gedoen word. Dank Vader...ek het dit reggekry en ek kon teruggaan saal toe. Die einde was in sig!

Die verrassing van die dag was dat LeRoy buite die deur gestaan het toe ek uitgestoot word! Teen daardie stadium het ek begin ruk van koue (dalk ook skok en spanning), maar dit was wonderlik om nie alleen te wees nie. Hy stap saam terug IE toe en hy kuier teen alle reëls verder en langer by my in IE totdat ek oorgeplaas word na die gewone saal toe.

LeRoy vertel dat my pa glad nie meer eet nie en vandag oorgeplaas is Vergenoeg toe. Hy moes die besluit neem of hulle 'n pyp in sy maag moes sit wat hom kon voed en het daarteen besluit. Dit is vir my ontstellend, maar ek voel magteloos. Ek kan nou niks meer vir my pa doen nie en ek moet dit so aanvaar....

In saal D5 lê 'n 18-jarige jong vrou, Grace wat pas 'n gewas uit haar bors laat verwyder het. Oorkant my lê Susan Semenya wat erg verbrand het toe warm was in haar gesig en arms ontplof het. Haar regterarm is so erg verbrand dat sy narkose moet kry as hulle die wond reinig. In sulke tye sê ek net dankie liewe Heer, ek ken nie daardie pyn nie - ek is nog geseënd. En ek tel my seëninge want ek probeer fokus op elke klein plesiertjie wat ons almal so as vanselfsprekend ervaar:
  • my eerste warm bad - in privaatheid (weliswaar nog met my binne-aarse sakkie en met slegs een arm se gebruik);
  • die vreugde van privaatheid in die badkamer;
  • Eugene en Martli se kuier en hulle bring my SELFOON! Ek het kontak met die buitewêreld en waarder die sms'e en boodskappies van bekommerde vriendinne en familie. Ek moet spesiaal vermelding maak van my dierbare vriendin in die Kaap, Elise Steyn, liefste Edith Myburgh en tannie Stella;
  • Maureen du Pisanie kom verras my met 'n vinnige inloer - wat 'n lekkerte en sy is iemand wat so goed kan verstaan waardeur ek nou gaan;
  • my eerste kossies in 3 dae - die jellie het my maag ook laat tril, maar daardie warm, helder, sout soppie was hemels!
  • Susan Semenya het die aand toe ek vir die eerste keer 2 klein kwart broodjies honger verslind, opgestaan en een van haar broodjies vir my kom gee..."Because I know how hungry you are!" Ek het dit so waardeer! Met aandete het hulle hoendersnitzel, kapokaartappels en groente gekry en Grace wou dit glad nie eet nie. Ek het hulle toe geterg en vertel hoe bevoorreg hulle is, want my spyskaart van jellie en sout sopwater was toe vir die tweede keer die dag minder aanloklik.

Daar was egter ook die finale uitslae van al die toetse...Prof Schalk van der Merwe het die aand met besoektyd met my en LeRoy gepraat terwyl my sus en haar seun buite moes wag. Hy het vir ons albei gesê dat hy diep bekommerd was en dat dit 'n ernstie situasie is. Vir die eerste keer het hy die K-woord gesuggereer aangesien hy twee situasies geskets het: "Ons kan of dadelik met chemo begin sodat die gewas kan krimp of ons kan dit verwyder - die besluit berus egter by die sjirurg, dr. Heyns." Hy het verduidelik dat die maag uit 4 lae bestaan - 'n binne-mukuslaag, twee spierlae en 'n dik buitewand. My gewas groei in die spierlaag en het 'n naam gekry: GIST - Gastrointestinal stromal tumor. Hy het voorgestel dat ek navorsing daaroor doen en soveel moontlik daaroor uitvind. Boonop is hulle steeds bekommerd oor die abnormaliteite wat in my lewer opgespoor is. Op die stadium kan dit nie defnitief positief verbind word aan die gewas nie, maar die moontlikheid kan ook nie uitgesluit word nie. Ek het prof. van der Merwe ongelooflik professioneel ervaar en hy praat met soveel gesag dat ek geen oomblik sy oordeel in twyfel trek nie. Sy afskeidswoorde aan my was dat daar 'n moeilike tyd voorlê, maar dat hy hoop het. Hy sê hy is baie reguit en sou my ook vertel het as daar geen hoop was nie.

