Tuesday, July 21, 2009

Bestraling 11 om 11:30 Dinsdag 21/07/09

Rene (wat by Wilmedpark Onkologie in Klerksdorp werk) het my ge-epos en vertel van ‘n wonderlike emosionele ontlading-seremonie wat hulle “balloon releasing” noem. Ek het hoeka nog Louis (daardie man se asem hou!) se 5 groot vet ballonne wat hy in die motor opgeblaas het op pad werk toe die 3e Junie toe my kollegas my verras het. Blykbaar het hy baie snaakse kyke in sy motor gekry daardie dag, so blaas-blaas in spitsverkeer!

So, ek het pas besluit…die 14e Augustus, na my laaste bestraling, gaan ek daardie 5 ballonne lugwaarts lanseer en die einde van my siekwees vier. Waar die ballonne van my kollegas eers ‘n simbool was van ‘n tweede-asem, oplig en liefde, sal die ballonne dan ‘n simbool wees van al die seerkry en swaarkry van die afgelope paar maande. Ek sal hulle met vreugde een vir een loslaat en dit sal bevrydend wees om te sien hoe hulle al verder... en verder... wegdryf en kleiner word totdat ek nie eers meer ‘n spikkeltjie kan sien nie!

My kantoor is uitgesorteer en ek sal funksioneel kan werk môre. Gerda het die mooiste, grootste, vrolikste ruiker wat ek in ‘n lang tyd gesien het, laat aflewer en so die sonskyn in my kantoor genooi.

Uiteindelik is ek meer gemaklik met die bestralingsessies – ek grap en skerts nou al met die radioloë en voel nie meer elke keer of ek in die “room of doom” instap nie. Ek kom agter dat baie wonder hoe die bestraling werk. Nee, gelukkig lê ek nie soos ‘n rotisserie-hoendertjie daar nie. Julle ken mos daardie lekker hoendertjies by Woolworths, Pick & Pay en Spar wat so al in die rondte roteer en bak dat die vetjies so spat? Ek lê op ‘n smal bankie en die masjien draai om my…ek is die middelpunt waarom die masjien draai, soos wat my gesondheid nou die middelpunt geword het van al my doen en late.

1 comment:

  1. More Elsabe, het vanoggend gou opvang op jou blog. Sjoe mens kan nie help om
    bewoe te raak nie, oor al die seer in die lewe.

    Ek is so jammer dat jy deur al die pyn moet gaan, gelukkig ken ons God en hou
    ons aan Hom vas. Klink of jy omring word met goedheid en liefde. Ek dink en
    weet mens kan nooit te veel liefde betoon nie.

    Ek's bly jy is terug by die werk.

    Baie liefde vir jou en die Here seen jou Elsabe!
    Elaine

    ReplyDelete