Monday, July 6, 2009

Kliniese sielkundige toe...Maandag 6/07/09

Ek glo sommige van julle is verstom oor die intimiteite wat ek so maklik met julle deel – ek verwonder my soms self daaroor. ‘n Paar keer het die gedagte ook al by my opgekom dat ek moet ophou blog en julle nie verder moet opsaal met my emosionele potpourri nie. Maar dan kry ek weer ‘n sms of epos wat sê dat dit wel iets vir iemand beteken of dat hul selfs daarna uitsien om te hoor hoe dit met my gaan. Ek geniet veral elke liewe kommentaar baie of as ek 'n Follower bykry (welkom Leoné!). ‘n Spesiale dankie aan LeRoy se niggie Esna en haar man Adriaan (die twee Eilandbewoners) wat so gereeld die Comment knoppie druk en kommentaar lewer!

Vriende Eddie en Karlien van Bloemfontein het Saterdag kom kuier en Karlien het ook vertel hoe sy saam lag of huil met my hoogte- en laagtepunte en hoe waardevol sy sommige van die inligting wat ek gedeel het, vind. En dit is ook een van my doelstellings – om ander vroue meer ingelig te maak oor endometrium kanker en die gevolge daarvan.

Ek gaan vandag ‘n kliniese sielkundige sien – sy spesialiseer in kankergevalle. Ek het aanvanklik gehuiwer om dit met julle te deel, maar ek het self nie geweet dat sulke beraders beskikbaar is nie en daarom noem ek dit ook.

Dit voel of die liewe Heer my self na haar toe gelei het. Die ginekoloog, dr. Snyman het meer as een keer genoem dat ek ‘n berader moet gaan sien en verlede week het my huisdokter en dr. Snyman se ontvangsdame (in opdrag van hom) gebel en dit op dieselfde dag voorgestel. Ek voel baie kalm en in beheer van my emosies op die oomblik en het nie gedink ek het dit nodig nie. Ek is half bang as iemand aan een van my rafeltjies gaan trek, dat ek heeltemal sal losrafel, maar dalk is dit ook nou en dan nodig? Hierdie was wat my gesondheid en my pa se dood aanbetref ‘n annus horribilis.

Die eerste ding wat ek haar egter gaan vertel, is dat ek ook geweldig geseënd is met baie geliefdes en dierbares wat my op elke denkbare en ondenkbare manier bederf en ek daarvoor oneindig dankbaar is! Maar dalk help die koppie-sorteer-sessie ook om ‘n paar hartseer-goete wat ek nie hier durf skryf of aan enigeen wil noem nie, netjies te sorteer en reg te skud!

4 comments:

  1. Ai liewe Elsabé, ek wens so ek kon al hierdie seer en kommer van jou wegneem.
    Weet net jy is in my gebede. Sterkte!!!
    Leonora

    ReplyDelete
  2. Hallo Elsabe,
    Die Kliniese Sielkundige klink sommer na 'n baie goeie plan. Alles is mos maar in ons koppe. Hier is die nuutste nou al vir 'n paar jaar CBT(Cognitive Behavioral Therapy)Die beginsel is eenvoudig en dit werk soos 'n bom. Ons gaan sorteer nie meer die verlede uit nie, dit is weer traumaties. Alles gaan oor die nou en hier en hoe om dit te hanteer. Jy leer om emosies te identifiseer wat disfunksioneel, onakuraat en van geen hulp is nie en hulle te vervang met emosies wat meer realisties en van meer waarde is. Hou ons asb op hoogte van hoe jy dit beleef. Spill the beans by haar, want die verlede kan ons insig gee in die hede. Sterkte ook met die bestraling wat more begin.
    Eilandgroete
    A+E

    ReplyDelete
  3. Hi Elsabè, hoe gaan dit vanoggend, ek hoop dit gaan goed en hoop dat die bestraling gou-gou gaan help. Ek het jou in gedagtenis en hoop alles van die beste en sterke. Hang in there like a great soldaat.
    Gloria Maripane

    ReplyDelete
  4. Elsabé,
    Ek het gelees van jou blog en vandag sommer net in die middel van nêrens begin lees - en "toevallig" is dit toe hierdie stukkie waarin jy noem van jou verskriklike jaar. Ek neem aan jy het in hierdie jaar ook jou pa verloor. Ons stories het soveel raakpunte - ek is ook met kanker gediagnoseer twee maande na my pa se skielike dood. Dit is vir my so kosbaar om ander mense se positiewe verhale van herstel en genesing (dikwels nie net fisiek nie, maar veral geestelik) te lees. Ek is ook toegegooi met soveel ondersteuning en liefde en genade - dat ek amper na die "geseënde een" in die verhaal voel! Ek deel SO in elke woord wat jy hier skryf. Ek het ook om dieselfde redes as jy 'n blog begin, met presies dieselfde kwellinge en wonder oor hoeveel inligting gepas is! Jy is regtig 'n voorbeeld - en ek sal gereeld jou blog dophou. Mag ons Almagtige God jou verder seën met Sy liefde en genade en gesondheid.
    Groete, Sanet
    NS: As jy wil loer, my blog is www.whoshallifear.wordpress.com

    ReplyDelete