Monday, February 9, 2009

Onplesierige papierwerk Maandag 9/02/09

Dood en siekte het 'n ander slegte gevolg...onplesierige papierwerk...Daar is testamente, rekenings, professionele fooie, geskrewe motiverings (vir die Mediese fonds), besprekingsvorms vir my opname en kwotasies. Kwotasie, vra jy? Ja, ek moes 'n kwotasie van die narkose dienste kry! Ek het gedink 'n mens kry kwotasies vir motors, nuwe kaste, meubels, en wat nog. Hoe werk kwotasies vir narkose? Is dit 'n geval van: "Mevrou, as jy Rxx betaal kry jy soveel suurstof, maar 'n bedrag van Rxx sal jou deursien!" Huh? Nietemin, ek het vandag begin betaal...

Hoogtepunte van die dag:
  • Ek het 'n pakkie biltong by Piet persent gekry! Was dit nou 'n heerlikheid om op my dekstoel te sit, oor die lowergroen tuin uit te kyk en my daaraan te verlekker!
  • Drie van die bestuurslede van my Departement Biblioteekdienste, onder andere die direkteur, het vanoggend by my kom tee drink. Ek het Robert se been getrek dat ek nou tot sulke uiterstes moes gaan om hom hier by ons huis te kry! Hy het so lekker gelag...en julle wat hom ken weet hoe aansteeklik daardie laggie is. Baie dankie Robert, Monica en Hilda!
  • Elsa het vir my 'n pragtige klassieke stelletjie nagklere gekoop - nogal moeilik bekombaar in Valentynsmaand. Ek kan dit mos darem nie in die hospitaal waag met 'n pikswart of rooi kantnommertjie nie!
  • Monica, Thea, Alet en Ria het vir my PG du Plessis se "Fees van die ongenooides" persent gegee. Ek kan nie wag om dit te begin lees nie! Verlede jaar was ek en LeRoy vasgenael voor die TV se reeks "Feast of the Uninvited" op Mnet. Dit was die aangrypende verhaal van 'n gesin gedurende die Anglo Boereoorlog. Boonop het ons tydens die Universiteit van Pretoria se Boekefees na PG se informele gesprek met Rudi Venter gaan luister en ek het aan sy lippe gehang. Hy het selfs ten aanskoue van almal vir ons gedemonstreer hoe hy impromptu 'n storie skep en het ons twee as inspirasie gebruik! "Daar sit 'n vrou oorkant my by 'n tafeltjie. Sy het 'n rooi rok aan. Langs haar sit 'n man met 'n kwaai uitdrukking op sy gesig..." Ek het LeRoy genadeloos geterg omdat hy so kwaai lyk! :-)
  • Aletjie het vir my tuisgebakte koffiekoekies en beskuit gebring - die dag toe my eie beskuitblik leeg is!
  • Ek het vanoggend my liewe kollegas bedank vir hulle liefdevolle ondersteuning met die volgende boodskappie: Julle het mos al gesien hoe die hemele soms ooptrek en ‘n enkele sonstraal op ‘n plek laat val wat dit in lig baai. Vir my lyk dit altyd soos ’n Godgegewe genadekol. Julle liefde en omgee is vir my net soos daardie koesterende sonstraal wat die donkerte om my verjaag en die pad om my verlig. Baie, baie dankie vir die pragtige ruikers (van die hoofkampus en Onderstepoort), jul teenwoordigheid by die begrafnis en elke oproep, sms en epos van troos, hoop en bemoediging. Julle liefde is die hande wat my optrek, my staande hou en my kop hemelwaarts wend. Your love, kindness and caring is like a gentle summer breeze that tenderly blows away my sadness and fears. Thank you for each visit, call, text message or email – I appreciate you and what you do.
  • Marié - dankie ook vir jou CD "Gregorian Stemme" - Gospel klanke. Ek het dit gegryp vir in die motor luister die aand toe ons op pad was na my sterwende pa toe en dit stem my baie rustig.
  • Ek ontvang ook ondersteuning van mense wat my nie eers goed ken nie! Dit is nou liefde in aksie! In 2007 was LeRoy 'n strooijonker op Johann en Charlene Otto se troue en Priscilla Dye was een van die strooimeisies. Ek het haar nog net twee keer in my lewe gesien en tog het sy ongelooflik moeite gedoen om 'n CD van Sandra Barnard "You'll get over this" spesiaal by my uit te kry. Sy het laat weet dat sy 'n "verslaafde volger" van my blog is en dat ek 'n inspirasie is vir "hul almal". Liewe Heer, dis 'n groot verantwoordelikheid - mag ek U en hulle nie teleurstel nie.

Soos julle dus kan sien - dit gaan goed met my en ek het baie seëninge om te tel. Ek het by Ilse gehoor dat ek 'n "bedreigde spesie" is en myself moet goed oppas en ek doen dit!

Bybelvers van die dag: "Loof die Here, want Hy is goed. Aan sy liefde is daar geen einde nie." Psalm 136:1.

2 comments:

  1. Hallo Elsabe,
    Ons se nou by voorbaat baie sterkte vir more. Sal dink en bid vir jou en julle. Probeer ontspan. Ek weet dit klink onmoontlik. Alles is nou in die Here se hand en Hy sal alles ten goede laat werk. Baie sterkte met al die papierwerk. Ons verstaan nie hoe dit werk nie. Ek sal veral vanmiddag aan jou dink wanneer ek vir my facial gaan. Sodra alles verby is en jy weer jouself is dan moet LeRoy julle treat vir 'n dag in a Spa. Sterkte en 'n mooi dag.
    A+E xx

    ReplyDelete
  2. My gebed vir jou vir more is Psalm 37:5
    Vertrou jou lewe toe aan die Here. Vertrou Hom, en Hy sal vir jou sorg.

    Groete ook weereens van Andries van Aarde.
    Monica

    ReplyDelete