Wednesday, July 22, 2009

Bestraling 12 om 10:10 Woensdag 22/07/09

Dit was vandag weer my afspraak met dr. Robbie en ek kom agter dat hy probeer om my te help om die positiewe te ontgin van my siekte. Verlede week het hy al getroos deur te sê dat die meeste mense na die tyd vir hom kom vertel dat dit nodig was dat hulle deur hierdie meule gaan. Hy het voelers uitgesteek oor my huwelik en ek kon hom verseker dat dit goed gaan, maar dat dit voor die tyd ook goed gegaan het. Ek het nie kanker nodig om my en my man se verhouding te herstel nie. Nee, ek is nog nie seker hoekom die Here die groot snoeiskêr uitgehaal het nie, maar ek weet dat snoei vernuwe en nuwe lewe gee. Hopenlik sal my blomtyd ook weer aanbreek!

Die mees positiewe ervarings wat ek tot dusver geput het, is die warmte en liefde van gee-mense. Ek is verras deur mense wat spesiaal tyd maak vir my - op watter manier ookal. Hulle bel gereeld, of sms en stuur eposse van troos en bemoediging. Sommiges loer vinnig in - gewoonlik nooit met leë hande nie. Wat my die meeste verbaas is dat dit soms mense is wat ons nie tradisioneel as "huisvriende" beskou het nie. Gisteraand het 'n kerkvriendin byvoorbeeld 'n volledige tuisgemaakte ete kom aflaai - afgerond met selfs 'n sjokoladetjie vir nagereg. Dit is sulke gebare wat my week laat met dankbaarheid...Hoe kan ek hulle ooit vergoed? Die slotsom waartoe ek kom is dat daar oneindig baie goeie mense op die aarde is. Baie dankie Here vir gee-mense wat onbaatsugtig 'n daadwerklike verskil in ander se lewens maak en U liefde uitleef!

1 comment:

  1. Ons forward weer dit wat ander vir ons doen na ander mense, soos hulle op ons pad kom. En dalk is dit eers oor 'n hele ruk.
    Ons hoef nie aan dieselfde mense weer iets goed terug te doen nie. Iemand anders doen weer iets vir hulle en so sneeubal ons omgee.

    Marié

    ReplyDelete