Sunday, February 1, 2009

Af van die mallemeule Maandag 2/02/09

Ek is af van die mallemeule! Ken jy dit rit? Dis een van hardloop en kophou: opstaan, ontbyt, aantrek, werk toe ry, werk, werk, werk, werk, gim toe, winkel toe, aandete, opruim, broodjies vir môre, dikwels weer werk, werk, werk...Maar iewers het ek afgeval - ek hoor nog die deuntjie, sien hoe ander by my verbyhardloop, hoor hul laggies, maar ek is nie meer deel daarvan nie. En dis vir my swaar - ek voel soos 'n kind wat verlangend toekyk, maar ek het nie meer 'n geldjie om op te klim nie.

Monica het gister 'n groot stuk wysheid met my gedeel. Dis so waardevol om met sulke mense te praat! Hulle woorde is soos groot klippe wat die dongas in my pad vul en my roete gelyk maak. Sy het gesê dat dit wat met my gebeur tot almal moet spreek en almal weer 'n slag perspektief moet gee op die lewe.

Lyding en swaarkry vorm 'n mens en bou karakter. Ek sukkel nog bietjie om te verstaan hoekom die Timmerman my weer gekies het, want ek het al 'n paar karakterbou-sessies weg! Maar Hy het my weer gekies en ek voel gedrewe om die instrument te wees wat Hy nou wil gebruik. Mag dit wat ek nou beleef dus nie waardeloos in jou lewe wees nie: verwonder jouself vandag weer in al jou seëninge: jou gesondheid, jou geliefdes, die vreugde om te kan werk (ja, ja.... glo my dit is! Al is dit net daardie lekker geselsies in die teekamer!), die wonder van die natuur. Wees lief vir mekaar, maak daardie oproep, deel jou glimlag, wees vandag goed vir iemand wat jy nie ken nie en koester jou vriendskappe - wie weet wanneer jy hulle gaan nodig kry! En laastens, maak weer tyd vir jou Skepper, want daar kom 'n tyd waneer dit net julle twee sal wees. En dan moet jy Sy nommer ken!

Hilda het ook die naweek 'n juweel van 'n teksvers met my gedeel: Jesus sê: "Vra en vir julle sal gegee word" Lukas 11:9. Sy sê die liewe Vader hou tog so daarvan om herinner te word aan wat ons nodig het. Ek herinner Hom kliphard, Hilda!

Julene, dankie vir al jou boodskappies, elke dag! Ek wil vandag s'n met almal deel: Om die volheid van God se liefde te ken, en in Sy groot genade te glo, moet jy soms in die stikdonker wees, met net Sy liggie van bo!

Geniet julle dag, koester die mooi!

6 comments:

  1. Hi Els. Lyk my ek het nou die blogg ding reggekry. Jou "briefies" is regtig inspirerend en laat my ook maar weer besef hoeveel ek het om voor dankbaar te wees. Om in die oggend te gaan draf en Sy skepping te beleef en te bewonder is 'n voorreg wat vir so baie nie beskore is nie. Ek is so jammer om te hoor dat jou pa so verswak het. Ek onthou hom nog so goed by jou verjaardag verlede jaar. Die ouderdom is nie vir "sissies" nie, maar gelukkig het die Here beloof om ons nooit bo ons vermoee te beproef nie. Ek is spyt ek het nie geweet jy is al by die huis nie, want dan het ek gister kom kuier. Eers gisteraand LeRoy se e-pos gekry met details van blogg. In elk geval, ek hoop jy sterk vinnig aan, want 'n BMW "breakfast run" is net nie dieselfde sonder jou nie. Onthou, Hy het 'n doel met alles, al voel dit nie vir 'n mens altyd so nie. Ek bid vir jou en dink aan jou. Mooi dag...Andre

    ReplyDelete
  2. Hallo Elsabe,
    Ek is jammer om te hoor van jou siekte toestand, en weet dat jy 'n vegter is in murg en been, daarom sal jy ook hierdie siekte kan oorkom met God se hulp, Fil. 4:13 se " Ek is tot alles instaat deur Christus wat my die KRAG gee".Ds.Peter Louw se seun was jare gelede in die hospitaal met breinvliesontsteking en toe vra hy vir die verpleegster of dit nou die einde van sy seun se lewe is en sy se toe,: " Mr Louw medical speaking yes, but with God everything is possible."sy seun het gesond geword, Elsabe ons aanbid 'n groot God en daarom sal Hy jou weer genees op die regte tyd, ons bid en dink aan jou hier by groenkloof in hierdie tyd van beproewing! Lees ook Fil. 4:6.
    Baie Liefde
    Eldorene en die groenkloof span

    ReplyDelete
  3. Hi Els

    Uiteindelik is ek ook nou 'n "follower". Sterkte vriendin, ons staan by jou. Ons is die tou-trekkers, laat weet as ons harder moet trek, maar die wa moet deur die drif. Dit is 'n voorreg om hierdie pad saam met jou en die Here te stap.

    ReplyDelete
  4. Hallo Elsabe
    Ek is in 2003 van die mallemeule af geskop. Dit het lank gevat om vrede daarmee te maak en vat jou tyd. Nadat ek deur al die fases van rou is het ek besef dat dit 'n voorreg is. Nou het ek al die tyd in die wereld om in die teenwoordigheid van die Here te kan spandeer. Dit word 'n blessing. Jou waardesisteem verander en jy kyk nooit weer na die lewe in dieselfde lig nie. Mooi dag vir jou.

    ReplyDelete
  5. Hierdie boodskap kom direk van die MALLEmeule af: Wees verseker ons mis jou BAIE op die swaaie vir hoogswaai, vir uitskop, vir saamlag en op die groot wiel vir styf sit en oë toeknyp.

    ReplyDelete
  6. Elsabe
    My jarelange persooonlike anker vir jou vandag: Habakuk 3....veral verse 17-19...en sien in jou gedagte die hoogtes wat jy gaan oorwin met gejuig!

    Wens ek kon kom krummels opvee en die skottelgoed in die "call centre" vir jou was!
    Liefdegroete.

    ReplyDelete