Tuesday, February 3, 2009

En die grootste hiervan is die liefde! Woensdag 4/02/09

Ek en die twee wolkinders 6 September 2008
Volgende week hierdie tyd sal ek en LeRoy besig wees om aan te trek om hospitaal toe te gaan... As ek daaraan dink kry ek sommer 'n hol kol op my maag - ek hoop dis afkomstig van die GIST wat besef sy tyd van onwelkome verblyf in my liggaam is op 'n einde. Hy was ongenooid en het homself verniet so tuis gemaak en ongenooid my kragte as sy bron van energie gebruik.

Onthou julle nog die sprokie van Hansie en Grietjie waar die bose heks vir Hansie in die hok opgesluit het? Grietjie moes kos maak om hom vet te voer vir die pot en elke môre moes Hansie sy vingers deur die tralies steek sodat sy kon voel of hy al vet is. Ek voel nou so! Ek's in die hok vir een week...ek moet nou vet gevoer word sodat ek surplus kan opbou vir wat voorlê! Waar's die Brazilian Nutties? Waar's die Strawberry Whirls? Waar's die Choc-kits? Waar's die Diddle Daddle? Waar's die mossels en Salticrax soutbeskuitjies? Waar is al die lekker, verkeerde goete waaroor ek my lewe lank so skuldig gevoel het as ek dit geëet het? :-)

As kind en volwassene het ek al baie gewonder oor wat ek sou wens as ek net een wens toegestaan kon word. As ek nou soos Aladdin die lampie kon vryf en my towenaar verrys - wat sou ek hom vra? Onthou ook hoe die Here een nag in Gibeon in 'n droom aan Salomo verskyn en vir hom gevra het: "Wat wil jy hê moet Ek vir jou gee?" Ek het my nog altyd verwonder aan Salomo se wyse versoek en die Here se antwoord daarop: "Omdat dit jou versoek is en jy nie vir jou 'n lang lewe, of rykdom, of die dood van jou vyande gevra het nie, maar insig in wat reg is, sal Ek aan jou versoek voldoen." (1 Konings 5-15).

Vandag gaan ek met julle deel wat ek nog altyd gedink het my beskeie antwoord sou wees as die Here vir my sou vra: "Wat wil jy hê moet Ek vir jou gee?" Ek het in my kinderlike eenvoud gedink om te vra dat ek Liefde soos 'n aansteeklike siekte sou wou dra. Sou dit nie wonderlik wees as elke persoon wat met my in aanraking kom, "Liefde" kry en die volgende persoon waarmee hy in aanraking kom weer aansteek nie? Dit sou die klippie-in-die-water-rimpeling effek gehad het wat verder en verder uitkring sodat almal "siek" word van liefde! Dan kan dit mos nie anders dat ons almal die vrug van die Gees demonstreer nie! Om Lief te hê is immers ook die groot gebod.

So baie mense bel my nadat hulle van my siekte gehoor het, en betuig (sommiges vir 'n eerste keer!) dat hulle lief is vir my. Dit beteken ongelooflik baie vir my in my huidige omstandighede - dit maak my week, dit maak my sterk. Want as dit waar sou wees dan moes ek iewers, iets reg in die verlede gedoen het, om die Liefde van Jesus uit te dra. En dis tog wat my persoonlike wens nog altyd was (en hiermee erken ek ook dat ek al wel in die verlede gefaal het!). Maar ek het probeer dat Liefde my rigsnoer bly.

My bede vandag vir julle is om hierdie Liefde wat julle vandag vir my voel, "aan te steek". Hierdie Liefde mag nie net by my bly nie. Dis maklik om nou vir my lief te wees omdat jy weet ek ernstig siek is - my twee manne sal nou luidkeels beswaar aanteken en sê dat ek ONMOONTLIK is om mee saam te leef! Laat egter hierdie liefde voortleef...gee die liefde-aflosstokkie aan, gooi die liefde-klippie in die water en laat dit verder uitkring om ander wat jy ken ook in te sluit.

