Friday, July 17, 2009

Bestraling 9 om 13:30 Vrydag 17/07/09

Every action in our lives touches on some chord that will vibrate in eternity.
-Edwin Hubbel Chapin

Elke dag lewer ‘n juweeltjie op…en vandag s’n is die kommentaar van Rene Lorenzen van Oncology South Africa. Sy vra ‘n lysie van my kreatiewe weldoener se geskenkies en boodskappies om dit weer verder aan ander kankerpasiënte te gee. Wat ‘n wonderlike, positiewe uitvloeisel! Ek sal self bitter graag meer betrokke wil raak om ander hoop te gee, om ‘n verskil aan ander se lewens te maak. Ek lees net gister in DailyGood van "Difference makers": “Are you a Difference Maker? What is it that you possess - beyond the material- that you can give to the world? Time? Energy? Art? Love? Inspiration? Happiness?” O ja, ek wil ook ‘n Difference maker wees en my kreatiewe vriendin gaan nou met haar tyd, omgee en liefde ook een word vir ander – wonderlik!

Dit was my laaste dag tuis. Ek sal die roetine mis … om verder die knus bed in te wurm nadat LeRoy gery het, my eie ontbyt rustig in die warm bed te nuttig (met die elektriese kombers aan), daarna die skootrekenaar nader te trek en te blog, eposse te lees en te beantwoord, bietjie te werk, en te Facebook, soos nog nooit tevore nie!

Vandag se geskenkie was ‘n pakkie Diddle Daddle – daardie krakerige karamel springmielies! “Diddle Daddle, ek is besig om te “paddle” in ‘n bootjie op stormsee. Here, maak my moedig, Here, maak my sterk!”

Dit was gesondheidsgewys ‘n beter week en 2 van die 6 weke se bestraling is nou agter die rug. Ek het boonop ‘n hele kilogram opgetel (mmm, dalk minder wit, verfynde broodjies eet…!). Ek is moeër, maar dankbaar dat ek weer kan eet. Eugene merk vanoggend so ewe op: "Ma, jy kan nou al jou kos rou eet, want jy maak dit sommer onder die strale gaar!" Ja-ja, daar is altyd iets om oor te lag.
Welkom, rustige naweek!

2 comments:

  1. Elsabe, ek val sommer uit die bloute ... maar nadat ek vandag in jou blog gelees het, wou ek graag hierdie gedig van WEG Louw met jou deel. Mag die liefde van God in hierdie dae in die grond van jou gemoed groot dinge doen.

    Die liefde van God

    Hoe anders het ek my alles voorgestel!
    Met hoeveel vrees die groot dag verwag
    dat U my in U sterk greep sou knel,
    en alles van my afval, trots en krag!

    Maar U het in geen storm tot my gekom,
    geen groot wind, geen wit hael wat sny
    in steil vlae oor die boom in blom -
    daar was geen stryd wat ek teen U moes stry:

    U het alleen die meulsteen afgerol
    van hierdie hart, dat weer die helder bron,
    soos vroeer, stralend-blink en vreugdevol
    kon opstoot en verwaai in wind en son.

    Ek weet dat in die grond van my gemoed
    U liefde weer die spingaar vul en voed.
    (WEG Louw)

    Chris du Preez

    ReplyDelete
  2. Ek het toevallig op jou blog afgekom omdat ek
    alewig besig is om op die net rond te krap vir inligting oor Kanker vir my eie. Ek glo nie ek sal ooit genoeg kan leer. Ek is mal oor jou blog, ek kan net dink wat dit vir jou beteken om jou vrese en jou twyfel
    so neer te pen. Ek glo jou familie en vriende verstaan jou en jou siekte soveel beter en tog dink ek jou genesing - die groot K en emosioneel kry 'n groot hupstoot hierdeur.

    ReplyDelete