Monday, February 16, 2009

Nie-kwaadaardig! Dinsdag 17/02/09

Ek sit nog alleen in my nagklere (soos 'n siek vrou!) kruisbeen in my bed voor my skootrekenaar en dr. Heyns se kantoor het pas gebel. Die histologie verslag het bevestig dat die monster nie kwaadaardig was nie!

Dankie liewe Here - ek huil en bid van dankbaarheid, maar weet julle sal verstaan! My beker loop oor, die spanning is verby... ek kan fokus op my herstel.

Verlede Dinsdagmiddag vanaf 15:15 was letterlik die donkerste dag/aand van my lewe. Daar het 'n vreeslike storm losgebars, net nadat ek die mediese weiering gekry het. Dit was asof die Here self woedend was. Haelkorrels het op die swembadwater gehop soos tennisballe en ek het verskrik vanuit my donker kamer die storm se vallende blare en emmers waters gadegeslaan. Die huis se krag was uit en ek het ook kragteloos gevoel. Vir die eerste keer het ek my van almal onttrek, wou ek met niemand meer praat nie en het opgeskulp op my bed gaan lê.

Woensdagoggend, op pad hospitaal toe, het ek opgemerk dat twee van my pragtige Iceberg rose wat in ons oprit staan, geknak was van die storm en kop onderstebo gehang het. Ek wou opsluit dat LeRoy hulle eers ophelp, maar sy prioriteit was om my by die hospitaal te kry. Vandag kan ek nou ook getuig dat ek ook gevoel het soos 'n geknakte Iceberg. Ek erken ek het heeltemal omgebuig, geknak en het met al my blomme op die pad verstooi gelê. Maar net soos wat LeRoy my Icebergs weer liefdevol gestut en opgelei het, is ek weer liefdevol gestut en gelei deur ons liefdevolle Here, eggenoot en vriende van die kerk en werk. Ek het 'n knak weg, maar ek is nie gebreek nie!

Baie, baie dankie aan elkeen van julle wat my so bygestaan het en steeds doen. Hoe kan ek jul ooit vir jul liefde vergoed? Vier assseblief my goeie nuus saam met my waar jy jouself ook bevind en loof Hom wat vir ons sorg! "Ek sal jubel as ek tot u eer sing, omdat U my gered het." Psalm 71:23.

5 comments:

  1. Hi Elsabe,

    Ek is baie bly dat die uitslag positief is. Baie sterkte vir die herstel proses. As ek nader was het ek verseker kom inloer. Wees egter verseker dat jy elke dag in my gebede is.

    Baie liefde
    Huldah

    ReplyDelete
  2. Hallo Elsabe,
    Alles is baie goeie nuus. Ons is saam met jou dankbaar en bly. Baie bly die naarheid is beter en dat jy selfs nou al kos kan geniet. Nou kan dit net beter gaan. Ek dink altyd ek kan pyn hanteer, want ek drink 'n pil, maar naarheid is ook my grootste vyand. As jy eers naar is, is jy gewoonlik verby die punt waar 'n pil gaan help. Ons is bly dat jy die oorsaak van jou naarheid kon identifiseer. Dit help. Rus, slaap baie en kuier lekker saam met die vrinne. Mooi dag.
    A+E xx

    ReplyDelete
  3. Vriendinakie! 'n paar gedagtes om jou vreugde en dankbaarheid te help vier!

    Kosmos is genade-blomme
    jy plant nie, saai nie, gee nie water nie,
    maar as jy kyk staan hulle langs die pad ...

    So is die Here se genade
    Sonder dat ons iets doen om dit verdien,
    groei dit op ons lewenspad ...

    Mag ons dit elke dag so raaksien!
    En met ander deel,
    Want dit KOSMOS niks!

    Word gou gesond!
    Liefde tot ons mekaar weer sien
    Martha

    ReplyDelete
  4. Dit is wonderlike nuus, en ek dank & loof die Here dat Hy sy genadige hand so getrou oor jou hou. Met hierdie hindernis nou uit die pad is ek seker die herstel sal versnel. Julle is in my gedagtes en gebede. Geniet die dag en herwin jou kragte..xx

    ReplyDelete
  5. Ek & Johan is baie dankbaar dat die prosedure goed afgeloop het asook vir die uitslae. Dit kan van nou af net beter gaan !!!
    Lief vir jou

    ReplyDelete