Friday, June 19, 2009

Ek's ok! Vrydag 19/06/09

Ek is die afgelope 24 uur oorval met oproepies, sms'e, besoekies en nog blomme. My spieëlkas lyk soos 'n blommemark!

Baie dankie, my liewe Vriende en Vriendinne! Dit is eerstens vir my baie lekker om kontak te hê met die buitewêreld, want ek voel soms maar eensaam so alleen tuis. Arme LeRoy moet die pot aan die kook hou en kan nie altyd hier wees nie. Tweedens, voel dit vir my of ek nie alleen hierdie pakkie dra nie en elke hand wat uitgesteek word, hou my ook regop.

Ek het onlangs verneem van 'n eertydse kollega wat ook die slegte tyding van kanker moes aanhoor. Hy verkies om hom van almal te onttrek en dit het my laat nadink oor dit wat ek doen en die wyslikheid om my ervarings en gevoelens so bloot te lê. Ek besef weereens dat ons elkeen 'n persoonlike krisis anders sal hanteer en ek dink nie daar is 'n regte of verkeerde manier nie. Dit bly 'n persoonlike binne-stryd tussen my en ons Groot Geneesheer.

Die liefde wat ek van almal om my ervaar, is egter vir my besonder vertoostend en ek voel jammer vir elkeen wat hul afsny van die omgee en gebede van familie, vriende en kollegas. Ons lees tog in die Groot Boek dat ons mekaar se laste moet dra...

My hart gaan dus uit na elkeen wat 'n krisis, hartseer of pyn beleef en die pakkie alleen moet dra. En my hartlike dank aan elkeen wat sy hart oopmaak vir ander in nood (en ook nou vir my) - ek is nou aan die ontvangkant en ek ontvang met grasie en dankbaarheid.

En soos julle kan sien, ek's ok! :-)

2 comments:

  1. Ai, ek is so jammer om te hoor dat nie nuus nie so goed is as wat ons almal gehoop het nie, maar bid en vertrou dat dit vorentoe net beter sal gaan. Groete ook van Dale Peters. Ek vertel net gister vir n Australiese vrou van jou terapeutiese blog en sy was baie geinteresseerd.

    Liefde van Monica en Piet

    ReplyDelete
  2. Liewe Elsabe

    Al het ek tot nou toe nie die pen opgeneem nie, wil ek graag vir jou se dat ek, vandat jy siek geword het en jou blog begin het, geen dag oorgeslaan het om aan jou te dink en jou in jou blog te volg nie. En vir jou te bid - veral ook nou ...

    Dit is vir my besonder verrykend hoe jy deur alles heen jou krag by ons hemelse Vader soek en vind, en hoe jy onbeskroomd wereldwyd getuig van jou geloof in Hom, die Beskikker van ons lewens. Dit kan nie anders as om 'n blywende indruk te maak op almal wat dit lees nie. En ek glo Sy Naam word so deur jou geeer. So word jou siekbed eintlik 'n kansel.

    Daar is so baie dinge in die lewe wat ons glad nie verstaan nie, wat ons so graag anders sou wou he. Ek het in The Banner of Truth van Februarie 1991 die volgende gelees:

    "How should we know what a tender hearted Father we have, and how gladly He would come forth and meet us, and take us in His arms, if we had not, as the prodigal, been denied the husks of earthly pleasure and profit ... We should never have felt Christ's tender hand, binding up our wounds, and wiping the tears from our eyes, if we had not been involved in sorrows."

    Ek bid dat ons Hemelse Vader vir jou sal toedek met Sy vrede, en dat Hy jou krag en geloof sal gee vir elke dag en nag. En as dit Sy wil is, dat Hy jou weer gesond sal .maak. Hy is immers die Groot Geneesheer.

    Liefde
    Tina Vorster

    ReplyDelete