Friday, August 14, 2009

Laaste uitwendige bestraling Vrydag 14/08/09

Uiteindelik het hierdie dag aangebreek! Ek was reeds voor 6:00 wakker en het soos ‘n kind gevoel wat uitsien na ‘n partytjie; het ook vroeg opgestaan en aangetrek. My beste vriendinne en grootste troosters het sedert gister laer getrek om my met oproepies, smse, kuiers, eposse en bederfies vir oulaas te bemoedig. Voel hulle ook die afwagting…tel hul saam my die sekondes af na 11:30?

Dankie Here…ek is SO dankbaar hierdie beker is nou leeg. Die bestraling was vir my ‘n emosionele en fisiese slagveld. Ek het hierdie afgelope week amper ‘n kilogram gewig verloor, maar in die geheel gesien darem nie te veel nie. Dit is eintlik verbasend dat ek nie meer verloor het nie, want ek het geen eetlus meer nie en het baie gesukkel om die afgelope week te eet. Mmmm, sal regtig aan LeRoy se repertoire moet werk…as kok het hy nog groeipotensiaal… :-)

Ek sien so uit na….

  • die weelde van ‘n bad…ek wil hierdie bestralingsmerke van my afskrop!
  • die einde van die pyn, gekriewel en derm-manewales…
  • my eerste happie kaas, volkoring of saadbroodjie, mielies, pizza, rou groente, ertjies en ander groen groentes, vrugte (buiten gerasperde appel en piesang), witsous, geurmiddels in my kos en SJOKOLADE!
  • uiteet, fliek en minder huisgebonde te wees;
  • myself voel…

Nog een wekie se bulte…nog een wekie se herstel…Binnekort is Elsabé weer terug!

3 comments:

  1. Liewe Elsabe,
    Ons is so dankbaar die fase van die bestraling is nou verby. Dit kan van nou af net beter gaan. Jy klink positief en dit is baie goed. Ek weet van die beste kokke is mans, maar ons vrouens is dalk net meer gemaklik in die kombuis. Ons gee hulle egter 10 uit 10 vir gewilligheid. Geniet jou bad, al die lekker kosse en 'n fliek. Rus die naweek en sterkte vir volgende week. Jy en julle is altyd in ons gebede en gedagtes.
    Eilandgroete
    Ons

    ReplyDelete
  2. Hoop jy gaan sommer nou elke uur 'n beterskap voel. Bid vir jou en jou man, ek lees getrou jou stukkie en huil maar stil saam. Binnekort kyk jy terug na die tyd in jou lewe en dan weet jy dit was snoeityd en staan jy verbaas hoe jy gegroei het deur daardie swaar tyd wat jy gedink het die lewe staan stil rondom jou. Glo net dat die Snoeier van jou lewe beter weet as ons.

    Lekker naweek.

    Groete
    Tertia

    ReplyDelete
  3. Liewe Elsabe,

    Ek het nou net die afgelope week se inskrywings op jou blog gelees en ek wil net vir jou sê ek weet nie waar jy die moed en krag
    vandaan kry om elke dag na bestralings nog daaroor te kom skryf nie!

    Of nee, ek moet liewer sê ek WEET jy kry die krag van ons Wonderlike Hemelse Vader wat jou elke dag styf vashou.

    Maar dit is soms so onbegryplik onverstaanbaar dat mense sulke krisisse moet deurgaan. Miskien moet ek nie te veel daaroor dink of daaroor skryf nie.

    Weet net dat ek dikwels aan jou en jou gesin dink en ook vir jou bid.

    Met baie liefdekies van Rita Badenhorst

    ReplyDelete