Nadat LeRoy-hulle weg is, het ek vir die Here gevra om my te wys hoe om hierdie beker te ledig. Ek het ook gedink aan my pa wat self net gelê het, nie meer kon praat en eet nie. Ek was emosioneel op 'n plek wat ek self nie ken nie...

Alleen en kwaai! Dinsdag 27/01/09

Die oggend het vir my soos 'n ewigheid gevoel en ek het baie ongeduldig begin raak. In die Intensiewe Eenheid (IE) gee die nagpersoneel weer oor aan die dagpersoneel en jou "situasie" word bespreek. Hier en daar kon ek grepe hoor "Mevrou Olivier...gister...bloeding....dokter is baie bekommerd oor haar..." Weer daardie B-woord. Almal is so bekommerd, maar ek is die een wat alleen hier lê, ek is die een wat heeltemal afgesny is, dis van my wat julle praat - hallo!

Die isolasie van IE was vir my vreeslik. Ons leef in 'n era van "connectivity" - ons het telefone, selfone, Internet, e-pos...en nou wanneer die dokters aanhoudend vir my sê hoe bekommerd hulle is, en die susters vir mekaar fluister hoe bekommerd die dokters is en ek begin nou al ook BEKOMMERD te word (werklikwaar - ek wonder hoekom?!!!), is ek totaal afgesny van almal wat vir my lief en dierbaar is en ek is deel van 'n hospitaalroetine wat baie wag insluit.

Die verpleegster kom om my te bedwas en ek dring daarop aan om self nog die nodigste te doen. Ek vra my nagtassie (hemel, maar LeRoy het die eienaardigste goed gepak! Weet die man na 12 jaar nog steeds niks van my roetine nie? Daar is 3 gesigreinigers, maar nie 'n waslap, lyfroom, parfuum, maskara of eers 'n spieël nie). Ek is bedremmeld, maar poog om bietjie vogroom, onderlaag en oogskadu aan te sit en sommer net my kuif te was.

En ek wag...

En ek wag...

En ek wag...

Maar Kwaaitjie Kabouter kry naderhand die oorhand en ek DRUK DIE KNOPPIE en die keer vra ek NIE vir die bedpan NIE! My verpleegster kom aangestap en ek vra haar wanneer ek dan vir die volgende gastroskopie gaan? Wanneer is besoektyd? Wanneer hoor ek van my man? Wanneer hoor ek weer van die dokters? Sy gaan roep die hoofsuster en met elke bietjie krag in my vertel ek haar presies hoe ek nou voel. Ek moet erken dat sy dierbaar was (hulle is eintlik dierbaar met al die pasiënte daar). Hulle word sekerlik IE personeel nadat hulle 'n Wees-Geduldig-Toets-met-Moeilike-Pasiënte slaag! Sy het uit haar eie aangebied om LeRoy te bel op haar eie selfoon en vir my gegee.

Ek kon toe eers vir hom vertel wat die hele nag gebeur het en het hom gevra om die dokter te vra wat de duiwel aangaan! (Maar natuurlik is alles die hele aand gemonitor). Dr. Heyns het kort daarna ingeloer en my verseker dat hy net so min soos ek geslaap het. Elkeen van my onaangename sessies is deur die nag aan hom gekommunikeer. Ek het rustiger geword...en weer die sekonde-wyser stukkend gekyk tussen klein poses van wegdommel tussen al die biepe van almal se masjiene deur.

Uiteindelik was dit 11:30 - besoektyd en LeRoy en ds. Anton het saam ingestap. Dit was wonderlik om hulle beide te sien en ek het gevoel soos 'n drenkeling wat agtergelaat word in die see toe hulle na 'n skrale 30 minute weer weg is.

