Wednesday, June 24, 2009

Ek's broos, ek's mens... Woensdag 24/06/09

Vanoggend hark ek myself bymekaar. Ek is gisteraand deur verskeie emosies van woede, ongeduld, irritasie, hartseer, ongeloof – meestal oor die onmag om dit wat voorlê vry te spring. Ek staan nog verbyster oor my situasie en vind dit soms steeds moeilik om te glo wat gebeur. Bowenal wil ek so graag verstaan hoekom ek kanker gekry het en dis nie ‘n antwoord wat ek gaan kry nie.

Dr. Snyman het nie veel meer lig gewerp op die bestraling wat voorlê nie, aangesien ek nou na ‘n radioloog, dr. Ingo de Meulenaere verwys is wat die bestralingprosedure gaan waarneem.

In ‘n neutedop:
  • Ek moet bestraling kry aangesien daar ‘n verhoogde kans is dat die kanker kan hervat sonder bestraling. Volgens dr. Snyman kan bestraling nie verhoed dat ek wel eendag die stryd kan verloor teen hierdie kanker nie, dit behels net dat die kanker nie in hierdie area weer sal hervat nie. Gevolglik gaan my hele bekkenarea uitwendig en moontlik inwendig bestraal word.
  • Kankerbestraling werk baie soos X-traal foto’s – die bestralings word egter net in ‘n baie hoër dosis aangewend om die kankerselle dood te maak of hul verspreiding te stuit. Ongelukkig word die liggaam se gesonde selle ook aangetas en alhoewel bestraling nie pynlik is nie, kan die afsterf of beskadiging van gesonde selle newe-effekte tot gevolg hê. Ek sal besonderhede met dr. de Meulenaere bespreek, maar my groot bekommernis is natuurlik my blaas en my derms…
  • Die bestraling word elke weeksdag vir 6 aaneenvolgende weke gedoen – sonder onderbreking, sodat die kankerselle nie kans kry op herstel nie. Alhoewel die bestraling na 6 weke voltooi is, mag my gesonde selle egter nog weke of maande daarna neem om ten volle te herstel.
  • Volgens die patologiese verslag was die kanker in stadium II B en chemoterapie het blykbaar geen effek hierop nie en word nie as terapie oorweeg nie. Hierdie kanker word NIE met ‘n papsmeer opgetel word nie en vroue regoor die wêreld moet blykbaar wag vir simptome om kop uit te steek voordat dit gediagnoseer kan word…
  • Die bestraling sal dalk reeds volgende week 'n aanvang neem, wat my nog 'n paar dae geleentheid gee op herstel.

Maar tussen die stoei met myself oor die aanvaarding van die nuwe onvermydelike opdraandpad, was daar kort-kort die vertroosting dat ek nie alleen is nie…Sms’e van liewe Marié, Mariette, Marieta en oproepies van troos en bemoediging van Lynette, Sandra en suster Bobby. En gisteraand se mooi dagstukkie oor die oorwinning van vrees was weer vir my gekies en ek klou daaraan vas met mag en mening: “God is my redder; ek vertrou op Hom, ek is nie meer bang nie. Die Here is my God en my krag.” Jesaja 12:2.

Ons sien dr. Ingo de Meulenaere more om 9:00.

NS. My baarmoeder het 110g geweeg...hulle weeg dit werklikwaar!

1 comment:

  1. Liewe Elsabe

    Ek het nou-net jou nuutste inskrywing op jou blog gelees.

    Wat kan ek vir jou sê, anders as dat ek stil is voor die Here en vir julle bid. Ek dink aan julle en bid vir onbeskryflike genade, kalmte, geduld en aanvaarding van julle situasie. Maak jouself rustig binne in Sy Hand en lê rustig daar. Hy vou jou toe in Sy liefde.

    Mag ook hierdie pad vir jou 'n besondere geestelike bederf-avontuur wees.

    Liefde
    Wilna

    ReplyDelete