Thursday, July 16, 2009

Bestraling 8 om 14:00 Donderdag 16/07/09

Dis ‘n dilemma en ek wonder of ander “siekes” ook daarmee worstel. Wat antwoord ek as mense vra “Hoe gaan dit?”. Ons gooi almal so nonchalant daardie vraag rond en is ook gewoond om dit amper kursories geantwoord te kry met ‘n “Goed, dankie!” Ek wil allermins die indruk skep dat ek kla en kerm oor elke tree wat ek op hierdie kronkelpaadjie moet loop – ek weet alte goed hoeveel ander mense stoei met veel erger of het reeds hul eie Via Dolorosa bewandel. Die vraag is, wil mense regtig weet hoe dit gaan of verwag hulle ‘n gerusstelling van troos dat hulle nie oor jou hoef te bekommer nie?

Hoekom vra ek dit? Deels omdat ek Maandag weer moet terug werk toe - die afgelope 7 maande van 2009 het ek my 120 dae siekverlof opgebruik wat eintlik moes strek tot Desember 2010. Ek is bietjie benoud omdat ek nie kan voorsien wat nog vir my voorlê nie en dr. Robbie nie gister die sluier wou lig nie. Om die waarheid te sê, dit voel nie regtig vir my of ek weg van kantoor was nie, want ek het elke dag sedert ek ontslaan was my eposse gelees, beantwoord en selfs gewerk. In ons virtuele werksomgewing het ek slegs ‘n rekenaar en internetkonneksie nodig – vanoggend was ek selfs deel van ‘n vergadering via Skype (wat ek baie opwindend gevind het)!

Daar lê nou slegs 20 bestralings voor…ek weet ‘n mens moet nie jou dae ombid nie, maar elke enetjie wat ek kan afmerk is ‘n stukkie dankbaarheid.

Terug na my vraag…ek daag jou uit om die Comment skakel te druk en my te antwoord! Ag toe, neem nou een keer deel en onderbreek my monoloog – doen dit anoniem as jy wil. Hoe antwoord jy die vraag “Hoe gaan dit?”, maar belangriker nog, watter antwoord wil jy hoor as jy dit vra?

4 comments:

  1. Ek verstaan van die "hoe gaan dit vraag".

    Om vir iemand wat nou net haar man aan die dood afgestaan het te vra: "hoe gaan dit" is wreed. Die vraag het my vriendin Ada eendag laat uitgebars: hoe kan dit goed gaan met my? Dit gaan nie goed nie. My man is nou net dood!
    My vriendin wat haar gesonde 25 jaar oud seun (my seun no 2) verlede jaar verloor het aan hart arres ... hoe kan ek vir haar vra "hoe gaan dit", want wil ek hoor dit gaan goed sodat ek kan aangaan met my lewe?
    Ek het geleer om nie te vra "hoe gaan dit nie" maar "cope jy vandag?"
    of
    "het jy vandag krag ontvang om op te staan?"

    Ons is onbeholpe met ander mense se krisisse en swaarkry tye, daarom vra ons in ons onbeholpenheid "hoe gaan dit"
    Ons weet eintlik dit is 'n onregverdige vraag, want dit gaan nie (kan nie) nou regtig goed gaan nie. Ons is seker almal soms Jobsvriende, omdat ons nie weet nie ...

    Ons weet eintlik wat die antwoord is, maar ons sal nie weet wat die vraag "hoe gaan dit" se drie woorde beteken nie, voordat ons nie self binne in die letters van die woord LYDING geswem het nie.
    As mense jou dan vra "hoe gaan dit" antwoord hulle eerlik" vandag gaan dit ellendig, vandag gaan dit 'n stukkie beter, vandag ... vandag ... moenie mense spaar met 'n "dit gaan goed" antwoord as jy eintlik wil deel hoe jy regtig voel nie.
    Dit is nie kla nie, dit is nie selfbejammering nie.
    Ware vriende sal nie omgee nie, en hulle sal dan net weer hulle gebede vir jou herlewing gee sodat die engele se koperbakke met gebede vir jou swaar sal weeg (Openbaring 8)

    ReplyDelete
  2. Mag ek asseblief vra dat jy vir my 'n lysie sal epos met jou al jou gewelddoener se geskenkies en boodskappies. Ek sal dit bittergraag ook aan ons pasiente wil gee. Almal het so 'n geskenkie nodig op sekere dae! Dis baie Spesiaal.

    Hiermee ook die boodskappie wat ons saam met 'n gebreide poppie aan ons pasiente gee vir jou:

    Wat is God se plan vir jou Lewe?
    1. Jy is met die hand uitgekies en in liefde deur God gemaak net soos jou poppie met iefde in sorg met die hand gebrei is.
    2. Jy is spesiaal vir Jesus, Jy is Uniek, net soos jou poppie uniek is. Daar is nie nog ene wat soos joune lyk nie.
    3. Jy is waardevol vir Jesus. Geen geld kan jou by Hom koop nie, nes jou poppie ook nie te koop is nie.
    4. Jesus wil jou veilig in die palm van Sy hand hou nes jou poppie knus in jou hand pas.
    5. Jesus wil jou teen Sy hart hou en jou hartklop en teenwoordigheid voel nes jou poppie waneer jy dit styf teen jou vasdruk.
    6. Jesus wil jou veilig hou en sal altyd by jou wees, net soos jy jou poppie altyd by jou kan hou.

    Hierdie poppies word deur 'n groepie ou tannies vir ons pasiente gebrei.

    Sterkte en dankie.

    Rene Lorenzen
    reneL@oncology-sa.co.za

    ReplyDelete
  3. Ek het die wenk gekry om liewer vir mense te vra "Hoe maak die dag vandag met jou?" in plaas daarvan om te vra "Hoe gaan dit vandag met jou?". As mens daaraan dink is dit soms makliker om dit so om te antwoord. Dit neem die pyn so bietjie verder uit lyf uit.

    ReplyDelete
  4. Liewe Elsabe,
    Ons is terug van "Wales" en nou vang ek gou op met jou blog. Terwyl die wasmasjien was en Adriaan slaap, want hy het gisternag alweer gewerk. Almal praat nou van die negatiewe as dit kom by "hoe gaan dit". Ek het al die teleurstelling op mense se gesig gesien as ek se "Ek moet net keer of dit gaan beter". Ons kan nie wen nie. As ek vra hoe gaan dit wil ek die positiewe hoor. Tog luister ek graag.
    Eilandgroete
    A+E

    ReplyDelete