Sunday, February 15, 2009

Ek's tuis! Sondag 15/02/09

Dr. Heyns het my vanoggend ontslaan! Dit was louter genade om 10:00 uit die hospitaal te stap - in die sonskyn in!

Watter vreugde om op die stoep te lê en die son en die voëlgeluide in te drink...

Ek stoei met my nuwe vyand - naarheid. Dit is vir my bykans onmoontlik om te eet terwyl ek voel soos ek voel en ek mag nie toegee nie. Een van die voorwaardes van my ontslag was dat ek moet eet. In die verlede het ek daarop geroem dat ek 'n "eter" is, want koffie, gaskoeldrank, sap, alkoholiese drankies kon ek nog altyd met gemak weier. Ek drink my hele lewe hoofsaaklik water en rooibostee. Maar...ek kon met oorgawe eet! Ek kon op die ingewing van die oomblik opspring en souskluitjies, pannekoek, muffins, of watter gereg ookal waarvoor ek lus was, aanmekaar klits. En ek kon resepteboeke lees soos 'n roman en die eindproduk in my kop visualiseer. Ek het met liefde gebak vir ander - amper elke naweek het ek met geregte of soetgoed geëksperimenteer en ek het baie graag spesiale kookklasse bygewoon.

LeRoy het vandag sy bes probeer en alhoewel sy skeppings 'n reuse verbetering is op die hospitaalspyskaart weet en voel ek dat ek nie genoeg voeding inkry nie.

Maar ek sluit af met die Bybelvers wat op hierdie skitterdag tot my gespreek het: "Dit is die dag wat die Here gemaak het: laat ons daaroor juig en bly wees." Psalm 118:24. Vanaand slaap ek weer in my eie bed - halleluja!

2 comments:

  1. Daar is niks soos 'n mens se eie bed nie en ek is seker die aansterkproses sal nou nog vinniger versnel. Ek is baie bly dat dit so goed gaan, en is seker die naarheid sal ook een of ander tyd wyk. Hou vas aan Sy genade, want dis genoeg. Mooi dag. Baie liefde.

    ReplyDelete
  2. Hallo Elsabe,
    Welkom tuis en terug op jou blog. LeRoy het hom goed van sy taak gekwyt, maar die mediese fonds het sy gal sleg gewerk. Ons was bekommerd dat hy dalk saam met jou in die hospitaal sal beland met stres. Baie bly alles het goed afgeloop. Mag jy darem 'n pilletjie drink voor jy eet vir die naarheid? Baie sterkte en hou ons op hoogte van jou herstel proses. Gelukkig is dit goeie weer daar by julle. Mooi dag!
    A+E xx

    ReplyDelete