Saturday, June 6, 2009

D-Dag Saterdag 6/06/09

Ons was albei al om 02:00 vanoggend al wakker. Kon nie werklik slaap nie. Gelukkig stuur Eugene vir Elsabe 'n sms om 03:00 om sy ma voorspoed met vandag toe te wens. Met die sien ek dat die alarm 'n uur te laat gestel is. Ons moes om 05:00 al by die hospitaal wees. Nugter weet hoekom so vroeg want die opname proses het maar 30 minute geneem. Die tyd verwyl om nog 'n baie onaangename epos aan die "useless" medies te stuur. By aankoms by die hospitaal en met opname sou ons hoor dat die medies die hospitaal opdrag gegee het om die hele rekening privaat te merk sou ons die laparoskopiese prosedure doen, met ander woorde ons sou self vir die rekening van ongeveer R50 000 plus moes betaal.

Nie net 'n geval van "Big Brother is watching you", nou 'n geval van "Big Brother is telling you what to do" of anders. Vragie hier - wat het van Vryheid van Keuse geword ingevolge ons Grondwet. Algemene gevoel onder die medici - die mediese fondse het nou beheer van gesondheidsdienste oorgeneem en dikteer per definisie mediese ontwikkeling of agteruitgang met hul verstokte idees en streng finansiele uitkyk op al wat mediese prosedure is.

Die grootste grap hier is - ons wat ten duurste vir ons mediese fondse betaal moet hier tevrede wees met swakker/archaise/verouderde mediese tegnieke, wyl die medici wat die staatspasiente in byvoorbeeld - Kalafong - behandel in soortgelyke omstandighede vandag die voordeel van die laparoskopiese prosedure sou gekry het. Om die chirurg aan te haal - as Elsabe vandag by Kalafong was, was die laparoskopiese prosedure gedoen. Lekker ne. Maar genoeg van my galbraak - moes net iewers afblaas.

Wat die belangrikste hier betref. Elsabe is vanoggend 08:30 gedoen. Abdominaal - dalk is dit so bestem, sodat die chirurg die bekken mooi kon ondersoek en kyk vir tekens van verspreiding van die kanker. Op die oog af lyk dit nie of daar enige verspreiding was nie. Kom ons bid daarvoor.

Sy is reeds 10:00 terug na die normale sale waar sy nou onder redelike hewige pyn beheer medikasie is, waarvan die gevolg is dat sy meerendeels slaap. Wat 'n goeie ding is aangesien slaap tog die natuur se beste vorm van herstel is. Ek aanvaar sy gaan seker nog 'n redelike paar dae daar wees. Vir diegene wat graag wil inloer, die versoek is dat julle dalk die eerste paar dae oorslaan tot sy weer mens voel. Ek sal by haar hoor wanneer en dit hier noem.

Vir al die oproepe, eposse, sms en algemene boodskappe van ondersteuning, liefde, begrip, samesyn - dankie, dit word oneindig waardeer. Tydelike Skriba - LeRoy

2 comments:

  1. LeRoy, Ons dink baie aan julle. Sal jy asb laat weet as daar iets is wat ek vir jou (of Elsabe) kan doen. Dankie vir al die inligting. Ek wil jou gerrusstel dat die herstelproses aan die binnekant ewe lank neem, ongeag hoe die operasie geskied het. Troos julle aan die Dr se bekwaamheid.
    Liefde, Boen en Ina

    ReplyDelete
  2. Dis tyd dat vrouens op die raad van Trustees kom (by enige Mediese Fonds maar spesifiek Keyhealth waar ek ook lid is) - net as jy 'n vrou is sal jy die 'agony' verstaan.

    ReplyDelete