Sunday, February 22, 2009

Rustige Sondag 22/02/09

Ek en LeRoy het vandag die normaalste en rustigste dag in weke gehad en vanmiddag albei soos babas geslaap!

Ons is saam kerk toe en ds. James Kirkpatrick se boodskap uit 1 Samuel 20:41 oor die besondere vriendskap tussen Dawid en Jonatan het my diep getref. Ek is terdeë daarvan bewus dat my vriende my deur my louteringsproses gedra het. Sy boodskap is dat die Here deur vriende werk – hul nabyheid is Sy nabyheid. Vriendskap is liefde in aksie en ware vriendskap kan mense verander. Goeie vriende is lojaal en sal selfs vriende wees wanneer jy onder is of nie ‘n “wenner” is nie. Ware vriende is betroubaar en sal tot jou redding kom in tye van nood.

Ek is baie bevoorreg, want Hy het my lewe verryk met baie liefdevolle, lojale en betroubare vriende wat hulself deur dik en dun bewys het!

Môre is hopenlik my laaste afspraak met dokter Heyns en die 27 kramme op die oppervlak van my maag sal dan verwyder word – ek wonder hoe kry hy hulle uit?! My vragies lê reeds netjies uitgetik: Kan die GIST terugkeer? Hoe lank is my siekteverlof? Wanneer kan ek weer begin oefen? Wanneer kan ek weer begin bestuur? ens. ens

1 comment:

  1. Ek is baie bly dat die "normaliteit" weer besig is om terug te kom in jou dae. Dit is wonderlik hoe die Here soms deur ander met ons praat. Die volg van jou boodskappies en gebeurtenisse het met baie van ons gepraat en dit is 'n voorreg om 'n verskil in iemand anders se lewe te kan maak. Ons het baie om voor dankbaar te wees. Geniet die dag en moenie vergeet om vir die dokter te vra wanneer jy weer agterop die LT kan klim nie! xxx

    ReplyDelete