Sunday, June 14, 2009

Piet se biltong - hartskos! Sondag 14/06/09

Kindertyd in Tolwe se sanderinge grond!

Ek sit hier in my warm bed en peusel aan Piet Hammes se biltong. Ek en Piet stel dieselfde vereistes aan ons biltong – nie oormatig gespesery nie en half klam. My eerste geskenk besending was sulke vet, dik los skywe, maar hierdie keer was die biltong reelmatige dun skyfies gesny – net tot teen die rant. Elke skyfie kan dan ewe maklik afgetrek word – pure smulplesier!

Biltong is vir my hartskos en dit laat my gedagtes ver paaie terugloop na my kinderjare….en my eerste onthou van biltong. My oupa aan my ma se kant, Hennie van Aarde, het ‘n plaas gehad in Tolwe, anderkant Potgietersrus in die Noordelike Provinsie. Op Eendracht 171 het hy het geboer met mielies, koring, grondbone en beeste. Biltong was altyd volop op die plaas en oupa het dit ook met sy skerp mes in netjiese stukke gesny, maar die droë wildsbiltong is somtyds met ‘n spesiale hamertjie fyn gekap. Daardie tyd was ‘n bakkie dik room ook saam voorgesit en ons het die biltong eers daarin gedoop en dan geëet – van cholesterol was daar toe geen sprake nie!

Ek onthou as kind ons gesin se (vir my nimmereindige) rit na ouma en oupa toe – meestal eers na my ouers tuis gekom het na werk wat beteken het dat ons baie laat die aand of vroegoggend eers gearriveer het. Dan het oupa Hennie en ouma Vinkie (jy kan net dink hoekom sy dié noemnaampie gekry het!) ons verwelkom deur die gasstoof weer warm te stook en ons het ons eerste ete saam geniet – ALTYD ouma se kerrie-afval met aartappels en tuisgebakte boerebrood. Ek was altyd die liefste vir die pensie.

Ander onthoukos uit daardie dae is Ouma se vetkoek wat geen gelyke geken het nie - ek is steeds vreeslik lief vir vetkoek! Ouma het ook haar eie kaiings uitgebraai – ek kan die stukkies krakerige vet goed onthou….En wat van die gebakte skaapkop op die tafel! Aanvanklik was ek nie so gretig om daarvan te eet nie en ek het nooit ‘n liefde vir die oë ontwikkel nie, maar ek onthou nog die romerige harsings…Gril jy nou lekker? :-)

As kind het ek graag in Tolwe se warm sand gespeel (die hitte was versengend daar in die somer) – nes ‘n seuntjie verkieslik met karretjies of die dolossies van die afval. Tydens een jaar se paasfees is sjokolade-eiers in ‘n papierhuisie verpak en ek kon nie wag om my huisie in die sand staan te maak nie. Ek het landerye uitgelê en met presiesie stukkies blare of takkies geplant en kon myself vir ure so op my eie vermaak. My ma se jongste broer, oom Frikkie vertel graag vir my hoe hy vir my as klein dogtertjie gevra het ”Wat maak jy?” en ek geantwoord het, “Ek peel, ek peel!”

Ja, dit was die tyd van kerse, gaslampies, “long-drop” toilette met baie spinnerakke, plaastelefone met luitone wat jy moes herken, self eiers gaan uithaal in die hoenderhok, wegkruip agter ouma se voorskoot vir die ganse wat al sissend nader kom, “rondry” op die ou stukkende trekker wat langs die ou huis gestaan het, kyk hoe die arme gekose keel-afgesnyde skapie se bloed patroontjies loop in die Tolwesand noudat hy onderstebo aan sy agterpote hang en grootoog kyk hoe oupa met ‘n ge-oefende hand en vlymskerp mes die skapie begin afslag.

Ek voel bevoorreg dat ek in daardie tyd kon deel hê en dit het my ook gemaak wat en wie ek vandag is. My oupa en ouma was sout-van-die-aarde mense en het hul alles vir daardie stuk rooi grond gegee. Ek raak nou nog vol heimwee as ek beesmis ruik of skape sien saammaal en hoor blêr. Ek is ‘n kind van Afrika – dis in my bloed!

Dankie weereens Piet, soos ek sê, biltong is hartskos!

2 comments:

  1. Hi Elsabe,

    Jy laat my baie ver terug dink en verlang na my ouma-hulle se plaas - dit was in Oudshoorn distrik en ons het daar net sulke lekker tye gehad. Ek hoop dit gaan elke dag beter en hou styf duim vas vir Woensdag.

    Baie liefde
    Huldah

    ReplyDelete
  2. Elsabé

    Hoe laat jy my nou ook lekker verlang. Jy het so mooi geskryf, ek het glad 'n paar trane gepink en lekker gelag oor die wat sou gril!!!!

    Ek is ook 'n plaaskind, en ons ouers en oumas en oupas was werklik die sout van die aarde. Eenvoudig, maar opreg en meelewend. Net verlede week het my skoonsustertjie op hul familieplaas vir haar 'n bees gaan slag, en wragtie, toe sy terugkom, toe braai sy die vet uit en watter lekker kaiings! My kinders onthou ook nog hoe lekker ouma se skaapkaiings op hul oggend-mieliepap was!

    Gelukkig is biltong nog redelik "met ons", as ons dit net kan bekostig ne! En lekker was nog nooit sleg nie! Geniet dit, en soos julle geniet ek dit ook dun en effens klam, sonder vet!

    Liefde vir jou daar in jou bedjie.
    Alet

    ReplyDelete