Tuesday, August 4, 2009

Bestraling 21 om 11:30 Dinsdag 4/08/09


Ek het opgekyk na haar - letterlik en figuurlik...my ma!

Ek verlang intens na my ma – na haar liefde en troeteling. Dit sou vandag haar 77e verjaarsdag gewees het, maar haar plekkie is reeds 11 jaar leeg.

Ons het ‘n besondere hegte verhouding gehad en sy is die mens wat die grootste positiewe invloed op my lewe uitgeoefen het. Van jongs af was ek ook haar vertroueling en tot met haar skielike dood in 1998 het ons mekaar elke liewe dag gebel. Sy was my klankbord en ek hare en ons het mekaar se wel en wee, drome en hartseer geken en gedeel. Niks het my groter vreugde verskaf as om haar gelukkig te sien nie, en sy kon altyd so opgewonde raak oor elke (klein) hoogtepunt in my lewe.

Sy was ‘n wonderlike betrokke ouer en het alles binne haar vermoë gedoen om in elke behoefte van my en my sus te voorsien. As alleenouer het sy elke beskikbare uur wat sy kon bykomende boekhouwerk gedoen om finansieel die pot aan die kook te hou. Sy was ‘n voorslag by die werk omdat sy so akkuraat en noukeurig kon werk en was baie gesog by haar werkgewers. Salomo het ‘n vrou soos sy in gedagte gehad toe hy in Spreuke 31 geskryf het: “‘n Knap vrou is baie werd, baie meer as edelstene.”

As ‘n Ouma was sy ook hartstogtelik lief vir haar twee kleinseuns en ek kan nog goed een naweek onthou hoe Eugene gehuil het toe Ouma moes huistoe (in Johannesburg ) en daar huil Ouma toe lustig saam…Sy het ook vir ‘n tyd lank my sus se seun versorg toe Madelein weer moes gaan werk. Haar seun het ‘n passie vir lang hare gehad en het net aan die slaap geraak as hy met my sus se hare kon speel. Ouma sou ongemaklik skewe koppie sit – net sodat Devin ook aan haar kort hare kon vat om aan die slaap te raak!

As ‘n mens so ‘n intieme verhouding met ‘n ouer het, is dit nie maklik om afskeid te neem nie en die leemte wat sy na haar dood in my lewe gelaat het is steeds daar. ‘n Mens leer maar net om met die verlies saam te leef. Sy is skielik een Sondagmiddag in haar slaap by ons aan huis oorlede en ek het niksvermoedend daar ingestap om haar wakker te maak omdat ons kuiergaste verwag het. Ek sal daardie oomblik nooit vergeet toe my oë op haar val en dit tot my deurdring dat sy dood is nie…Die hartseer en pyn wat ek gevoel het om te besef dat ek nooit weer daardie warm stem sou hoor nie, daardie sagte wang sou soen nie, daardie vonkelende oë sou sien blink nie, daardie flinke hande wat vir niks verkeerd gestaan het, sien borduur, naaldwerk doen, hekel, tuinwerk doen of bak nie…

My groot troos is dat ek haar onvoorwaardelik lief gehad het en oneindig waardering vir haar as mens, werker en ouer gehad het. Twee jaar voor haar dood het ek vir haar ‘n brief geskryf en vir haar vertel hoe besonders sy as ouer vir my was en hoe oneindig lief ek haar het. Ek het haar vertel hoe ‘n navolgingswaardige voorbeeld sy vir my gestel het en dat ek nooit vir beter van die liewe Vader sou kon gevra het nie.

Mamma, ek dink nog so baie aan jou – hoe dan anders? Elke keer as ek my vingers in die grond steek, of daardie lekker suurlemoenpoeding maak, en souskluitjies, en onthou mamma nog daardie lekker klapperkoek wat ons eenkeer laat brand het omdat ons so geklets het? Die kere wat ek en LeRoy die voorreg gehad het om in die katedraal Notre Dame in Parys te kom, steek ek vir mamma ‘n kersie aan. Daar is vir my iets besonder terapeuties aan die rituele gebaar en ek neem my altyd voor om dit tuis ook te doen. En kersfees kan ek glad nie “Somerkersfees” sing van Koos du Plessis nie. As ons wegtrek met “Welkom O stille nag van vrede, Onder die suiderkruis, Wyl stemme uit die verlede, Oor sterrevelde ruis” dan trek my keel toe…

Die meetsnoere van die lewe het nie vir haar in lieflike plekke geval nie, maar Heer, U weet beter… Ek is vreeslik dankbaar dat sy hierdie hartseer gespaar is om my so siek te sien, want sy sou haar morsdood bekommer het oor my!

1 comment:

  1. My liewe vriendin,

    Ek lees elke dag jou blog, en wens elke dag dat ek 'n towerstaffie kan swaai en alles vir jou mooi en lekker en goed kon maak - vir LeRoy ook, want dit is bitter moeilik om die persoon naaste aan jou te sien swaarkry. Terselfdertyd wil ek se, jy hanteer hierdie situasie met ongelooflike krag en grasie. Ek kan sien dat jy en jou ma goeie vriendinne was, en van dieselfde uitsonderlike stoffasie gemaak is! Ek is ook seker dat niemand behalwe jy sal sien of dink dat jy die spore wys van die behandeling nie.

    Ek sal seker nooit weer van bestraling kan hoor sonder om die beeld van 'n braaihoendertjie voor my geestesoog te sien nie!

    Hierdie is nou die tyd vir lekker sagte pajamas en warm komberse - troetel jouself knus in 'n warm bed en rus is beslis belangriker as werk aangeleenthede!

    Hope liefde vir julle altwee!

    Groete,

    Lorraine

    ReplyDelete