Wednesday, August 12, 2009

Klop-klop...klop-klop...Donderdagoggend 13/08/09

Om pyn in die nag te ervaar is 'n eensame paadjie...klop-klop, klop-klop...Jy luister hoe jou man langs jou slaap en rustig asemhaal, jy hoor die nuwe koue front ruk en pluk aan die boomtakke voor jou slaapkamervenster. Maar al waarvan jy eintlik bewus bly is die klop-klop, klop-klop in jou onderlyf. Jy skuif versigtig van posisie, maar dit maak geen verskil nie...klop-klop, klop-klop...Jy onthou die pynpille...Die bom wat jy verlede week gekry het en slegs een keer gedrink het, want een van die newe-effekte is naarheid (nee...nie al weer nie!) en die enigste keer wat jy dit gedrink het, het die bom jou 'n uitklophou gegee. Boonop mag jy dit nie op 'n leë maag drink nie...Ai, sal jy weer kan slaap? Klop-klop, klop-klop....Hoe laat is dit nou?

Jy lê en wik en weeg amper 'n uur lank...klop-klop, klop-klop...en staan dan maar saggies op. Soek jou pantoffels, kamerjas, kombersie in die donker en maak stilletjies die kamerdeur toe. Jy maak vir jou tee en eet van die nuwe beskuit wat jou man gister vir jou gekoop het - die wittes sodat jou arme derms (hopenlik) nie weer aapstuipe kry nie. Die bom staan langs jou - hy sal laaste aan die beurt kom. Jy hoop daar is genoeg beskuit in jou maag, jy hoop die bom gaan jou nie te sleg laat voel nie - jy sluk die bom weg. Klop-klop, klop-klop....tyd om terug te sluip kamer toe.

Jy sal môre weet of dit die regte besluit was...Klop-klop, klop-klop....

2 comments:

  1. Liewe Elsabe,
    Die einde is in sig!!Nog net 2 dae. Jy is ongelooflik braaf en ons harte gaan uit na jou. Ek wonder of jy nie 'n naarpilletjie saam met die pynpil kan drink en dalk standaard 'n halfuur voor jy eet nie. Baie sterkte!Ons glo volgende week se bestraling sal nie so intens wees nie omdat 'n kleiner area dek. Hoe dit ook al sy, jy is positief en dit is baie belangrik. Alles is in ons koppe. JY is reg, dit kan baie alleen raak al is daar 'n klomp mense om jou wat probeer verstaan. Net jy beleef dit. Net die Here verstaan regtig. Gee alles vir Hom. Praat met Hom as jy in die nag so wakker le. Oor die pyn, die naarheid, die alleenheid, die siekte, die bestraling, die woede.
    Ons drink Yogi tee in die aand voor ons gaan slaap en elke sakkie het 'n wysheid by. Gisteraand sin het gese "Happiness is taking thing as they are"
    Eilandgroete
    A+E

    ReplyDelete
  2. Liewe Elsabe

    Ek lees jou blog elke dag en verwonder my aan jou manier om alles so eerlik te verwoord. Jy het sowaar 'n gawe om te skryf en moet tog eendag hierdie dagboek van jou publiseer. Dit kan defnitief weer vir iemand wat die pad moet loop help. Die einde van die bestraling is in sig en ek glo jy sal hierdie laaste paar dae ook deurbyt. Mens se woorde klink so hol en dun maar weet net daar is mense wat aan jou dink en vir jou bid.

    Met liefde
    Katrien

    ReplyDelete