Tuesday, September 8, 2009

Die Skriba kyk terug...Dinsdag 8/09/09

Die einde van enige jaar word gewoonlik begroet met vreugde oor die jaar wat verby is en daar word met afwagting uitgesien na die nuwe jaar se geboorte. En so was dit ook vir ons aan die einde van 2008 en die aanbreek van 2009. Ons het groot verwagtinge gehad vir 2009...Maar vroeg in die jaar het 2009 reeds tande gewys.

Met hierdie inskrywing wil ek (LeRoy) graag my belewenis met jul deel van die 31 bestralingsessies (7 weke) wat Elsabé deurgemaak het. Die bestralings het die lewe uit Elsabé gemergel. Alle tekens van normale lewe was verby. Sy was van dag een naar, met die gevolge daarvan, en het erge diaree beleef. Ons moes ons lewe so skik dat ons te alle tye naby die huis en badkamer kon wees. Ten spyte hiervan het Elsabé haar kruis moedig gedra en het sy meer deursettingvermoë getoon as wat mens normaalweg van so klein en fyn mensie sou verwag. My agting, respek en liefde vir haar het elke dag net verdiep. In die tyd moes sy ook na my omsien, toe ek met longonsteking platgetrek was.

Die ergste van alles vir my was dat ek deur dit alles op die kantlyn moes staan en net emosionele ondersteuning vir haar kon gee. Ek kon nie werklik veel vir haar doen nie. Ek was die passasier en moes aanskou hoe sy ly en pyn ervaar en alles moedig dra. As ek kon, sou ek haar plek ingeneem het. Daarmee saam moet ek beken my belewenis hiervan kan nie met Elsabé se eerstehandse belewenis vergelyk word nie.

Van alles glo ek die laaste 3 sessies inwendige bestraling was seker op persoonlike vlak die mees ingrypendste en het haar die seerste gemaak – fisies en emosioneel. In die tyd dat sy vir hierdie sessies gegaan het, kon ek op niks konsentreer nie en was dit selfs vir my emosioneel uitmergelend. Sy het dit ook moedig beleef en deurstaan en ek haal my hoed vir haar af.

Persoonlik dink ek die kruis is op Elsabé se pad geplaas om uit te reik na ander. Haar dagboek was terapeuties vir ons albei. Sy kon haar hart en diepste wese uitstort en ek kon sien hoe haar geloof elke dag verdiep en vernuwe. Ek glo die blog word wyer gelees en versprei as wat ons albei weet, derhalwe het dit ‘n middel geword om Elsabé se getuienis verder uit te dra en raak dit hopelik ‘n paar ander harte. Hopelik kan dit selfs ander vrouens wat dieselfde simptome as wat sy ervaar het, noop om gouer by hulle ginekoloë uit te kom en moontlike verspreiding voorkom.

Die afgelope 9 maande het ons albei gelouter, maar ons het sterker uitgekom, in liefde en in gees. Ons het albei baie moeilike tye beleef – Elsabé meer so as ek, maar dit lê nou agter ons en ons het ons lewe hervat. Ons gaan weer saam kerk toe, doen weer saam inkopies, en Elsabé het weer begin werk. Ons lewe begin grootliks weer tekens van normaliteit toon…

1 comment:

  1. Hallo Skriba,
    Julle altwee is baie goed met woorde. Wat 'n gawe.
    Ons is so dankbaar dat alles julle net sterker in die geloof en nader aan mekaar gebring het. In die dolle gejaag van die lewe, kan so 'n situasie ons weer dwing om stock te vat. Wat is werklik in die lewe belangrik? Ons is trots op jou LeRoy dat jy net daar is vir Elsabe. Die blog is baie goed, want sonder om te veel energie te tap, het ons die voorreg gehad om die pad saam met julle te stap in die gees. Die wonder van tegnologie. Daar was nooit die kwessie van is dit nou 'n goeie tyd nie.
    Ek is altyd verstom oor wat mense kan deurgaan en anderkant uitkom. Verlede naweek het ons gaste hier gehad wie se seun 5jaar terug 'n brein tumor gehad het terwyl hulle op vakansie was. Hy was toe 7jaar oud. Op hulle eerste oorsee vakansie daarna, want nou is travel insurance 'n probleem, kry sy pa 'n hartaanval en tel 'n bug in die hospitaal op wat hom 'n tweede hartaanval gee. Nou hou hulle maar weer net vakansie in Engeland, want nou kan sy pa weer nie travel insurance kry nie.
    Baie sterkte vir julle altwee met die pad na herstel.
    Eilandgroete
    Ons

    ReplyDelete