Monday, February 23, 2009

Finale diagnose en groet! Maandag 23/02/09

Tuis - op pad na herstel!
LeRoy en ek het vir die heel laaste keer die dongagevulde, verspoelde stukkie teerpad na Pretoria Oos aangedurf! Ons was albei opgewonde – die einde van my siektetydperk het aangebreek!

Ek het ook vinnig dankie-briefies gaan uitdeel by prof Van der Merwe en die verpleegpersoneel van saal 4 en saal 10. Dr. Heyns het “chop-chop” die krammetjies met ’n spesiale knippertjie verwyder en toe breedvoerig die uitslae en die operasiefoto’s aan ons verduidelik.

Dit blyk dat ek ’n rare lewerafwyking het en dit is wat aanvanklik baie suspisieus gelyk het en al die bekommernis veroorsaak het. Daar is verskeie hemangiome (dit lyk soos rooi moesies – nie my aantreklikste kant nie!) op my lewer en die gewas wat aan die buitewand van my maag ontwikkel het, het presies dieselfde voorkoms. Daar is geen duidelikheid van hoekom dit daar gevorm het nie – beide prof. Schalk van der Merwe en dr. Heyns het nog nooit so ’n geval teëgekom nie. Die goeie nuus is dat die gewas nie ’n GIST is nie en dat dit op die patologiese verslag herdoop is na ’n kaverneuse hemangioom met oorliggende ulserasie. LeRoy spot en sê dat ek selfs met my siekte absoluut uniek bly! My inligtingkundige streep sal verder rustig hieroor navorsing doen...

Tydens die operasie en die verwydering van die monster het dit weer onmiddellik begin bloei en het dit die voorkoms van ’n afgeblaasde ballon gekry. Soos ons egter weet, was daar genadiglik geen komplikasies nie en my slukpyp het 100% normaal gefunksioneer na die tyd en geen lekkasie getoon nie. Vir interessantheid, die 5 openinge se funkies was as volg: die regterkantste een was om die lewer te lig, een van die in die middel was vir die kamera, die ander een vir sy instrumente asook die een links. Die monster is uit die heel linkerkantste opening verwyder.

My eetpatroon en lewenspatroon mag nou geleidelik verander na normaal en geen spesiale medikasie (behalwe ’n ysteraanvulling weens my bloedverlies) of eetpatroon hoef gevolg te word nie. Ek het dr. Heyns hartlik bedank en hom ook vertel hoeveel mense vir hom gebid het. Hy noem toe dat sy vrou ook baie vir hom bid! Ons vrouens het universeel dieselfde opgelegde taak...!

Dit is bykans onmoontlik om ons dank en vreugde uit te spreek dat hierdie (soms baie bitter) beker uiteindelik geledig is. Dit was ’n besonder moeilke tyd vir ons albei en my pa se gelyktydige afsterwe het my emosioneel broos en LeRoy fisies uitgeput gelaat.

Ek is LeRoy ewig dankbaar dat hy hewig standpunt ingeneem het en die mediese fonds se finale antwoord oor my prosedure getroef het. Die bakleiery met hulle duur nog voort en hopenlik sal dit ook nog op ’n hoë noot afgesluit word. Alhoewel ons tans finansieël lam gelê is (ook weens uitgawes vir my pa, die narkotiseur en ander mediese verpligtinge wat nie deur die medies betaal is nie), glo LeRoy van harte dat daardie R15 000 die beste belegging is wat hy nog ooit in my gesondheid belê het! Baie dankie Liefie!

Ons twee is nader aan mekaar, ons goeie vriende wat hulself deur dik en dun bewys het, kosbaarder en ons verhouding met die liewe Heer inniger as ooit tevore. Daar was baie lesse te leer en ek weet dat ek in die komende jare weer sal delf in hierdie skatkis van wedervarings. Soms het ek saamgestem met hierdie kostelike aanhaling van Moeder Teresa: “Ek weet God sal my nie enigiets gee wat ek nie kan hanteer nie. Ek wens net Hy het nie soveel vertroue in my gehad nie!”

Ek is verder afgeboek vir 5 weke (in totaal is daar ’n aanbevole 6 weke herstelperiode) na die operasie. My introspeksie sal tydens my finale herstelproses weer terugkeer na die privaatheid van my eie persoonlike dagboek en hierdie is dus my laaste inskrywing en groet tot 'n weersiens in lewende lywe! (kontak my gerus by elsabe.olivier@up.ac.za)

Ek en LeRoy wil egter elkeen van julle wat die reis meegemaak het hartlik bedank. Dit was soms ’n wilde rit en het ons op onbekende paaie geneem waar veiligheidsgordels verpligtend was! Ons het egter die eindpunt bereik met Sy hulp en jul gebede en liefde. Aan elkeen wat ons met soveel liefde aangeraak het met oproepe, sms'e, besoeke, etetjies, blomme, gebede, kaartjies, geskenkies...ons is baie lief vir julle! Laastens: aan Hom alle lof en eer – my(ons) beker loop oor! Amen.

Teksvers: “Ek sal hulle suiwer soos goud gesuiwer word. Hulle sal my aanroep, en Ek sal hulle gebede verhoor.” Sagaria 13:9.

1 comment:

  1. Hallo Elsabe,
    My 2de probeerslag. Dit was 'n voorreg om die reis saam met jou te loop. Dankie dat jy dit met ons gedeel het. Jy is baie braaf. Ons gaan jou blog mis. Daar sal nou 'n gat in my oggende wees. Hou ons op hoogte van jou vordering op FB. Dit is waar ons deesdae kuier. Maak die beste van die tyd wat jy nog by die huis gaan he. Voor jy weet is jy terug in die rate race. Ons hoop ons kan iewers in die toekoms opmeet vir 'n lekker ski vakansie in Europa. Groete vir LeRoy.
    Eilandgroete
    Adriaan en Esna

    ReplyDelete