En toe begin die wag weer om teater toe te gaan vir die tweede gastroskopie. 15:00 word ek ingestoot as die laaste pasiënt in 'n ry vir die teater. Ons beddens staan elkeen in sy eie gordynhokkie en ek kon hoor wat langsaan aangaan, maar ek kon net die verpleegpersoneel en gaste in die verbygaan sien. Ek hou heeltyd die deur dop, want ek het gevra dat hulle LeRoy bel omdat ek hom so graag daar wou hê. My medepasiënte het almal geliefdes wat by hulle sit en ek hoor hoe word daar vir hulle gebid. Elke keer as die deur oopgaan hoop ek dis LeRoy...en elke keer is dit nie...Soos wat die pasiënte een vir een ingaan, word ek nader gestoot en my ore is gespits vir my man se voetstappe, my oë op die deur as dit oopswaai, maar dis elke keer iemand anders.

Ek bly weer Psalm 11:7 herhaal: "Die Here is regverdig. Hy het die mense lief wat regverdig en opreg handel, en Hy sal by hulle wees". Toe hulle my uiteindelik instoot en hy steeds nie opgedaag het nie, was ek vreeslik teleurgesteld. Prof. van der Merwe vra na my man want hy wil die prosedure weer verduidelik, maar ek moet sê: "Hy is nie hier nie..." Prikkie in die arm en ek val weer in hierdie bodemlose put in.

Toe my oë weer oopgaan in IE, was my eerste woorde: "Where's my husband?"..., maar LeRoy is nie daar nie. Die dag en sy eise het toe vir my net te veel geword en teen die tyd dat LeRoy, Eugene en Martli besoektyd inwals met glimlaggies en vrolike "Hallo-hallo's!" het ek orkaan Katrina kompetisie gegee! Ek het aangedring om Eugene of ander goeie vriende se selnommers te kry (ek kon niemand se selnommer onthou nie!), maar LeRoy weier, want hy sê hy sal daar wees vir my. Vriend Bossie wat dapper en stapper IE toe gekom het om my met 'n Bybelvers te troos, was ietwat uit die veld geslaan.

Laat ek darem net ter verduideliking van my man die volgende noem: hy het alleen die laaste reëlings moes tref vir my pa se oorskuif na die nuwe ouetehuis se verswakte eenheid wat die volgende dag sou plaasvind. Teen daardie tyd kon my pa nie meer praat nie en moes die verpleegster wat ons aangestel het alles vir hom doen. Tussendeur moes hy sy werk ook nog baasraak, om van al die oproepe van vriende en familie nie eers te praat nie. A.g.v. my isolasie het ek dit natuurlik nie geweet nie...

Ter verduideling van my reaksie wil ek ook noem dat ek en LeRoy besonder na aan mekaar is en een van die huwelikspare is wat alles saam doen. Ek is net so gewoond daaraan dat ons saam fietsry, motorfietsry, inkopies doen, stap, TV kyk, lê en lees.

Die uitslag van die gastroskopie was nie goed nie..."There was a raised lesion in the fundus. The lesion is very suggestive of a GIST on EUS. I would propose more extensive CT scan staging followed by explorative surgery and partial gastrectomy."

Hierdie dag het die realiteit dat ek alleen hierdie berg sal moet klim, my swaar getref. Ja, ek het my "onskuld" verloor...

Ek was egter wel baie dankbaar vir:


  • al die boodskappies van liefde en groete wat via LeRoy en Eugene mondelings oorgedra is;
  • die feit dat ek nie die pyn beleef het van die arme 20-jarige seun wat ernstige brandwonde opgedoen het toe die gassilinder van die yskas ontplof het nie...Hy het nog alleen in 'n kamer binne IE gelê en het gehuil van pyn. Ek het hom so verskriklik, verskriklik jammer gekry;
  • my verpleegster wat my weer so mooi kom was het en selfs die aand my hare in die bed gewas het! Beslis nog 'n eerste - maar vir my wat elke dag hare was, was dit 'n heerlikheid!

Die hoogtepunte van die dag:

  • my besoekers die oggend en die middag tydens besoektyd;
  • die 3 jong mans van Doxa Deo wat gevra het of hulle vir my kon bid. Hulle het eers kom vra wat makeer en toe elkeen 'n beurt geneem om my aan die Here op te dra. So dankie, kêrels - dit het SO baie vir my beteken!
  • laastens - my wonderlike bed! Ek was darem een keer die uitverkorene - my bed het 'n afstandbeheer-kontrole gehad en ek kon soos 'n wafferse "lady" lê en my kop/voete op of af beweeg...
  • ek was pootuit en het beter geslaap...

