Monday, February 16, 2009

Weg met alle medikasie! Maandag 16/02/09

Sondagaand nadat ek antibiotika gedrink het vir 'n ander lastige infeksie wat ek nog voor die operasie opgedoen het, het ek tot die besef gekom dat ek elke keer slegter voel na ek medikasie neem - hetsy dit vir naarheid of infeksie is. Aangesien ek reeds sedert Saterdag sonder pynmedikasie is, het ek sommer vroeg vir dr. Heyns geskakel en gevra of ek alle medikasie kan staak. Hy het 'n bietjie later teruggeskakel en goedkeuring verleen. Verstaan my goed - ek keur nie medikasie per se af nie, maar dit werk nie tans vir my nie. Vandag se wonderlike nuus is dat ek baie beter voel: die naarheid het begin wyk en ek het soos 'n regte hoendertjie die hele dag gepik het aan die kossies wat ek kon baasraak!

Ek ontvang aanbiedinge van dierbare vriendinne wat kokke (en eters!) is en ek aanvaar dit met grasie. Hierdie is 'n tyd wat ek my trots in my sak steek - LeRoy moet die geldpot (sy werk!) aan die kook hou en het min tyd om 'n hongerige vrou kort-kort van gaar etetjies te voorsien. Ina Louw (met pannekoek waarvoor ek lief is), Louette (met gesonde beskuit) en Malinda (met 'n hoenderpastei en groente!) het vandag my lewe gered.

Vir die wat wonder wat ek in die onmiddellike toekoms mag eet - die dieetkundige het die volgende voorgeskryf: geen volgraan, muesli, bone, erte, uie, pitte, sade, skille (soos vrugte), rosyne, korente, oormatige vet of room nie. Ek het 'n groot behoefte aan sout kos op die oomblik en my soet tand vir sjokolade en koekies is tydelik getrek! Geurige maalvleis, hoender of lasagne sal dus baie welkom wees - veral as ek dit kan vries (ek eet baie klein porsies) en maklik deur die dag kan opwarm vir 'n broodjie.

My beker loop oor...julle goedheid en liefde oorweldig my en ek het so baie mense om te bedank om van die Gewer van my Lewe nie eers te praat nie! Ek het gisteraand hard boontoe gesels en voel vandag soveel beter.

Indien julle wonder of ek gaste wil ontvang....die antwoord is 'n oorweldigende ja! Ek geniet dit om julle te sien en van julle te hoor, want julle is almal so spesiaal vir my. Onthou asseblief om my net te waarsku, want ons buite-klokkie werk nie. Indien ek slaap sal ek nie my selfoon beantwoord nie - dit is die goue reël.

Nou wag ek nog net vir die patologiese verslag...

Bybelvers van die dag: "Here my God, ek het na U geroep om hulp en U het my gesond gemaak." Psalm 30:3.

2 comments:

  1. Nou ja sien, ek het gese die naarheid sal ook een of ander tyd wyk. So bly jy voel baie beter en dat almal so mooi na jou omsien. Ek sien uit na die dag wat jy weer daardie leerbaadjie kan aantrek en die wind oor jou voel. Hoop jy het 'n pragtige dag...xx

    ReplyDelete
  2. Liewe Elsabe, Onthou asb die tweede goue reel: As jy vra, sal jy kry...en hier bedoel ek nie slegs vertikaal nie, maar juis horisontaal. Jy moet asb net vra as daar iets is wat jy gedoen wil he of nodig het. Ons wil graag help, maar soos dit nou maar gaan, raak elkeen later weer in sy eie rat race (in my geval rat strike) betrokke. Dis dan wat jy sal moet belowe om te vra. Onthou dit!!!
    Bie liefde,
    Ina en co

    ReplyDelete