Wednesday, February 11, 2009

Die monster is uiteindelik uit t.s.v. die medies Woensdag 11/02/09

Elsabé is in die hospitaal en ek is nou die "designated" scriba om almal op datum te hou. Na 'n helse klomp baklei en op en af spring gistermiddag het ons niks nader aan 'n oplossing m.b.t. die medies en goedkeuring vir die Laparoskopiese prosedure gekom nie. Beloftes van "Ons bel jou dringend terug" het ook niks opgelewer nie. En om dit alles te kroon daar slaan die weerlig die krag af en kan ons niks doen of werklikwaar iets lekkers maak om te eet voor die vastyd vir vandag aanbreek nie. En die krag is steeds af - so ek het 90 minute se battery tyd om die blog op te dateer voor ek sonder krag sit.

Ek het reeds weer teen 7:30 met die medies begin stoei. Teen 9:00 nog geen goeie antwoorde gehad nie. Dit wou voorkom of ons op geen manier die medies gaan oortuig om die Laproskopiese prosedure te doen nie, nie eens "split billing" om die verskil te self te dra nie. Ons het toe maar besluit om te ry en te kyk of ons iets by die hospitaal kan reel nie. Genadiglik het die Kredietbestuurder by Pretoria Oos 'n kontak in die rekeninge-afdeling van Key Health gehad wat dit gemagtig het en ons kon aangaan.

Key Health voer aan dat die Laproskopiese prosedure nie werklik enige voordele inhou nie. Na bewering is die teater tyd vir beide die oop prosedure - waar jou maag oopgesny word, en voorgemelde prosedure dieselfde - naamlik 120 minute. Die spesialis wat die prosedure gedoen het, het dit uiteindelik in 35 minute gedoen. Teen R89 per minuut - doen die somme. Die feit dat al jou maagspiere afgesny word met die oop prosedure word nie as 'n nadeel vir die pasient beskou nie. Onthou die tjekboek en die balanstaat praat hier baie hard.

Ons het geweier om dit as die finale antwoord te aanvaar en Elsabéaan so ingrypende prosedure bloot te stel, en het gesorg dat die Laproskopiese prosedure gedoen word. Ons het reeds die bybetaling van R15000 oorgeplaas. So met permissie gesê ??? die medies. Les hieruit - maak seker wat 'n mediese fonds sal betaal voor jy daarby aansluit. Die spesialis het reeds 'n brief aan die Mediese Raad en die Raad vir Mediese Fondse hieroor geskryf en hulle verkla. Ek gaan self 'n brief hieroor aan dieselfde 2 rade skryf en dit uiteindelik aan Carte Blanche gee - dalk kan ons skade die pad oopmaak vir andere.

Belangrikste nuus - Elsabé is so teen 12:00 vanmiddag eers gedoen - teen 13:30 was sy in die ICU en alles het mooi en goed afgeloop. Direk na sy wakker geword het, het sy redelik baie pyn gehad en het steeds. Daar is 'n redelike groot hap uit haar maagwand uitgehaal en mens moet verstaan dat dit nou eers moet heg en gesond word. Sy sal seker 3 dae in die ICU wees teen die 6 dae wat sy met die oop prosedure daar sou wees - @ R3000 per dag - doen die somme. Tydens die tyd gaan sy geen besoekers kan kry nie. Net ek en Eugene. Sal julle laat weet van die reelings by die normale sale. Ek het gesien dat ons baie sms op haar foon gekry het - ek het nie werklik tyd om beide fone te hanteer nie - so tot sy na die normale sale oorgeplaas word - sms na my nommer 082 6544 182.

Elsabé se inskrywing na die tyd:
Bekommernis, ontsteltenis en onsekerheid oor die operasie wat in die weegskaal hang, het my 05:00 laat wakker skrik. Ek is stoep toe met die Groot Belofteboek wat Louette my verlede jaar gegee het, en het die oggendlig daar ingewag. Ons krag was steeds af, maar ek mag natuurlik niks per mond inneem nie. ’n Geelvink was vervaard besig om een van die nuwe palmtakkies van blare te stroop en het ywerig aan ’n nessie gebou. Ons erf was besaai met dooie blare van die vorige aand se vreeslike storm en ek het onthou hoe hulle soos konfetti rondgewaai het in die vorige aand se reën.

Ek moes eintlik 6:00 reeds by die hospitaal aangemeld het en sou 8:00 reeds as eerste pasiënt teater toe moes gaan. A.g.v. die mediese weiering het ek geen idee gehad wat om te verwag nie. Emosioneel was ek steeds toegeskulp en LeRoy het ds. Anton gevra om met my te kom praat. Ek het ’n lou stort geneem en hom met nat hare ingewag. My gesprek met ds. Anton was emosiebelaai en my woede oor die Mediese fonds het uitgeborrel. Ds. Anton het getroos en my gemaan om my woede-energie reg te kanaliseer. LeRoy was deurentyd op die telefoon besig om self woedend te probeer reëlings tref vir my opname en om betalingsopsies voor te lê. Hy het uiteindelik voorgestel dat ons ry sodat ek darem by die hospitaal is, indien die fonds inwillig.

