Saturday, February 14, 2009

Hallo...hallo! Saterdag 14/02/09

LeRoy het sy woord gestand gedoen en op die dag van Liefde die skootrekenaar vir my gebring. Ek is hier - ek is dankbaar! Ek stry teen naarheid en die resultate daarvan. Vanoggend was daar 'n ongelukkige episode en ek amper bekommerd, maar dr. Heyns het 'n paar mikpunte gestel en ek konsentreer met alle mag om hulle te haal. Twee daarvan is dat ek moet eet en dit moet inhou!

In 'n hospitaal is rus 'n onbekende woord. My wondjies (ek is nou opgekram hoor! Wonder of ek die masjiene by die lughawe sal laat afgaan? :-)) is gisteraand 23:30 vir die eerste keer skoongemaak en my laaste medikasie om 23:50 toegedien. Ons saal se ligte is eers teen middernag verdoof (nes die vorige aand) en vanoggend om 4:30 het die verpleegpersoneel weeer begin skarrel. Moegheid is soos 'n taai kombers wat my verswelg - ek moet hier uitkom!

Hoogtepunte van die dag:

  • Besoekies van Maureen, Elrian, skoonsus Brege en haar man en natuurlik LeRoy! Tyd verloop baie stadig in 'n hospitaalbed en dis onmoonlik vir my om in die dag te slaap. Verpleegpersoneel kom en gaan, masjiene biep en piep, (ander) besoekers vir my kamermaats kom en gaan.
  • Liewe Maureen het persoonlik, namens my vir LeRoy 'n hartvormige Valentynskoekie tuis gaan aflewer om sy dag bietjie op te kikker en dankie te sê vir sy liefde en ondersteuning. Niks om voor verskoning te vra nie, Liefie! Dankie vir die mooi wyse waarop jy my blog in stand gehou het.
  • Ek het vir die tweede dag self gebad, self my hare gewas en myself skaflik (probeer!) laat lyk (laat my dink aan ons kinders op daardie stadium - "Ek wil self!"). En... ek het geoefen...op en af gestap (in die rokersarea vir pasiënte...ugh!!)
  • Ek het prettige geselsies met my kamermaats - tannie Lombard (75) en Marie Steyn (sal liefs nie haar ouderdom noem nie - sy's nog jonk...soos ek!) van Ellisras. Veral ek en Marie terg dr. Heyns genadeloos om aandag. Marie dink hy is vreeslik aantreklik, maar ek moet erken dat ek die afgelope tyd myself nie veel aan manlike skoonheid gesteur het nie!Vanoggend het ek egter gevra dat hy bietjie meer tyd by my moet spandeer sodat ek kan besluit of hy regtig so mooi is! Hy lag en terg saam ons en ek verstaan nou sy sin vir humor. Hy werk heeldag met baie siek mense en is van vroeg en laat hier. Hy is 'n besonderse mens en dit was elke keer 'n vrolikheid om sy gesig te sien.
  • Tannie Lombard het my gister vir die eerste keer laat lag (en sy het nie bedoel om snaaks te wees nie).... en dis seer hoor! "As ek nog een keer hoender moet eet, gaan ek 'n eier lê" en "As my maag nou gaan, sal dit voel soos kindergeboorte" Oe, eina, giggel-giggel!!

Ek sluit af...baie, baie, baie, baie dankie vir al julle gebede! Die Here is goed en groot. My Psalm van die dag: Psalm 121 - gaan lees dit weer.

No comments:

Post a Comment