Wednesday, June 17, 2009

Kanker is stadium II Donderdag 18/06/09

Dr. Snyman het pas gebel. Die uitslae van my limfnodes was eers laat gistermiddag beskikbaar. My limfkliere is skoon, en die kanker was beperk tot my uterus, maar dit het my serviks geinfiltreer. Dit maak die kanker stadium II en noodsaak dat ek wel vir die volgende 5 na 6 weke bestraling moet kry. Sonder bestraling is die risiko vir terugkeer blykbaar hoër.

Ons sal hom volgende week moet gaan sien - dit sal dan 2 weke na my histerektomie wees en ons sal die pad vorentoe bespreek.

Ek het gehoop dat hierdie ervaring my gespaar sou bly...almal om my het my heeltyd verseker dat dit nie nodig sou wees nie. 'n Klein bietjie onsekerheid het egter altyd gebly, maar dit is seker wat nou verhoed dat ek nie verkrummel en in 'n hopie gaan lê nie.

Onlangs het ek gelees, as 'n mens gesond is en op jou voete staan kyk jy vorentoe, maar as jy siek is en op jou rug lê, kyk jy boontoe! Dit is nou die enigste opsie. Liewe Heer, help asseblief...

3 comments:

  1. Soms het mens nie woorde om vir iemand anders te sê nie, maar weet net dat ek steeds vir jou sal bid dat jy met die Here se hulp en met jou moed deur elke dag sal kom. Ek probeer altyd vir myself sê: vandag is al wat jy het. Leef dit voluit in die geloof. Baie liefdekies.
    Rita Badenhorst

    ReplyDelete
  2. Els

    Ek is so jammer! Maar ook dankbaar dat die limf skoon is. Elsabé, weet net altyd bewustelik dat daar soveel mense is wat jou & Leroy (& jou seunskind) in hulle gebede opdra aan ons Vader. Jy is nou al deur soveel hierdie jaar – beskou die volgende paar weke & die behandeling as die finale stap terug na jou gesondheid. So baie sterkte, ek dink so baie aan jou.

    Liefdegroete

    Leone

    ReplyDelete
  3. Liewe Elsabe,
    Iemand het eendag vir my gese ons moet nie vra hoekom, hoekom nie, maar waarheen, waarheen? Slegte nuus los 'n mens altyd met 'n vreeslike gevoel van magteloosheid. Nie, 2 mense is dieselfde nie, maar dalk kan dit jou bietjie hoop gee. Adriaan se ma (70) is verlede jaar met maagkanker gediagnoseer. Sy is in die Kaap geopereer en het ook 6 weke bestraling gehad daarna in PE. 'n Jaar later en sy is ok, sal nooit glo sy was siek nie. Speel selfs nou brug saam met die manne. Haar geloof en baie gebede het haar gedra. Ons gaan aanhou bid vir jou en julle en baie sterkte.
    Eilandgroete
    A+E

    ReplyDelete