Friday, January 30, 2009

Bloed, bloed, bloed! Maandag 26/01/09

Waarskuwing: nie vir sensitiewe lesers nie!

Ek en LeRoy het my pa gaan groet en hom vertel dat ek siek is en vir 'n toets moet gaan. Ek weet nie of hy verstaan het wat ek sê nie, maar ek was darem die oggend daar en het hom vir oulaas help Coke drink - sy geliefkoosde drankie.

Ek het spesiaal moeite gedoen met my voorkoms en gedink dat as ek nou in "bewuste sedasie" moet wees, ek dit net sowel so netjies as moontlik kan doen! :-) My nuwe pakkie het ten minste my selfvertroue 'n hupstoot gegee. Ek en dokter Michael Heyns van Pretoria Oos het net 'n minuut gesels oor my simptome, my gewig (toe 52,2 kg) voordat hy die gastroskopie gedoen het. En toe is ek weg...

Die volgende wat ek kan onthou, is dat ek wakker geword het in my eie bed. Ek was alleen en daar was 'n glas van my gunsteling Cranberry sap langs my bed. Ek het geen pyn gehad nie, maar was baie dors en het die sap gedrink. Onmiddellik was ek verskriklik naar en het ek geweet ek moet hardloop. Toe ek by die badkamer kom het ek geweet ek gaan flou word. Toe is ek weer weg...

Toe ek weer wakker word het ek geweet iets groots is fout. Daar was bloed op die mat waar ek geval het en bloed het letterlik (agter) uitgeloop. Ek het deur toe geloop en geroep dat iemand moet kom help. My bediende, Wilma (wat Maandae en Vrydae kom werk) was gelukkig by die huis, asook Eugene (my seun) en sy meisie, Martli. Ek weet nie wie van hulle die grootste geskrik het nie. Ek was vaagweg bewus van mense om my en kan onthou hoe Wilma haar hande op my gelê het en vir my gebid het: "Dear god, please God, dear God...." Iemand het gekreun ek ek het later eers besef dis ek wat sulke geluide maak. Eugene het LeRoy gebel en Martli en Wilma het my skoon gemaak. LeRoy het met my deurgejaag Pretoria Oos toe - ek kan nie veel onthou nie...

Die hospitaalpersoneel het my by ongevalle ingewag, want LeRoy het beide dr Moolman en dr Heyns ingelig. Ek onthou ek moes vrae beantwoord, maar terwyl ek nog gepraat het, het ek weer flou geword (LeRoy sê dit was ongeveer 16:00 die middag). Ek het eers in Intensief my bewussyn herwin.

Dit was die eerste keer in my lewe dat ek in die Intensiewe Eenheid (ICU) kom. My regterarm was opgekoppel aan binne-aarse voeding, 'n bloeddruk-monitor was opgekoppel aan my linkerarm en daar was 'n suurstofmasker oor my gesig. Die ergste vir my was dat ek verskriklik eensaam gevoel het.

Daar was twee pasiënte voor my, en nog vier beddens links van my. Almal het doodstil gelê, met toe oë - net so opgekoppel soos ek. Dit is amper nooit stil daar nie - die bloeddrukmonitors gaan aanhoudend aan die piep - myne inkluis. Elke pasiënt het haar eie suster en sy het haar aan my kom voorstel. Ek het besef dat die vrou skielik my lewensaar geword het, en ek het moeite gedoen om haar naam te onthou (alhoewel ek nou nie meer almal se name kan onthou nie...ouderdom darem!). Gou genoeg moes ek haar ook die eerste keer roep "Sustertjie bring asseblief die bedpan!"

'n Grappende LeRoy ("Is hy betik dat hy so vrolik lyk?", het ek gedink) en 'n betraande Eugene (hy't groot geskrik) en Martli het die aand met besoektyd kom kuier. Die tyd het egter veels te gou verby gegaan en toe is ek weer alleen.

