Wednesday, September 16, 2009

'n Warrelwind lewe! Woensdag 16/09/09

Ek is weer deel van ‘n warrelwind lewe (en gevolglik stiller as wat sommige van julle wil hê)! Maar dis baie goeie nuus, want dit beteken ek is weer gesond!

‘n Belangrike tweeweeklikse besoek aan my stralingsonkoloog noop my om weer te skryf (en die besoek is reeds amper twee weke gelede). Deels het ek ook herkou aan dit wat ek daar gehoor het. Dr. Robbie het my die volgende meegedeel:
  • My prognose is goed en ek was in remissie voordat ons met die bestraling begin het;
  • Ongelukkig keer endometriale kanker terug in sommige gevalle (minder as 10% kans) en aangesien die medici nog nie mikroskopiese verspreiding kan sien nie, sal ek vir die volgende 5 na 10 jaar gemonitor word (dit voel soos 'n ewigheid!). As ek na 5 jaar geen tekens van herhaling ondervind het nie, kan ek seker wees ek is heeltemal gesond. Gevolglik is daar ‘n aantal afsprake vir my geskeduleer – die eerste een weer in twee maande se tyd en dit word weer opgevolg na 3 maande en so word die tyd gerek.
  • Ek moet enige onverklaarbare simptoom dophou – veral as dit erger word, want kanker se kurwe klim progressief en dit sal nie sommer beter word nie.

Uiteraard kyk ek met nuwe oë na myself. Die bestraling se newe-effekte is amper uitgewerk uit my lyf, maar ek sukkel veral met my immuniteit en het reeds weer ‘n erge verkoue en keelinfeksie gehad en is vandag die onwelkome ontvanger van ‘n koorsblaar. Alles tekens dat my weerstand nog laag is. Ek probeer dit nou eerder weer baie rustig neem, nadat ek voorverlede week selfs weer by die gimnasium was!

‘n Brokkie goeie nuus vir my – ‘n brief wat ek vir die tydskrif SARIE ingestuur het, is in die nuutste uitgawe gepubliseer. En daar volg dalk nog ‘n verrassing later…!

2 comments:

  1. Hallo Elsabe,
    Alles klink baie positief en ons is saam met julle dankbaar. Ek sal bietjie gaan kyk of ons die SARIE op die internet kan lees en sien baie uit na die verrassing later.
    Vat dit rustig, jou liggaam is gemartel. Dankie dat jy ons op hoogte hou van jou pad na herstel.
    Eilandgroete
    Ons

    ReplyDelete
  2. Goeienaand aan jou Elsabe,

    Ek het vanmiddag die nuwe Sarie gekoop en jou storie daarin raakgelees. Ek het onmiddellik jou blogspasie kom opsoek en het sedert sewe uur vanaand jou inskrywings van hoek tot kant deurgelees. Ek kon myself nét nie wegskeur van die rekenaar af nie.

    Ek wil vir jou sê dat jy 'n merkwaardige vrou is. Jy het staande gebly onder 'n helse aanslag. Bloot omdat jy nooit ooit opgehou het om te glo nie.
    Daarvoor salueer ek jou.

    Shalom. Vrede. Groete.
    Ansi Buitendag.

    ReplyDelete