Onthou: "Too often we underestimate the power of a touch, a smile, a kind word, a listening ear, an honest compliment, or the smallest act of caring, all of which have the potential to turn a life around." (Leo F. Buscaglia)

Ek het dus besluit: ek gaan nie vra vir 'n lang lewe nie. Ek glo met my hele hart en wese dat daar 'n doel is met alles wat ek tans beleef. Die Here het my gekies - ek is in Sy hande.

Lees die woorde van my gunsteling geestelike lied wat ek gister aanhoudend gespeel het - repeat, repeat, repeat...Dis Willie Joubert se Oproep tot Lofprysing:

Ons Heil'ge Vader...
Lig en Lof omstraal U...
Die Skepper van die Groot Heelal!
Wie kan U ooit gelyk wees?
Wie kan U grootheid ooit bereik?
want U is God en God is U.
O Heer en Meester,
Gewer van my lewe....(my beklemtoning)
My hele wese bring U eer!
Vir ewig heers U glorie!
Vir ewig leef U majesteit!
Die ganse skepping roem U naam!
Halleluja....Halleluja...
Vol majesteit en glorie is U naam!
Halleluja...Halleluja...
Vol majesteit en glorie is U naam!
Halleluja! Halleluja! Halleluja! Halleluja!
Halleluja! Halleluja! Halleluja! Halleluja!

7 comments:

  1. Elsabe

    Dankie vir jou terugvoer! Ek het laasnag so aan jou gedink. Vanoggend toe die wekker lui, het ek gewonder of ju besig is om met ons te gesels. Ek bid vir julle en die dokters. Mag jy elke oomblik die liefde en genade van Ons Vader beleef. Liefde Wilna

    ReplyDelete
  2. Liewe Els, dankie vir die nuus. Soos jy kan sien, volg ek nou. EN ek het my eie blog begin, maar moet nog baie daar doen. Het nou eers ander goed om te doen. Baie liefde en sterkte
    Ina

    ReplyDelete
  3. Hi jy! Dink ek elke dag aan jou, so bly jy het hierdie Blog begin & dat jy alles met ons deel. My Ma het vir my die mooiste dingetjie aangestuur v'more en ek weet toe sommer ek moet dit v jou ook email, net weer so 'n stukkie krag om ons aan te help. Sterkte! Baie Liefde Christelle

    ReplyDelete
  4. Hi Elsabe en Leroy

    Seker bly die operasiedatum is net om die draai - kry dit agter die rug; dan 'n tydjie van pyn, dan 'n maand of twee van jou kragte herwin, dan 'n besoek aan Napier in die Kaapse herfs, miskien betyds vir die eerste vernuwende winterreens ... 'n warm Doverstofie as dit koud is buite en jou skoene is vol modder is bekend vir sy helende invloed!

    Ek dink aan albei van julle.

    Met liefde

    ReplyDelete
  5. Liewe Elsabe, ek dink aan jou en bid jou geestelike en liggaamlike krag toe in hierdie tyd. Dankie dat jy met ons deel, dit verryk ook ons lewens. Met liefde Katrien

    ReplyDelete
  6. Liewe Elsabe
    Baie dankie dat jy hierdie ongelooflike reis met ons deel. Jy gee vir ons die aflosstokkie aan, jy gooi self die klippie, sodat ons nie anders kan as om die liefde te laat uitkring nie. Katleen Keating het gese: ons uitdaging behoort te wees: wees lief vir jouself - wees lief vir ander - WEES die liefde ...
    Baie sterkte! Ek bid ook vir LeRoy, wat vir jou met soveel liefde ondersteun!
    Martha

    ReplyDelete
  7. Liewe Elsabe
    Het iemand al vir jou gese jy is waarlik 'n talentvolle skryfster? Die woorde kom so natuurlik - jy moes lankal begin skryf het. Ek dink aan jou in hierdie spanningsvolle tyd en vertrou dat die nagmerrie net 'n kort rukkie sal duur.
    Liefdegroete
    Anette

    ReplyDelete