Deur die loop van die res van die aand tot vroeg die volgende oggend (amper uurliks) het ek 10 keer suiwer bloed passeer. Ek was al hoe meer geskok, het vreeslik eensaam gevoel, was toenemend bekommerd en het al hoe slegter begin voel. Boonop kon ek niks slaap nie, want ek was te besig met my kaperjolle en die bloeddrukmonitor het ook soms begin lawaai - om van die ander pasiënte s'n nie eers te praat nie! Hierdie was vir my 'n onseker terrein en ek het nie geweet hoe om dit te hanteer nie. Genadiglik het die ellendigheid wat ek gevoel het die verleentheid heeltemal oorskadu! Ek het ook grappenderwys vir myself gesê dat die oefenry in die gimnasium uiteindelik sy voordele het - my beenspiere was sterk genoeg om myself elke self te lig (hetsy nie baie grasieus nie) en ek kon elke keer self die nodige doen met 'n lappie, seep en water.

My oë het die sekonde-wyser van die horlosie aan die muur regs van my die hele tyd dopgehou en ek het die tyd omgewens...Intussen het ek swakker en swakker geword. Dr Heyns het ook herhaaldelik deur die loop van die vroegaand ingeloer en gesê dat hy bekommerd is oor my. Hy het prof. Schalk van der Merwe (van UP!) aan my kom voorstel, want ek het hulle bietjie laat wonder. Hy sou die volgende dag weer 'n gastroskopie doen.

Maar hulle bekommernis het my nog meer bekommerd gemaak! Omdat ek so baie bloed verloor het hulle ook begin om bloed te trek om die bloedplaatjie-telling te monitor. Die bloed was elke keer uit my linkerpols getrek - dit was regtig verskriklik seer vir my en dit is aanhoudend gedoen. Die tellings word gemonitor en omdat my telling so laag geword het, is twee eenhede bloed vir my bestel.

En dit was aand en dit was môre en vroegoggend het ek soos 'n bedremmelde hoender op 'n stellasie gevoel en sekerlik ook soos een begin lyk! Dit was darem sekerlik 'n goeie teken - ek was nog begaan oor my voorkoms!

Naweek 24-25/01/09

Die naweek is opgeneem met reëlings rondom my pa. Hy het verder verswak. Ons het hom gaan besoek en ek het koek gebak vir hom en die voltydse verpleegster wat ons aangestel het om hom tydelik te versorg. Ek het heeltyd steeds pyn beleef en het nou die Mucaine sommer uit die bottel gedrink! Het nogal gewonder wat ander motoriste van my dink as ek die bottel sommer so in die ry lig ! :-)

Het Sondagaand bekommerd gaan slaap...want Maandag is D-dag vir die uitslag...

Het ek kanker? Nee, dank Vader! Vrydag 23/01/09

'n Uitmergelende dag! 5:00 wakker en ek was die hele dag so gespanne. Ek weet nie of ek iemand moet vertel wat gebeur nie en of ek eers moet wag om bevestiging te kry van wat aan die gebeur is. 12:00 was ek en LeRoy by Little Company en toe vra hulle ek moet 'n liter jodium drink - 'n glas elke 15 minute. Dit het baie sterk na anys gesmaak en was moeilik om te drink. Ek het myself net heeltyd herinner aan die rooi lekkergoedjies wat my ma as kind altyd vir my in Johannesburg as bederfie gekoop het. Dit was toentertyd in papiersakkies toegedraai en ek was altyd so opgewonde as sy daarvan huistoe bring. Ek het die Jodium nie stadig gedrink nie, net gesluk, sluk, sluk...Wag, wag, wag vir die horlosie om die volgende 15 minute af te tik en dan gee LeRoy weer die glas aan: "Drink poppietjie.." (een van sy naampies vir my). Sluk, sluk, sluk, wag, wag wag, sluk, sluk, sluk, wag, wag, wag.

