Wednesday, June 3, 2009

Operasiedatum is Saterdag! Woensdag 3/06/09

'n Paar van die blykies van omgee van my liewe UP biblioteekkollegas

My gemoed is ligter vanaand...deels omdat my tranedamwal vanoggend gebreek het.

Ek is vanoggend by my kantoordeur begroet deur stringe helderkleurige ballonne, geskenkies, kaartjies, sjokolade, blomme, potplante en kollegas wat my soos engele toegevou het met drukkies van omgee en liefde. Na die afgelope week se spanning en dapper probeer wees, het die onverwagte liefdesgebare my heeltemal onverhoeds betrap en het ek in trane uitgebars! Ek is sprakeloos, maar diep ontroer deur elke liewe persoon wat vandag die moeite gedoen het om vinnig 'n epos, tydjie of 'n trooswoordjie met my te deel.

Die ander goeie nuus is dat die mediese fonds my prosedure goedgekeur het. Ek is dus eers Saterdag die 6e Junie geskeduleer en het nog twee dae grasie om my lewe bietjie in orde te kry. Ek is dr. Snyman oneindig dankbaar dat hy bereid is om my Saterdag te opereer (sy keuse). Hy gaan uit sy pad uit om my te akkommodeer en het gister die eerste keer sy oë op my gelê. En wat 'n bekwame sekretaresse het hy nie! Toe ek haar gister bel - die tweede keer dat ek en sy praat - noem sy my reeds onmiddellik op my naam.

Ek voel vanaand baie rustiger en so lig soos die ballonne wat in my kantoor rondhang!

Blok het vir my die mooiste Bybelvers kom gee vanoggend :" O Jakob, en jou Formeerder, O Israel: wees nie bevrees nie, want ek het jou by jou naam geroep; jy is myne! As jy deur die water gaan, is Ek by jou en deur die riviere - hulle sal jou nie oorstroom nie, as jy deur vuur gaan, sal jy jou nie skroei nie, en die vlam sal jou nie brand nie. Omdat jy kostelik is in my oë, hooggeag is, en ek jou liefhet, daarom gee Ek mense in jou plek...vir jou lewe." (Jesaja 43)

Dankie, ek is lief vir julle almal!

3 comments:

  1. Hallo Elsabe,
    My gaste eet ontbyt, so ek steel gou 'n oomblik om jou blog te lees. In die somer vat ons nie grond nie. Ons is bly jy het 'n ginekoloog gekry wat jou gemaklik laat voel. Bedside manners is baie belangrik. Dit klink asof jy 'n baie goeie ondersteuningstelsel het. Jy moet seker al so moeg wees vir ondersoeke en die binnekant van hospitale en spreekamers. Niks wat ons se kan jou beter laat voel nie, maar weet dat jy in ons gedagtes en gebede is. Baie sterkte vir Saterdag. Ons is verseker wat ons dink. Deur tyd in gebed deur te bring en op positiewe gedagtes te konsentreer is die stryd halfpad gewen.
    Eilandgroete
    A+E

    ReplyDelete
  2. Elsabe, dankie vir jou vinnige antwoord-epossie aan my. Dis soos ek jou leer ken het toe ek nog gewerk het ... dat jy dadelik reageer as iemand jou hulp vra. Ek het vanoggend jou hele blog gelees en wat beteken dit nie vir my nie. Ek kan net weer eens vir jou sê: ek bid vir jou en dankie vir die liefde wat jy uitstraal. Rita

    ReplyDelete
  3. Van die ballonne het Una die mooi, poetiese opmerking gemaak: By blowing these balloons we give you some of our breath and strength.

    Monica

    ReplyDelete