Tuesday, February 3, 2009

Operasiedatum 11 Februarie 2009 om 8:00 in Pretoria-Oos hospitaal

Vandag was 'n wonderlike rustige dag en ek het selfs my man vanmiddag verlei om saam my te swem, want die son het so milddadig geskyn! Dit was ook my eerste musiek-terapiedag (op Monica se voorstel) en ek het na my gunsteling snitte geluister en soms saamgesing en die soete klanke het my baie rustig gestem (dankie Louette vir die leen van die draagbare CD-speler wat ek nou kan ronddra!).

My afspraak met dr. Machiel Heyns was 17:45 en ek het baie moeite gedoen met my voorkoms - wat is die gesegde? - Dressed to kill! Ek wou hê hy moes sien dat ek 'n (relatiewe!) jong vrou is, wat myself oppas en dat hierdie net 'n tydelike struikelblok in my pad is wat ek met mening gaan aandurf! Sy laaste beelde van my was heeltemal te verlepte angelier-agtig! Ek en LeRoy kon ons vrae met selfvertroue stel, maar hy het hulle ook met gesag geantwoord.

Wat sê die dokter?
  • My situasie is ernstig eerstens in die opsig dat dr. Heyns en prof. Van der Merwe bekommerd is oor die ligging van die GIST. Dit lê heel bo links ongeveer 1 cm van my slukderm af in die fundus van my maag. So vergewinsgesind as wat die maag is, so onvergewinsgesind is die slukderm, omdat dit baie dunner is as maagweefsel. Op hierdie stadium is die probleem dus tegnies van aard en hy en die spesialis het baie gedebatteer oor die plan van aksie om dit uit te kry. Gewasse word gewoonlik wyd uitgesny, maar weens die nabye ligging aan my slukderm sal hy baie versigtig te werk moet gaan. Die GIST moet verwyder word, want anders sal dit al hoe groter en groter word.
  • Dr. Heyns gaan beslis die monster met 'n laparoskopie verwyder met 5 gaatjies in my maag. My slukderm word losgemaak van my maag en die gedeelte waar die GIST groei word met titanium-krammetjies afgekram sodat die bloedtoevoer onmiddellik afgesny word. Daardie gedeelte van my maag word dan losgesny van die res. Hy verkies om dit so te doen want hy kan my buikholte verlig en die hele prosedure volg op 'n groot hoë resolusie TV-skerm. So 'n operasie is baie minder traumaties op die liggaam en hy sal slegs 'n laparotomie doen (oopsny van my borsbeen tot onder my naeltjie) as daar ander komplikasies tydens die operasie voorkom. Aangesien 'n mens se slukderm agter jou hart en longe lê - teen die werwelkolom - is dit nie aan te beveel nie. Dis 'n moeilike plek om te werk en dit sal dan glad nie verlig kan word nie. Die hersteltyd is ook baie langer (5 dae in Intensief en 5 dae in die gewone saal). Slegs 10% van die gevalle benodig 'n laparotomie.
  • Na die operasie sal ek in die Intensiewe Eenheid gemonitor moet word vir ten minste 2 dae om te verseker dat komplikasies nie ingetree het met my slukderm nie. Die hoofkomplikasie is 'n lek van my slukderm in my buikholte wat groot moeilikheid beteken. Indien die slukderm lek sal ek hoë koors ontwikkel, pyn buite verhouding ervaar, baie siek wees en my pols sal versnel. Ek sal dadelik weer teater toe moet gaan, maar die resultaat kan fataal wees.
  • Tweedens sal die GIST na die operasie na die patoloë gestuur word vir 'n volledige ontleding, want hy wil nie 'n gejaagde resultaat in die teater aanvra nie. Indien die GIST kwaadaardig is (hulle wissel in grade van goed- en kwaadaardigheid) sal ek vir 3 tot 6 maande 'n baie spesifieke medikasie - Glivec - moet neem. Soos alle medikasie van hierdie aard is daar baie newe-effekte wat wissel van naarheid, moegheid en verlaagde immuniteit. Daar is ook 'n moontlikheid dat kwaadaardige GISTS kan terugkeer.
  • Die goeie scenario is dat ek na 2 dae na 'n gewone saal oorgeplaas kan word en na ongeveer 6 weke van herstel (ek gaan baie moeg wees) weer my ou self kan wees! Weliswaar dalk ongeveer 5 of 6 kilogram ligter, waarsku hy. Hierdie is NIE 'n dieet wat ek aanbeveel NIE... werklik dames, daar is makliker maniere om gewig te verloor! :-)

Wat tel in my guns?

  • Ek is maer;
  • Ek is relatief fiks;
  • Die Gist is slegs (!) 6,5 cm groot;
  • Dr. Heyns se eie vrou sal tydens die operasie assisteer.

Wat moet ek nou doen?

  • Ek is tans anemies/bloedarmoedig (dit verklaar my huidige moegheid) weens my bloedverlies en het 'n ysteraanvulling gekry;
  • Ek moet sorg dat ek vitamiene-aanvullings neem en genoeg, gewone (nie baba-kossies nie!) gesonde, heilsame en voedsame kos inkry (my man sal maar Naked Chef moet speel!);
  • en laastens BAIE rus sodat ek kan herstel en sterk kan word.

3 comments:

  1. Sjoe, dit klink baie tegnies, maar dit lyk of die Dr. weet waarvan hy praat. Ek glo dat alles goed sal afloop en dat daar geen komplikasies sal wees nie. Mooi aand vir julle. Ons gesels weer. xxx

    ReplyDelete
  2. Baie sterkte, jy is in almal se gebede elke dag. Die Here het ons nie 'n gees van vrees Liefde Minari

    ReplyDelete
  3. Hallo Elsabe,
    Dit klink asof jy in goeie hande sal wees. Dit is altyd goed om 'n sin vir humor te hou. Nou die dag het iemand op FB geskryf dat dit ironies is dat wat Drs doen vir 'n lewe "practice" genoem word.LOL. Ek glo jy het ook die Dr se dag gemaak deur op jou beste te lyk! Ons het die datum van jou operasie op die Palm gesit en sal spesiaal vir julle bid en aan julle dink. Mooi dag. A+E xx

    ReplyDelete