Thursday, June 25, 2009

Eerste ontmoeting met die radioloog Donderdag 25/06/09

Gister se trane het die spinnerakke in my kop bietjie weggespoel - ek glo dis die liewe Heer se geskenk aan ons vroue en in my hormoonlose toestand 'n noodsaaklikheid!

My eerste ontmoeting met dr. Ingo de Meulenaere het baie goed verloop en hy boesem vertroue in by my. Hy stem saam met dr. Snyman om bestraling van die hele bekken-area (15 x 15 cm) te doen om die moontlikheid van mikroskopiese bestraling te voorkom en my kanse vir genesing te verhoog. Bestraling beskadig die DNA van selle en stop die kankerselle se vermoë om te verdeel en te vermenigvuldig en hulle sterf dus af. Die gesonde selle sal mettertyd weer herstel en teen einde Augustus behoort die uitwerking van die bestraling 'n mindere effek op my gesondheid te hê.

Die uitwerking van die bestraling is kumulatief en ek behoort na 2 - 3 weke moegheid en irritasie van my blaas en derms te begin ervaar. 28 behandelings sal elke weeksdag toegedien word en ons het besluit om dit sommer by Little Company of Mary te doen wat baie naby ons huis is. Maandag moet ek aanmeld vir 'n skandering as 'n vooraf-prosedure en my eerste bestraling sal Woensdag 1 Julie 'n aanvang neem.

Ek en LeRoy het die dag opgekikker met 'n etetjie by La Spiga (soos normale mense!) en ek het myself bederf met 'n groot gunsteling - Baklava! Die dag was goed vir my en ek is weer vol moed en durf vir dit wat voorlê.

Die draaipunt was die beriggie wat ek in gister se Beeld gelees het van die jong student, Jaco le Roux (22) van Beaufort-Wes wat alleen en ver van sy ma en dierbares in Femina-kliniek lê met leukemie. Hy wag om te hoor of ’n geskikte beenmurgskenker gevind kan word... Ek wens met my hele hart dat ek kon help en daar is so baie soos hy. Dit is blykbaar 'n wanpersepsie dat dit seer is om beenmurg te skenk. Ek is te siek, maar het jy dit al ooit oorweeg? Lees meer by www.sunflowerfund.org.za of by 0800 12 10 82.

Dankie Here, dit gaan goed met my! "Die Here is my herder, ek kom niks kort nie." Psalm 23:1.

1 comment:

  1. Liewe Elsabe,
    Jy klink sommer vandag weer baie positief. Is dit nie interessant hoe die lewe loop nie. Daar is altyd iemand anders wat slegter af is as jy. Dit is seker die lewe se manier om ons gedagtes weg te kry van ons eie ongelukkigheid. Baie terapeuties. Sterkte met die bestraling. Eendag het ek by ons Engelse handyman gekla omdat ek nie lus was om te gaan werk nie. Hy se toe vir my "dont worry, it will soon be over" Niks in die lewe hou vir altyd aan nie. Voor jy jou kom kry is dit ook in die verlede en net 'n slegte herinnering.Hier bak ons uit vandag en more gaan ons 'n potjie en bring en braai hou saam met 'n paar Saffers. Adriaan werk op die mooie dag. Geniet die rugby daar by julle!
    Eilandgroete
    A+E

    ReplyDelete