Thursday, February 5, 2009

Totsiens Pappa... Donderdagaand 5/02/09

My pa is vanmiddag om 18:50 sag heen terwyl ek en LeRoy nog in die motor op pad was na Vergenoeg toe. Ek glo vas die Here het my begenadig...ek wou hom nie alleen laat gaan nie, maar het terselftertyd nie gevoel of ek die emosionele kapasiteit het om sy sterwe te aanskou nie. Ek het myself gestaal toe ons die kamer instap, maar ek kan met vreugde getuig dat Vrede op my pa se gesig geskryf was. Ek sal vir ewig dankbaar wees dat ons gegaan het - die beelde van gister is vervang met 'n nuwe een.

Suster Hannie wat tydens sy afsterwe teenwoordig was, het getuig dat sy reeds 24 jaar afsterwes meemaak en dat sy voorwaar beleef het dat hy deur die Poorte gaan. Dankie Here, U het hom kom haal - ons gebede is verhoor!

Vir jou Pappa: "Hy sal al die trane van hulle oë afdroog. Die dood sal daar nie meer wees nie. Ook leed, smart en pyn sal daar nie meer wees nie. Die dinge van vroeër het verbygegaan. Toe sê Hy wat op die troon sit: Kyk, Ek maak alles nuut." - Openbaring 21:4-5.

6 comments:

  1. Hallo Elsabe,
    Dit is alles so verskriklik hartseer. Ons is dankbaar dat hy 'n lyding gespaar is en hoop dat jy nou die voorreg sal he om die begrafnis by te woon. Julle is die hele tyd in ons gedagtes en gebede. Om jou blog te lees het nou deel van my oggend roetine geword. Baie sterkte! A+E xx

    ReplyDelete
  2. Hi Els, my innige simpatie, maar terselftertyd blydskap dat die Here julle gebede verhoor het en hy nou rus gevind het. Sterkte vir die tyd wat nou voorle. Julle is in my gebede... Axx

    ReplyDelete
  3. Hallo Elsabe
    Ek dink jy ervaar die uiterste van gemengde gevoelens : baie, baie groot hartseer, baie baie groot verligting. Dis vir my so 'n sprekende voorbeeld van hoe die Here tot in die kleinste detail onderneem : op die regte tyd, op die regte plek. Mag dit jou vaandel wees vir die tyd wat voorlê : Hy onder neem op die regte tyd, op die regte plek. Ek is eintlik opgewonde om te sien hoe Hy die pad vorentoe vir jou gelykmaak - glo Hy is alreeds besig daarmee. Baie sterkte en liefde vir elke oomblik en elke emosie. Ek weet julle gaan dit maak. Al wat jy moet doen is om die bietjie krag wat jy het, te gebruik om die baie krag wat Hy vir jou reggesit het vir elke dag, te gebruik. Ek bid vir julle. Liefde Wilna

    ReplyDelete
  4. Elsabe,
    Daar is geen woorde wat ek het vandag vir jou wat kan troos nie. Dit is hartseer sowel as 'n verligting... Moeilik om te beskryf maar ek dink jy sal verstaan. Weet net dat jy nie alleen is nie. Die man aan jou sy sal jou bystaan deur hierdie moeilike tyd en jou toevou met sy liefde.

    ReplyDelete
  5. Els
    Elke ding gebeur op sy tyd en op sy plek. Ek is so hartseer vir jou, maar terselfdertyd dankbaar dat die Here julle in die holte van Sy hand hou, baie dinge getuig daarvan.
    Wees stil en weet Hy is die Heer.

    ReplyDelete
  6. Met ons laaste besoek aan hom die woensdagaand het dit nog baie moeilik gegaan en die gesig wat ons begroet het, was vir Elsabe, in haar huidige emosionele staat bitter moeilik en het haar hewig onstel. Ons het die oproep dat hy sy laaste minute hom afspeel net voor 19:00 gekry en was op pad toe ons die doodstyding kry.

    Aanvanklik wou Elsabe nie by haar pa ingaan nie, maar die gesig wat ons toe begroet was een van rustigheid en hemelse vrede, hy was weg en by sy uiteindelike bestemming. Dit het die beelde van die vorige aand geheel verwyder en Elsabe het berusting gekry daarby.

    Persoonlik was ek bly sy laaste weke se lyding, wroeging en ongerief was nou verby en het hy vrede ervaar. Die vrede en geluk wat hom vir groot dele van sy lewe ontwyk en hom vermy het. Slaap soet en rus en vrede, ons sal jou mis. LeRoy

    ReplyDelete