Saturday, June 20, 2009

‘n Huldeblyk aan LeRoy Saterdag 20/06/09

November 1996
Ek het ‘n epos van vriendin Heleen ontvang hierdie week wat my in trane gehad het: “Ek het Sondag vir jou en LeRoy gesit en kyk en ek het die mooi liefde wat tussen julle is gesien, ek wens ek kon dit vir jou in ‘n skildery vasvang. Jy het ‘n wonderlike man wat baie lief is vir jou en die liefde vir jou in sy oë is so teer dat dit vir jou al die aansporing in die wêreld moet wees om hierdie ding nie die oorhand oor jou te laat kry nie…Daai ou aanbid die grond waarop jy loop, so ou suster koester dit!! Ek dink hy weet nie aldag hoe om die ding te hanteer nie en hy probeer sterk wees ter wille van jou....”

Is dit nie die mooiste getuigskrif van ‘n gelukkige huwelik nie? Vandag op die vooraand van Vadersdag, wil ek dus hulde bring aan die liefde van my lewe, LeRoy Olivier. Ek voel altyd dat ek hom afgebid het, want ek het baie lank vir die liewe Heer gevra om asseblief iemand vir my te stuur wat ook vir Hom lief is. En ek vertel ons storie, omdat “Hoe het julle ontmoet?” verhale enersyds vir my so pragtig is en andersyds om talle ander enkellopendes weer moed te gee!

Ons het die eerste keer oë op mekaar gelê by Roodeplaatdam in 1995, toe sy ouer vriend (met wie hy in daardie stadium huis gedeel het) my uitgevra het. Ons het albei dadelik gehou van wat ons sien, maar hy het niks laat blyk nie en die ordentlike meisie wat ek is, ek natuurlik ook nie! Hy het gewag dat sy vriend aanbeweeg na nuwe weivelde toe, want ons was inderdaad net vriende. Een middag terwyl sy vriend besig was, het hy sy vriend se “swart boekie” nadergetrek en verwoes deurgeblaai op soek na my nommer.

Ek was baie verbaas oor sy oproep (28 Maart 1996) wat op daardie stadium beslis “uit die bloute” was, en het ongelukkig reeds ‘n ander afspraak gehad met ‘n nuwe vriend en kon nie sy uitnodiging aanvaar nie. Hy het daarop aangedring dat ek sy nommer neerskryf, wat ek om een of ander onverklaarbare rede wel gedoen het (en gehou het.) Onthou, ordentlike meisies het mos nie ouens gebel nie! Die nuwe vriend met wie ek die Sondag ‘n afspraak sou gehad het, het egter op kort kennisgewing ons afspraak gekanselleer en skielik sit ek op die vooraand van die skoolvakansie stoksielalleen – selfs Eugene was by sy pa. En ek onthou LeRoy se uitnodiging en wik en weeg…sal ek hom bel…? Met ‘n bonsende hart en bewende vingers bel ek toe die nommer, en dit lui en lui en lui….en net voordat ek wil neersit antwoord ‘n uitasem LeRoy: “Hallo!” Hy was op daardie stadium ‘n ywerige fietsryer en was op ‘n lang rit uit. Hy was buite die huis toe die telefoon gelui het, en hy sê hy het gehardloop of sy lewe daarvan afhang om die telefoon te haal…Onthou, dit was pre-selfoon era!

Die res is geskiedenis….. Ons het net gepas – soos twee legkaartstukkies wat ‘n prentjie voltooi. Hy het my 5 maande daarna in die kerk gevra om te trou terwyl kollekte opgeneem word. Ons onthou albei die diens nog goed – die dominee het gepraat oor ewigheidsmomente…daardie besonderse oomblikke in ‘n mens se lewe wat jy net weet hierdie gebeurtenis is ingrypend en gaan die res van jou lewe se loop verander of bepaal. En dit was ‘n ewigheidsmoment en die begin van huweliksvreugde ongekend vir ons albei.

Ek dink altyd aan LeRoy as ‘n pantoffel (jy dink dalk dis 'n snaakse vergelyking, maar dis soveel beter as 'n blink skoen wat heeltyd knyp en druk!) - sag, gemaklik en knus, want hy pas so gemaklik om al my skewe en krom plekkies. Ons huwelik is een van saam-doen, saam-wees en veral baie saam-lag. Ons oefen saam, kook saam, ontspan saam, bad saam en bid saam. Sonder hom kan ek my lewe nie indink nie en saam hom kan ek enigiets trotseer.

Dankie Lief, vir al jou liefde wat jy so onvoorwaardelik op my en Eugene uitstort. En elke aand sê ek nog vir Hom dankie vir jou en dankie vir ‘n tweede kans om te bemin en om bemin te word! Jy maak my steeds week van liefde na al hierdie jare...en jou sorgsame troeteling met my siekte dien as inspirasie dat ek moet kop hou, moed hou en aanhou!

Gelukkige Vadersdag!

1 comment:

  1. Hallo Elsabe,
    Nou het ek sommer 'n knop in my keel. So baie mense vra ons hoekom het ons nie kinders nie en dan is my antwoord altyd, want ek is te lief vir my ou man. Ja, gelukkig getroud wees is suiwer genade en 'n groot voorreg. Dit is vir min mense beskore en as jy nie van ongelukkig getroud wees ken nie, weet jy nie altyd die verskil nie. Mag julle twee nog jare saam gelukkig wees. LeRoy dit is 'n veer in jou hoed.
    Eilandgroete
    A+E

    ReplyDelete