Dis met die uitry dat ek die geknakte Icebergs gesien het, want my ook ontstel het – die simboliek daarvan was ironies. Terugskouend was hierdie oggend, nes die vorige aand ongelooflik spanningsvol en ’n besliste laagtepunt vir ons albei...Ek het net nie krag gehad om met die mediese fonds te baklei oor geld nie en ek het vir LeRoy voorgestel dat ek ons die fonds se voorstel volg en die oop prosedure laat doen. Aangesien hy egter teenwoordig was toe dr. Heyns die prosedure verduidelik het, het hy vasgeskop. Hy het geweet dat my herstel baie stadiger sou wees, die pyn meer en die moontlikheid van komplikasies dalk groter.

By die hospitaal aangekom het LeRoy dus aangebied om self die R15 000 verskil in te betaal tussen die laparoskopiese en oop prosedure (wat hy van die huisverband verhaal het). Ek het teen daardie stadium kragteloos gedryf en my sonder seremonie oorgegee aan die opname-prosedure. Dr. Heyns het gevra dat ek onmiddellik opgeneem moes word en ek is na ’n kamer waar ek moes uittrek en die opname-vorms moes begin teken. LeRoy was nog al vegtende tussen die mediese fonds en die hospitaal se Administratiewe afdeling. Dr. Heyns het by my ingeloer en was ontsteld omdat my bloeddruk so hoog was en het gevra dat ek ’n kalmeerpilletjie drink. Die een oomblik het ek nog die TV skerm dopgehou wat vertoon het hoe ’n vieslike groot likkewaan ’n klein bokkie treiter en toe sink ek weg in die droomlose donkerte...

Ek het eers ure daarna in Intensief my bewussyn herwin toe die vriendelike suster Juliana my kom verseker het dat sy mooi na my sal kyk. Ek was voor die operasie baie bekommerd oor my tydperk by Intensief omdat ek die 3e Februarie spottenderwys vir dr. Heyns gevra het: “Gaan jy my laat doodgaan op die operasie tafel?!” en hy met net soveel humor geantwoord het: “Nee, jy sal doodgaan in ICU!” Maar morfien is ’n wonderlike pynstiller en susmiddel – ek het feitlik die hele nag deurgeslaap en was net vaagweg bewus van die gestoei met die bleek, swanger vroutjie in die hoek...

4 comments:

  1. Dankie vir die update LeRoy. Sterkte daar vir jou en Eugene. Laat weet as ons iets kan doen.
    Liefde, Ina en Co

    ReplyDelete
  2. Hallo julle,
    So jammer om te hoor dat dinge nou so skeef loop met die medies. Julle het al ons simpatie. Die laaste ding wat julle nou nodig het is 'n bekommernis oor wie gaan betaal. Ons probeer van hier af met Sanlam 'n ding doen en dit gaan nie veel beter nie. Ons is egter baie dankbaar dat alles goed afgeloop het en Elsabe is in ons gebede en gedagtes. Hier in Engeland is ons uitgelewer aan die NHS en ja geld praat hard. Baie sterkte en ons sien uit na elke update.
    A+E xx

    ReplyDelete
  3. Naand Elsabe,

    Skryf jy altyd in die ander persoon? Of is 7:36 se pos deur LeRoy?

    Soos jy seker raai: Jou praatplek se adres is deur Daniele van die gim aangegee. Die mense vra uit oor jou. Mis jou glimlag. My voorstel was dat ons 'n wyehoek Skypekamera aan die dak hang. Dan kan almal vir jou smile en (welvoeglike) handtekens maak.

    Ek het min om te vertel, behawe dat hierdie jaar gekker as ooit begin het (hoewel nie met dieselfde intensiteit as julle s'n nie!). Die beste deel was 'n vinnige draai in 'n nat Drakensberg. Gelukkig het die reen looptye weggebly – en die mis was genoeg vir berggevoel, maar min genoeg om nie by 'n afgrond af te voeter nie. Miskien stuur ek van my beroemde Coolpix fotografie.
    Ek hoop jou teaterbesoek het goed afgeloop – ten spyte van die weerspannige "Medies".
    Baie sterkte vir jou en LeRoy.
    Louwrens

    ReplyDelete
  4. Hi Elsabe,

    Ek kan baie keer my hande gaan warm maak by die gedagte aan jou vriendelike opgeruimde geaardheid. Ek vertrou dat jy in die moeilike dae genoeg sonskyn gedagtes in jou gedagte rommelkissie het om die glimlag terug te sit. Die pad wat jy nou stap is beslis nie maklik nie tog bly jy vir ons ’n voorbeeld. Ek weet die Hemelse Vader kyk in liefde op jou neer en sal self ook in die swaar oomblike Sy hande oor jou hou.

    Baie liefde vir jou en jou gesin.
    Huldah

    ReplyDelete