Na 'n uur en 'n propvol blaas word ek toe nader geroep en moet ek myself weer in daardie jurkies klee. Ek het gelees dat die sukses van die skanderings afhang van hoe stil 'n mens kan lê en het besluit om my beste te probeer. Gelukkig is dit nie regtig 'n tonnel nie, maar wel 'n ronde koepel. Jy word in en uit beweeg en gevra om asem te haal of diep asem op te hou. Dan word 'n mens weer 'n tweede keer met jodium ingespuit wat 'n vreemde ongemaklike, warm sensasie tot gevolg het - reg deur jou lyf. Ek het lekker tye gevisualiseer...ek en LeRoy op die strand, ons twee op die motorfiets aan die ry, ry, ry en het my teksvers wat ek die oggend gekies het toe ek alleen was probeer herroep: "Die Here is regverdig. Hy het die mense lief wat regverdig en opreg handel, en Hy sal by hulle wees" Psalm 11:7.

My huisdokter, dr. Moolman het my laat weet dat ons twee om 16:15 by haar spreekkamer moet wees om die uitslae te bespreek. Die tyd het baie stadig verby gegaan...ek en LeRoy het onsself maar besig gehou in die studeerkamer tot dit tyd was.

Dr Moolman het spesiaal ingekom om die gefakste verslag te lees, maar ons was voor haar daar. Sy't die verslag opgeraap, ons spreekkamer toe geroep en begin lees. Die tyd het weer vir my stil gestaan...en toe slaak sy 'n sug van verligting en sê dat dit baie beter klink as wat sy vermoed het. Sy was baie bekommerd dat ek lewerkanker het (wat dui op uitsaaiing van kanker op 'n ander plek) , maar die verslag dui aan dat die gewassies dalk net verkalkte letsels is (wat hul steeds nie kan verklaar nie). Maar..., daar is wel tekens van 'n massa of in of langs my maag. Sy het voorgestel dat ek Maandag 26 Januarie vir 'n gastroskopie gaan om vir eens en altyd te weet wat aangaan. Ek en LeRoy is toe amper verlig daar weg..., want ek het NET 'n gewas in my maag!

Eerste bevestiging van 'n probleem Donderdag 22/01/09

Ek is 5:30 wakker en bel om te hoor of ek my pa kan kom haal. Hulle sê hy gaan ontslaan word en ek is vroeg daar om hom te gaan haal. Niks gebeur egter vinnig daar nie en ons is eers 9:00 daar weg. Ek en LeRoy soek naarstigtelik plek by Verswakte sorg-inrigtings en ek gaan uiteindelik Little Company toe om 'n sonar va my maag te laat neem. Die radioloog was 'n ruk besig: "Draai asseblief weer die kant toe, mevrou...arm bo die kop mevrou..." En toe - "Ek sien iets, maar ek wil net 'n ander dokter gaan roep om bevestiging te kry".

Die tweede dokter het die sonar herhaal, en net vir my gesê dat sy wel iets opgemerk het in my lewer, maar dat die dokter met my in aanraking sal wees. Snaaks genoeg was ek nie dadelik bekommerd nie, maar toe my huisdokter my later na-ure op my selfoon bel en groot bekommernis uitspreek, kon ek nie anders nie. Die verslag was ontstellend: 6 massas wat wissel van 8 x 11mm (kleinste) tot 22 x 15 x 14 mm en 23 x 13 mm (2 grootstes). Hierdie massas kan inpas met die sonografiese beeld van veelvuldige hemangiome maar die moontlikheid van veelvuldige metastases of primêre CA moet uitgeskakel word en 'n RT skandering word voorgestel. My huisdokter het toe reeds die uitslae met 'n sjirurg bespreek en hulle het voorgestel dat ek dadelik die volgende dag vir 'n skandering gaan. Sy het gevra dat ek die hele dag beskikbaar moet wees op kort kennisgewing en my voorberei: bring jou man saam vir die uitslag. Die aand was moelik - vir die eerste keer is ek en LeRoy gekonfronteer dat my maagpyn dalk werklik 'n ernstige probleem kan wees...Daardie aand het ek en LeRoy baie styf teen mekaar aan die slaap geraak...

