Wednesday, July 29, 2009

Bestraling 17 om 11:30 Woensdag 29/07/09

Vandag voel ek nie dapper en sterk nie, ek is baie broos. Gisteraand lees ek in Mattheus dat ons nie ons lewens kan verleng deur oor die dag van môre te bekommer nie. En Here, ek bekommer oor die dag van môre, want elke dag laat my sieker, slegter en swakker as die vorige een. Dit bly tog vir my moeilik om doelbewus elke dag hierdie gifbeker te “drink” en te weet hoe my huidige gesondheid stelselmatig ‘n knou kry…ter wille van langtermyn herstel.

Ek is so siek van siekwees! Hoe voel dit nou weer om nie pyn te hê, moeg of sleg te voel nie? O ja, dit moet verlede jaar een of ander tyd wees!

Dr. Robbie vermoed ek het gastritis aangesien die bestraling my maagslymvliese irriteer. Hy het verduidelik dat elke mens se ligaam ook uniek is en eiesoortig op die bestraling reageer. Daar word tans op 'n groot oppervlak gekonsentreer en dit verklaar my slegte simptome en moegheid. Ek het twee nuwe salfies vir al die seer en jeukende plekkies want ek mag nie enigiets aansmeer nie. Sedert gister het ek ook begin met erge maagkrampe - gelukkig net met tusssenposes.

En nou sal ek weer gerasperde bruin appel gaan eet want tot dusver was die wit beskuit, wit koek, wit toebroodjie en bruin piesang beslis nie suksesvol om my maag te beheer nie. En later vanaand sal ek myself troos met Lélane se appeltert - dankie jy is 'n engel!

1 comment:

  1. Liewe Elsabe
    Hier is nog 'n bietjie raad vir diaree. Jare terug toe Adriaan en ek in Egipte was met 'n vakansie het hy diaree ontwikkel.Hulle het ons gewaarsku dat dit kan gebeur en gevra dat ons dadelik hulle moet laat weet. Dan kry jy 'n mengsel van granaat en koejawel sap so veel as jy wil het op die huis. Dit het gewerk soos 'n bom. Dit bind jou maag. Vir die res van die vakansie het Adriaan voorgegee hy is nog nie beter nie, net om die sap te kry. Dit smaak ook baie lekker.
    Dit is so waar wat jy in Mattheus gelees het. Ons bekommer ons moeg. Die tyd en energie wat ons spandeer aan bekommerd wees en planne te maak kan ons baie meer produktief in gebed deurbring. Gee boedel oor in die geloof. Sterkte!
    Eilandgroete
    Ons

    ReplyDelete