Wednesday, June 10, 2009

LeRoy is gevaarlik met 'n inspuiting! Woensdag 10/06/09

Ek steun ongelooflik op LeRoy - hy het my elke dag kom help bad in die hospitaal en die belangrikste - kom assisteer om die Mediven Thrombexin sykousies aan te trek. Dit was ons albei se eerste kennismaking met hierdie styfpassende kouse en ons was sekerlik nogal materiaal vir "Candid camera"! Vir die van julle wat hierdie unieke ervaring nog gespaar is, die sykouse is bitter styf en 'n mens moet jou storie ken met die aan- en uittrek. Maar ek dink ons het nou gisteraand die geheim ontdek en rol dit aan en af en LeRoy knyp my nie meer (heeltemal) so pimpel en pers nie!

Maar ek is gister nog 'n "verrassinkie" meegedeel - ek moet elke dag vir die volgende 3 weke ingespuit word met Clexane. Ek is nie lief vir naalde nie en kyk gewoonlik nie hoe ek ingespuit word nie. Ek ervaar dit is makliker om op iets anders te konsentreer en ek verplaas myself gewoonlik as so 'n sessie aanbreek. LeRoy was nooit by toe mediksie toegedien is nie en het geen ondervinding van hoe om 'n inspuiting toe te dien nie. Gisteraand het ek en hy redelik onbeholpe na mekaar en die inspuiting gekyk...en besef een van ons moet dit doen! (Hierdie twee onplesierighede is om beroerte te verhoed, want sê dr Snyman, "dit sal jammer wees as ons jou gesond operereer en jy nou beswyk aan 'n bloedklont deur jou hart of longe"!)

LeRoy het darem 'n verduideliking by die hospitaal se apteek gekry asook 'n oefenkussinkie van leer wat hy met groot beslistheid toegetakel het en my in koue rillings laat uitslaan het. Ek dog nogal hy speel, maar toe die oomblik aanbreek was dit presies wat hy gedoen het! Ek sit nou hier en skeur myself van die lag, want dit was baie snaaks - al was dit ook seer. Hy het daardie naald met soveel mag en mening (en so skielik!) in my geslaan asof my maag 'n ballon is wat hy met mening wil prik! Ter verdediging was dit darem sy eerste poging en hy het beloof om dit vanaand met minder geweld te doen...Ai..., die ondervindinge wat ons twee nou darem saam opdoen!

Dis knus in die bed en my sus het kom bederf met koekies en tee. Ek het min pyn (behalwe as ek op my linkersy lê) en gaan effens met die pynmedikasie om. My maag is erg geswel en lyk of dit aan iemand anders moet behoort, maar verder gaan dit baie goed met my, dankie!

4 comments:

  1. Ons is dankbaar dat alles goed afgeloop het en dat jy by die huis is. Daar is nie nog 'n bed soos jou eie nie. Sterkte met al die nuwe dinge. Ek wil LeRoy nie confuse nie, maar moet daai inspuiting nie teen 'n 45 grade hoek gegee word nie? Siende dat hy so lekker darts speel op jou maag :) Julle neem my terug na toe ek 13 jaar gelede my rug gebreek het. Op 'n downhill van die bergfiets af geval. Ek kon vir 6 weke net staan of le. Adriaan moes alles doen.Dan verstaan jy for better or for worse beter. Dit lyk asof julle sommer goed doen. Dankie vir die updates.
    Eilandgroete
    A+E

    ReplyDelete
  2. Dis wonderlik om te hoor dat jy weer tuis is en dat dit goed gaan. Ek kan my net die petalje met die naald indink. LeRoy is baie dapper, ek dink nie ek sal dit kan doen nie. Nog 'n rede hoekom ek nie medies studeer het nie. My maag sal draai net om dit te sien! Sterkte en rus goed. Laat weet wanneer jy sterk genoeg voel vir ons om te kom inloer....xxx...Andre

    ReplyDelete
  3. Pamflet wat daarmee saam gekom het se 90grade. Gelukkig is die naald baie dun en ook baie kort. Het al amper vergeet van toe jy jou rug gebreek het. Hoop Adriaan hou dit in gedagte te alle tye. LeRoy

    ReplyDelete
  4. Ek kon nie help om te glimlag toe ek jou blog vanoggend lees nie. Ek het so BEGRIP vir die kouse en die inspuitings!! Maar liewe vriendin, kruip snoesig onder jou kombers in en wees goed vir jouself. Marie

    ReplyDelete