Vreeslike dag Woensdag 21/01/09

04:00 wakker met maagpyn... Die ouetehuis bel by die werk en laat weet dat my pa dadelik opgeneem moet word in die hospitaal want hy het die vorige aand diaree gehad. Aangesien hy nie 'n mediese fonds het nie, het ek hom Pretoria Akademies toe geneem. Ons was daar tot 20:30 voordat hulle my verseker het dat hulle hom wel sal opneem. Toe ek in intensief gelê het, het ek myself herinner aan die swaarkry en die ellende wat ek daar gesien het...Ek het ten minste vyfster behandeling gekry...daardie mense sit so hooploos daar en wag. Ten spyte van almal se pyn is niemand in enige haas om te help nie. Dit was hartverskeurend.

Spanning vererger my pyn Maandag 19/01/09

Ek kom agter dat enige spanning my pyn vererger. Sodra ek stres ervaar is my maagpyn besonder erg.

Soos skoenlappers in die wind...Sondag 18/01/09

Ds Tienie Bosman het so mooi gepreek. Hy't gesê ons is soos skoenlappers in die wind, maar ook soos 'n baba in God se hande. Die komende week sou ek baie aan hierdie woorde terugdink...Ons het by vriende gaan uiteet, maar teen die stadium maak ek of ek eet. Ek voel rasend honger, maar sodra ek iets geëet het, vererger die pyn dramaties. Die Diddle Daddle waarvoor ek so lief is, het die hele naweek ongeopen in die kas bly staan. Sondagaand toe sê LeRoy vir my ek moet regtig siek wees,want hy ken my nie so nie!

Weer dokter toe Saterdag 17/01/09

Ek het 'n baie slegte nag beleef met baie pyn en ongemak. LeRoy het aangedring dat ek weer dokter toe gaan. Ek kry nog medikasie vir 'n maagseer en my dokter stel voor dat ek na 'n week terugkom as ek nie beter voel nie. Dit gaan boonop nie goed met my pa nie...Ons het hom gaan haal en besef die skrif is aan die muur. Ek moes hom vir die eerste keer voer. Ek het spesiaal koffiekoek vir hom gebak. Dit was so ironies - hy kan nie meer self eet nie en ek het te veel pyn en ongemak om te eet.

Heer, ek is siek Vrydag 16/01/09

Ten spyte van die medikasie het ek vandag begin met erge naarheid en die pyn vererger. Ek voel swak van die min eet en siek en het vanaand vir die eerste keer in my dagboek geskryf : Heer, ek is siek.

Eerste keer dokter toe Donderdag 15/01/09

Ek het vroegoggend wakker geword van maagpyn en besluit vandag moet ek dokter toe en basta! My huisdokter is nie beskikbaar nie, maar aangesien ek nie kan wag nie, gaan sien ek een van sy kollegas wat my pyn diagnoseer as 'n maagseer. Ek is dankbaar vir 'n antwoord en begin die medikasie te gebruik.

Bekommerd Woensdag 14/01/09

Elke aand na ete ondervind ek maagpyn - ek begin bekommerd raak. Selfs al eet ek besonder min voel ek baie ongemaklik. Die gevoel is een van oordadigheid en is ongewoon vir my.

Eerste tekens van onraad Sondag 11/01/09

Ons het baie min geëet die dag, maar die aand het ek reeds in my dagboek geskryf dat ek 'n eienaardige pyn in my maag beleef het en baie ongemaklik aan die slaap geraak het.

1 Kor. 13:13

"En nou: geloof, hoop en liefde bly, hierdie drie. En die grootste hiervan is die liefde!"

Hierdie was my ma se gunsteling Bybelvers en toe ek gedink het aan 'n naam vir my blog, het ek gedink hierdie is baie gepas. Vandat ek siek geword het, is ek oorval met boodskappies wat spreek van geloof, hoop en liefde. Arme LeRoy kan nie voorbly met die oproepe nie, want almal wil spesiaal in kennis gestel word van die nuutste verwikkelinge. Met my pa wat ook so siek is het ek besluit om hierdie blog te begin. Ek hou al 30 jaar persoonlike dagboek en ek beskou skryf as terapie. Nou kan ek my gedagtes en gevoelens verwoord en almal van julle wat in kontak wil bly kan dit nou makliker doen!

Ek sal so spoedig moontlik 'n kort terugskou gee oor die gebeure van die afgelope paar dae.